MATTEUS 26:47-68

MATTEUS 26:47-68 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Jesus was nog besig om te praat, toe Judas, een van die twaalf, skielik daar opdaag. Saam met hom was daar 'n groot menigte met swaarde en knuppels, gestuur deur die leierpriesters en familiehoofde van die volk. Sy verraaier het vir hulle 'n teken gegee: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom.” Hy het dadelik na Jesus gegaan en gesê, “Gegroet, Rabbi!” en Hom gesoen. Jesus het vir hom gesê: “Vriend, doen waarvoor jy hier is.” Toe het hulle nader gekom, Jesus gegryp en Hom gevange geneem. En skielik het een van dié saam met Jesus na sy swaard gegryp en dit uitgetrek. Hy het die slaaf van die hoëpriester getref en sy oor afgekap. Toe sê Jesus vir hom: “Bêre jou swaard op sy plek. Want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard omkom. Of dink jy nie Ek kan maar net my Vader aanroep, en Hy sal dadelik meer as twaalf legioene engele tot My beskikking stel nie? Maar hoe sal die Skrifte dan vervul word wat sê dat dit so moet gebeur?” Op daardie oomblik het Jesus vir die menigte gevra: “Het julle soos teen 'n rower uitgetrek met swaarde en knuppels om My gevange te neem? Dag ná dag het Ek op die tempelterrein gesit en onderrig gee, en julle het My nie gevange geneem nie. Maar dit alles het gebeur, sodat die Skrifte van die profete vervul sou word.” Daarop het al die dissipels Hom in die steek gelaat en gevlug. Die mense wat Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifkenners en die familiehoofde vergader het. •Petrus het Hom op 'n afstand gevolg, tot in die voorhof van die hoëpriester. Hy het na binne gegaan en by die dienspersoneel gaan sit om te sien hoe dit sou afloop. Die leierpriesters en die hele Sanhedrin het vals getuienis teen Jesus gesoek, sodat hulle Hom kon doodmaak. Hulle kon egter niks vind nie, hoewel baie vals getuies na vore gekom het. Later het twee egter na vore gekom en gesê: “Hierdie man het gesê, ‘Ek kan die •tempel van God afbreek en binne drie dae weer opbou.’ ” Daarop het die hoëpriester opgestaan en vir Hom gesê: “Antwoord jy dan niks op wat hierdie mense teen jou getuig nie?” Maar Jesus het stilgebly. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek besweer jou by die lewende God dat jy vir ons moet sê of jy die Christus, die •Seun van God is.” Jesus antwoord hom: “Ú het dit gesê. Maar Ek sê vir julle: “Van nou af sal julle die •Seun van die Mens sien sit aan die regterhand van die Magtige, en Hom op die wolke van die hemel sien kom.” Toe het die hoëpriester sy boklere geskeur en gesê: “Hy het gelaster! Waarom het ons nog getuies nodig? Waarlik, nou het julle die godslastering gehoor! Wat is julle bevinding?” Hulle het geantwoord: “Hy verdien die dood.” Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Sommige het Hom geklap en gesê: “Profeteer vir ons, o Christus – wie is dit wat u geslaan het?”

MATTEUS 26:47-68 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus was nog besig om te praat, toe kom Judas, een van die twaalf dissipels, al daar aan, en saam met hom ’n groot klomp mense gewapen met swaarde en knuppels. Hulle is gestuur deur die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk. Sy verraaier het vir hulle ’n uitkenningsteken gegee en gesê: “Die een wat ek met ’n soen sal groet, dit is hý. Arresteer hom!” Hy het toe direk na Jesus toe gekom en gesê: “Gegroet, Rabbi!” Toe soengroet hy Hom. Jesus het vir hom gesê: “Vriend, gaan voort met dit waarvoor jy gekom het.” Die ander het toe nadergekom, Jesus gegryp en Hom gearresteer. Skielik het een van Jesus se mense sy swaard uitgepluk, die slaaf van die hoofpriester getref, en sy oor afgekap. “Bêre jou swaard,” sê Jesus vir hom. “Almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vernietig word. Besef jy nie dat Ek ’n ganse leërmag engele van my Vader sou kon vra en Hy sal hulle oombliklik stuur nie? Maar as Ek dit sou doen, hoe sou die Skrifwoord dan vervul word waarvolgens dit juis op hierdie manier moet gebeur?” Daarop vra Jesus vir die klomp mense: “Is Ek dan ’n gevaarlike krimineel dat julle My met swaarde en knuppels kom vang? Hoekom het julle My nie gearresteer waar Ek dag na dag by die tempel gesit en onderrig gee het nie? Maar dit alles gebeur sodat wat die profete geskryf het, vervul kan word.” Dit was toe dat al Jesus se dissipels Hom net daar gelos het en gemaak het dat hulle wegkom. Die groep wat Jesus gearresteer het, het Hom toe na die woning van Kajafas, die hoofpriester, gebring waar die skrifkenners en die familiehoofde bymekaar was. Intussen het Petrus Hom op ’n veilige afstand gevolg totdat hy uiteindelik in die binnehof van die hoofpriester se woning beland het. Daar het hy by die dienspersoneel gaan sit om te sien wat gaan gebeur. Die priesterhoofde, trouens die hele Joodse Raad, het vals getuienis teen Jesus probeer kry wat tot sy doodstraf sou lei. En, alhoewel baie hulle kom aanmeld het om vals getuienis teen Jesus te gee, kon hulle geen afdoende getuienis teen Hom kry nie. Eindelik het daar twee gekom en getuig: “Hierdie man het beweer: ‘Ek kan die tempel afbreek en binne drie dae weer opbou.’” Daarop het die hoofpriester opgestaan en vir Jesus gevra: “Het jy niks te sê op hierdie aanklag nie? Wat is hierdie ding wat hulle teen jou getuig?” Maar Jesus het bly swyg. Toe sê die hoofpriester: “Ek eis nou van jou in die Naam van die lewende God dat jy vir ons moet sê of jy die Messias, die Seun van God is.” Jesus het geantwoord: “Ja, dit is soos u sê. Ek verseker julle: Julle sal My, die Seun van die Mens, sien sit aan die regterhand van God, die Magtige, en hoe Hy terugkom op die wolke van die hemel.” Toe skeur die hoofpriester sy klere om te wys hoe geskok hy is en hy roep uit: “Lasterlik! Watter ander getuies het ons nog nodig? Julle het tog nou self hierdie lastering teen God gehoor. Wat is julle bevinding?” “Hy is skuldig,” antwoord hulle, “hy verdien die doodstraf.” Daarop spoeg hulle Hom in die gesig en slaan Hom met hulle vuiste. Party het Hom geklap en gesê: “Profeteer vir ons, geagte Messias! Wie is dit wat jou nou net geslaan het?”

MATTEUS 26:47-68 Bybel vir almal (ABA)

Judas het daar aangekom terwyl Jesus gepraat het. Judas was een van die twaalf dissipels. Daar was 'n groot klomp mense saam met hom. Hulle het swaarde en stokke by hulle gehad. Die priesterleiers en die familieleiers van die volk het hulle gestuur. Judas het vir Jesus verraai. Hy het voor daardie tyd vir die mense gesê wat hy sal doen om vir hulle te wys wie Jesus is. Hy het gesê: “Ek sal 'n man soen, dit is Jesus. Julle moet Hom vang.” Toe Judas daar aankom, gaan hy dadelik na Jesus toe en sê vir Hom: “Goeienaand, Meneer!” en hy soen vir Jesus. Jesus het vir hom gesê: “My vriend, jy het kom doen wat jy moes doen.” Die mense wat saam met Judas was, het gekom en hulle het vir Jesus gegryp en Hom gevang. Een van die mense wat by Jesus gestaan het, het sy swaard gegryp en hy het dit uitgetrek. Hy het die slaaf van die hoëpriester se oor met die swaard afgekap. Toe sê Jesus vir hom: “Sit jou swaard terug op sy plek, want die mense sal almal wat met die swaard veg, ook met die swaard doodmaak. Weet jy nie, Ek kan my hemelse Vader vra om My te help, en Hy sal dadelik meer as twaalf legioene engele stuur om My te help. Maar as God engele stuur om My te beskerm, dan sal die dinge wat die profete oor My geskryf het, nie gebeur nie.” Dadelik daarna het Jesus vir die klomp mense gesê: “Dink julle Ek wil teen die regering veg? Hoekom het julle swaarde en stokke saamgebring om My te vang? Ek het elke dag in die tempel gesit en Ek het daar vir die mense geleer, maar julle het My nie gevang nie. Al hierdie dinge het gebeur sodat dit waar kan word wat die profete geskryf het.” Daarna het Jesus se dissipels Hom alleen gelos en hulle het weggehardloop. Die mense wat vir Jesus gevang het, het Hom weggevat na Kajafas toe. Kajafas was die hoëpriester. Die skrifgeleerdes en die familieleiers het daar bymekaargekom. Petrus het ook saamgegaan tot voor die hoëpriester se huis, maar hy het nie naby Jesus geloop nie. Hy het ingegaan en by die wagte gaan sit om te sien wat sal gebeur. Die priesterleiers en die hele Joodse Raad wou hê iemand moet leuens vertel en sê dat Jesus iets gedoen het wat verkeerd is, sodat hulle Hom kon doodmaak. Maar hulle het niks gekry wat Jesus verkeerd gedoen het nie. Baie mense het gekom en hulle het leuens vertel, maar die Raad kon niks kry om Jesus te beskuldig nie. Later het twee mense gekom en hulle het gesê: “Hierdie man het gesê: ‘Ek kan die tempel van God afbreek en Ek sal dit in drie dae weer bou.’ ” Die hoëpriester het opgestaan en vir Jesus gevra: “Hoekom sê jy niks? Hoekom sê die mense dit alles teen jou?” Maar Jesus het stilgebly. Toe sê die hoëpriester vir Hom: “Ek sê vir jou, jy moet voor die God wat lewe, sê of jy die Christus is, die Seun van God.” Jesus het vir die hoëpriester gesê: “Jy sê dit self! Maar Ek sê vir julle, “van nou af sal julle sien dat Ek, die Seun van die mens, op die belangrikste plek sit langs God, God wat oor almal regeer, en julle sal sien Ek kom op die wolke.” Toe het die hoëpriester sy klere geskeur en gesê: “Hy het verkeerd gepraat oor God. Ons het nou genoeg gehoor. Julle het nou gehoor hoe verkeerd hy oor God praat. Wat dink julle?” Hulle het toe gesê Jesus is skuldig en hulle moet Hom doodmaak. Hulle het in Jesus se gesig gespoeg en hulle het Hom met die vuis geslaan. Party van hulle het Hom geklap en vir Hom gesê: “Christus, wys vir ons jy is 'n profeet, sê vir ons wie het jou geslaan.”

MATTEUS 26:47-68 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN terwyl Hy nog spreek, daar kom Judas, een van die twaalf, en saam met hom 'n groot menigte met swaarde en stokke, gestuur deur die owerpriesters en ouderlinge van die volk. En sy verraaier het vir hulle 'n teken gegee en gesê: Die een wat ek sal soen, dit is Hy, gryp Hom! En dadelik gaan hy na Jesus en sê: Gegroet, Rabbi! en hy het Hom gesoen. Maar Jesus sê vir hom: Vriend, waarvoor is jy hier? Toe kom hulle nader en slaan die hande aan Jesus en gryp Hom. En een van die wat saam met Jesus was, het meteens sy hand uitgesteek en sy swaard getrek; en hy het die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. Toe sê Jesus vir hom: Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan. Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie? Hoe sou die Skrifte dan vervul word dat dit so moet gebeur? In daardie uur het Jesus vir die skare gesê: Het julle soos teen 'n rower uitgekom met swaarde en stokke om My gevange te neem? Dag vir dag het Ek by julle gesit en leer in die tempel, en julle het My nie gegryp nie. Maar dit het alles gebeur, dat die Skrifte van die profete vervul sou word. Toe het al die dissipels Hom verlaat en gevlug. EN die wat Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kájafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die ouderlinge vergader het. En Petrus het Hom van ver af gevolg tot by die paleis van die hoëpriester, en hy het ingegaan en by die dienaars gaan sit om die einde te sien. En die owerpriesters en die ouderlinge en die hele Raad het valse getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak, en niks gevind nie. En alhoewel daar baie valse getuies gekom het, het hulle niks gevind nie. Maar oplaas kom daar twee valse getuies en sê: Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en dit in drie dae opbou. Daarop staan die hoëpriester op en sê vir Hom: Antwoord U niks nie? Wat getuig hierdie manne teen U? Maar Jesus het stilgebly. En die hoëpriester antwoord en sê vir Hom: Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is? Jesus antwoord hom: U het dit gesê. Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel. Toe verskeur die hoëpriester sy klere en sê: Hy het godslasterlik gespreek, wat het ons nog getuies nodig? Kyk, nou het julle sy godslastering gehoor! Wat dink julle? En hulle antwoord en sê: Hy is die dood skuldig. Toe het hulle in sy aangesig gespuug en Hom met die vuis geslaan, en ander het Hom met stokke geslaan en gesê: Profeteer vir ons, Christus! Wie is dit wat U geslaan het?

MATTEUS 26:47-68 Afrikaans 1983 (AFR83)

Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, een van die twaalf, daar aan, en saam met hom was 'n groot klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk gestuur. Die verraaier het met die manne 'n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom!” Hy het reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Goeiemôre, Rabbi,” en Hom gesoen. Maar Jesus sê vir hom: “Vriend, doen wat jy gekom het om te doen!” Toe kom hulle vorentoe, gryp vir Jesus en neem Hom gevange. Een van dié wat saam met Jesus was, gryp toe sy swaard en trek dit uit. Hy slaan na die slaaf van die hoëpriester en kap sy oor af. Toe sê Jesus vir hom: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom. Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel. Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?” Dit was toe dat Jesus vir die klomp mense gesê het: “Was dit vir julle nodig om met swaarde en stokke uit te gaan om My te vang asof Ek 'n rower is? Dag vir dag het Ek in die tempel gesit en die mense geleer, en julle het My nie gevange geneem nie. Maar dit alles het gebeur sodat die geskrifte van die profete vervul kan word.” Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop. Die mense wat vir Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die familiehoofde bymekaargekom het. Petrus het op 'n afstand agter Hom aan gegaan tot by die binnehof van die hoëpriester se woning. Hy het ingegaan en daar by die wagte gaan sit om te kyk hoe dit afloop. Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het vals getuienis teen Jesus probeer kry sodat hulle Hom kon doodmaak. Baie vals getuies het na vore gekom, en tog kon die Raad niks teen Hom vind nie. Eindelik het daar twee vorentoe gekom en gesê: “Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en in drie dae weer opbou.” Toe staan die hoëpriester op en sê vir Hom: “Verweer jy jou glad nie? Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?” Maar Jesus het niks gesê nie. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek stel jou onder 'n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?” Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle: “Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel. ” Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Hy het God gelaster. Waarvoor het ons nog getuies nodig? Daar het julle nou net die godslasterlike woorde gehoor. Wat dink julle?” Hulle het geantwoord: “Hy verdien die dood!” Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Hulle het Hom geklap en gesê: “Jy is mos 'n profeet, Christus! Sê vir ons, wie het jou geslaan?”

MATTEUS 26:47-68 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En terwyl hy nog spreek, kom Judas, een van die twaalf, en saam met hom 'n groot menigte met swaarde en stokke, van die owerpriesters en oudstes van die volk. En die een wat Hom verraai het, het aan hulle 'n teken gegee en gesê: Wie ek ook al sal soen, dit is hy; hou hom vas. En dadelik het hy na Jesus gekom en gesê: Wees gegroet, Meester! en hom gesoen. En Jesus sê vir hom: Vriend, waarom het jy gekom? Toe het hulle gekom en Jesus die hande opgelê en Hom gevat. En kyk, een van die wat saam met Jesus was, het sy hand uitgesteek en sy swaard getrek en 'n dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy oor afgeslaan. Toe sê Jesus vir hom: Bring jou swaard terug in sy plek, want almal wat die swaard gryp, sal deur die swaard omkom. Dink jy dat ek nie nou tot my Vader kan bid nie, en hy sal nou vir my meer as twaalf legioene engele gee? Maar hoe sal die Skrifte dan vervul word, dat dit so moet wees? In daardie selfde uur sê Jesus vir die skare: Het julle uitgetrek soos teen 'n dief met swaarde en stokke om My te gryp? Ek het daagliks by julle gesit en leer in die tempel, en julle het My nie gegryp nie. Maar dit het alles gebeur, sodat die Skrifte van die profete vervul sou word. Toe het al die dissipels Hom verlaat en gevlug. En die wat Jesus gegryp het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die ouderlinge vergader het. Maar Petrus het hom van ver af gevolg tot by die hoëpriester se paleis en ingegaan en by die dienaars gaan sit om die einde te sien. En die owerpriesters en ouderlinge en die hele Raad het valse getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak; Maar het niemand gevind nie; ja, al het baie valse getuies gekom, maar hulle het niks gevind nie. Op die laaste het twee valse getuies gekom, en gesê: Hierdie man het gesê: Ek is in staat om die tempel van God af te breek en dit in drie dae te bou. Toe staan die hoëpriester op en sê vir hom: Antwoord U niks nie? wat is dit wat hierdie teen jou getuig? Maar Jesus het stilgebly. En die hoëpriester antwoord en sê vir hom: Ek besweer jou by die lewende God, dat jy vir ons moet sê of U die Christus is, die Seun van God. Jesus sê vir hom: Jy het gesê; nogtans sê Ek vir jou, van nou af sal julle die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van krag en kom op die wolke van die hemel. Toe skeur die hoëpriester sy klere en sê: Hy het godslastering gespreek; wat het ons verder van getuies nodig? kyk, nou het julle sy godslastering gehoor. Wat dink julle? Hulle antwoord en sê: Hy is skuldig aan die dood. Toe het hulle in sy gesig gespoeg en hom met die vuis geslaan; en ander het hom met hul handpalms geslaan, en sê: Profeteer vir ons, Christus, wie is dit wat U geslaan het?

MATTEUS 26:47-68 Die Boodskap (DB)

Jesus se woorde was nog nie koud nie of Judas, een van sy twaalf getrouste volgelinge, daag daar op. Hy was nie alleen nie. Saam met hom was ’n hele bende polisiemanne met wapens en al. Die Joodse leiers het hulle natuurlik gestuur. Om seker te maak dat hulle nie die verkeerde een vang nie, het Judas met hulle ’n spesiale teken afgespreek: “Die een wat ek met ’n soen op die wang groet, dit is Hy. Sorg dat julle Hom in die hande kry.” Daar aangekom, stap Judas na Jesus toe: “Goeienaand, Rabbi. Hoe gaan dit?” en hy soen Hom toe op die wang. Jesus antwoord hom: “Lewer jy ’n vriend só oor?” Die spul polisiemanne het nie op hulle laat wag nie. Hulle was blitsvinnig op Jesus en het Hom geboei. Een van Jesus se vriende pluk toe sy swaard uit. Net daar kap hy ’n veiligheidsman wat vir die hoëpriester gewerk het, se oor morsaf. Vinnig keer Jesus hom: “Bêre jou swaard, man. As jy met ’n swaard wil baklei, gaan jou vyand jou netnou met sy swaard doodsteek. Los dit! Sê My liewer, hoe het jy My leer ken? Dink jy nie Ek kan my Vader vra om te kom help as Ek wil nie? Ek sê jou, twaalf groot groepe engele - selfs meer as Ek wil - staan slaggereed; reg om te kom help as dit moet. Maar as Ek hulle nou roep, kan die Skrif mos nie vervul word wat sê wat met My moet gebeur nie.” Jesus draai daarop na die klomp polisiemanne en vra: “Vir wat is julle tot die tande toe gewapen? Dink julle julle kom die een of ander terroris vang? Dag vir dag het Ek daar in die tempel gesit en vir julle gepreek. Tog het julle My nie kom vang nie. Nou skielik duik julle hier in die nag op met wapens en al! Maar dit verbaas My nie, want dit waaroor die profete lank terug geskryf het, gebeur nou hier voor ons almal se oë.” Terwyl Hy so praat, het sy dissipels gemaak dat hulle wegkom. Hulle het Jesus daarna na die hoëpriester, Kajafas, toe gevat. Al die Joodse leiers het klaar daar gesit en wag. Petrus het hulle op ’n veilige afstand gevolg tot by daardie huis. Daar het hy tussen die werksmense in die agterplaas gaan sit om te kyk wat gebeur. Die Joodse leiers het saamgewerk met die Joodse Raad om klagtes teen Jesus te soek wat hulle rede sou gee om Hom dood te maak. Dit het nie saak gemaak of dit waar was of nie. Daar was nie ’n tekort aan mense wat bereid was om allerhande liegstories oor Jesus te vertel nie. Maar hulle stories was so swak dat niemand hulle sou glo nie. Uiteindelik kry hulle toe twee wat gesê het: “Hierdie man het beweer: ‘Ek kan hierdie tempel tot op die grond afbreek en in drie dae weer opbou net soos dit was.’” Die hoëpriester staan toe op en sê vir Jesus: “Nou toe, jy het die ernstige klag van hierdie mense teen jou gehoor. Wat sê jy daarvan?” Jesus het egter doodstil gebly. Vererg sê die hoëpriester: “Ek beveel jou op gesag van God, sê vir ons: Is jy die Christus, die Seun van God - ja of nee?” Hierdie keer het Jesus nie stilgebly nie: “Jy sê dit self. Maar dit is maar die begin! Julle sal dit van nou af self ook sien. Julle sal die Seun sien sit aan die regterhand van Hom wat al die mag het. Julle sal Hom op die wolke sien kom.” Dit was waarvoor die hoëpriester gewag het. Hy staan toe op en skeur sy klere sodat almal kan sien hoe ontsteld en woedend hy is. “Nou het jy te ver gegaan! Jy het die eer van God aangetas. Vir wat soek ons nog aanklagte? Julle almal het mos gehoor watter vreeslike dinge hierdie man kwytraak. Hy het selfs God seergemaak met wat Hy hier durf sê het. Dink julle nie ook so nie?” Die ander het geesdriftig saamgestem. “Geen kwessie nie! Hy moet doodgemaak word. Dit sal sy verdiende loon wees!” Hulle dam Hom toe met die vuis by en spoeg Hom in die gesig. Terwyl hulle Hom klap, jou hulle Hom uit: “Wie’t jou geklap, Christus? Toe, sê vir ons. Jy noem jouself mos ’n profeet!”