MATTEUS 22:34-46

MATTEUS 22:34-46 Die Boodskap (DB)

Die nuus het gou by die Fariseërs uitgekom dat Jesus die Sadduseërs in ’n hoek gedryf het. Hulle het besluit om weer te probeer en het soos een man om Jesus saamgetrek. Een van hulle beste geleerdes vra toe vir Jesus ’n vraag. Hy wou hê Jesus moes Hom vaspraat. Daarom het hy sy vraag dubbelsinnig gestel. “Watter opdrag is die belangrikste in die wet?” Die Fariseër het geweet dat as Jesus sê een opdrag is belangriker as die ander, Hy die eenheid van die wet sou aantas. Sê Hy weer almal is ewe belangrik, sou sommige voel Hy tas die eer van God aan. So sou Hy God, wat die belangrikste van almal is, natuurlik beledig. Weer het Jesus Hom nie laat vastrek nie. “‘Jy moet die Here jou God liefhê met alles wat jy is en het.’ Niks in jou lewe mag vir jou so belangrik soos God wees nie. Hierdie opdrag staan boaan die lys. Maar daar is ’n tweede opdrag wat langs die eerste een op die lys staan: ‘Jy moet ander mense so liefhê asof hulle jy is.’ Hierdie twee opdragte vorm die pilare waarop alles rus waarvan ons in die Bybel lees.” Die Fariseërs het daarna kajuitraad gehou, maar Jesus het nie op Hom laat wag nie. Op sy beurt vra Hy weer vir die Fariseërs ’n strikvraag: “Wie se Seun dink julle is die Messias?” “Dawid s’n,” sê hulle dadelik. “Wel, as dit so is, hoe verklaar julle dan dat Dawid in een van sy psalms die Messias sy ‘Here’ noem? Luister hier wat sê Dawid self: ‘God, die Here, het vir my Here gesê: Kom sit op die spesiale ereplek hier langs My, totdat Ek al jou vyande magteloos voor jou voete laat lê.’ “Onthou, hy het dit gesê toe hy onder die inspirasie van die Heilige Gees was. Verklaar dan nou vir My: As Dawid die Messias ‘Here’ noem, hoe is dit moontlik dat Hy Dawid se seun ook nog kan wees?” En daar staan die Fariseërs weer met ’n mond vol tande. Nie een het geweet wat om te sê nie. Hulle het van toe af maar besluit om Hom nie weer in die openbaar iets te vra nie. Net mooi elke keer as hulle Hom probeer vasvra het, het Hy ’n gek van hulle gemaak.