MATTEUS 10:1-42

MATTEUS 10:1-42 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het sy twaalf dissipels na Hom toe geroep. Hy het vir hulle krag gegee om onrein geeste uit mense te jaag en om al die siek mense gesond te maak. Hier is die name van die twaalf apostels: Simon, sy ander naam was Petrus, en sy broer Andreas, Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes, Filippus en Bartolomeus, Tomas en Matteus die tollenaar, Jakobus seun van Alfeus, Taddeus, Simon die patriot, en Judas Iskariot wat later vir Jesus verraai het. Jesus het hierdie twaalf dissipels gestuur om te gaan preek. Hy het vir hulle gesê: “Moenie gaan na die heidene en moenie gaan na 'n stad van die Samaritane nie. Maar gaan na die mense van Israel, hulle is soos skape wat weggeraak het. Gaan preek vir hulle en sê: ‘Die tyd is naby wanneer julle sal weet dat God wat in die hemel is, Koning is.’ Julle moet siek mense gesond maak en julle moet mense wat gesterf het, weer laat lewe. Julle moet melaatse mense gesond maak en julle moet duiwels uit mense jaag. Julle het nie betaal om hierdie krag te kry nie. Ander mense moet ook nie betaal wanneer julle vir hulle help nie. Moenie geld saamneem in julle beursies nie, niks goue of silwer of koper geld nie. Moenie 'n rugsak saamneem wanneer julle gaan nie, en moenie nog klere of nog sandale of 'n kierie saamneem nie. Wanneer iemand werk, dan moet 'n mens hom beloon. Wanneer julle in 'n stad of dorp inkom, dan moet julle uitvind by wie julle welkom is. Julle moet by daardie mense bly totdat julle weer weggaan uit daardie stad. Wanneer julle inkom in 'n huis, dan moet julle die mense groet en bid dat God sy vrede vir hulle sal gee. As die mense sê julle is welkom, dan moet julle sê dat die Here se vrede daar sal bly. Maar as hulle sê julle is nie welkom nie, dan moet julle nie sê dat die Here se vrede daar sal bly nie. As iemand sê julle mag nie daar bly nie en as hulle nie vir julle wil luister nie, dan moet julle weggaan van daardie huis of stad en julle moet die stof van julle voete afskud. Ek sê vir julle, en dit is seker: Dit sal baie sleg gaan met daardie mense op die dag wanneer God almal sal oordeel. Dit sal beter gaan met die stede Sodom en Gomorra as met daardie stad.” Jesus het ook gesê: “Ek stuur julle na die mense in die wêreld, en julle sal soos skape wees wat tussen gevaarlike wolwe is. Daarom moet julle versigtig wees soos die slange, en soos duiwe moet julle niks verkeerd doen nie. Julle moet oppas vir die mense, want hulle sal julle vang en hof toe vat. Hulle sal julle met swepe slaan in die sinagoges. Die mense sal julle hof toe sleep voor goewerneurs en konings omdat julle aan My behoort. Dan sal julle vir die konings en die mense wat nie Jode is nie, kan sê wie Ek is. En wanneer die mense julle hof toe vat, dan moet julle nie bekommerd wees oor wat julle moet sê nie, want God sal vir julle sê wat julle dan moet sê. Dit sal nie júlle wees wat praat nie, dit sal die Gees van julle Vader wees wat sal sê wat julle moet praat. Een broer sal 'n ander broer hof toe vat en vra dat die hof hom moet straf en doodmaak, en so sal 'n pa ook sy kind hof toe vat. Kinders sal opstandig wees teen hulle ouers en hulle sal hulle ouers laat doodmaak. Almal sal julle haat omdat julle aan My behoort. Maar as julle tot die einde aanhou om My te volg, dan sal God julle red. Wanneer die mense in een stad slegte dinge doen aan julle, dan moet julle na 'n ander stad vlug. Ek sê vir julle, en dit is seker: Julle sal nog nie klaar wees nie met die werk wat julle moet doen in al die stede van Israel, dan sal Ek kom, Ek, die Seun van die mens. 'n Dissipel is nie belangriker as sy meneer nie. 'n Slaaf is ook nie belangriker as sy eienaar nie. 'n Dissipel moet tevrede wees wanneer dit met hom gaan soos met sy meneer. 'n Slaaf moet tevrede wees wanneer dit met hom gaan soos met sy eienaar. As die mense vir die hoof van die huis sê hy is Beëlsebul, dan moet die mense in sy huis weet dat die mense vir hulle nog slegter dinge sal sê.” “Julle moenie bang wees vir daardie mense nie. God is Koning, niemand kan hierdie geheim wegsteek nie. Almal sal dit sien en daarvan weet. Alles wat Ek vir julle in die geheim sê, moet julle vir almal vertel. Ek het baie dinge net vir julle gesê, maar julle moet op die huise se dakke staan en dit vir almal vertel. “Julle moenie bang wees vir mense nie. As hulle julle doodmaak, dan sal dit net julle liggame wees wat dood is. Nee, julle moet net vir God bang wees. As Hy julle in die hel laat brand, dan sal julle waarlik dood wees. “'n Mens kan twee mossies verkoop vir een sent. Hulle is baie goedkoop. Maar nie een van hulle val dood op die grond as julle Vader dit nie wil hê nie. Julle is vir God baie belangriker as baie mossies. God weet presies hoeveel hare op elke mens se kop is. Daarom moet julle nie bang wees vir mense nie.” Jesus het gesê: “As iemand nie bang is om vir mense te sê hy behoort aan My nie, dan sal Ek vir my Vader in die hemel ook sê daardie persoon behoort aan My. Maar as iemand bang is om vir mense te sê hy behoort aan My, dan sal Ek vir my Vader in die hemel ook sê daardie persoon behoort nie aan My nie. “Julle moenie dink daar sal vrede wees op die aarde omdat Ek gekom het nie. Ek het gekom, maar daar sal nie vrede wees tussen mense nie, hulle sal mekaar se vyande wees. Ek het gekom, en nou sal 'n man teen sy pa wees, 'n dogter teen haar ma, en 'n skoondogter teen haar skoonma. Ja, julle eie familie in julle huise sal julle vyande wees. As iemand meer lief is vir sy pa of sy ma as vir My, dan kan hy nie my dissipel wees nie. As iemand vir sy seun of sy dogter meer lief is as vir My, dan kan hy nie my dissipel wees nie. As iemand My wil volg, dan moet hy lewe soos iemand wat weet hy sal aan 'n kruis hang en sterf. Dan kan hy my dissipel wees. As iemand my dissipel wil wees, maar hy wil aanhou lewe en hy wil nie sterf omdat hy My dien nie, dan sal hy sy lewe verloor. Maar iemand wat sterf omdat hy My dien, sal aanhou lewe. “As die mense sê julle is welkom by hulle, dan is Ek welkom by hulle. En as Ek by mense welkom is, dan is my Vader wat My gestuur het, ook welkom by hulle. God het vir die profete alles gegee wat hulle nodig gehad het. Hy sal ook goed wees vir elkeen wat vir 'n profeet sê hy is welkom omdat hy 'n profeet is. God gee goeie dinge vir iemand wat goed doen. God sal ook goeie dinge gee vir elkeen wat vir 'n goeie man sê hy is welkom omdat hy goed doen. “Daar is mense wat dink party van my dissipels is nie belangrike mense nie. Maar iemand wat vir een van hulle 'n beker koue water gee net omdat hy my dissipel is, vir hom sal God baie goeie dinge gee. Ek sê dit vir julle, dit is baie seker.”

MATTEUS 10:1-42 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Hy het sy twaalf dissipels na Hom geroep en aan hulle mag gegee oor onreine geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees. En dit is die name van die twaalf apostels: die eerste Simon wat Petrus genoem word, en Andréas, sy broer; Jakobus, die seun van Sebedéüs, en Johannes, sy broer; Filippus en Bartholoméüs; Thomas en Matthéüs, die tollenaar; Jakobus, die seun van Alféüs, en Lebbéüs wat genoem word Thaddéüs; Simon Kananítes en Judas Iskáriot, die een wat Hom verraai het. Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en hulle bevel gegee en gesê: Moenie gaan op pad na die heidene nie, en moenie ingaan in 'n stad van die Samaritane nie; maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel. En gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom. Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit. Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee. Moenie vir julle goud of silwer of koper in julle beurse aanskaf nie; geen reissak vir die pad of twee kledingstukke of skoene of 'n stok nie; want die arbeider is sy voedsel werd. En in watter stad of dorp julle ook al mag ingaan, ondersoek wie daarin waardig is, en bly dáár totdat julle vertrek. En as julle die huis ingaan, groet dit; en as die huis dit waardig is, laat julle vrede daarop kom, maar as dit nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer. En as iemand julle nie ontvang nie en na julle woorde nie luister nie, gaan uit daardie huis of daardie stad uit en skud die stof van julle voete af. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal vir die land van Sodom en Gomorra verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir daardie stad. Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe. Maar pas op vir die mense; want hulle sal jul oorlewer aan regbanke, en in hulle sinagoges sal hulle julle gésel. En ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word om My ontwil tot 'n getuienis vir hulle en vir die heidene. Maar wanneer hulle jul oorlewer, moenie julle kwel oor hoe of wat julle sal spreek nie, want dit sal julle in daardie uur gegee word wat julle moet spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek. Maar die een broer sal die ander tot die dood oorlewer en die vader sy kind, en die kinders sal teen hulle ouers opstaan en hulle doodmaak. En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word. En wanneer hulle julle vervolg in die een stad, vlug na die ander toe. Want voorwaar Ek sê vir julle, julle sal met die stede van Israel sekerlik nie klaar kry voordat die Seun van die mens kom nie. 'n Leerling is nie bo die meester nie en 'n dienskneg ook nie bo sy heer nie. Dit is vir die leerling genoeg dat hy soos sy meester word en die dienskneg soos sy heer. As hulle die heer van die huis Beëlsebul genoem het, hoeveel te meer sy huisgenote! Vrees hulle dan nie; want daar is niks bedek wat nie ontdek sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie. Wat Ek vir julle in die donker sê, vertel dit in die lig; en wat julle in die oor hoor, verkondig dit op die dakke. En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel. Word twee mossies nie vir 'n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie. En van julle is selfs die hare van die hoof almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies. Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is. Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Want Ek het gekom om tweedrag te verwek tussen 'n man en sy vader, en tussen 'n dogter en haar moeder, en 'n skoondogter en haar skoonmoeder. En 'n mens se huisgenote sal sy vyande wees. Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind. Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Wie 'n profeet ontvang omdat hy 'n profeet is, sal die loon van 'n profeet ontvang; en wie 'n regverdige ontvang omdat hy 'n regverdige is, sal die loon van 'n regverdige ontvang. En elkeen wat een van hierdie kleintjies net 'n beker kou water laat drink, omdat hy 'n dissipel is, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor nie.

MATTEUS 10:1-42 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jesus het sy twaalf dissipels nader geroep en hulle mag gegee om onrein geeste uit te dryf en om elke soort siekte en kwaal gesond te maak. Die name van die twaalf apostels was: in die eerste plek Simon, wat ook Petrus genoem word, en sy broer Andreas; Jakobus seun van Sebedeus, en sy broer Johannes; Filippus en Bartolomeus; Tomas en Matteus die tollenaar; Jakobus seun van Alfeus, en Taddeus; Simon die Kananeër, en Judas Iskariot wat vir Jesus verraai het. Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en die volgende opdragte aan hulle gegee: “Moenie met 'n pad na die heidennasies toe afdraai nie en moenie in 'n dorp van die Samaritane ingaan nie. Gaan liewer na die verlore skape van die volk Israel toe. Gaan verkondig: ‘Die koninkryk van die hemel het naby gekom.’ Maak siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses en dryf bose geeste uit. Julle het dit verniet ontvang, gee dit ook verniet. “Moenie vir goud of silwer of koper in julle beursies sorg nie en moenie vir die pad 'n reissak aanskaf of nog 'n kledingstuk of skoene of 'n stok nie. 'n Arbeider is tog geregtig op onderhoud. “As julle in 'n stad of dorp kom, stel dan vas by wie julle daar kan tuis gaan en bly by hom totdat julle die reis voortsit. As julle in die huis kom, wens die mense vrede toe. As die huismense se gesindheid goed is, handhaaf julle vredewens vir die huis. Maar as hulle nie goedgesind is nie, trek julle vredewens dan terug. As iemand julle nie ontvang nie en nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af. Dit verseker Ek julle: Dit sal in die oordeelsdag vir die gebied Sodom en Gomorra draagliker wees as vir daardie dorp.” “Onthou: Ek stuur julle soos skape tussen wolwe in. Wees dus versigtig soos slange en opreg soos duiwe. Pas op vir die mense. Hulle sal julle aan die geregshowe uitlewer, en in hulle sinagoges sal hulle julle gesel. Ook voor goewerneurs en konings sal julle gebring word ter wille van My. Dit sal julle geleentheid wees om voor hulle en voor die heidennasies van My te getuig. Wanneer hulle julle uitlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe of wat julle moet sê nie, want op daardie oomblik sal God aan julle gee wat julle moet sê. Dan is dit nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat. “Die een broer sal die ander uitlewer om doodgemaak te word, en selfs 'n pa sy kind; kinders sal teen hulle ouers in opstand kom en hulle doodmaak. Julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word. Maar wie tot die einde toe volhard, sal gered word. As hulle julle in een dorp vervolg, vlug na 'n ander een toe. Dit verseker Ek julle: Julle sal sekerlik nie klaar wees met die dorpe van Israel voordat die Seun van die mens kom nie. “'n Leerling is nie hoër as sy leermeester en 'n slaaf nie hoër as sy eienaar nie. 'n Leerling moet tevrede wees as dit met hom gaan soos met sy leermeester, en 'n slaaf as dit met hom gaan soos met sy eienaar. As hulle die hoof van die huis die skeldnaam Beëlsebul gegee het, sal hulle dan nie sy huisgenote met baie erger name uitskel nie?” “Moet dus nie vir mense bang wees nie. Daar is niks bedek wat nie openbaar gemaak sal word nie, en niks geheim wat nie bekend sal word nie. Wat Ek vir julle in die donker sê, moet julle in die daglig sê, en wat in julle oor gefluister word, moet julle van die dakke af uitbasuin. Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam as die siel in die hel kan laat vergaan. “Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.” “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is.” “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. Ek het gekom om tweedrag te bring “ ‘tussen 'n man en sy vader en tussen 'n dogter en haar moeder, tussen 'n skoondogter en haar skoonmoeder; ja, 'n man se huismense sal sy vyande wees.’ “Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. Hy wat nie sy kruis opneem en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie. “Hy wat sy lewe wil behou, sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.” “Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Wie 'n profeet ontvang omdat hy 'n profeet is, sal 'n profeet se beloning ontvang; en wie 'n goeie mens ontvang omdat hy goed is, sal 'n goeie mens se beloning ontvang. Wie aan een van hierdie geringstes net 'n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle.”

MATTEUS 10:1-42 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Jesus het toe sy twaalf dissipels nader geroep en aan hulle gesag oor •onrein geeste gegee om hulle te kan uitdryf en om elke siekte en elke kwaal gesond te kan maak. Die twaalf •apostels se name was: eerstens Simon, wat bekend staan as •Petrus, en sy broer Andreas; Jakobus, seun van Sebedeus, en sy broer Johannes; Filippus en Bartolomeus; Thomas en Matteus die •tollenaar; Jakobus, seun van Alfeus, en Taddeus; Simon Kananeus en Judas Iskariot, wat Hom verraai het. Jesus het hierdie twaalf uitgestuur, nadat Hy hulle die volgende opdragte gegee het: “Moet julle nie begewe op 'n pad na die heidene, en moenie in 'n Samaritaanse dorp ingaan nie, maar gaan eerder na die verlore skape van die huis van Israel. Gaan verkondig die volgende, ‘Die •koninkryk van die hemele is op hande.’ Maak die siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses, dryf demone uit. Julle het dit verniet gekry – verniet moet julle dit uitdeel. “Moenie goue of silwer- of kopermunte in julle gordels saamneem nie, nie 'n reissak vir die pad nie, ook nie twee kledingstukke, of sandale, of 'n wandelstok nie; want die arbeider is sy kos werd. “Watter stad of dorp julle ook al binnegaan – vind uit wie daarin waardig is, en bly daar totdat julle vertrek. En wanneer julle die huis binnegaan, groet die huismense. En as hulle dit waardig is, skenk julle vrede aan hulle; maar as hulle dit nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer. En wie ook al julle nie verwelkom en na julle woorde nie luister nie – gaan weg uit daardie huis of stad en skud die stof van julle voete af. •Amen, Ek sê vir julle: Dit sal vir die land Sodom en Gomorra op die oordeelsdag draagliker wees as vir daardie stad.” “Kyk, Ek stuur julle uit soos skape onder die wolwe. Wees dan behoedsaam soos slange en onskuldig soos duiwe. Maar wees op julle hoede vir die mense, want hulle sal julle oorlewer aan sanhedrins, en in hulle •sinagoges sal hulle julle gesel. Voor prokurators en konings sal julle om my ontwil gesleep word, sodat julle voor hulle en voor die heidene kan getuig. En wanneer hulle julle oorlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe en wat julle moet sê nie, want wat julle moet sê, sal op daardie oomblik aan julle gegee word. Dit is immers nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat. “Broer sal broer oorlewer om doodgemaak te word, en 'n vader sy kind. En kinders sal in opstand kom teen ouers en hulle doodmaak. En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot aan die einde, dié sal verlos word. Wanneer hulle julle in die een stad vervolg, vlug na 'n ander. •Amen, Ek sê vir julle: Julle sal nie al die stede van Israel kan besoek voordat die •Seun van die Mens kom nie. “'n Leerling is nie verhewe bo die leermeester, of 'n slaaf bo sy eienaar nie. Dit is voldoende vir die leerling om soos sy leermeester, en vir die slaaf om soos sy eienaar te word. As hulle die huisheer Beëlsebul genoem het, hoeveel te meer nie die huismense nie.” “Moet hulle daarom nie vrees nie; daar is immers niks bedek wat nie openbaar sal word nie, en niks verborge wat nie bekend sal word nie. Wat Ek vir julle in die donker sê, sê dit in die lig; en wat julle in die oor hoor, verkondig dit van die dakstoepe af. En moenie diegene vrees wat die liggaam kan doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Vrees eerder Hom wat beide die siel en die liggaam in Gehenna kan laat vergaan. “Word twee mossies nie vir 'n assarius verkoop nie? En nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie. En julle – selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dan nie bang wees nie – julle is meer werd as baie mossies. ” “Daarom, elkeen wat My voor die mense bely, sal Ek ook voor my Vader in die hemele bely. Maar wie My voor die mense verloën, sal Ek ook voor my Vader in die hemele verloën.” “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Want Ek het gekom om 'n wig in te dryf, “ ‘tussen 'n man en sy vader en tussen 'n dogter en haar moeder, en tussen 'n skoondogter en haar skoonmoeder; en 'n mens se vyande sal sy eie huismense wees.’ “Wie sy vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie, en wie sy seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. En wie nie sy kruis opneem en My volg nie, is My nie waardig nie. “Wie sy lewe behou, sal dit verloor, en wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit behou.” “Wie julle ontvang, ontvang My, en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Wie 'n profeet ontvang omdat hy 'n profeet is, sal die beloning van 'n profeet kry, en wie 'n •regverdige ontvang omdat hy 'n regverdige is, sal die beloning van 'n regverdige kry. En wie aan een van hierdie geringes 'n beker koue water gee om te drink, bloot omdat hy 'n dissipel is – •Amen, Ek sê vir julle: Hy sal beslis sy beloning nie kwyt wees nie.”

MATTEUS 10:1-42 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En nadat Hy sy twaalf dissipels na Hom geroep het, het Hy hulle mag gegee teen onrein geeste, om hulle uit te dryf en om elke siekte en elke kwaal te genees. En die name van die twaalf apostels is dit; Die eerste, Simon, wat Petrus genoem word, en Andreas, sy broer; Jakobus, die seun van Sebedeüs, en Johannes, sy broer; Filippus en Bartolomeus; Thomas en Matteus, die tollenaar; Jakobus, die seun van Alfeus, en Lebbaeus, wie se van Thaddeus was; Simon die Kanaäniet en Judas Iskariot, wat hom ook verraai het. Jesus het hierdie twaalf uitgestuur en hulle bevel gegee en gesê: Moenie op die pad van die heidene gaan nie, en moenie ingaan in enige stad van die Samaritane nie. Maar gaan liewer na die verlore skape van die huis van Israel. En terwyl julle gaan, preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom. Maak siekes gesond, reinig melaatses, wek dooies op, dryf duiwels uit; verniet het julle ontvang, gee verniet. Moenie goud of silwer of koper in julle beursies voorsien nie, Geen skraap vir jou reis nie, geen twee rokke of skoene of nog stokke nie, want die werker is sy spys werd. En in watter stad of dorp julle ook al mag ingaan, ondersoek wie daarin waardig is; en bly daar totdat julle daarvandaan gaan. En as julle in 'n huis kom, groet dit. En as die huis dit waardig is, laat julle vrede daaroor kom; maar as dit nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer. En elkeen wat julle nie ontvang en julle woorde nie hoor nie, as julle uit daardie huis of stad uitgaan, skud die stof van julle voete af. Voorwaar Ek sê vir julle, dit sal verdraagliker wees vir die land Sodom en Gomorra in die oordeelsdag as vir daardie stad. Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe uit; wees dan wys soos slange en onskadelik soos duiwe. Maar pas op vir die mense, want hulle sal julle oorlewer aan die rade, en hulle sal julle gésel in hulle sinagoges; En julle sal voor goewerneurs en konings gebring word ter wille van My, as 'n getuienis teen hulle en die heidene. Maar wanneer hulle julle oorgee, moenie dink hoe of wat julle moet spreek nie, want in daardie selfde uur sal julle gegee word wat julle sal spreek. Want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Gees van julle Vader wat in julle spreek. En die broer moet die broer aan die dood oorgee en die vader die kind; en die kinders sal teen hulle ouers opstaan en hulle doodmaak. En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam; maar hy wat volhard tot die einde toe, sal gered word. Maar wanneer hulle julle in hierdie stad vervolg, vlug na 'n ander; want voorwaar Ek sê vir julle, julle sal nie deur die stede van Israel getrek het voordat die Seun van die mens gekom het nie. Die dissipel is nie bo sy heer nie, ook nie die dienskneg bo sy heer nie. Dit is genoeg vir die dissipel dat hy soos sy heer is en die dienskneg as sy heer. As hulle die eienaar van die huis Beëlsebul genoem het, hoeveel te meer sal hulle hulle van sy huisgesin noem? Vrees hulle dan nie, want daar is niks bedek wat nie geopenbaar sal word nie; en weggesteek, dit sal nie bekend word nie. Wat Ek vir julle in die duisternis sê, dit spreek julle in die lig; en wat julle in die oor hoor, verkondig julle op die dakke. En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam in die hel kan verderwe. Word twee mossies nie vir 'n penning verkoop nie? en een van hulle sal nie op die grond val sonder julle Vader nie. Maar die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie, julle is meer werd as baie mossies. Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is. Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op aarde te stuur nie; Ek het nie gekom om vrede te stuur nie, maar 'n swaard. Want Ek het gekom om 'n man teen sy vader te twis, en die dogter teen haar moeder en die skoondogter teen haar skoonmoeder. En 'n man se vyande sal uit sy eie huisgesin wees. Hy wat vader of moeder liewer het as my, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter liewer het as my, is My nie waardig nie. En hy wat sy kruis nie neem en My volg nie, is My nie werd nie. Hy wat sy lewe vind, sal dit verloor; en hy wat sy lewe om My ontwil verloor, sal dit vind. Wie julle ontvang, ontvang My, en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Hy wat 'n profeet in die naam van 'n profeet ontvang, sal 'n profeet se beloning ontvang; en hy wat 'n regverdige ontvang in die naam van 'n regverdige, sal 'n regverdige se beloning ontvang. En elkeen wat aan een van hierdie kleintjies 'n beker koue water net in die naam van 'n dissipel te drinke gee, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal geensins sy beloning verloor nie.

MATTEUS 10:1-42 Die Boodskap (DB)

Daarna roep Jesus sy twaalf dissipels eenkant toe. Hulle was: Simon (Petrus was sy ander naam); Andreas (hy was Simon se broer); die twee broers Jakobus en Johannes (Sebedeus was hulle pa); dan was daar ook Filippus, Bartolomeus en Tomas; Matteus (die een wat Jesus by die tolhuis ontmoet het) en Jakobus (Alfeus was sy pa); Taddeus; Simon (van Kana af); Judas Iskariot (hy het later teen Jesus gedraai en Hom verraai). Dit was die eerste groep mense wat in die ryp oeslande moes gaan werk. Jesus het vir hulle die nodige toerusting gegee, naamlik die mag om bose geeste te verjaag wat mense se lewe deurmekaarkrap, om siekes gesond te maak, en om mense te help wat op die een of ander manier deur die lewe gekneus is. Jesus het ook aan hulle spesifieke opdragte gegee: “Gaan eers na die Israeliete toe. Moenie allerhande afdraaipaadjies vat en eers onder die nie-Jode gaan werk nie. Los vir eers maar ook die Samaritane. “Die Israeliete is julle hoofdoel. Gaan samel eers daar die oes in. Soos herders moet julle hierdie skape gaan soek wat die spoor so erg byster geraak het. Hulle weet nie meer mooi waar God is nie. “Gaan vertel hulle van God se nuwe wêreld wat hier is. Gebruik die toerusting wat Ek vir julle gegee het. “Doen onder hulle wat julle My die afgelope tyd sien doen het: gaan maak siek mense gesond; gaan gee aan dooies weer lewe; gaan maak melaatses gesond, en gaan help mense wat in die mag van demone is om daarvan ontslae te raak. “Doen al hierdie dinge sodat mense die teenwoordigheid en grootheid van God self persoonlik kan ervaar. En onthou, hierdie dinge het julle nie self verdien nie. Ek het dit gratis vir julle gegee. Gaan gee dit daarom ook verniet aan ander weg.” Jesus het verder met hulle gepraat en vertel hoe hulle te werk moes gaan: “Julle hoef nie ’n klomp geld saam te vat nie. Dit is ook nie nodig om groot tasse met baie klere te pak of allerhande spesiale reëlings vir die reis te tref nie. Immers, iemand wat werk, word tog betaal, al kry hy net kos om te eet vir al sy moeite. “Sê nou maar julle kom in ’n stad of dorpie aan, kyk dan of daar iemand is wat vir julle blyplek aanbied en by wie julle graag sal wil bly. Moenie rondval nie; bly daar totdat julle weer na die volgende dorpie toe moet gaan. “So moet julle dit doen: As julle in ’n huis ingaan, groet die mense vriendelik. Sê vir hulle God sal vir hulle goed wees. Hou dan hulle reaksie fyn dop. As hulle julle met dieselfde vriendelikheid teruggroet, weet julle die saak is reg. Laat die vrede van God oor die mense van daardie huis kom. Maar as hulle julle nie goed ontvang nie, moenie verder sukkel nie. Loop daar weg, julle met die vrede wat julle bring en alles daarmee saam. “Sê nou iemand verontagsaam julle as julle na hom toe gaan, sê nou hy wil nie luister as julle met hom praat nie, wat dan? Wel, moenie julleself probeer opdring of julle tyd mors nie. Los hom net daar. En as die mense van ’n hele dorp so ’n verkeerde houding het, los hulle ook net daar. Skud die kop, trek julle skouers op en gaan verder. Troos julle hieraan: wanneer God die dag kom om almal te oordeel, gaan hierdie mense besef dat hulle verkeerd was. Hulle gaan baie spyt wees, maar spyt kom altyd te laat. Saam met die ou stede soos Sodom en Gomorra wat so bekend was vir hulle sonde, gaan hierdie mense lelik onder God se oordeel deurloop. “Moenie dink alles sal altyd net goed gaan nie. Die gevare en probleme is groot en baie. Dit is byna so gevaarlik soos ’n herder wat sy skape deur ’n bos lei waar dit wemel van die luiperds en leeus. Daarom moet julle ingesteldheid reg wees. Julle moet presies weet wat julle wil doen. Probeer ook om mense nie aanstoot te gee of kwaad te maak nie.” “Julle moet ook weet wat op julle wag. Die mense gaan vir julle baie probleme gee. Net omdat julle aan my kant is, sal hulle julle sommer in die tronk wil gooi. Hulle sal julle op die lelikste moontlike maniere voor almal slegsê. En dit is nie al nie. Hulle sal julle by die polisie gaan aankla asof julle boewe is. “Om twee redes hoef dit julle nie bang te maak nie. Wat hierdie mense nie weet nie, is dat hulle julle eintlik ’n guns doen: hulle trek al die aandag na julle toe. Almal, selfs mense wat nie eens Jode is nie, sal nuuskierig wees om te hoor wat julle sê. So sal hulle die goeie nuus hoor, of hulle nou wil of nie! “As hulle julle voor die hof sleep, hoef julle nie oor prokureurs of advokate bekommerd te wees nie. Julle hoef nie te wonder oor hoe julle julle gaan verdedig nie. God gaan julle verdedig. Wie weet beter as Hy wat om te sê? Wanneer julle beurt dus kom om iets te sê, sal die regte woorde wel daar wees. Dit sal nie julle woorde wees nie; die Gees van julle Vader sal self vir julle elke woord gee wat nodig is. “Die ergste van alles het Ek julle nog nie vertel nie. Dit sal nie net vreemde mense wees wat julle ernstige moeilikheid gaan gee nie. Dit sal tot gebeur dat ’n broer teen sy eie broer draai, of ’n pa teen sy kind. Glo dit of nie, sulke mense sal teen hulle eie bloedfamilie draai. Hulle sal selfs wil hê dat hulle doodgemaak moet word. Later sal die kinders selfs soos rebelle die mag in eie hande neem en sommer hulle eie pa en ma doodmaak.” “Julle wil seker weet waarom dit alles met julle moet gebeur. Wel, die antwoord is eenvoudig: omdat julle my vriende is. “Julle sal deur al hierdie mense gehaat word net omdat julle my kant gekies het. Maar moenie dat dit julle moedeloos maak nie. Julle het iets baie groters om na uit te sien. Die een wat deur al hierdie swaarkry heen steeds vas agter My bly staan, se plek is by God in sy nuwe wêreld bespreek. “Die kaptein van ’n span wen of verloor nie alleen nie; sy span wen of verloor saam met hom. Die kaptein se lot is almal se lot. Aanvaar daarom julle lot saam met My. Moenie ongelukkig wees as dieselfde dinge met julle gebeur wat met My ook gebeur nie. As hierdie mense die kaptein van die span vir ’n ‘duiwelskind’ uitskel, wat dink julle sal hulle die res van die span noem? “Al die probleme mag julle dus nie moed laat verloor nie. Die wêreld lê voor julle oop as sendingveld. As mense julle uit die een dorp wegjaag, is daar tien ander om na toe te gaan. Sowaar, daar is so baie werk dat julle nie eens behoorlik met die dorpe in Israel klaar sal kry voor die wederkoms nie. Julle kan nie net op een plek bly nie. “Moenie toelaat dat mense julle op allerhande maniere probeer bangmaak nie. Leuens kan nie die waarheid in ’n bottel toeskroef en dit weggooi nie. Die waarheid sal uitkom vir almal om te hoor. “Wat Ek vir julle gesê het toe ons alleen was, moet julle vir almal gaan vertel. Ons het oor baie dinge hier onder ons gepraat. Dit moet nie net hier tussen ons bly nie. Die hele wêreld moet dit hoor. “Sê My, vir wie dink julle moet ’n mens uit eerbied die bangste wees, vir mense of vir God? Onthou altyd, mense kan miskien jou liggaam doodmaak, maar hulle kan niks aan jou siel doen nie. God kan jou liggaam en jou siel in die hel gooi. Dit is nou regtig iets om voor bang te wees! “Wat dink julle sal iemand vir ’n mossie wil betaal? ’n Paar sent miskien, of hoe? Al is hulle vir ons so min werd, gee God tog baie vir hulle om. Kyk net hoe sorg Hy vir hulle. Nou nog ’n vraag: Wat dink julle, vir wie gee God die meeste om, vir mossies of vir julle? Ek hoef eintlik nie eens hierop te antwoord nie: God gee natuurlik duisend maal meer vir julle om. Van kop tot tone is julle vir Hom belangrik. Nou ja, as julle dit weet, hoef julle mos nie meer bang te wees vir wat mense aan julle kan doen nie. “Wees dus getroos, maar ook gewaarsku. “Julle kan getroos wees as julle in die vyandige wêreld my boodskap bly verkondig, al gebeur wat ook al. Dan sal Ek baie goeie getuigskrifte oor julle vir my hemelse Vader gee. “Wees ook gewaarsku dat iemand wat nie oor My wil praat as die gevaar nader kom nie, nie moet verwag dat Ek allerhande mooi dinge oor hom vir die hemelse Vader sal vertel nie.” “Dit is nie altyd lekker en maklik om ’n Christen te wees nie. Daarom moet jy goed weet wat vir jou die belangrikste is. “Ek het nie gekom om almal net te paai of tevrede te hou nie. My boodskap maak ook vyande. Mense wat nie met My saamstem nie, sal met My - en met julle - wil baklei. Hulle sal selfs teen ons wil oorlog maak. Dit moet julle besef: die oomblik toe Ek gekom het, het die verhoudings tussen mense gespanne begin raak. Selfs die intiemste verhoudings het begin verkrummel, soos die verhouding tussen ’n seun en sy pa, tussen ’n dogter en haar ma, ’n bruid en haar skoonma. Ja, tot die gesin, waarin mense veronderstel is om mekaar die liefste te hê, sal nie gespaar bly nie. “Julle vra waarom. Wel, dit gaan eintlik oor wie of wat vir jou as Christen die belangrikste is. Luister, as jy voel dat jy liewer lojaal moet bly aan jou pa of ma as aan My, verdien jy My nie. Dieselfde geld vir jou seun of dogter of wie ook al. Ek moet altyd vir jou die belangrikste van almal wees. Ek moet die belangrikste in jou lewe wees. “Ja, alles gaan oor wie of wat vir jou die belangrikste is. Iemand wat sy lewe die moeite werd probeer maak deur heeltyd agter mense aan te hardloop, sal agterkom dat hy die ware lewe heeltemal misloop. Wie egter bereid is om aardse opofferings te maak omdat hy My bo alles liefhet, sal ontdek wat dit beteken om werklik te leef. “Ons almal werk mos in een span saam. As een lid van die span punte aanteken, is dit tog die hele span se punte. So is dit ook met ons. As iemand julle met oop arms aanvaar en julle vriend wil wees, is hy eintlik my vriend ook. En as hy my vriend is, is hy eintlik ook die vriend van my Vader wat My na julle toe gestuur het. As iemand bereid is om na die boodskapper van God te luister, sal hy mos God ook met hom hoor praat. Maak dus vriende met mense wat reg lewe, net soos julle. Julle wil tog graag doen wat God wil hê. God sal vir julle goed wees. “Luister mooi. Weet julle wie kan seker wees van sy plek by God in die hemel? Kom Ek sê vir julle: sê nou ’n vriend van My is dors. Ek praat nou van ’n vriend van My aan wie niemand hulle eintlik steur nie omdat hy arm is en geen aansien het nie. Iemand sien hy is dors en stap nader met ’n beker koue water in sy hand. Hy gee dit vir my vriend. Saam met die beker water gee hy ook sy vriendskap vir hierdie onbelangrike man. As die dors man vra: ‘Waarom doen jy dit?’ antwoord die ander man: ‘Omdat jy Jesus se vriend is.’ Wel, vir so iemand sal God ook sorg.” So het Jesus sy dissipels voorberei vir wat op hulle wag. Daarna is Jesus na die omliggende dorpies toe om die mense verder van God te vertel.

MATTEUS 10:1-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jesus het sy twaalf dissipels na Hom toe geroep en aan hulle die volmag gegee om onrein geeste uit mense te dryf en elkeen met ’n siekte of kwaal gesond te maak. Hier volg die name van die twaalf apostels: eerstens Simon (ook bekend as Petrus), en Andreas (sy broer), vervolgens Jakobus (die seun van Sebedeus) en Johannes (sy broer), Filippus en Bartolomeus, Tomas en Matteus (die tollenaar), Jakobus (die seun van Alfeus) en Taddeus, Simon (die Yweraar) en Judas Iskariot (wat Jesus sou uitlewer). Jesus het hierdie twaalf uitgestuur met die volgende instruksies: “Moenie afdraai na gebiede waar die nie-Jode woon of in ’n Samaritaanse dorp ingaan nie. Gaan liewer na die verdwaalde skape van die huis van Israel. Gaan kondig aan: ‘God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin!’ Maak siekes gesond, laat dooies opstaan, reinig dié met ernstige velsiektes, dryf bose geeste uit. Julle het hierdie volmag verniet ontvang. Doen daarom julle werk ook verniet. “Moenie enige kontant in julle beursies saamvat nie. Ook nie ’n reissak vir die pad of ’n ekstra drarok of ekstra sandale of selfs ’n kierie nie. ’n Werker verdien tog sekerlik om versorg te word. As julle in ’n dorp of kleiner plekkie ingaan, maak seker by wie julle welkom is en bly daar totdat julle weer vertrek. As julle in ’n huis ingaan, begroet sy inwoners met die vredesgroet. As julle in daardie huis welkom is, sal God se vrede daarop bly. Maar as julle nie welkom is nie, moet julle julle vredesgroet terugtrek. As hulle julle nie wil ontvang of wil luister na wat julle sê nie, gaan uit daardie huis of dorp uit en skud die stof van julle voete af. “Ek verseker julle, op die oordeelsdag sal dit met die sondige stede Sodom en Gomorra beter gaan as met daardie dorp.” “Let op, Ek stuur julle soos weerlose skape onder die wolwe in. Wees dan waaksaam soos die slange, maar terselfdertyd opreg soos die duiwe. Pas op vir die mense! Hulle sal julle aan die howe oorgee en in hulle sinagoges met gésels slaan. Julle sal voor goewerneurs en konings gesleep word ter wille van My. Dit sal vir julle ’n geleentheid wees om voor hulle en die volke van My te getuig. Wanneer hulle julle oorgee, moenie julle bekommer oor wat julle ter verdediging moet sê nie, want die regte woord sal op die regte tyd vir julle gegee word. Dit sal nie júlle wees wat die praatwerk doen nie, maar die Gees van julle Vader wat julle as sy spreekkanale sal gebruik. “Die een broer sal die ander een oorgee om doodgemaak te word en ’n pa sy kind. Kinders sal teen hulle ouers optree en so hulle dood veroorsaak. Julle sal deur almal gehaat word omdat julle mý mense is. Maar elkeen wat sal volhou tot die einde toe, sal verlos word. As hulle julle in die een dorp vervolg, vlug dan na die ander een toe. Ek verseker julle, julle sal nie klaarkry met die dorpe van Israel voordat Ek, die Seun van die Mens, kom nie. “’n Leerling is nie verhewe bo sy onderwyser nie. ’n Slaaf ook nie bo sy baas nie. ’n Leerling behoort tevrede daarmee te wees as dit met hom gaan soos met sy onderwyser, en die slaaf soos met sy baas. As hulle My, die hoof van die huishouding, as Beëlsebul uitskel, watter nare dinge sal hulle dan nie van julle, my huismense, sê nie!” “Moenie vir hulle bang wees nie! Die tyd kom wanneer alles wat op die oomblik nog weggesteek word, aan die lig sal kom en alles wat nou nog geheim is, bekendgemaak sal word. Wat Ek vir julle vertroulik sê, vertel dit vir almal. En wat in julle ore gefluister word, basuin dit van die dakke af. Moenie bang wees vir hulle wat julle wil doodmaak nie. Hulle kan net julle liggame doodmaak; aan julle eintlike menswees kan hulle nie raak nie. Wees veel eerder bang vir Hom wat julle liggaam én eintlike menswees in die hel kan vernietig. Julle weet dat twee mossies vir ’n skamele sent verkoop word. Tog beland nie een van hulle hulpeloos op die grond sonder dat julle Vader daarby betrokke is nie. Wat julle betref, is elke haar op julle kop getel. Wees daarom nie bang nie. Julle is vir Hom meer werd as ’n hele swerm mossies. “As julle My openlik erken voor die mense, sal Ek julle ook openlik erken voor my hemelse Vader. Maar as julle My verloën voor die mense, sal Ek julle ook verloën voor my hemelse Vader.” “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op aarde te bring nie! Nee, Ek het nie vrede gebring nie, maar stryd. Ek het gekom om skeiding te bring tussen ’n man en sy pa en ’n dogter en haar ma, tussen ’n skoondogter en haar skoonma. Selfs ’n mens se eie familie sal jou vyande wees. “As jy jou pa of jou ma liewer het as vir My, verdien jy nie om een van my mense te wees nie. Of as jy jou seun of jou dogter liewer het as vir My, verdien jy nie om een van my mense te wees nie. As jy weier om jou kruis op jou skouers te neem en My te volg, verdien jy nie om een van my mense te wees nie. As jy selfsugtig aan jou eie lewe vasklou, sal jy dit verloor. Maar as jy dit ter wille van My opoffer, sal jy werklik voluit lewe.” “Elkeen wat julle verwelkom, verwelkom My. En wie My verwelkom, verwelkom die Vader wat My gestuur het. As jy ’n profeet verwelkom omdat hy God se boodskap bring, sal jy dieselfde beloning kry as ’n profeet. En as jy iemand wat reg lewe, verwelkom omdat hy reg lewe, sal jy dieselfde beloning as hy ontvang. Selfs as jy ’n beker koue water aan een van my geringste dissipels sou gee bloot omdat hy ’n dissipel is, verseker Ek jou dat jy jou beloning nie sal misloop nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid