Matteus 10:1-42

Matteus 10:1-42 AFR20

Jesus het toe sy twaalf dissipels nader geroep en aan hulle gesag oor •onrein geeste gegee om hulle te kan uitdryf en om elke siekte en elke kwaal gesond te kan maak. Die twaalf •apostels se name was: eerstens Simon, wat bekend staan as •Petrus, en sy broer Andreas; Jakobus, seun van Sebedeus, en sy broer Johannes; Filippus en Bartolomeus; Thomas en Matteus die •tollenaar; Jakobus, seun van Alfeus, en Taddeus; Simon Kananeus en Judas Iskariot, wat Hom verraai het. Jesus het hierdie twaalf uitgestuur, nadat Hy hulle die volgende opdragte gegee het: “Moet julle nie begewe op 'n pad na die heidene, en moenie in 'n Samaritaanse dorp ingaan nie, maar gaan eerder na die verlore skape van die huis van Israel. Gaan verkondig die volgende, ‘Die •koninkryk van die hemele is op hande.’ Maak die siekes gesond, wek dooies op, reinig melaatses, dryf demone uit. Julle het dit verniet gekry – verniet moet julle dit uitdeel. “Moenie goue of silwer- of kopermunte in julle gordels saamneem nie, nie 'n reissak vir die pad nie, ook nie twee kledingstukke, of sandale, of 'n wandelstok nie; want die arbeider is sy kos werd. “Watter stad of dorp julle ook al binnegaan – vind uit wie daarin waardig is, en bly daar totdat julle vertrek. En wanneer julle die huis binnegaan, groet die huismense. En as hulle dit waardig is, skenk julle vrede aan hulle; maar as hulle dit nie waardig is nie, laat julle vrede na julle terugkeer. En wie ook al julle nie verwelkom en na julle woorde nie luister nie – gaan weg uit daardie huis of stad en skud die stof van julle voete af. •Amen, Ek sê vir julle: Dit sal vir die land Sodom en Gomorra op die oordeelsdag draagliker wees as vir daardie stad.” “Kyk, Ek stuur julle uit soos skape onder die wolwe. Wees dan behoedsaam soos slange en onskuldig soos duiwe. Maar wees op julle hoede vir die mense, want hulle sal julle oorlewer aan sanhedrins, en in hulle •sinagoges sal hulle julle gesel. Voor prokurators en konings sal julle om my ontwil gesleep word, sodat julle voor hulle en voor die heidene kan getuig. En wanneer hulle julle oorlewer, moet julle julle nie bekommer oor hoe en wat julle moet sê nie, want wat julle moet sê, sal op daardie oomblik aan julle gegee word. Dit is immers nie julle wat praat nie, maar die Gees van julle Vader wat deur julle praat. “Broer sal broer oorlewer om doodgemaak te word, en 'n vader sy kind. En kinders sal in opstand kom teen ouers en hulle doodmaak. En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot aan die einde, dié sal verlos word. Wanneer hulle julle in die een stad vervolg, vlug na 'n ander. •Amen, Ek sê vir julle: Julle sal nie al die stede van Israel kan besoek voordat die •Seun van die Mens kom nie. “'n Leerling is nie verhewe bo die leermeester, of 'n slaaf bo sy eienaar nie. Dit is voldoende vir die leerling om soos sy leermeester, en vir die slaaf om soos sy eienaar te word. As hulle die huisheer Beëlsebul genoem het, hoeveel te meer nie die huismense nie.” “Moet hulle daarom nie vrees nie; daar is immers niks bedek wat nie openbaar sal word nie, en niks verborge wat nie bekend sal word nie. Wat Ek vir julle in die donker sê, sê dit in die lig; en wat julle in die oor hoor, verkondig dit van die dakstoepe af. En moenie diegene vrees wat die liggaam kan doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie. Vrees eerder Hom wat beide die siel en die liggaam in Gehenna kan laat vergaan. “Word twee mossies nie vir 'n assarius verkoop nie? En nie een van hulle sal op die grond val sonder julle Vader nie. En julle – selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dan nie bang wees nie – julle is meer werd as baie mossies. ” “Daarom, elkeen wat My voor die mense bely, sal Ek ook voor my Vader in die hemele bely. Maar wie My voor die mense verloën, sal Ek ook voor my Vader in die hemele verloën.” “Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie, maar die swaard. Want Ek het gekom om 'n wig in te dryf, “ ‘tussen 'n man en sy vader en tussen 'n dogter en haar moeder, en tussen 'n skoondogter en haar skoonmoeder; en 'n mens se vyande sal sy eie huismense wees.’ “Wie sy vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie, en wie sy seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. En wie nie sy kruis opneem en My volg nie, is My nie waardig nie. “Wie sy lewe behou, sal dit verloor, en wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit behou.” “Wie julle ontvang, ontvang My, en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. Wie 'n profeet ontvang omdat hy 'n profeet is, sal die beloning van 'n profeet kry, en wie 'n •regverdige ontvang omdat hy 'n regverdige is, sal die beloning van 'n regverdige kry. En wie aan een van hierdie geringes 'n beker koue water gee om te drink, bloot omdat hy 'n dissipel is – •Amen, Ek sê vir julle: Hy sal beslis sy beloning nie kwyt wees nie.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Matteus 10:1-42

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid