Matteus 20:1-34

Matteus 20:1-34 AFR20

“Die •koninkryk van die hemele is soos 'n grondeienaar wat reeds vroegoggend uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur. Nadat hy met die arbeiders op 'n denarius per dag ooreengekom het, het hy hulle na sy wingerd gestuur. Teen die derde uur het hy uitgegaan en ander op die markplein gesien wat ledig staan, en vir hulle gesê, ‘Gaan julle ook na die wingerd, en ek sal julle 'n billike loon betaal.’ En hulle het gegaan. Teen die sesde en die negende uur het hy weer uitgegaan en dieselfde gedoen. Teen die elfde uur het hy uitgegaan en ander gekry wat rondstaan, en vir hulle gesê, ‘Waarom staan julle die hele dag hier ledig rond?’ Hulle antwoord hom, ‘Omdat niemand ons gehuur het nie.’ Hy sê toe vir hulle, ‘Gaan julle ook na die wingerd.’ Teen die aand sê die eienaar van die wingerd vir sy voorman, ‘Roep die arbeiders en betaal hulle die loon; begin by die laastes, tot by die eerstes.’ Dié wat teen die elfde uur gehuur is, het gekom en elk 'n denarius gekry. Toe die eerstes kom, het hulle gedink dat hulle meer sal kry, maar ook hulle het elk 'n denarius gekry. Hulle het dit geneem, maar by die grondeienaar gaan mor, ‘Hierdie laastes het een uur gewerk, en u het hulle dieselfde behandel as ons, ons wat die dag se werklas en die hitte moes verduur.’ Maar hy het een van hulle geantwoord, ‘Vriend, ek doen jou nie 'n onreg aan nie. Het jy nie met my op 'n denarius ooreengekom nie? Neem wat joune is en gaan. Ek verkies om vir hierdie laaste een dieselfde te gee as vir jou. Mag ek nie met my goed maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is? ’ So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste.” Jesus het opgegaan na Jerusalem. Onderweg het Hy die twaalf dissipels opsy geneem en vir hulle gesê: “ Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die •Seun van die Mens sal oorgelewer word aan die leierpriesters en skrifkenners. Hulle sal Hom ter dood veroordeel, en Hom aan die heidene oorlewer om Hom te bespot, te gesel en te kruisig; maar op die derde dag sal Hy opgewek word. ” Toe het die moeder van die seuns van Sebedeus met haar seuns na Hom gekom. Sy het gekniel om Hom iets te vra. Hy het vir haar gevra: “Wat wil jy dan hê?” Sy antwoord Hom: “Beveel dat in u •koninkryk hierdie twee seuns van my, een aan u regterhand en een aan u linkerhand, sal sit. ” Jesus het geantwoord: “Julle besef nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek moet drink? ” Hulle antwoord Hom: “Ons kan.” Hy sê vir hulle: “Julle sal inderdaad my beker drink, maar om aan my regterhand en my linkerhand te sit, is nie vir My om te beskik nie. Daardie plekke behoort aan hulle vir wie my Vader dit voorberei het.” Toe die tien hiervan te hore kom, was hulle verontwaardig oor die twee broers. Maar Jesus het hulle nader geroep en gesê: “Julle weet dat die heersers van die nasies oor hulle baasspeel, en die maghebbers oor hulle gesag uitoefen. So mag dit nie by julle wees nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, en wie eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees. Net so het die •Seun van die Mens nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe as losprys vir baie te gee. ” Toe hulle uit Jerigo uitgaan, het 'n groot skare Hom gevolg. En kyk, daar het twee blindes langs die pad gesit, en toe hulle hoor dat Jesus verbygaan, het hulle begin uitroep: “Ontferm U oor ons, Here, •Seun van Dawid!” Die skare het hulle berispe, dat hulle moet stilbly, maar hulle het nog harder uitgeroep: “Ontferm U oor ons, Here, Seun van Dawid!” Toe gaan staan Jesus, roep hulle en vra: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” Hulle antwoord Hom: “Here, dat ons oë geopen mag word!” Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak. En hulle kon onmiddellik sien en het Hom gevolg.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Matteus 20:1-34

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid