MATTEUS 20:1-34

MATTEUS 20:1-34 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het gesê: “In die hemel waar God Koning is, is dit soos 'n man wat een oggend vroeg uitgegaan het om werkers te huur om in sy wingerd te werk. Hy het met die werkers gepraat en hulle het saamgestem dat hy vir elke werker een silwer geldstuk sal gee. Toe het hy hulle na sy wingerd gestuur om te gaan werk. Omtrent nege-uur het hy weer na die mark gegaan en hy het daar nog ander werkers sien staan wat nie gewerk het nie. Hy sê toe vir hulle: ‘Julle mag ook in my wingerd gaan werk, dan sal ek vir julle gee wat julle moet kry.’ Hulle het toe gegaan. Die man het omtrent twaalfuur en omtrent drie-uur weer gegaan en hy het weer werkers gehuur. Toe dit omtrent vyfuur was, het hy weer gegaan en hy het ander werkers gesien wat nog daar staan. Toe sê hy vir hulle: ‘Hoekom staan julle die hele dag hier en julle werk nie?’ Hulle sê toe vir hom: ‘Omdat niemand vir ons werk gegee het nie.’ Toe sê hy vir hulle: ‘Julle mag ook in my wingerd gaan werk.’ En toe dit aand geword het, sê die man vir sy voorman: ‘Roep die werkers en betaal hulle wat hulle verdien het. Betaal eerste die werkers wat laaste begin werk het en dan die werkers wat eerste begin werk het.’ Die werkers wat omtrent vyfuur begin werk het, kom toe en hulle kry elkeen die geld wat 'n werker gewoonlik kry wanneer hy die hele dag gewerk het. Die werkers wat eerste begin werk het, kom toe en hulle dink dat hulle meer geld sal kry. Maar hulle het ook elkeen een silwer geldstuk gekry. Hulle neem toe die geld, maar hulle het by die man gaan kla en gesê: ‘Hierdie werkers wat laaste begin werk het, het net een uur gewerk, maar jy het vir hulle dieselfde gegee as vir ons, ons wat die hele dag hard in die son gewerk het.’ Die man sê toe vir een van hulle: ‘My vriend, ek doen niks verkeerd aan jou nie. Onthou jy, jy het met my saamgestem dat jy een silwer geldstuk sal kry. Jy moet jou geld neem en gaan. Ek het besluit ek gee vir die werker wat laaste begin werk het, dieselfde as vir jou. Ek kan doen met my geld wat ek wil, dit weet jy. Hoekom is jy jaloers omdat ek vir hulle goed is?’ Baie mense wat nou onbelangrik is, sal belangrik wees, en mense wat nou belangrik is, sal onbelangrik wees.” Jesus was op die pad na Jerusalem. Hy het met die twaalf dissipels alleen gepraat en vir hulle gesê: “Luister, ons gaan na Jerusalem. Iemand sal My, die Seun van die mens, vir die priesterleiers en vir die skrifgeleerdes gee, en hulle sal besluit dat Ek moet sterf. Dan sal hulle My vir die heidene gee, en die heidene sal My spot en My met 'n sweep slaan en My kruisig. Maar op die derde dag sal God My weer laat lewe.” Die ma van die seuns van Sebedeus het saam met haar seuns na Jesus toe gekom. Sy het voor Hom gekniel om vir Hom iets te vra. Jesus het vir haar gevra: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Sy sê toe vir Hom: “U sal koning wees oor almal. Belowe dat U dan vir hierdie twee seuns van my die sitplekke langs U sal gee, een regs langs U en een links langs U.” Jesus het vir haar gesê: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle swaarkry soos Ek moet swaarkry? Kan julle uit die beker drink waaruit Ek moet drink?” Hulle antwoord Hom: “Ons kan dit doen.” Toe sê Jesus vir hulle: “Ja, julle sal uit dieselfde beker drink waaruit Ek moet drink. Maar Ek kan nie besluit wie regs langs My en wie links langs My sal sit nie. My Vader het klaar besluit wie daar moet sit.” Toe die ander tien dissipels hoor wat die twee broers se ma gevra het, het hulle kwaad geword vir die broers. Jesus het die dissipels na Hom toe geroep en Hy het vir hulle gesê: “Julle weet daar is mense wat oor ander mense regeer en wat hulle verdruk, daar is belangrike mense wat altyd hard wil regeer oor ander mense. Dit moenie so wees by julle nie. As een van julle die belangrikste wil wees, dan moet hy die ander dien. As een van julle bo die ander wil wees, dan moet hy almal se slaaf wees. Julle moet wees soos Ek is. Ek, die Seun van die mens, het gekom, maar nie sodat almal My moet dien nie. Ek het gekom om mense te dien en om my lewe te gee en te sterf. So sal Ek betaal om baie mense vry te maak van hulle sonde.” Toe Jesus en sy dissipels uit Jerigo uitgaan, het baie mense saam met hulle geloop. Daar het twee blindes langs die pad gesit. Toe hulle hoor Jesus gaan daar verby, het hulle hard begin skree: “Here, Seun van Dawid, U moet asseblief jammer wees vir ons en ons help!” Baie mense het met hulle geraas en vir hulle gesê hulle moet stilbly, maar hulle het nog harder geskree: “Here, Seun van Dawid, U moet asseblief jammer wees vir ons en ons help!” Jesus het gaan staan en Hy het hulle geroep en gesê: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” Hulle sê toe: “Here, ons wil graag sien.” Jesus was baie jammer vir hulle en Hy het aan hulle oë geraak. Die mans kon dadelik sien en hulle het Jesus gevolg.

MATTEUS 20:1-34 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

WANT die koninkryk van die hemele is soos 'n huisheer wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur. En nadat hy met die arbeiders ooreengekom het vir 'n penning op 'n dag, stuur hy hulle in sy wingerd. En omtrent die derde uur gaan hy uit en sien ander ledig op die mark staan. En hy sê vir hulle: Gaan julle ook in die wingerd, en wat reg is, sal ek aan julle gee. En hulle het gegaan. Weer het hy omtrent die sesde en die negende uur uitgegaan en net dieselfde gedoen. En omtrent die elfde uur gaan hy uit en vind ander ledig staan en sê vir hulle: Wat staan julle hier die hele dag ledig? Hulle antwoord hom: Omdat niemand ons gehuur het nie. Hy sê vir hulle: Gaan julle ook in die wingerd, en wat reg is, sal julle ontvang. En toe dit aand geword het, sê die heer van die wingerd vir sy opsigter: Roep die arbeiders en betaal hulle hul loon; en begin van die laastes af tot by die eerstes. En die wat omtrent die elfde uur begin het, het gekom en elkeen 'n penning ontvang. Die eerstes kom toe en dink dat hulle meer sal ontvang, en hulle het ook elkeen 'n penning ontvang. En toe hulle dit ontvang, murmureer hulle by die huisheer en sê: Hierdie laastes het een uur gewerk, en u het hulle gelykop behandel met ons wat die las van die dag en die hitte gedra het. Maar hy antwoord en sê vir een van hulle: Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir 'n penning nie? Neem dan wat joue is, en gaan heen. Ek wil aan hierdie laaste een gee net soos aan jou. Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? Of is jou oog verkeerd, omdat ek goed is? So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste; want baie is geroep, maar min uitverkies. EN toe Jesus opgaan na Jerusalem, het Hy die twaalf dissipels op die pad alleen geneem en vir hulle gesê: Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en skrifgeleerdes; en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom oorlewer aan die heidene om Hom te bespot en te gésel en te kruisig; en op die derde dag sal Hy opstaan. Toe kom die moeder van die seuns van Sebedéüs met haar seuns na Hom en buig voor Hom neer om iets van Hom te vra. En Hy sê vir haar: Wat wil jy hê? Sy antwoord Hom: Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter- en een aan u linkerhand. Maar Jesus antwoord en sê: Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word? Hulle sê vir Hom: Ons kan. En Hy sê vir hulle: Dis waar, my beker sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word; maar om te sit aan my regter- en aan my linkerhand berus nie by My om te gee nie, maar is vir hulle vir wie dit deur my Vader berei is. En toe die tien dit hoor, was hulle verontwaardig oor die twee broers. Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as 'n losprys vir baie. EN toe hulle uit Jérigo uitgaan, het 'n groot menigte Hom gevolg. En daar het twee blindes langs die pad gesit; en toe hulle hoor dat Jesus verbygaan, roep hulle uit en sê: Wees ons barmhartig, Here, Seun van Dawid! En die skare het hulle bestraf, dat hulle moes stilbly; maar hulle het al harder geroep en gesê: Wees ons barmhartig, Here, Seun van Dawid! Toe gaan Jesus staan en roep hulle en sê: Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen? Hulle antwoord Hom: Here, dat ons oë geopen mag word. En Jesus het innig jammer vir hulle gevoel en hulle oë aangeraak, en dadelik het hulle oë gesien, en hulle het Hom gevolg.

MATTEUS 20:1-34 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met die eienaar van 'n wingerd wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur. “Nadat hy met die arbeiders ooreengekom het om hulle die gewone dagloon te betaal, stuur hy hulle om in sy wingerd te gaan werk. Teen nege-uur gaan hy weer uit en sien ander werkloos op die mark rondstaan, en hy sê vir hulle: ‘Gaan werk julle ook in my wingerd, en wat billik is, sal ek julle betaal.’ Hulle is toe soontoe. Teen twaalfuur en teen drie-uur het hy weer uitgegaan en dieselfde gedoen. Omtrent vyfuur gaan hy uit en kry ander wat daar rondstaan, en hy sê vir hulle: ‘Waarom staan julle heeldag werkloos hier rond?’ Hulle antwoord hom: ‘Omdat niemand ons gehuur het nie.’ ‘Gaan werk julle ook in my wingerd,’ sê hy toe vir hulle. “Toe dit aand word, sê die eienaar van die wingerd vir sy voorman: ‘Roep die arbeiders en betaal hulle hulle loon. Begin by die laastes en eindig by die eerstes.’ “Dié wat teen vyfuur gehuur is, kom toe en kry elkeen die gewone dagloon. Die mense wat eerste gehuur is, het gedink hulle sou meer kry, maar toe hulle aan die beurt kom, kry hulle ook elkeen die gewone dagloon. Hulle vat toe die geld maar begin by die eienaar kla en sê: ‘Hierdie laastes het net een uur gewerk, en nou betaal u hulle dieselfde loon as vir ons wat die hele dag hard gewerk het in die warm son.’ “Maar hy antwoord een van hulle: ‘Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir die gewone dagloon nie? Vat jou geld en gaan huis toe. Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou. Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?’ “So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste.” Terwyl Jesus na Jerusalem toe op pad was, neem Hy die twaalf dissipels opsy, en so in die loop sê Hy vir hulle: “Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe. Daar sal die Seun van die mens aan die priesterhoofde en skrifgeleerdes oorgelewer word, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel. Hulle sal Hom uitlewer aan die heidene, wat Hom sal bespot en gesel en kruisig. En op die derde dag sal Hy uit die dood opgewek word.” Toe kom die vrou van Sebedeus met haar twee seuns by Jesus en kniel voor Hom om Hom 'n guns te vra. “Wat kan Ek vir u doen?” vra Hy vir haar. Sy sê vir Hom: “Belowe my dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk langs U mag sit, een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.” Toe antwoord Jesus: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die lydensbeker drink wat Ek gaan drink?” “Ons kan,” antwoord hulle. Jesus sê toe vir hulle: “Ja, my beker sal julle drink. Maar om aan my regter- en my linkerhand te sit, daaroor besluit Ek nie; dit is vir dié vir wie my Vader dit gereed gemaak het.” Toe die tien ander dissipels dit hoor, was hulle kwaad vir die twee broers. Jesus roep hulle toe nader en sê: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.” Toe hulle uit Jerigo uitgaan, het 'n groot menigte Jesus gevolg. Twee blinde mans wat langs die pad gesit het, het gehoor dat Jesus verbykom. Toe roep hulle uit: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!” Die mense het met hulle geraas en gesê hulle moet stilbly, maar hulle het al hoe harder geroep: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!” Jesus het gaan staan, hulle geroep en gevra: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” Hulle sê toe vir Hom: “Here, dat ons oë oopgaan.” Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien en het hulle Hom gevolg.

MATTEUS 20:1-34 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“Die •koninkryk van die hemele is soos 'n grondeienaar wat reeds vroegoggend uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur. Nadat hy met die arbeiders op 'n denarius per dag ooreengekom het, het hy hulle na sy wingerd gestuur. Teen die derde uur het hy uitgegaan en ander op die markplein gesien wat ledig staan, en vir hulle gesê, ‘Gaan julle ook na die wingerd, en ek sal julle 'n billike loon betaal.’ En hulle het gegaan. Teen die sesde en die negende uur het hy weer uitgegaan en dieselfde gedoen. Teen die elfde uur het hy uitgegaan en ander gekry wat rondstaan, en vir hulle gesê, ‘Waarom staan julle die hele dag hier ledig rond?’ Hulle antwoord hom, ‘Omdat niemand ons gehuur het nie.’ Hy sê toe vir hulle, ‘Gaan julle ook na die wingerd.’ Teen die aand sê die eienaar van die wingerd vir sy voorman, ‘Roep die arbeiders en betaal hulle die loon; begin by die laastes, tot by die eerstes.’ Dié wat teen die elfde uur gehuur is, het gekom en elk 'n denarius gekry. Toe die eerstes kom, het hulle gedink dat hulle meer sal kry, maar ook hulle het elk 'n denarius gekry. Hulle het dit geneem, maar by die grondeienaar gaan mor, ‘Hierdie laastes het een uur gewerk, en u het hulle dieselfde behandel as ons, ons wat die dag se werklas en die hitte moes verduur.’ Maar hy het een van hulle geantwoord, ‘Vriend, ek doen jou nie 'n onreg aan nie. Het jy nie met my op 'n denarius ooreengekom nie? Neem wat joune is en gaan. Ek verkies om vir hierdie laaste een dieselfde te gee as vir jou. Mag ek nie met my goed maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is? ’ So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste.” Jesus het opgegaan na Jerusalem. Onderweg het Hy die twaalf dissipels opsy geneem en vir hulle gesê: “ Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die •Seun van die Mens sal oorgelewer word aan die leierpriesters en skrifkenners. Hulle sal Hom ter dood veroordeel, en Hom aan die heidene oorlewer om Hom te bespot, te gesel en te kruisig; maar op die derde dag sal Hy opgewek word. ” Toe het die moeder van die seuns van Sebedeus met haar seuns na Hom gekom. Sy het gekniel om Hom iets te vra. Hy het vir haar gevra: “Wat wil jy dan hê?” Sy antwoord Hom: “Beveel dat in u •koninkryk hierdie twee seuns van my, een aan u regterhand en een aan u linkerhand, sal sit. ” Jesus het geantwoord: “Julle besef nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek moet drink? ” Hulle antwoord Hom: “Ons kan.” Hy sê vir hulle: “Julle sal inderdaad my beker drink, maar om aan my regterhand en my linkerhand te sit, is nie vir My om te beskik nie. Daardie plekke behoort aan hulle vir wie my Vader dit voorberei het.” Toe die tien hiervan te hore kom, was hulle verontwaardig oor die twee broers. Maar Jesus het hulle nader geroep en gesê: “Julle weet dat die heersers van die nasies oor hulle baasspeel, en die maghebbers oor hulle gesag uitoefen. So mag dit nie by julle wees nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, en wie eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees. Net so het die •Seun van die Mens nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as losprys vir baie te gee. ” Toe hulle uit Jerigo uitgaan, het 'n groot skare Hom gevolg. En kyk, daar het twee blindes langs die pad gesit, en toe hulle hoor dat Jesus verbygaan, het hulle begin uitroep: “Ontferm U oor ons, Here, •Seun van Dawid!” Die skare het hulle berispe, dat hulle moet stilbly, maar hulle het nog harder uitgeroep: “Ontferm U oor ons, Here, Seun van Dawid!” Toe gaan staan Jesus, roep hulle en vra: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” Hulle antwoord Hom: “Here, dat ons oë geopen mag word!” Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. En hulle kon onmiddellik sien en het Hom gevolg.

MATTEUS 20:1-34 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Want die koninkryk van die hemele is soos 'n man wat 'n huisbewoner is wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders in sy wingerd te huur. En nadat hy met die arbeiders ooreengekom het vir 'n penning per dag, het hy hulle na sy wingerd gestuur. En hy het omtrent die derde uur uitgegaan en ander ledig op die mark sien staan, En het vir hulle gesê: Gaan julle ook na die wingerd, en alles wat reg is, sal Ek julle gee. En hulle het hul pad gegaan. Hy het weer omtrent die sesde en negende uur uitgegaan en net so gedoen. En omtrent die elfde uur het hy uitgegaan en ander ledig gevind en vir hulle gesê: Waarom staan julle hier die hele dag ledig? Hulle sê vir hom: Omdat niemand ons gehuur het nie. Hy sê vir hulle: Gaan julle ook na die wingerd; en alles wat reg is, dit sal julle ontvang. En toe dit aand geword het, sê die heer van die wingerd vir sy rentmeester: Roep die arbeiders en gee hulle hul loon, begin van die laaste tot die eerste. En toe hulle aankom wat gehuur was omtrent die elfde uur, het hulle elkeen 'n penning ontvang. Maar toe die eerstes gekom het, het hulle gedink dat hulle meer moes ontvang het; en hulle het eweneens elkeen 'n penning ontvang. En toe hulle dit ontvang het, het hulle teen die eienaar van die huis gemurmureer, en gesê: Hierdie laastes het maar een uur gewerk, en U het hulle aan ons gelyk gemaak wat die las en hitte van die dag gedra het. Maar hy antwoord een van hulle en sê: Vriend, ek doen jou geen onreg nie; het jy nie met my ooreengekom vir 'n penning nie? Neem wat joune is, en gaan heen: Ek sal aan hierdie laaste gee soos aan jou. Is dit my nie geoorloof om met my eie te doen wat ek wil nie? Is jou oog sleg, omdat ek goed is? So sal die laastes eerste wees en die eerstes laaste, want baie is geroep, maar min uitverkies. En Jesus wat opgegaan het na Jerusalem, het die twaalf dissipels op die pad afsonderlik geneem en vir hulle gesê: Kyk, ons gaan op na Jerusalem; en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en aan die skrifgeleerdes, en hulle sal Hom tot die dood veroordeel, en Hy sal Hom aan die heidene oorgee om te spot en te gésel en om Hom te kruisig; en op die derde dag sal Hy opstaan. Toe het die moeder van Sebedeus se kinders met haar seuns na hom gekom en hom aanbid en iets van hom begeer. En hy sê vir haar: Wat wil jy hê? Sy sê vir hom: Gee dat hierdie twee seuns van my mag sit, die een aan u regter- en die ander aan die linkerkant, in u koninkryk. Maar Jesus antwoord en sê: Julle weet nie wat julle vra nie. Is julle in staat om te drink uit die beker waaruit Ek sal drink, en om gedoop te word met die doop waarmee Ek gedoop word? Hulle sê vir hom: Ons is in staat. En Hy sê vir hulle: Julle sal wel van my beker drink en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop is; maar om aan my regter- en aan my linkerhand te sit, is nie myne om te gee nie, maar dit sal gegee word aan hulle vir wie dit deur my Vader berei is. En toe die tien dit hoor, was hulle verontwaardig teen die twee broers. Maar Jesus het hulle na hom geroep en gesê: Julle weet dat die owerstes van die heidene oor hulle heers, en die groot is gesag oor hulle. Maar so sal dit nie onder julle wees nie; maar elkeen wat groot wil wees onder julle, laat hom julle dienaar wees; En elkeen wat onder julle die hoof wil wees, laat hom julle dienaar wees. Net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as 'n losprys vir baie. En toe hulle van Jerigo af wegtrek, het 'n groot menigte Hom gevolg. En kyk, twee blindes sit langs die pad, toe hulle hoor dat Jesus verbygaan, roep hulle uit en sê: Wees ons genadig, Here, Seun van Dawid! En die skare het hulle bestraf, omdat hulle moes swyg; maar hulle het des te meer uitgeroep en gesê: Wees ons genadig, Here, Seun van Dawid! En Jesus het stilgestaan en hulle geroep en gesê: Wat wil julle moet Ek aan julle doen? Hulle sê vir Hom: Here, dat ons oë geopen kan word. Toe het Jesus hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak, en dadelik het hulle oë gesien, en hulle het Hom gevolg.

MATTEUS 20:1-34 Die Boodskap (DB)

Daarna vertel Jesus vir hulle ’n verhaal: “Weet julle, in God se nuwe wêreld gaan dit soos met ’n boer wat vroeg een oggend by die markplein ’n paar werklose mense gaan huur het om daardie dag vir hom op sy plaas te kom werk. Hy kom toe met hulle ooreen om hulle 100 rand vir die dag se werk te betaal. “So teen nege-uur die oggend het die boer weer ’n draai daar by die markplein gemaak. Hy sien toe nog ’n paar werkloses daar rondstaan. Dadelik het hy hulle ook gehuur om op sy plaas te kom werk. ‘Ek betaal julle 100 rand vir die dag,’ het hy vir hulle gesê. “Teen twaalfuur en ook teen drie-uur was die boer weer by die markplein. Elke keer het hy nog werkers gehuur wat daar rondgestaan het. Laatmiddag, so teen vyfuur se kant, het hy vir oulaas by die mark ’n draai gemaak. Hy tref toe weer ’n klompie werkloses daar aan en vra vir hulle: ‘Vir wat staan julle die hele dag hier rond sonder om iets te doen?’ “‘Wel, niemand het vir ons werk nie,’ antwoord hulle. “‘Kom werk dan daar by my in my wingerd op die plaas,’ sê die boer toe. “’n Rukkie later, toe dit begin donker word, sê die boer vir sy voorman: ‘Kry gou al die werkers bymekaar en betaal hulle. Begin by diegene wat ek laaste in diens geneem het en eindig by dié wat van vroeg af werk.’ “Die werkers wat eers teen vyfuur begin werk het, het toe elkeen 100 rand gekry, die geld wat die boer vir ’n volle dag se werk betaal. Die ander wat heel eerste begin werk het, het toe by hulleself gedink dat hulle meer as dit betaal sou word. Maar hulle het ook presies dieselfde bedrag gekry: 100 rand. Hulle was baie kwaad daaroor. Hulle het hardop begin protesteer en vir die boer gaan sê: ‘Kyk, hierdie laaste spul werkers het net ’n uur lank gewerk. En nou word hulle dieselfde as ons betaal. Dis mos nie regverdig nie. Ons moes ’n hele dag in die warm son sweet, nie hulle nie!’ “Die boer sê toe vir die werkers se segsman: ‘My vriend, ek was glad nie onbillik teenoor julle nie. Ek het mos met julle ooreengekom om julle 100 rand te betaal, nie waar nie? Vat julle geld en gaan huis toe. Ek het besluit dat ek vir die arbeiders wat laaste kom werk het dieselfde as vir julle wil betaal. Dit is mos my geld. Ek kan daarmee maak wat ek wil. Hoekom is julle dan kwaad vir my omdat ek daarmee goeddoen?’” In God se wêreld keer die rolle heeltemal om. Daar sal mense wat nou onbelangrik is, die heel belangrikste wees, terwyl almal wat nou belangrik is, glad nie sal tel nie. Op pad na Jerusalem het Jesus sy dissipels op ’n dag eenkant toe geroep. Hy sê toe vir hulle: “Soos julle weet, gaan ons nou Jerusalem toe. Daar gaan iets verskrikliks met My gebeur. Die godsdienstige leiers gaan My vang en My ter dood veroordeel. Dan sal hulle My oorgee aan die Romeine. Hierdie spul sal My daar voor almal spot en beledig en My slaan. Uiteindelik sal hulle My kruisig. Maar moenie bekommerd wees nie. Ek sal op die derde dag weer deur God lewendig gemaak word.” Kort daarna het die ma van Johannes en Jakobus saam met haar seuns na Jesus toe gekom. Sy kniel toe voor Hom en sê dat sy vir Hom iets belangriks wil vra. “Wat het jy op die hart?” vra Jesus haar. “Belowe my asseblief dat wanneer U as Koning in God se nuwe wêreld heers, U vir my seuns die twee heel beste plekke daar sal gee. Laat hulle sommer reg langs U sit: een aan u linkerkant en een aan u regterkant.” “Jy en jou seuns weet nie wat julle vra nie,” antwoord Jesus. “Weet julle, Ek is op pad na my dood toe. Dit is soos ’n bitter beker wat Ek moet leegdrink. Sien julle daarvoor kans? Is julle ook bereid om ’n beker vol pyn en lyding leeg te drink?” “Waarom nie?” het hulle geesdriftig geantwoord. “Ja, eintlik is julle reg! Julle sal nog baie swaarkry, net soos Ek. Julle sal ook een van die dae julle beker van lyding moet leegdrink. Maar wat julle versoek oor die beste plekke in die hemel betref: Ek besluit nie daaroor nie. My Vader self sal besluit wie dit kry.” Toe die ander tien dissipels agterkom wat Johannes en Jakobus vir Jesus gevra het, was hulle op die plek kwaad. Hulle het gedink dat die twee beste plekke nou voor hulle neus opgeraap is. Jesus wou egter nie hê dat hulle onder mekaar aan die stry moes raak nie. Daarom roep Hy hulle toe bymekaar en sê vir hulle: “Julle weet mos hoe dit in die wêreld gaan: politici en mense in magsposisies speel heeltyd baas oor al hulle onderdane. Hulle misbruik hulle gesag en doen net wat hulle wil. Julle mag egter nooit so maak nie. As een van julle in God se oë belangrik wil wees, moet hy bereid wees om ander te dien. “Is julle op soek na ’n leiersposisie in die kerk? Wel, word dan ander gelowiges se slaaf. ’n Slaaf het net een doel voor oë, en dit is om sy eienaar van vroeg tot laat tevrede te stel. Kyk na My: Ek is die Seun van die mens. Tog het Ek nie op ’n troon kom sit sodat mense My van kop tot tone kan bedien nie. Nee, Ek het gekom om te dien. Ek gaan binnekort selfs my lewe ter wille van julle almal opoffer. My lewe sal die losprys wees wat baie mense uit die mag van die dood loskoop.” Later, toe hulle uit Jerigo stap, het ’n groot skare mense agter Jesus aangekom. Hulle het by twee blindes verbygestap wat daar langs die pad gesit het. Toe hierdie mans hoor dat dit Jesus is wat by hulle verbystap, het hulle dadelik besef dit is hulle gelukkige dag. Hulle het skielik hard begin skreeu: “Help ons, asseblief, Here! Kry ons jammer, Seun van Dawid!” Maar die ander mense het vir hulle gesê: “Bly stil! Hou op om so te skreeu!” Dit het egter nie gehelp nie. Die blindes het net nog harder geskreeu: “Help ons, asseblief, Here! Kry ons jammer, Seun van Dawid!” Jesus stap toe tot by hulle en vra vir hulle: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” “Ag, Here, ons wil so graag sien! Maak asseblief ons oë gesond,” antwoord hulle. Jesus het hulle baie jammer gekry omdat hulle so hulpeloos daar gesit het. Toe vat Hy aan hulle oë. Dadelik kon hulle weer sien. Hulle kon hulle oë nie glo nie. Vol blydskap het hulle daar en dan by die res van die skare ingeval en agter Jesus aangestap.

MATTEUS 20:1-34 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Die koningsheerskappy van God is soos die eienaar van ’n landgoed wat vroegdag uitgegaan het om loonarbeiders vir sy wingerd te huur. Hy het met hulle op die gebruiklike daaglikse vergoeding ooreengekom en hulle toe gestuur om in sy wingerd te gaan werk. “Teen nege-uur gaan hy toe weer uit en kry ander wat op die dorpsplein rondstaan en niks doen nie. Hy huur hulle toe ook en sê vir hulle: ‘Ek sal julle aan die einde van die dag billik vergoed.’ Hulle het toe gegaan. Teen twaalfuur en weer teen drie-uur die middag het hy dieselfde oefening herhaal. “Teen vyfuur die middag kry hy in die dorp nog ander wat rondstaan. Hy vra hulle toe: ‘Waarom staan julle die hele dag so rond en niksdoen?’ Hulle antwoord hom: ‘Omdat niemand ons wou huur nie.’ Hy sê vir hulle: ‘Gaan werk saam met die ander in my wingerd.’ “Teen die aand het hy aan sy voorman opdrag gegee om die werkers te roep en hulle loon aan hulle uit te betaal. ‘Begin by die laastes en eindig by die eerstes,’ het hy vir hom gesê. Dié wat teen vyfuur die middag gehuur is, kom toe en kry ’n voldag se betaling. Dié wat vroeër gehuur is, kom toe met die gedagte dat hulle meer sal kry, maar hulle kry toe ook maar die gewone dagloon. “Toe hulle hulle betaling kry, het hulle teenoor die eienaar geprotesteer en gesê: ‘Hierdie laatkommers het net ’n uur gewerk en jy behandel hulle dieselfde as ons wat die ganse dag in die warm son moes swoeg.’ “Hy reageer toe teenoor een van hulle: ‘My vriend, ek behandel jou nie onbillik nie. Het ek dan nie met jou vir die gewone dagloon afgespreek nie? Neem dit en gaan. Ek het dit goedgevind om vir die een wat laaste begin het, dieselfde te gee as vir jou. Is dit dan teen die wet om met my geld te maak soos ek goeddink? Of voel jy bitter omdat ek so gaaf is?’ “So sal baie wat nou so vernaam lyk, eendag heeltemal onbelangrik wees. En dié wat nou nie gereken word nie, sal eendag die belangrikste wees.” Terwyl Jesus na Jerusalem onderweg was, het Hy sy dissipels opsy geneem en vir hulle gesê: “Luister nou goed. As ons in Jerusalem kom, sal Ek, die Seun van die Mens, uitgelewer word aan die priesterhoofde en die skrifkenners. Hulle sal My tot die dood veroordeel. En hulle sal My uitlewer aan die Romeine om gespot en gegésel en gekruisig te word. Maar op die derde dag sal Ek uit die dood opgewek word.” Daarop kom die ma van Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, na Jesus toe met haar twee seuns. Sy kniel toe eerbiedig neer om van Hom ’n guns te vra. “Wat is jou versoek?” het Jesus haar gevra. Sy het geantwoord: “In u koninkryk, wanneer U op u troon sit, mag my twee seuns op die ereplekke regs en links van U sit?” Daarop het Jesus gesê: “Julle besef nie wat julle vra nie! Sien julle daarvoor kans om die bitter lydensbeker te drink wat vir My bestem is?” Hulle sê vir Hom: “Ja, ons sien daarvoor kans.” “Dis waar,” sê Hy, “julle sal ook daarvan drink. Maar Ek beskik nie oor wie langs My op my troon sal sit nie. My Vader hou daardie plekke gereed vir dié wat Hy self uitgekies het.” Toe die ander tien dissipels hoor wat die twee broers wou hê, was hulle bitterlik verontwaardig. Jesus roep hulle toe bymekaar en sê: “Julle weet in hierdie wêreld tiranniseer die maghebbers die nasies, en die magtiges domineer hulle. Maar onder julle moet dit heeltemal anders wees. Wie onder julle ’n leier wil wees, behoort julle dienskneg te wees. En wie die eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees. Net so het Ek, die Seun van die Mens, nie gekom om gedien te word nie, maar om diens te lewer en boonop my lewe te gee as ’n losprys vir baie mense.” Toe Jesus en die dissipels uit Jerigo gaan, het baie mense agter Hom aangekom. Twee blindes wat langs die pad gesit het, het gehoor dat Jesus daarlangs verbygaan. Hulle roep toe aanhoudend: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!” Die skare het hulle aangespreek en gesê hulle moet stilbly, maar hulle het net nog harder geroep: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!” Jesus het gaan staan en hulle laat roep. “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” vra Hy vir hulle. Hulle het gesê: “Here, ons wil sien!” Daarop het Jesus hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. Dadelik kon hulle sien, en hulle het agter Hom aan gegaan.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid