Jesus se woorde was nog nie koud nie of Judas, een van sy twaalf getrouste volgelinge, daag daar op. Hy was nie alleen nie. Saam met hom was ’n hele bende polisiemanne met wapens en al. Die Joodse leiers het hulle natuurlik gestuur. Om seker te maak dat hulle nie die verkeerde een vang nie, het Judas met hulle ’n spesiale teken afgespreek: “Die een wat ek met ’n soen op die wang groet, dit is Hy. Sorg dat julle Hom in die hande kry.” Daar aangekom, stap Judas na Jesus toe: “Goeienaand, Rabbi. Hoe gaan dit?” en hy soen Hom toe op die wang. Jesus antwoord hom: “Lewer jy ’n vriend só oor?” Die spul polisiemanne het nie op hulle laat wag nie. Hulle was blitsvinnig op Jesus en het Hom geboei. Een van Jesus se vriende pluk toe sy swaard uit. Net daar kap hy ’n veiligheidsman wat vir die hoëpriester gewerk het, se oor morsaf. Vinnig keer Jesus hom: “Bêre jou swaard, man. As jy met ’n swaard wil baklei, gaan jou vyand jou netnou met sy swaard doodsteek. Los dit! Sê My liewer, hoe het jy My leer ken? Dink jy nie Ek kan my Vader vra om te kom help as Ek wil nie? Ek sê jou, twaalf groot groepe engele - selfs meer as Ek wil - staan slaggereed; reg om te kom help as dit moet. Maar as Ek hulle nou roep, kan die Skrif mos nie vervul word wat sê wat met My moet gebeur nie.” Jesus draai daarop na die klomp polisiemanne en vra: “Vir wat is julle tot die tande toe gewapen? Dink julle julle kom die een of ander terroris vang? Dag vir dag het Ek daar in die tempel gesit en vir julle gepreek. Tog het julle My nie kom vang nie. Nou skielik duik julle hier in die nag op met wapens en al! Maar dit verbaas My nie, want dit waaroor die profete lank terug geskryf het, gebeur nou hier voor ons almal se oë.” Terwyl Hy so praat, het sy dissipels gemaak dat hulle wegkom. Hulle het Jesus daarna na die hoëpriester, Kajafas, toe gevat. Al die Joodse leiers het klaar daar gesit en wag. Petrus het hulle op ’n veilige afstand gevolg tot by daardie huis. Daar het hy tussen die werksmense in die agterplaas gaan sit om te kyk wat gebeur. Die Joodse leiers het saamgewerk met die Joodse Raad om klagtes teen Jesus te soek wat hulle rede sou gee om Hom dood te maak. Dit het nie saak gemaak of dit waar was of nie. Daar was nie ’n tekort aan mense wat bereid was om allerhande liegstories oor Jesus te vertel nie. Maar hulle stories was so swak dat niemand hulle sou glo nie. Uiteindelik kry hulle toe twee wat gesê het: “Hierdie man het beweer: ‘Ek kan hierdie tempel tot op die grond afbreek en in drie dae weer opbou net soos dit was.’” Die hoëpriester staan toe op en sê vir Jesus: “Nou toe, jy het die ernstige klag van hierdie mense teen jou gehoor. Wat sê jy daarvan?” Jesus het egter doodstil gebly. Vererg sê die hoëpriester: “Ek beveel jou op gesag van God, sê vir ons: Is jy die Christus, die Seun van God - ja of nee?” Hierdie keer het Jesus nie stilgebly nie: “Jy sê dit self. Maar dit is maar die begin! Julle sal dit van nou af self ook sien. Julle sal die Seun sien sit aan die regterhand van Hom wat al die mag het. Julle sal Hom op die wolke sien kom.” Dit was waarvoor die hoëpriester gewag het. Hy staan toe op en skeur sy klere sodat almal kan sien hoe ontsteld en woedend hy is. “Nou het jy te ver gegaan! Jy het die eer van God aangetas. Vir wat soek ons nog aanklagte? Julle almal het mos gehoor watter vreeslike dinge hierdie man kwytraak. Hy het selfs God seergemaak met wat Hy hier durf sê het. Dink julle nie ook so nie?” Die ander het geesdriftig saamgestem. “Geen kwessie nie! Hy moet doodgemaak word. Dit sal sy verdiende loon wees!” Hulle dam Hom toe met die vuis by en spoeg Hom in die gesig. Terwyl hulle Hom klap, jou hulle Hom uit: “Wie’t jou geklap, Christus? Toe, sê vir ons. Jy noem jouself mos ’n profeet!”
Lees Matteus 26
Deel
Vergelyk alle weergawes: Matteus 26:47-68
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's