MATTEUS 26:26-75

MATTEUS 26:26-75 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het brood geneem terwyl hulle geëet het en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee. Hy het gesê: “Neem die brood en eet dit. Dit is my liggaam.” Jesus het ook 'n beker wyn geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Toe gee Hy dit vir sy dissipels en sê: “Drink almal daarvan. Die wyn in hierdie beker is my bloed. My bloed is die bloed van die verbond. My bloed sal vir baie mense vloei sodat God hulle sondes kan vergewe. Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink nie tot daardie dag wanneer Ek saam met julle nuwe wyn sal drink by my Vader wat Koning is.” Jesus en sy dissipels het 'n lied gesing en die Here geprys, en hulle het uitgegaan na die Olyf-berg. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle almal sal vannag ophou om in My te glo. Die profeet het geskryf: “ God het gesê: Ek sal die skaapwagter doodmaak, en die skape van die trop sal weghardloop na al die kante toe. “Maar God sal My weer laat lewe, en dan sal Ek voor julle na Galilea gaan.” Petrus sê toe vir Jesus: “Almal sal miskien ophou om in U te glo, maar ek sal nooit ophou om in U te glo nie!” Jesus het vir hom gesê: “Ek sê vir jou, en dit is seker: Jy sal in hierdie nag drie maal sê jy ken My nie. Jy sal dit sê voordat die haan vannag kraai.” Maar Petrus het gesê: “As ek saam met U moet sterf, dan sal ek sterf, maar ek sal nooit sê dat ek U nie ken nie.” Al die ander dissipels het dieselfde gesê. Jesus en sy dissipels kom toe by 'n plek, Getsemane, en Jesus sê vir hulle: “Sit hier, Ek wil daar gaan bid.” Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam met Hom geneem. Jesus het baie hartseer en bang geword. Hy het vir hulle gesê: “Ek voel baie hartseer. Bly hier en bly wakker saam met My.” Jesus het 'n bietjie verder geloop en Hy het met sy gesig teen die grond gaan lê en aangehou bid: “My Vader, as U dit wil doen, neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.” Jesus het teruggekom na die drie dissipels toe en toe sien Hy hulle slaap. Hy het vir Petrus gevra: “Hoekom kon julle nie een uur saam met My wakker bly nie? Julle moet wakker wees en bid dat niks sal gebeur wat julle sal laat sonde doen nie. Die mens se gees wil graag doen wat reg is, maar die mens self is te swak om reg te doen.” Jesus het weer, vir die tweede maal, weggegaan en gebid: “My Vader, as U nie hierdie swaarkry wil wegneem van My nie, as Ek hierdie beker moet drink, dan moet U doen wat U wil hê.” Toe Jesus terugkom, het Hy weer gesien die drie dissipels slaap, hulle kon nie wakker bly nie. Jesus het weer weggegaan van hulle. Hy het die derde maal gaan bid en Hy het dieselfde woorde gesê. Toe Jesus die derde maal by die dissipels kom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Kyk, dit is nou die tyd wanneer iemand My, die Seun van die mens, sal verraai, sodat sondaars My kan vang. Staan op, ons moet gaan. Die man wat My sal verraai, is hier naby.” Judas het daar aangekom terwyl Jesus gepraat het. Judas was een van die twaalf dissipels. Daar was 'n groot klomp mense saam met hom. Hulle het swaarde en stokke by hulle gehad. Die priesterleiers en die familieleiers van die volk het hulle gestuur. Judas het vir Jesus verraai. Hy het voor daardie tyd vir die mense gesê wat hy sal doen om vir hulle te wys wie Jesus is. Hy het gesê: “Ek sal 'n man soen, dit is Jesus. Julle moet Hom vang.” Toe Judas daar aankom, gaan hy dadelik na Jesus toe en sê vir Hom: “Goeienaand, Meneer!” en hy soen vir Jesus. Jesus het vir hom gesê: “My vriend, jy het kom doen wat jy moes doen.” Die mense wat saam met Judas was, het gekom en hulle het vir Jesus gegryp en Hom gevang. Een van die mense wat by Jesus gestaan het, het sy swaard gegryp en hy het dit uitgetrek. Hy het die slaaf van die hoëpriester se oor met die swaard afgekap. Toe sê Jesus vir hom: “Sit jou swaard terug op sy plek, want die mense sal almal wat met die swaard veg, ook met die swaard doodmaak. Weet jy nie, Ek kan my hemelse Vader vra om My te help, en Hy sal dadelik meer as twaalf legioene engele stuur om My te help. Maar as God engele stuur om My te beskerm, dan sal die dinge wat die profete oor My geskryf het, nie gebeur nie.” Dadelik daarna het Jesus vir die klomp mense gesê: “Dink julle Ek wil teen die regering veg? Hoekom het julle swaarde en stokke saamgebring om My te vang? Ek het elke dag in die tempel gesit en Ek het daar vir die mense geleer, maar julle het My nie gevang nie. Al hierdie dinge het gebeur sodat dit waar kan word wat die profete geskryf het.” Daarna het Jesus se dissipels Hom alleen gelos en hulle het weggehardloop. Die mense wat vir Jesus gevang het, het Hom weggevat na Kajafas toe. Kajafas was die hoëpriester. Die skrifgeleerdes en die familieleiers het daar bymekaargekom. Petrus het ook saamgegaan tot voor die hoëpriester se huis, maar hy het nie naby Jesus geloop nie. Hy het ingegaan en by die wagte gaan sit om te sien wat sal gebeur. Die priesterleiers en die hele Joodse Raad wou hê iemand moet leuens vertel en sê dat Jesus iets gedoen het wat verkeerd is, sodat hulle Hom kon doodmaak. Maar hulle het niks gekry wat Jesus verkeerd gedoen het nie. Baie mense het gekom en hulle het leuens vertel, maar die Raad kon niks kry om Jesus te beskuldig nie. Later het twee mense gekom en hulle het gesê: “Hierdie man het gesê: ‘Ek kan die tempel van God afbreek en Ek sal dit in drie dae weer bou.’ ” Die hoëpriester het opgestaan en vir Jesus gevra: “Hoekom sê jy niks? Hoekom sê die mense dit alles teen jou?” Maar Jesus het stilgebly. Toe sê die hoëpriester vir Hom: “Ek sê vir jou, jy moet voor die God wat lewe, sê of jy die Christus is, die Seun van God.” Jesus het vir die hoëpriester gesê: “Jy sê dit self! Maar Ek sê vir julle, “van nou af sal julle sien dat Ek, die Seun van die mens, op die belangrikste plek sit langs God, God wat oor almal regeer, en julle sal sien Ek kom op die wolke.” Toe het die hoëpriester sy klere geskeur en gesê: “Hy het verkeerd gepraat oor God. Ons het nou genoeg gehoor. Julle het nou gehoor hoe verkeerd hy oor God praat. Wat dink julle?” Hulle het toe gesê Jesus is skuldig en hulle moet Hom doodmaak. Hulle het in Jesus se gesig gespoeg en hulle het Hom met die vuis geslaan. Party van hulle het Hom geklap en vir Hom gesê: “Christus, wys vir ons jy is 'n profeet, sê vir ons wie het jou geslaan.” Petrus was op die oop stuk grond voor die hoëpriester se huis. Een van die meisies wat daar gewerk het, het na hom toe gekom en gesê: “Jy was ook saam met Jesus van Galilea.” Petrus het gesê dit is nie waar nie. Hy het gesê: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.” Almal kon dit hoor. Petrus het toe uitgegaan na die poort. 'n Ander meisie het vir Petrus gesien en sy het vir die mense wat daar gestaan het, gesê: “Hierdie man was saam met Jesus van Nasaret.” Maar Petrus het weer gesê: “Dit is nie waar nie. Ek ken nie die man nie. Die Here is my getuie.” 'n Bietjie later het die mense wat daar gestaan het, na Petrus toe gekom en vir hom gesê: “Jy is regtig een van sy dissipels, want ons kan hoor jy praat soos hulle.” Petrus het gesê: “Ek ken glad nie hierdie man nie. God is my getuie. Hy kan my straf as ek nie die waarheid praat nie.” En dadelik, nadat hy dit gesê het, het die haan gekraai. Toe het Petrus onthou wat Jesus vir hom gesê het: “Jy sal drie maal sê jy ken My nie. Jy sal dit sê voordat die haan kraai.” Petrus het buitetoe gegaan en hy het hard gehuil.

MATTEUS 26:26-75 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam. Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes. Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader. En nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg. TOE sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word. Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan. Daarop antwoord Petrus en sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie. Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, in hierdie nag, voordat die haan gekraai het, sal jy My drie maal verloën. Petrus sê vir Hom: Al moes ek ook saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie! So het ook al die dissipels gesê. TOE kom Jesus met hulle in 'n plek met die naam van Getsémané, en Hy sê vir die dissipels: Sit hier onderwyl Ek daar gaan bid. En Hy neem Petrus en die twee seuns van Sebedéüs saam en begin bedroef en benoud word. Toe sê Hy vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My. En Hy het 'n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil. En Hy kom by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied. Toe kom Hy en vind hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar. En Hy het hulle met rus gelaat en weer vir die derde maal gaan bid en dieselfde woorde gesê. Daarop kom Hy by sy dissipels en sê vir hulle: Slaap maar voort en rus. Kyk, die uur is naby, en die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van sondaars. Staan op, laat ons gaan; kyk, hy is naby wat My verraai. EN terwyl Hy nog spreek, daar kom Judas, een van die twaalf, en saam met hom 'n groot menigte met swaarde en stokke, gestuur deur die owerpriesters en ouderlinge van die volk. En sy verraaier het vir hulle 'n teken gegee en gesê: Die een wat ek sal soen, dit is Hy, gryp Hom! En dadelik gaan hy na Jesus en sê: Gegroet, Rabbi! en hy het Hom gesoen. Maar Jesus sê vir hom: Vriend, waarvoor is jy hier? Toe kom hulle nader en slaan die hande aan Jesus en gryp Hom. En een van die wat saam met Jesus was, het meteens sy hand uitgesteek en sy swaard getrek; en hy het die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy oor afgekap. Toe sê Jesus vir hom: Sit jou swaard in sy plek terug; want almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan. Of dink jy dat Ek nie nou my Vader kan bid en Hy vir My meer as twaalf legioene van engele beskikbaar sal stel nie? Hoe sou die Skrifte dan vervul word dat dit so moet gebeur? In daardie uur het Jesus vir die skare gesê: Het julle soos teen 'n rower uitgekom met swaarde en stokke om My gevange te neem? Dag vir dag het Ek by julle gesit en leer in die tempel, en julle het My nie gegryp nie. Maar dit het alles gebeur, dat die Skrifte van die profete vervul sou word. Toe het al die dissipels Hom verlaat en gevlug. EN die wat Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kájafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die ouderlinge vergader het. En Petrus het Hom van ver af gevolg tot by die paleis van die hoëpriester, en hy het ingegaan en by die dienaars gaan sit om die einde te sien. En die owerpriesters en die ouderlinge en die hele Raad het valse getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak, en niks gevind nie. En alhoewel daar baie valse getuies gekom het, het hulle niks gevind nie. Maar oplaas kom daar twee valse getuies en sê: Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en dit in drie dae opbou. Daarop staan die hoëpriester op en sê vir Hom: Antwoord U niks nie? Wat getuig hierdie manne teen U? Maar Jesus het stilgebly. En die hoëpriester antwoord en sê vir Hom: Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is? Jesus antwoord hom: U het dit gesê. Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel. Toe verskeur die hoëpriester sy klere en sê: Hy het godslasterlik gespreek, wat het ons nog getuies nodig? Kyk, nou het julle sy godslastering gehoor! Wat dink julle? En hulle antwoord en sê: Hy is die dood skuldig. Toe het hulle in sy aangesig gespuug en Hom met die vuis geslaan, en ander het Hom met stokke geslaan en gesê: Profeteer vir ons, Christus! Wie is dit wat U geslaan het? EN Petrus het buitekant gesit in die binneplaas van die paleis, en 'n sekere diensmeisie het na hom gekom en gesê: Jy was ook by Jesus, die Galiléër! Maar hy het dit voor almal ontken en gesê: Ek weet nie wat jy sê nie. En terwyl hy uitgaan na die poort toe, sien 'n ander diensmeisie hom en sê aan die wat daar was: Hierdie een was ook by Jesus, die Nasaréner. En met 'n eed ontken hy dit weer: Ek ken die man nie. Maar 'n bietjie later kom die wat daar staan, en sê vir Petrus: Waarlik, jy is ook een van hulle, want ook jou spraak maak jou bekend. Toe begin hy homself te verwens en te sweer: Ek ken die man nie. En dadelik het die haan gekraai, en Petrus het die woord van Jesus onthou wat Hy vir hom gesê het: Voor die haan kraai, sal jy My drie maal verloën. En hy het buitentoe gegaan en bitterlik geween.

MATTEUS 26:26-75 Afrikaans 1983 (AFR83)

En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.” Toe neem Hy 'n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes. Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.” Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle uitgegaan Olyfberg toe. Toe sê Jesus vir hulle: “Julle almal sal My vannag nog in die steek laat. Daar staan immers geskrywe: “ ‘Ek sal die herder doodmaak, en die skape van sy kudde sal uitmekaar gejaag word.’ “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek julle vooruitgaan na Galilea toe.” Daarop het Petrus vir Hom gesê: “Al sal hulle U ook almal in die steek laat, ék sal U nooit in die steek laat nie.” Toe sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek jou: Vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.” Petrus sê vir Hom: “Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie!” Al die ander dissipels het ook so gesê. Daarna kom Jesus met sy dissipels by 'n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.” Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.” Hy het 'n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Daarna kom Hy na die dissipels toe terug en kry hulle aan die slaap. Hy sê toe vir Petrus: “Kon julle nie eens een uur lank saam met My waak nie? Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.” 'n Tweede keer het Hy gaan bid en gesê: “My Vader, as hierdie lydensbeker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.” Toe Hy terugkom, kry Hy hulle weer aan die slaap, want van die vaak kon hulle nie hulle oë oophou nie. Hy het hulle weer alleen laat bly en 'n derde keer gaan bid en dieselfde woorde gesê. Toe kom Hy na die dissipels toe terug en sê vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Die uur het gekom. Die Seun van die mens word in die hande van sondaars oorgegee. Staan op, kom ons loop. Kyk, die man wat My verraai, is hier naby.” Op daardie oomblik, terwyl Jesus nog praat, kom Judas, een van die twaalf, daar aan, en saam met hom was 'n groot klomp mense met swaarde en stokke. Hulle is deur die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk gestuur. Die verraaier het met die manne 'n teken afgespreek. Hy het gesê: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom!” Hy het reguit na Jesus toe gegaan en gesê: “Goeiemôre, Rabbi,” en Hom gesoen. Maar Jesus sê vir hom: “Vriend, doen wat jy gekom het om te doen!” Toe kom hulle vorentoe, gryp vir Jesus en neem Hom gevange. Een van dié wat saam met Jesus was, gryp toe sy swaard en trek dit uit. Hy slaan na die slaaf van die hoëpriester en kap sy oor af. Toe sê Jesus vir hom: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom. Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel. Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?” Dit was toe dat Jesus vir die klomp mense gesê het: “Was dit vir julle nodig om met swaarde en stokke uit te gaan om My te vang asof Ek 'n rower is? Dag vir dag het Ek in die tempel gesit en die mense geleer, en julle het My nie gevange geneem nie. Maar dit alles het gebeur sodat die geskrifte van die profete vervul kan word.” Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop. Die mense wat vir Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die familiehoofde bymekaargekom het. Petrus het op 'n afstand agter Hom aan gegaan tot by die binnehof van die hoëpriester se woning. Hy het ingegaan en daar by die wagte gaan sit om te kyk hoe dit afloop. Die priesterhoofde en die hele Joodse Raad het vals getuienis teen Jesus probeer kry sodat hulle Hom kon doodmaak. Baie vals getuies het na vore gekom, en tog kon die Raad niks teen Hom vind nie. Eindelik het daar twee vorentoe gekom en gesê: “Hierdie man het gesê: Ek kan die tempel van God afbreek en in drie dae weer opbou.” Toe staan die hoëpriester op en sê vir Hom: “Verweer jy jou glad nie? Wat van die getuienis wat hierdie mense teen jou inbring?” Maar Jesus het niks gesê nie. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek stel jou onder 'n eed by die lewende God dat jy vir ons moet sê: Is jy die Christus, die Seun van God?” Jesus antwoord hom: “Dit is soos u sê. Daarby sê Ek vir julle: “Van nou af sal julle die Seun van die mens sien waar Hy aan die regterhand sit van Hom wat magtig is, en julle sal Hom sien kom op die wolke van die hemel. ” Toe skeur die hoëpriester uit verontwaardiging sy klere en sê: “Hy het God gelaster. Waarvoor het ons nog getuies nodig? Daar het julle nou net die godslasterlike woorde gehoor. Wat dink julle?” Hulle het geantwoord: “Hy verdien die dood!” Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Hulle het Hom geklap en gesê: “Jy is mos 'n profeet, Christus! Sê vir ons, wie het jou geslaan?” Petrus het buite in die binnehof gesit toe 'n diensmeisie na hom toe kom en sê: “Jy was ook saam met Jesus die Galileër.” Maar hy het dit voor almal ontken: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.” Hy gaan toe na die uitgang van die binnehof. Daar sien 'n ander diensmeisie hom en sê vir dié wat daar staan: “Hierdie man was saam met Jesus van Nasaret.” Weer het Petrus dit ontken en met 'n eed gesê: “Ek ken die man nie!” 'n Rukkie later kom die manne wat daar staan, na Petrus toe en sê: “Dit is waar, jy is ook een van hulle. 'n Mens kan dit aan jou spraak hoor.” Toe begin hy vloek, en hy sweer: “Ek ken die man nie!” En op daardie oomblik het daar 'n haan gekraai. Toe val dit Petrus by wat Jesus gesê het: “Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.

MATTEUS 26:26-75 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit, gee dit vir die dissipels en sê: “Neem, eet, dit is my liggaam.” Toe het Hy die beker geneem, gedank, dit vir hulle gegee en gesê: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed van die verbond wat vir baie uitgegiet word tot vergewing van sondes. Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek beslis nie weer van hierdie vrug van die druiwestok drink nie, tot daardie dag wanneer Ek dit nuut saam met julle sal drink in die •koninkryk van my Vader.” Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle na die Olyfberg vertrek. Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal in hierdie nag van My afvallig raak. Daar staan immers geskryf, “ ‘Ek sal die herder neervel, en die skape van die kudde sal uitmekaar gejaag word.’ “Maar nadat Ek opgewek is, sal Ek voor julle uit gaan na Galilea.” •Petrus het egter vir Hom gesê: “Selfs al sal almal van U afvallig raak, ek sal nooit afvallig raak nie.” Jesus het hom geantwoord: “•Amen, Ek sê vir jou, jy sal My in hierdie nag, voor 'n haan kraai, drie maal verloën. ” Petrus sê toe vir Hom: “Selfs al moet ek saam met U sterf, ek sal U beslis nie verloën nie!” Al die dissipels het dieselfde gesê. Toe gaan Jesus saam met hulle na 'n plek wat Getsemane genoem word, en Hy sê vir die dissipels: “Bly hier sit totdat Ek klaar gaan bid het.” Hy neem toe vir •Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam. En Hy het bedroef en beangs begin word. Toe sê Hy vir hulle: “My siel is diep bedroef, tot die dood toe. Bly hier en waak saam met My.” Hy het toe 'n entjie verder gegaan, met sy gesig teen die grond neergeval en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan. Nogtans, nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Hy kom toe by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: “Was julle dan nie in staat om een uur lank saam met My te waak nie? Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” Hy het vir 'n tweede keer weggegaan en gebid: “My Vader, as dit nie moontlik is dat hierdie beker verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied. ” Toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar van die slaap. Hy het hulle toe daar agtergelaat, weer teruggegaan en vir die derde keer gebid, en dieselfde woorde herhaal. Toe kom Hy by die dissipels en sê vir hulle: “Julle slaap en rus nog steeds? Kyk, die uur het aangebreek, en die •Seun van die Mens word in die hande van sondaars oorgelewer. Staan op, laat ons gaan. Kyk, die een wat My verraai, is naby.” Jesus was nog besig om te praat, toe Judas, een van die twaalf, skielik daar opdaag. Saam met hom was daar 'n groot menigte met swaarde en knuppels, gestuur deur die leierpriesters en familiehoofde van die volk. Sy verraaier het vir hulle 'n teken gegee: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom.” Hy het dadelik na Jesus gegaan en gesê, “Gegroet, Rabbi!” en Hom gesoen. Jesus het vir hom gesê: “Vriend, doen waarvoor jy hier is.” Toe het hulle nader gekom, Jesus gegryp en Hom gevange geneem. En skielik het een van dié saam met Jesus na sy swaard gegryp en dit uitgetrek. Hy het die slaaf van die hoëpriester getref en sy oor afgekap. Toe sê Jesus vir hom: “Bêre jou swaard op sy plek. Want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard omkom. Of dink jy nie Ek kan maar net my Vader aanroep, en Hy sal dadelik meer as twaalf legioene engele tot My beskikking stel nie? Maar hoe sal die Skrifte dan vervul word wat sê dat dit so moet gebeur?” Op daardie oomblik het Jesus vir die menigte gevra: “Het julle soos teen 'n rower uitgetrek met swaarde en knuppels om My gevange te neem? Dag ná dag het Ek op die tempelterrein gesit en onderrig gee, en julle het My nie gevange geneem nie. Maar dit alles het gebeur, sodat die Skrifte van die profete vervul sou word.” Daarop het al die dissipels Hom in die steek gelaat en gevlug. Die mense wat Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifkenners en die familiehoofde vergader het. •Petrus het Hom op 'n afstand gevolg, tot in die voorhof van die hoëpriester. Hy het na binne gegaan en by die dienspersoneel gaan sit om te sien hoe dit sou afloop. Die leierpriesters en die hele Sanhedrin het vals getuienis teen Jesus gesoek, sodat hulle Hom kon doodmaak. Hulle kon egter niks vind nie, hoewel baie vals getuies na vore gekom het. Later het twee egter na vore gekom en gesê: “Hierdie man het gesê, ‘Ek kan die •tempel van God afbreek en binne drie dae weer opbou.’ ” Daarop het die hoëpriester opgestaan en vir Hom gesê: “Antwoord jy dan niks op wat hierdie mense teen jou getuig nie?” Maar Jesus het stilgebly. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek besweer jou by die lewende God dat jy vir ons moet sê of jy die Christus, die •Seun van God is.” Jesus antwoord hom: “Ú het dit gesê. Maar Ek sê vir julle: “Van nou af sal julle die •Seun van die Mens sien sit aan die regterhand van die Magtige, en Hom op die wolke van die hemel sien kom.” Toe het die hoëpriester sy boklere geskeur en gesê: “Hy het gelaster! Waarom het ons nog getuies nodig? Waarlik, nou het julle die godslastering gehoor! Wat is julle bevinding?” Hulle het geantwoord: “Hy verdien die dood.” Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Sommige het Hom geklap en gesê: “Profeteer vir ons, o Christus – wie is dit wat u geslaan het?” •Petrus het buite gesit, in die binnehof. 'n Sekere diensmeisie het na hom gekom en gesê: “Jy was ook saam met Jesus die Galileër.” Hy het dit egter voor almal ontken: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.” En 'n ander diensmeisie het hom na die poort sien loop, en sê toe vir die mense daar: “Hierdie man was saam met Jesus die Nasarener.” Weer het hy dit ontken, met 'n eed: “Ek ken die man nie.” Ná 'n rukkie het die omstanders nader gekom en vir Petrus gesê: “Jy is beslis ook een van hulle; trouens, jou uitspraak verklap jou.” Daarop begin hy vloek, en sweer: “Ek ken die man nie!” En onmiddellik het 'n haan gekraai. Toe het Petrus die woorde onthou wat Jesus gesê het: “Voordat 'n haan kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het na buite gegaan en bitterlik begin huil.

MATTEUS 26:26-75 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En terwyl hulle eet, neem Jesus brood en seën dit, breek dit en gee dit aan die dissipels en sê: Neem, eet; dit is my liggaam. En Hy het die beker geneem en gedank en dit aan hulle gegee en gesê: Drink almal daaruit; Want dit is my bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergewing van sondes. Maar Ek sê vir julle, Ek sal van nou af nie van hierdie vrug van die wingerdstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit saam met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader. En nadat hulle 'n lofsang gesing het, het hulle uitgegaan na die Olyfberg. Toe sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My, want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word. Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uitgaan na Galilea. Petrus antwoord en sê vir hom: Al sal almal aanstoot neem deur jou, tog sal ek nooit aanstoot neem nie. Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, in hierdie nag, voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën. Petrus sê vir hom: Al sou ek saam met jou sterwe, ek sal jou nie verloën nie. So het ook al die dissipels gesê. Toe kom Jesus saam met hulle na 'n plek met die naam van Getsemane en sê vir die dissipels: Sit hier terwyl Ek daar gaan bid. En hy het Petrus en die twee seuns van Sebedéüs saamgeneem en bedroef en baie swaar begin word. Toe sê Hy vir hulle: My siel is baie bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My. En Hy het 'n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê: My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil. En Hy het na die dissipels gekom en hulle aan die slaap gevind en vir Petrus gesê: Wat, kon julle nie een uur saam met My waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie; die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak. Hy het weer vir die tweede keer weggegaan en gebid en gesê: My Vader, as hierdie beker nie by My verbygaan as Ek dit nie drink nie, laat u wil geskied. En hy het gekom en hulle weer aan die slaap gevind, want hulle oë was swaar. En hy het hulle verlaat en weer weggegaan en vir die derde keer gebid en dieselfde woorde gesê. Toe kom Hy na sy dissipels en sê vir hulle: Slaap nou verder en rus; kyk, die uur is naby en die Seun van die mens word oorgelewer in die hande van sondaars. Staan op, laat ons gaan; kyk, Hy is naby wat My verraai. En terwyl hy nog spreek, kom Judas, een van die twaalf, en saam met hom 'n groot menigte met swaarde en stokke, van die owerpriesters en oudstes van die volk. En die een wat Hom verraai het, het aan hulle 'n teken gegee en gesê: Wie ek ook al sal soen, dit is hy; hou hom vas. En dadelik het hy na Jesus gekom en gesê: Wees gegroet, Meester! en hom gesoen. En Jesus sê vir hom: Vriend, waarom het jy gekom? Toe het hulle gekom en Jesus die hande opgelê en Hom gevat. En kyk, een van die wat saam met Jesus was, het sy hand uitgesteek en sy swaard getrek en 'n dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy oor afgeslaan. Toe sê Jesus vir hom: Bring jou swaard terug in sy plek, want almal wat die swaard gryp, sal deur die swaard omkom. Dink jy dat ek nie nou tot my Vader kan bid nie, en hy sal nou vir my meer as twaalf legioene engele gee? Maar hoe sal die Skrifte dan vervul word, dat dit so moet wees? In daardie selfde uur sê Jesus vir die skare: Het julle uitgetrek soos teen 'n dief met swaarde en stokke om My te gryp? Ek het daagliks by julle gesit en leer in die tempel, en julle het My nie gegryp nie. Maar dit het alles gebeur, sodat die Skrifte van die profete vervul sou word. Toe het al die dissipels Hom verlaat en gevlug. En die wat Jesus gegryp het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die ouderlinge vergader het. Maar Petrus het hom van ver af gevolg tot by die hoëpriester se paleis en ingegaan en by die dienaars gaan sit om die einde te sien. En die owerpriesters en ouderlinge en die hele Raad het valse getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak; Maar het niemand gevind nie; ja, al het baie valse getuies gekom, maar hulle het niks gevind nie. Op die laaste het twee valse getuies gekom, en gesê: Hierdie man het gesê: Ek is in staat om die tempel van God af te breek en dit in drie dae te bou. Toe staan die hoëpriester op en sê vir hom: Antwoord U niks nie? wat is dit wat hierdie teen jou getuig? Maar Jesus het stilgebly. En die hoëpriester antwoord en sê vir hom: Ek besweer jou by die lewende God, dat jy vir ons moet sê of U die Christus is, die Seun van God. Jesus sê vir hom: Jy het gesê; nogtans sê Ek vir jou, van nou af sal julle die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van krag en kom op die wolke van die hemel. Toe skeur die hoëpriester sy klere en sê: Hy het godslastering gespreek; wat het ons verder van getuies nodig? kyk, nou het julle sy godslastering gehoor. Wat dink julle? Hulle antwoord en sê: Hy is skuldig aan die dood. Toe het hulle in sy gesig gespoeg en hom met die vuis geslaan; en ander het hom met hul handpalms geslaan, en sê: Profeteer vir ons, Christus, wie is dit wat U geslaan het? En Petrus het buite in die paleis gesit, en 'n meisie het na hom gekom en gesê: Jy was ook saam met Jesus, die Galiléa. Maar hy het voor almal ontken en gesê: Ek weet nie wat jy sê nie. En toe hy uitgaan na die voorportaal, sien 'n ander diensmeisie hom en sê vir die wat daar was: Hierdie man was ook saam met Jesus van Nasaret. En hy het weer met 'n eed ontken: Ek ken die man nie. En ná 'n rukkie het die wat daar staan, na Hom gekom en vir Petrus gesê: Waarlik, jy is ook een van hulle; want jou spraak verraai jou. Toe het hy begin vloek en sweer en sê: Ek ken die man nie. En dadelik span die haan. En Petrus het die woord van Jesus onthou wat vir hom gesê het: Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal verloën. En hy het uitgegaan en bitterlik geween.

MATTEUS 26:26-75 Die Boodskap (DB)

“Net so!” antwoord Jesus hom. Terwyl die ete aan die gang was, vat Jesus ’n stuk brood. Nadat Hy vir God dankie gesê het vir die brood, breek Hy dit in stukke en gee dit vir sy dissipels. “Vat dit en eet dit,” sê Hy. “Dit is my liggaam.” Toe vat Hy die beker met die wyn. Weer sê Hy vir God dankie daarvoor en gee dit vir sy dissipels om te drink. “Drink dit, almal van julle. Dit is my bloed wat gaan vloei. Dit beteken dat baie mense se sondes as gevolg daarvan vergewe sal word. Maar dit beteken ook dat baie mense in ’n nuwe verhouding tot God sal kan staan. “Luister: Ek sal eers weer so saam met julle wyn sit en drink wanneer ons die nuwe, hemelse wyn saam aan die tafel van my Vader in die hemel drink.” Toe die note wegsterf van die lofsang wat hulle gesing het, is hulle saam Olyfberg toe. Jesus het verder gepraat: “Nog vannag gaan julle almal die rug vir My draai en maak of julle My nie ken nie. Die Skrif sê mos: ‘Ek sal die skaapwagter platslaan en sy skape sal in alle rigtings weghardloop.’ “Maar Ek sal uit die dood opgewek word. Dan sal Ek Galilea toe gaan. Julle sal agter My aankom.” Petrus kon dit nie meer hou nie: “Al hardloop almal weg en maak of hulle U nie ken nie, hoef U nie bekommerd te wees nie. Ek sal dit nooit doen nie.” “Petrus,” sê Jesus, “hoor wat Ek vir jou sê: vannag nog, voor die haan moet kraai, sal jy drie maal ontken dat jy ooit iets met My te doen gehad het.” “Nooit nie!” ontken Petrus heftig. “Ek sal U nooit in die steek laat nie, al maak hulle my dood!” Al die ander dissipels het presies dieselfde gesê. Van daar af is hulle Getsemane toe. Dit was ’n plek net buite Jerusalem waar mense graag onder die bome uitgekamp het. Daar aangekom, sê Jesus vir sy volgelinge: “Wag julle hier. Ek gaan bid.” Hy het net Petrus en Sebedeus se twee seuns saam met Hom gevat. Jesus het bedruk gevoel en sê toe vir die drie saam met Hom: “Ek voel doodsbenoud. Wag julle hier. Kyk dat niemand ons hier verras nie.” Hy het ’n paar treë verder gaan kniel. Met sy gesig tot teen die grond gebuig, begin Hy bid: “My Vader, is daar enige kans dat Ek die pad wat vir My voorlê nie hoef te loop nie? Is daar ’n uitweg? Maar Ek probeer nie allerhande planne maak nie. Maak U die planne, asseblief! Doen wat U wil.” Jesus se dissipels het egter aan die slaap geraak. Hy maak Petrus toe wakker: “Wat gaan aan? Het jy dit nie eens in jou om ’n klein rukkie saam met My wakker te bly nie? Vra God om julle te help om nie verkeerde dinge te wil doen nie. Ek weet julle sê julle wil graag die regte dinge doen, maar dit gebeur nie altyd so nie, nie waar nie? Wees daarom altyd op en wakker.” ’n Tweede maal het Jesus gaan bid: “My Vader, as daar nie vir My ’n uitweg is nie, laat dan gebeur wat moet gebeur!” Weer kry Jesus die drie vas aan die slaap. Hulle kon eenvoudig nie hulle oë oophou nie. Hierdie keer het Hy hulle gelos. ’n Derde keer het Jesus gaan kniel en dieselfde gebed gebid. Toe Hy klaar was, maak Hy die drie weer wakker: “Julle slaap lekker, nè? So asof julle al die tyd in die wêreld het om te rus! Ek het nie meer soveel tyd oor nie. Daardie spul ongehoorsame Jode gaan My netnou kom vang. Kom, laat ons gaan. My verraaier is op pad.” Jesus se woorde was nog nie koud nie of Judas, een van sy twaalf getrouste volgelinge, daag daar op. Hy was nie alleen nie. Saam met hom was ’n hele bende polisiemanne met wapens en al. Die Joodse leiers het hulle natuurlik gestuur. Om seker te maak dat hulle nie die verkeerde een vang nie, het Judas met hulle ’n spesiale teken afgespreek: “Die een wat ek met ’n soen op die wang groet, dit is Hy. Sorg dat julle Hom in die hande kry.” Daar aangekom, stap Judas na Jesus toe: “Goeienaand, Rabbi. Hoe gaan dit?” en hy soen Hom toe op die wang. Jesus antwoord hom: “Lewer jy ’n vriend só oor?” Die spul polisiemanne het nie op hulle laat wag nie. Hulle was blitsvinnig op Jesus en het Hom geboei. Een van Jesus se vriende pluk toe sy swaard uit. Net daar kap hy ’n veiligheidsman wat vir die hoëpriester gewerk het, se oor morsaf. Vinnig keer Jesus hom: “Bêre jou swaard, man. As jy met ’n swaard wil baklei, gaan jou vyand jou netnou met sy swaard doodsteek. Los dit! Sê My liewer, hoe het jy My leer ken? Dink jy nie Ek kan my Vader vra om te kom help as Ek wil nie? Ek sê jou, twaalf groot groepe engele - selfs meer as Ek wil - staan slaggereed; reg om te kom help as dit moet. Maar as Ek hulle nou roep, kan die Skrif mos nie vervul word wat sê wat met My moet gebeur nie.” Jesus draai daarop na die klomp polisiemanne en vra: “Vir wat is julle tot die tande toe gewapen? Dink julle julle kom die een of ander terroris vang? Dag vir dag het Ek daar in die tempel gesit en vir julle gepreek. Tog het julle My nie kom vang nie. Nou skielik duik julle hier in die nag op met wapens en al! Maar dit verbaas My nie, want dit waaroor die profete lank terug geskryf het, gebeur nou hier voor ons almal se oë.” Terwyl Hy so praat, het sy dissipels gemaak dat hulle wegkom. Hulle het Jesus daarna na die hoëpriester, Kajafas, toe gevat. Al die Joodse leiers het klaar daar gesit en wag. Petrus het hulle op ’n veilige afstand gevolg tot by daardie huis. Daar het hy tussen die werksmense in die agterplaas gaan sit om te kyk wat gebeur. Die Joodse leiers het saamgewerk met die Joodse Raad om klagtes teen Jesus te soek wat hulle rede sou gee om Hom dood te maak. Dit het nie saak gemaak of dit waar was of nie. Daar was nie ’n tekort aan mense wat bereid was om allerhande liegstories oor Jesus te vertel nie. Maar hulle stories was so swak dat niemand hulle sou glo nie. Uiteindelik kry hulle toe twee wat gesê het: “Hierdie man het beweer: ‘Ek kan hierdie tempel tot op die grond afbreek en in drie dae weer opbou net soos dit was.’” Die hoëpriester staan toe op en sê vir Jesus: “Nou toe, jy het die ernstige klag van hierdie mense teen jou gehoor. Wat sê jy daarvan?” Jesus het egter doodstil gebly. Vererg sê die hoëpriester: “Ek beveel jou op gesag van God, sê vir ons: Is jy die Christus, die Seun van God - ja of nee?” Hierdie keer het Jesus nie stilgebly nie: “Jy sê dit self. Maar dit is maar die begin! Julle sal dit van nou af self ook sien. Julle sal die Seun sien sit aan die regterhand van Hom wat al die mag het. Julle sal Hom op die wolke sien kom.” Dit was waarvoor die hoëpriester gewag het. Hy staan toe op en skeur sy klere sodat almal kan sien hoe ontsteld en woedend hy is. “Nou het jy te ver gegaan! Jy het die eer van God aangetas. Vir wat soek ons nog aanklagte? Julle almal het mos gehoor watter vreeslike dinge hierdie man kwytraak. Hy het selfs God seergemaak met wat Hy hier durf sê het. Dink julle nie ook so nie?” Die ander het geesdriftig saamgestem. “Geen kwessie nie! Hy moet doodgemaak word. Dit sal sy verdiende loon wees!” Hulle dam Hom toe met die vuis by en spoeg Hom in die gesig. Terwyl hulle Hom klap, jou hulle Hom uit: “Wie’t jou geklap, Christus? Toe, sê vir ons. Jy noem jouself mos ’n profeet!” Terwyl hulle binne so tekere gaan, het Petrus buite in die agterplaas gesit. Een van die werkers kom toe daar na hom toe. Dit was ’n vrou. “Vir jou het ek al gesien. Jy is mos een van die vriende van Jesus, die man uit Galilea.” Petrus skud sy kop heftig voor almal. “Moenie laf wees nie! Ek weet nie eens van wie jy praat nie.” Hy staan op en stap deur se kant toe. Voor hy by die deur uit is, loop hy in ’n ander vrou vas. “Julle is reg! Hierdie man is een van Jesus van Nasaret se vriende.” Weer het Petrus sy kop heftig geskud en gesê: “Ek sweer, ek ken hierdie man van geen kant af nie!” Dit was nie lank nie of ’n groepie mans kom staan daar by Petrus. “Sowaar, jy moet deel wees van daardie groep volgelinge van Jesus. Ons kan dit aan jou aksent hoor. Julle klomp uit Galilea praat mos anders as ons hier in Judea.” Dit het Petrus laat swets om te wys hoe ernstig hy was. “Ek sweer, man, ek het hierdie man nog nooit eens ontmoet nie!” Juis toe kon ’n mens die gekraai van die haan in die vroeë oggendure hoor wegsterf. Petrus het ook die haan gehoor. Die woorde van Jesus het hom te binne geskiet: “Voor die haan kraai, sal jy drie maal sê dat jy My nie ken nie.” Hy kon toe nie langer daar bly nie. Buite het die trane oor sy wange gestroom.

MATTEUS 26:26-75 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Terwyl hulle besig was om te eet, neem Jesus brood en vra God se seën daarop. Toe breek Hy dit in stukke en gee dit aan sy dissipels met die woorde: “Neem en eet dit. Dit is my liggaam.” En Hy het die beker geneem en God daarvoor gedank. Hy het dit aan hulle gegee met die woorde: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed wat die verbond tussen God en sy volk verseël. Dit word vir baie vergiet sodat hulle sondes vergewe kan word. Ek verklaar nou hier plegtig dat Ek van nou af nie weer wyn sal drink nie totdat Ek opnuut die feeswyn saam met julle sal drink in die koninkryk van my Vader.” Hulle het toe die loflied gesing en uitgegaan na die Olyfberg toe. Jesus het toe vir hulle gesê: “Vannag gaan julle almal aanstoot aan My neem. Daar staan immers geskryf: ‘Ek sal die skaapwagter doodmaak en die skape van die trop sal uitmekaargejaag word.’ “Maar nadat Ek uit die dood opgewek is, sal Ek vooruit na Galilea toe gaan en daar vir julle wag.” Petrus verseker Hom toe: “Al laat almal U in die steek – ék sal dit nooit doen nie.” Jesus antwoord hom: “Glo My, Petrus, vannag nog, voordat die haan kraai, sal jy drie maal ontken dat jy my dissipel is.” Petrus sê toe vir Hom: “Al moet ek saam met U sterf – ek sal dit beslis nooit doen nie!” Al die dissipels het dieselfde verklaar. Jesus kom toe saam met hulle by ’n olyftuin met die naam Getsemane en Hy sê: “Sit julle hier, terwyl Ek daar anderkant gaan bid.” Hy neem toe vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam met Hom. Daarop oorval ’n groot ontsteltenis en benoudheid Hom. Hy sê toe vir hulle: “Ek is benoud tot sterwens toe. Bly julle hier, en waak saam met My.” Hy het toe ’n entjie verder neergeval en met sy gesig plat teen die grond gebid: “O my Vader! As dit moontlik is, neem tog hierdie lydensbeker van My weg. Doen nogtans nie soos Ék wil nie, maar soos Ú wil.” Hy kom toe terug by die dissipels en kry hulle aan die slaap. Hy sê vir Petrus: “So, kon julle dan nie eers een uur saam met My wakker bly nie? Wees waaksaam en bid sodat julle nie in die versoeking kom nie. ’n Mens se gees is wel gewillig, maar jou liggaam hou nie altyd by nie.” Weer het Hy van hulle af weggegaan en gebid: “My Vader! As hierdie beker nie van My kan weggaan sonder dat Ek dit moet drink nie, laat u wil dan uitgevoer word.” Hy het toe teruggegaan en kry hulle weer aan die slaap. Hulle was so vaak dat hulle oë eenvoudig nie wou oopbly nie. Hy het hulle toe daar gelos en weer weggegaan en dieselfde gebed vir die derde keer gebid. Toe kom Hy na sy dissipels toe en sê: “Slaap en rus julle nog steeds? Die tyd het aangebreek! Ek, die Seun van die Mens, word nou oorgegee in die hande van slegte mense. Staan op, ons moet gaan! Kyk, my verraaier is hier.” Jesus was nog besig om te praat, toe kom Judas, een van die twaalf dissipels, al daar aan, en saam met hom ’n groot klomp mense gewapen met swaarde en knuppels. Hulle is gestuur deur die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk. Sy verraaier het vir hulle ’n uitkenningsteken gegee en gesê: “Die een wat ek met ’n soen sal groet, dit is hý. Arresteer hom!” Hy het toe direk na Jesus toe gekom en gesê: “Gegroet, Rabbi!” Toe soengroet hy Hom. Jesus het vir hom gesê: “Vriend, gaan voort met dit waarvoor jy gekom het.” Die ander het toe nadergekom, Jesus gegryp en Hom gearresteer. Skielik het een van Jesus se mense sy swaard uitgepluk, die slaaf van die hoofpriester getref, en sy oor afgekap. “Bêre jou swaard,” sê Jesus vir hom. “Almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vernietig word. Besef jy nie dat Ek ’n ganse leërmag engele van my Vader sou kon vra en Hy sal hulle oombliklik stuur nie? Maar as Ek dit sou doen, hoe sou die Skrifwoord dan vervul word waarvolgens dit juis op hierdie manier moet gebeur?” Daarop vra Jesus vir die klomp mense: “Is Ek dan ’n gevaarlike krimineel dat julle My met swaarde en knuppels kom vang? Hoekom het julle My nie gearresteer waar Ek dag na dag by die tempel gesit en onderrig gee het nie? Maar dit alles gebeur sodat wat die profete geskryf het, vervul kan word.” Dit was toe dat al Jesus se dissipels Hom net daar gelos het en gemaak het dat hulle wegkom. Die groep wat Jesus gearresteer het, het Hom toe na die woning van Kajafas, die hoofpriester, gebring waar die skrifkenners en die familiehoofde bymekaar was. Intussen het Petrus Hom op ’n veilige afstand gevolg totdat hy uiteindelik in die binnehof van die hoofpriester se woning beland het. Daar het hy by die dienspersoneel gaan sit om te sien wat gaan gebeur. Die priesterhoofde, trouens die hele Joodse Raad, het vals getuienis teen Jesus probeer kry wat tot sy doodstraf sou lei. En, alhoewel baie hulle kom aanmeld het om vals getuienis teen Jesus te gee, kon hulle geen afdoende getuienis teen Hom kry nie. Eindelik het daar twee gekom en getuig: “Hierdie man het beweer: ‘Ek kan die tempel afbreek en binne drie dae weer opbou.’” Daarop het die hoofpriester opgestaan en vir Jesus gevra: “Het jy niks te sê op hierdie aanklag nie? Wat is hierdie ding wat hulle teen jou getuig?” Maar Jesus het bly swyg. Toe sê die hoofpriester: “Ek eis nou van jou in die Naam van die lewende God dat jy vir ons moet sê of jy die Messias, die Seun van God is.” Jesus het geantwoord: “Ja, dit is soos u sê. Ek verseker julle: Julle sal My, die Seun van die Mens, sien sit aan die regterhand van God, die Magtige, en hoe Hy terugkom op die wolke van die hemel.” Toe skeur die hoofpriester sy klere om te wys hoe geskok hy is en hy roep uit: “Lasterlik! Watter ander getuies het ons nog nodig? Julle het tog nou self hierdie lastering teen God gehoor. Wat is julle bevinding?” “Hy is skuldig,” antwoord hulle, “hy verdien die doodstraf.” Daarop spoeg hulle Hom in die gesig en slaan Hom met hulle vuiste. Party het Hom geklap en gesê: “Profeteer vir ons, geagte Messias! Wie is dit wat jou nou net geslaan het?” Petrus het nog steeds buite in die binnehof gesit. ’n Diensmeisie kom toe nader en sê: “Jy was mos ook saam met Jesus die Galileër?” Hy het dit egter voor almal ontken. “Ek weet nie waarvan jy praat nie,” het hy verklaar. Later, toe hy op pad was na die uitgang, sien ’n ander diensmeisie hom raak en sê vir die omstanders: “Hierdie man was ook saam met Jesus van Nasaret.” Weer het hy dit ontken, hierdie keer met ’n eed: “Ek ken hierdie man glad nie!” Nog ’n klein rukkie later kom sê dié wat daar rondstaan vir Petrus: “Jy is definitief een van hulle; jou aksent verklap jou.” Daarop het Petrus hewig begin vloek en gesê: “Ek sweer voor God, ek ken hierdie man hoegenaamd nie!” Onmiddellik het die haan begin kraai. Skielik het Jesus se woorde deur Petrus se gedagtes geflits: “Voordat die haan kraai, sal jy drie maal ontken dat jy my dissipel is.” Daarop het hy buitentoe gegaan en hartstogtelik gehuil.