In daardie tyd het Jesus en sy dissipels op 'n Sabbatdag deur 'n koringland geloop. Sy dissipels het honger geword en hulle het begin om koring-are te pluk en die koringkorrels te eet. Toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Jesus: “Kyk, jou dissipels doen iets wat 'n mens nie op die Sabbatdag mag doen nie.” Jesus het vir hulle gesê: “Het julle gelees wat Dawid gedoen het toe hy en sy manne honger was? Dawid het in die tempel ingegaan en hy het die brood geëet wat op die tafel was. Hy mag nie van daardie brood geëet het nie en die manne wat saam met hom was, mag ook nie daarvan geëet het nie. Net die priesters mag daardie brood eet. Julle weet ook dat die Wette van Moses sê dat die priesters op die Sabbatdag in die tempel moet werk. Breek hulle dan die wette oor die Sabbatdag? Ja, maar God sê die priesters doen nie verkeerd as hulle op die Sabbatdag werk nie. En Ek sê vir julle: Hier is Iemand, en dit is Ek, wat baie belangriker is as die tempel. Julle moet verstaan wat die woorde beteken: ‘Die Here sê: Ek wil nie offers hê nie, maar Ek wil hê julle moet goed wees vir mense.’ As julle dit verstaan, dan sal julle nie mense beskuldig wat niks verkeerd gedoen het nie, want Ek, die Seun van die mens, is die Here wat besluit wat op die Sabbatdag mag gebeur.” Jesus het verder gegaan en Hy het in 'n sinagoge van die Jode ingegaan. In die sinagoge was daar 'n man met 'n gebreklike hand. Party van die Jode wou Jesus beskuldig dat Hy verkeerd gedoen het. Toe vra hulle vir Hom: “Mag 'n mens iemand gesond maak op die Sabbatdag?” Jesus het vir hulle gesê: “As een van julle een skaap het, en die skaap val op die Sabbatdag in 'n watersloot, wat sal julle doen? Julle sal dadelik die skaap gryp en uit die sloot uithaal. En 'n mens is vir God baie belangriker as 'n skaap. Daarom mag 'n mens op die Sabbatdag goeie dinge aan mense doen.” Jesus sê toe vir die man: “Steek jou hand uit.” Die man het sy hand uitgesteek, en toe was sy hand gesond, dit was soos die ander hand.
Lees Matteus 12
Deel
Vergelyk alle weergawes: Matteus 12:1-13
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's