MATTEUS 12:1-13

MATTEUS 12:1-13 Die Boodskap (DB)

Een sabbat stap Jesus en sy dissipels op ’n voetpaadjie deur ’n koringland. Sy dissipels begin toe honger voel en pluk koringare af en begin daaraan peusel. Die Fariseërs het hulle natuurlik soos valke dopgehou en was dadelik by: “Wat gaan hier aan? Kyk net hoe breek jou dissipels ons godsdienstige reëls. Julle weet mos ’n mens mag nie kos op die sabbat bymekaarmaak nie!” Rustig antwoord Jesus hulle: “Het julle nog nie in julle Bybel gelees wat koning Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger geword het nie? Het julle al vergeet hoe hulle die reëls oortree en sommer die brood geëet het wat spesiaal vir God eenkant gesit is? Net God se priesters is mos toegelaat om dit te eet. “Nog ’n vraag: Het julle ook nog nie in die Bybel gelees dat priesters op die sabbat in die tempel moet werk nie? Wat beteken dit? Ja, natuurlik, hulle is verplig om op die sabbat te werk. Maak dit nou sondaars van hulle? Tog sekerlik nie! En wat leer dit ons? Daar kom situasies waarin skynbaar belangrike wette ter wille van nog belangriker sake verslap kan word. “Maar hoe moet ons nou weet wanneer die een saak ‘belangriker’ as die ander is? Laat Ek vir julle sê. Hier voor julle staan Iemand wat belangriker is as alle godsdienstige reëls. As julle moet kies tussen gehoorsaamheid aan Hom en allerhande godsdienstige wette, kies Hom. Maar nou gaan julle hier tekere oor mense wat niks verkeerds doen nie, alles net omdat julle godsdienstige reëls dien en nie vir God nie. Julle verstaan God nou nog nie as Hy sê: Ek soek mense wat regtig vir ander omgee. Daarin stel Ek belang en nie in allerhande godsdienstige gewoontes nie. “Ek sê vir julle, die sabbat kan My nie soos ’n polisieman voorskryf wat Ek moet doen en wat nie. Ek is belangriker as die sabbat. Daarom kan Ek eerder sê wat op die sabbat gedoen mag word sodat die sabbat regtig sabbat kan wees.” Jesus is van daar af na die bymekaarkomplek van die Jode. In die sinagoge was daar ’n gebreklike man wie se hand heeltemal inmekaargetrek was. Die Jode het geweet dat Jesus graag sulke mense help en het hier ’n kans gesien om Hom in die moeilikheid te bring. As Hy hierdie man op die sabbat sou help, sou hulle Hom mos daarvan kon aankla dat Hy God se wet breek. Om Hom uit te lok vra hulle toe: “Sou jy sê dat ’n mens op die sabbat so ’n persoon gesond mag maak?” Maar Jesus het dwarsdeur hulle plannetjies gesien. “Sê nou ’n man het net een skaap. Op die sabbat val daardie skaap in ’n diep gat en bly daar lê, hulpeloos. Wie sal nie sy skaap probeer beetkry en uit die gat help nie? Natuurlik sal julle almal dit doen, nie waar nie? Nou het Ek vir julle nog ’n vraag: Is ’n skaap naastenby soveel werd as ’n mens? Eintlik is dit tog ’n belaglike vraag. Daarom, as jy ’n skaap op die sabbat sal help, mag jy sekerlik ’n mens ook help. Dus, gebruik die sabbat om goed te wees vir ander mense.” Die Jode was stil. Hulle kon nie aan ’n enkele teenargument dink nie. Jesus sê toe vir die gebreklike man: “Maak jou hand oop en hou dit na My toe uit.” Die man het sy hand uitgesteek, en dit was honderd persent reg.

MATTEUS 12:1-13 Bybel vir almal (ABA)

In daardie tyd het Jesus en sy dissipels op 'n Sabbatdag deur 'n koringland geloop. Sy dissipels het honger geword en hulle het begin om koring-are te pluk en die koringkorrels te eet. Toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Jesus: “Kyk, jou dissipels doen iets wat 'n mens nie op die Sabbatdag mag doen nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Het julle gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger was? Dawid het in die tempel ingegaan en hy het die brood geëet wat op die tafel was. Hy mag nie van daardie brood geëet het nie en die manne wat saam met hom was, mag ook nie daarvan geëet het nie. Net die priesters mag daardie brood eet. Julle weet ook dat die Wette van Moses sê dat die priesters op die Sabbatdag in die tempel moet werk. Breek hulle dan die wette oor die Sabbatdag? Ja, maar God sê die priesters doen nie verkeerd as hulle op die Sabbatdag werk nie. En Ek sê vir julle: Hier is Iemand, en dit is Ek, wat baie belangriker is as die tempel. Julle moet verstaan wat die woorde beteken: ‘Die Here sê: Ek wil nie offers hê nie, maar Ek wil hê julle moet goed wees vir mense.’ As julle dit verstaan, dan sal julle nie mense beskuldig wat niks verkeerd gedoen het nie, want Ek, die Seun van die mens, is die Here wat besluit wat op die Sabbatdag mag gebeur.” Jesus het verder gegaan en Hy het in 'n sinagoge van die Jode ingegaan. In die sinagoge was daar 'n man met 'n gebreklike hand. Party van die Jode wou Jesus beskuldig dat Hy verkeerd gedoen het. Toe vra hulle vir Hom: “Mag 'n mens iemand gesond maak op die Sabbatdag?” Jesus het vir hulle gesê: “As een van julle een skaap het, en die skaap val op die Sabbatdag in 'n watersloot, wat sal julle doen? Julle sal dadelik die skaap gryp en uit die sloot uithaal. En 'n mens is vir God baie belangriker as 'n skaap. Daarom mag 'n mens op die Sabbatdag goeie dinge aan mense doen.” Jesus sê toe vir die man: “Steek jou hand uit.” Die man het sy hand uitgesteek, en toe was sy hand gesond, dit was soos die ander hand.

MATTEUS 12:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

IN daardie tyd het Jesus op die sabbat deur die gesaaides geloop, en sy dissipels het honger geword en are begin pluk en eet. Maar toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: Kyk, u dissipels doen wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie. Maar Hy sê vir hulle: Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het nie — toe hy en die wat saam met hom was, honger gehad het — hoe hy in die huis van God gegaan en die toonbrode geëet het wat vir hom en die wat saam met hom was, nie geoorloof was om te eet nie, maar net vir die priesters alleen? Of het julle nie in die wet gelees dat die priesters op die sabbat in die tempel die sabbat ontheilig en onskuldig is nie? En Ek sê vir julle: Een wat groter is as die tempel, is hier. Maar as julle geweet het wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie, sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie; want die Seun van die mens is Here óók van die sabbat. EN Hy het daarvandaan weggegaan en in hulle sinagoge gekom. En daar was 'n man met 'n verdorde hand, en hulle het Hom gevra en gesê: Is dit geoorloof om op die sabbat gesond te maak? — sodat hulle Hom sou kan aanklae. Maar Hy sê vir hulle: Watter mens sal daar onder julle wees wat een skaap het, en as dit op die sabbat in 'n sloot val, dit nie sal gryp en uithaal nie? Hoeveel meer is 'n mens dan nie werd as 'n skaap nie! So is dit dan geoorloof om op die sabbat goed te doen. Toe sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit uitgesteek, en dit is herstel, gesond soos die ander een.

MATTEUS 12:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

In dié tyd het Jesus op 'n sabbatdag deur gesaaides geloop. Sy dissipels het honger geword en are begin pluk en van die koring geëet. Toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: “Kyk daar! U dissipels doen iets wat op die sabbatdag nie gedoen mag word nie.” Maar Hy sê vir hulle: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger geword het nie? Hy het in die huis van God ingegaan en van die offerbrood geëet, wat hy en sy manne nie mag gedoen het nie, maar net die priesters. Of het julle nie in die wet van Moses gelees dat die priesters op die sabbatdag in die tempel diens moet doen nie? Hulle oortree dus die sabbatsgebod, en tog is hulle nie skuldig nie. “Ek sê vir julle: Hier is Een wat groter is as die tempel. As julle begryp het wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie,’ dan sou julle nie mense wat onskuldig is, veroordeel het nie. Die Seun van die mens is immers Here oor die sabbat.” Jesus het daarvandaan verder gegaan en in hulle sinagoge gekom. Daar was juis 'n man met 'n gebreklike hand. Hulle vra Hom toe: “Mag 'n mens iemand op die sabbatdag gesond maak?” Hulle bedoeling daarmee was om 'n klag teen Hom te kry. Hy sê toe vir hulle: “Wie van julle sal nie die een skaap wat hy het en wat op 'n sabbatdag in 'n sloot val, dadelik uithaal nie? Hoeveel is 'n mens nie meer werd as 'n skaap nie? Dan mag 'n mens mos op die sabbatdag goed doen.” Toe sê Hy vir die man: “Steek jou hand uit.” Hy het dit gedoen, en sy hand was reg soos die ander een.

MATTEUS 12:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In daardie tyd het Jesus op die Sabbat deur die gesaaides geloop. Sy dissipels het honger geword, en begin om die are te pluk en te eet. Toe die •Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: “Kyk, u dissipels doen iets wat op die Sabbat nie toelaatbaar is nie. ” Maar Hy sê vir hulle: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en dié saam met hom honger geword het nie? Hoe hy die huis van God binnegegaan, en hulle die •vertoonbrode geëet het – waarvan nie hy of dié saam met hom mag geëet het nie, maar net die priesters? Of het julle nie in die Wet gelees dat die priesters die Sabbat ontheilig wanneer hulle op die Sabbat in die •tempel diens doen, maar tog onskuldig bly nie? Ek sê vir julle: Wat hiér is, is groter as die tempel. As julle maar net begryp het wat bedoel word met ‘Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie,’ sou julle nie hierdie onskuldige mense veroordeel het nie. Die •Seun van die Mens is immers Here van die Sabbat.” Toe het Jesus daarvandaan vertrek en hulle •sinagoge binnegegaan. En kyk, daar was 'n man met 'n verdorde hand. Om Hom te kon aankla, vra hulle Hom toe: “Is dit toelaatbaar om iemand op die Sabbat gesond te maak?” Hy het egter vir hulle gesê: “Watter mens onder julle wat net een skaap het, sal dit nie gryp en uithaal as dit op die Sabbat in 'n sloot val nie? Hoeveel meer is 'n mens dan nie werd as 'n skaap nie! Daarom is dit toelaatbaar om op die Sabbat goed te doen. ” Toe sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand!” Hy het dit uitgesteek en dit het gesond geword, gesond soos die ander een.

MATTEUS 12:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

In daardie tyd het Jesus op die sabbatdag deur die koring gegaan; en sy dissipels was honger en het begin om are af te pluk en te eet. Maar toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: Kyk, u dissipels doen wat nie geoorloof is om op die sabbatdag te doen nie. Maar hy sê vir hulle: Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy honger was en die wat by hom was nie; Hoe hy in die huis van God ingegaan het en die toonbrode geëet het wat hom nie geoorloof was om te eet nie, ook nie vir die wat by hom was nie, maar net vir die priesters? Of het julle nie in die wet gelees dat die priesters in die tempel op die sabbat die sabbat ontheilig en onberispelik is nie? Maar Ek sê vir julle dat daar in hierdie plek een is wat groter is as die tempel. Maar as julle geweet het wat dit beteken, Ek wil barmhartigheid hê en nie offer nie, sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie. Want die Seun van die mens is Here ook van die sabbatdag. En toe Hy daarvandaan weggegaan het, het Hy in hulle sinagoge ingegaan. En kyk, daar was 'n man met sy hand verdroog. En hulle het Hom gevra en gesê: Is dit geoorloof om op die sabbat te genees? dat hulle hom kan aankla. En Hy sê vir hulle: Watter man sal daar onder julle wees wat een skaap sal hê, en as dit op die sabbatdag in 'n put val, sal hy dit nie gryp en uithaal nie? Hoeveel is 'n mens dan beter as 'n skaap? Daarom is dit geoorloof om goed te doen op die sabbatdae. Toe sê Hy vir die man: Steek jou hand uit. En hy het dit uitgespan; en dit is heel herstel soos die ander.

MATTEUS 12:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

In dié tyd het Jesus op ’n Sabbatdag deur koringlande geloop. Sy dissipels het honger geword en begin om are te pluk en van die koring te eet. Toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: “Kyk wat doen jou dissipels. Dis teen die wet om sulke werk op die Sabbat te doen.” Jesus het hulle egter geantwoord: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy mense honger geword het nie? Hoe hy selfs in die huis van God gegaan en hy en sy manne wederregtelik van die offerbrood geëet het wat vir die priesters gereserveer was. Of het julle nooit in die wet van Moses gelees dat die priesters wat op die Sabbatdag in die tempel diens doen en die Sabbat sodoende ‘ontheilig’, tog skotvry bly nie? Dít verseker Ek julle, Iemand groter as die tempel is hier by julle. As julle die Skrifwoord wat sê: ‘Ontferming is vir My belangriker as offers,’ werklik verstaan het, sou julle nie hierdie onskuldige mense veroordeel het nie. Ek, die Seun van die Mens, het immers ook seggenskap oor die Sabbat.” Jesus het daarvandaan vertrek en in een van hulle sinagoges ingegaan. Daar sien Hy ’n man met ’n misvormde hand. Hulle vra Hom toe: “Mag ’n mens iemand op die Sabbat gesond maak?” (Hulle het natuurlik gehoop Hy sou ja antwoord sodat hulle ’n klag teen Hom kon lê.) Daarop antwoord Hy hulle: “Sou enigeen van julle, as sy enigste skaap op die Sabbatdag in ’n sloot val, versuim om hom te gryp en uit te trek? Natuurlik nie! Hoeveel kosbaarder is ’n mens nie as ’n skaap nie! Daarom is dit mos niks meer as reg om op die Sabbat goed te doen nie.” Daarna sê Hy vir die man: “Steek uit jou hand.” Hy het dit uitgesteek, en dit het gesond geword. Dit was normaal net soos die ander een.