MATTEUS 21:20-22
MATTEUS 21:20-22 Bybel vir almal (ABA)
Toe die dissipels dit sien, was hulle verbaas en hulle het gevra: “Hoekom het die vyeboom so skielik doodgegaan?” Jesus het geantwoord: “Ek sê vir julle, en dit is seker: As julle glo en nie twyfel nie, dan sal julle kan doen wat Ek met die vyeboom gedoen het. Julle sal meer kan doen. As julle vir hierdie berg sê: ‘Tel jouself op en gooi jouself in die see,’ dan sal dit gebeur. En as julle glo wanneer julle bid en iets vra, dan sal God dit alles vir julle gee.”
MATTEUS 21:20-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe die dissipels dit sien, was hulle verwonderd en sê: Hoe het die vyeboom so onmiddellik verdroog? Maar Jesus antwoord en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met die vyeboom gebeur het nie; maar al sê julle ook vir hierdie berg: Hef jou op en werp jou in die see — sal dit gebeur. En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.
MATTEUS 21:20-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe die dissipels dit sien, was hulle verbaas en het hulle gevra: “Hoe het die vyeboom dan so skielik verdroog?” Daarop antwoord Jesus hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle kan doen wat Ek aan die vyeboom gedoen het. Meer nog: Julle sal vir hierdie berg kan sê: ‘Lig jou op en val in die see!’ en dit sal gebeur. As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.”
MATTEUS 21:20-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe die dissipels dit sien, was hulle verbaas en vra: “Hoe het die vyeboom so skielik verdroog?” Jesus het hulle geantwoord: “•Amen, Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie net kan doen wat met die vyeboom gebeur het nie, maar selfs as julle vir hierdie berg sê, ‘Tel jouself op en werp jou in die see!’ sal dit gebeur. Alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.”
MATTEUS 21:20-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe die dissipels dit sien, was hulle verwonderd en sê: Hoe gou het die vyeboom verdor! Jesus antwoord en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met die vyeboom gedoen word nie, maar ook as julle vir hierdie berg sê: Hou jou op! en word jy in die see gewerp; dit sal gedoen word. En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang deur te glo.
MATTEUS 21:20-22 Die Boodskap (DB)
Sy volgelinge was nogal uit die veld geslaan hieroor. “Het julle dit gesien? Hoe op aarde is dit moontlik?” vra hulle. Jesus antwoord toe: “Luister nou mooi, want Ek wil vir julle iets belangriks sê. As julle op God vertrou, Ek bedoel regtig vertrou, sal julle dinge kan doen wat dít wat met die vyeboom gebeur het, na kinderspeletjies sal laat lyk. Ek praat van groot dinge soos om vir ’n berg te sê om op te staan en in die see te gaan spring - en sowaar te sien hoe dit gebeur! “Om heeltemal op God te vertrou gee krag aan jou gebed. Bid met daardie vertroue en God sal vir jou gee wat jy vra, of dit iets kleins of iets groots is.”
MATTEUS 21:20-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die dissipels was verstom toe hulle dit sien en het gesê: “Hoe op aarde kon die boom so skielik heeltemal verdroog?” Jesus het hulle geantwoord: “Ek verseker julle dat as julle glo en nie twyfel nie, julle nie net dieselfde sal kan doen nie, maar baie meer. Julle sal selfs vir hierdie berg kan sê: ‘God sal jou oplig en in die see gooi,’ en dit sal so gebeur. Alles wat julle in die gebed van God vra, sal julle ontvang, mits julle glo.”