Matteus 26:26-75

Matteus 26:26-75 ABA

Jesus het brood geneem terwyl hulle geëet het en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Hy het die brood in stukke gebreek en vir sy dissipels gegee. Hy het gesê: “Neem die brood en eet dit. Dit is my liggaam.” Jesus het ook 'n beker wyn geneem en Hy het vir God dankie gesê daarvoor. Toe gee Hy dit vir sy dissipels en sê: “Drink almal daarvan. Die wyn in hierdie beker is my bloed. My bloed is die bloed van die verbond. My bloed sal vir baie mense vloei sodat God hulle sondes kan vergewe. Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink nie tot daardie dag wanneer Ek saam met julle nuwe wyn sal drink by my Vader wat Koning is.” Jesus en sy dissipels het 'n lied gesing en die Here geprys, en hulle het uitgegaan na die Olyf-berg. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle almal sal vannag ophou om in My te glo. Die profeet het geskryf: “ God het gesê: Ek sal die skaapwagter doodmaak, en die skape van die trop sal weghardloop na al die kante toe. “Maar God sal My weer laat lewe, en dan sal Ek voor julle na Galilea gaan.” Petrus sê toe vir Jesus: “Almal sal miskien ophou om in U te glo, maar ek sal nooit ophou om in U te glo nie!” Jesus het vir hom gesê: “Ek sê vir jou, en dit is seker: Jy sal in hierdie nag drie maal sê jy ken My nie. Jy sal dit sê voordat die haan vannag kraai.” Maar Petrus het gesê: “As ek saam met U moet sterf, dan sal ek sterf, maar ek sal nooit sê dat ek U nie ken nie.” Al die ander dissipels het dieselfde gesê. Jesus en sy dissipels kom toe by 'n plek, Getsemane, en Jesus sê vir hulle: “Sit hier, Ek wil daar gaan bid.” Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam met Hom geneem. Jesus het baie hartseer en bang geword. Hy het vir hulle gesê: “Ek voel baie hartseer. Bly hier en bly wakker saam met My.” Jesus het 'n bietjie verder geloop en Hy het met sy gesig teen die grond gaan lê en aangehou bid: “My Vader, as U dit wil doen, neem asseblief hierdie swaarkry weg van My, moenie vir My hierdie beker gee om te drink nie. Maar U moenie doen wat Ek wil hê nie, U moet doen wat U wil hê.” Jesus het teruggekom na die drie dissipels toe en toe sien Hy hulle slaap. Hy het vir Petrus gevra: “Hoekom kon julle nie een uur saam met My wakker bly nie? Julle moet wakker wees en bid dat niks sal gebeur wat julle sal laat sonde doen nie. Die mens se gees wil graag doen wat reg is, maar die mens self is te swak om reg te doen.” Jesus het weer, vir die tweede maal, weggegaan en gebid: “My Vader, as U nie hierdie swaarkry wil wegneem van My nie, as Ek hierdie beker moet drink, dan moet U doen wat U wil hê.” Toe Jesus terugkom, het Hy weer gesien die drie dissipels slaap, hulle kon nie wakker bly nie. Jesus het weer weggegaan van hulle. Hy het die derde maal gaan bid en Hy het dieselfde woorde gesê. Toe Jesus die derde maal by die dissipels kom, sê Hy vir hulle: “Slaap en rus julle nog? Kyk, dit is nou die tyd wanneer iemand My, die Seun van die mens, sal verraai, sodat sondaars My kan vang. Staan op, ons moet gaan. Die man wat My sal verraai, is hier naby.” Judas het daar aangekom terwyl Jesus gepraat het. Judas was een van die twaalf dissipels. Daar was 'n groot klomp mense saam met hom. Hulle het swaarde en stokke by hulle gehad. Die priesterleiers en die familieleiers van die volk het hulle gestuur. Judas het vir Jesus verraai. Hy het voor daardie tyd vir die mense gesê wat hy sal doen om vir hulle te wys wie Jesus is. Hy het gesê: “Ek sal 'n man soen, dit is Jesus. Julle moet Hom vang.” Toe Judas daar aankom, gaan hy dadelik na Jesus toe en sê vir Hom: “Goeienaand, Meneer!” en hy soen vir Jesus. Jesus het vir hom gesê: “My vriend, jy het kom doen wat jy moes doen.” Die mense wat saam met Judas was, het gekom en hulle het vir Jesus gegryp en Hom gevang. Een van die mense wat by Jesus gestaan het, het sy swaard gegryp en hy het dit uitgetrek. Hy het die slaaf van die hoëpriester se oor met die swaard afgekap. Toe sê Jesus vir hom: “Sit jou swaard terug op sy plek, want die mense sal almal wat met die swaard veg, ook met die swaard doodmaak. Weet jy nie, Ek kan my hemelse Vader vra om My te help, en Hy sal dadelik meer as twaalf legioene engele stuur om My te help. Maar as God engele stuur om My te beskerm, dan sal die dinge wat die profete oor My geskryf het, nie gebeur nie.” Dadelik daarna het Jesus vir die klomp mense gesê: “Dink julle Ek wil teen die regering veg? Hoekom het julle swaarde en stokke saamgebring om My te vang? Ek het elke dag in die tempel gesit en Ek het daar vir die mense geleer, maar julle het My nie gevang nie. Al hierdie dinge het gebeur sodat dit waar kan word wat die profete geskryf het.” Daarna het Jesus se dissipels Hom alleen gelos en hulle het weggehardloop. Die mense wat vir Jesus gevang het, het Hom weggevat na Kajafas toe. Kajafas was die hoëpriester. Die skrifgeleerdes en die familieleiers het daar bymekaargekom. Petrus het ook saamgegaan tot voor die hoëpriester se huis, maar hy het nie naby Jesus geloop nie. Hy het ingegaan en by die wagte gaan sit om te sien wat sal gebeur. Die priesterleiers en die hele Joodse Raad wou hê iemand moet leuens vertel en sê dat Jesus iets gedoen het wat verkeerd is, sodat hulle Hom kon doodmaak. Maar hulle het niks gekry wat Jesus verkeerd gedoen het nie. Baie mense het gekom en hulle het leuens vertel, maar die Raad kon niks kry om Jesus te beskuldig nie. Later het twee mense gekom en hulle het gesê: “Hierdie man het gesê: ‘Ek kan die tempel van God afbreek en Ek sal dit in drie dae weer bou.’ ” Die hoëpriester het opgestaan en vir Jesus gevra: “Hoekom sê jy niks? Hoekom sê die mense dit alles teen jou?” Maar Jesus het stilgebly. Toe sê die hoëpriester vir Hom: “Ek sê vir jou, jy moet voor die God wat lewe, sê of jy die Christus is, die Seun van God.” Jesus het vir die hoëpriester gesê: “Jy sê dit self! Maar Ek sê vir julle, “van nou af sal julle sien dat Ek, die Seun van die mens, op die belangrikste plek sit langs God, God wat oor almal regeer, en julle sal sien Ek kom op die wolke.” Toe het die hoëpriester sy klere geskeur en gesê: “Hy het verkeerd gepraat oor God. Ons het nou genoeg gehoor. Julle het nou gehoor hoe verkeerd hy oor God praat. Wat dink julle?” Hulle het toe gesê Jesus is skuldig en hulle moet Hom doodmaak. Hulle het in Jesus se gesig gespoeg en hulle het Hom met die vuis geslaan. Party van hulle het Hom geklap en vir Hom gesê: “Christus, wys vir ons jy is 'n profeet, sê vir ons wie het jou geslaan.” Petrus was op die oop stuk grond voor die hoëpriester se huis. Een van die meisies wat daar gewerk het, het na hom toe gekom en gesê: “Jy was ook saam met Jesus van Galilea.” Petrus het gesê dit is nie waar nie. Hy het gesê: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.” Almal kon dit hoor. Petrus het toe uitgegaan na die poort. 'n Ander meisie het vir Petrus gesien en sy het vir die mense wat daar gestaan het, gesê: “Hierdie man was saam met Jesus van Nasaret.” Maar Petrus het weer gesê: “Dit is nie waar nie. Ek ken nie die man nie. Die Here is my getuie.” 'n Bietjie later het die mense wat daar gestaan het, na Petrus toe gekom en vir hom gesê: “Jy is regtig een van sy dissipels, want ons kan hoor jy praat soos hulle.” Petrus het gesê: “Ek ken glad nie hierdie man nie. God is my getuie. Hy kan my straf as ek nie die waarheid praat nie.” En dadelik, nadat hy dit gesê het, het die haan gekraai. Toe het Petrus onthou wat Jesus vir hom gesê het: “Jy sal drie maal sê jy ken My nie. Jy sal dit sê voordat die haan kraai.” Petrus het buitetoe gegaan en hy het hard gehuil.