LUKAS 7:18-50
LUKAS 7:18-50 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die volgelinge van Johannes het hom van al hierdie dinge vertel. Hy laat toe twee van sy volgelinge roep en stuur hulle na die Here toe om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?” Toe die manne by Hom kom, sê hulle: “Johannes die Doper het ons na U toe gestuur om te vra: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?” Op daardie oomblik het Jesus juis baie mense gesond gemaak van siektes en kwale en bose geeste, en baie blindes het Hy laat sien. Sy antwoord aan die boodskappers was: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig. En gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie.” Nadat die boodskappers van Johannes vertrek het, het Jesus met die mense oor Johannes begin praat en gesê: “Waarna het julle in die woestyn gaan kyk? Na 'n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word? Nee? Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, dié wat swierige klere dra en in weelde lewe, kry 'n mens in koninklike paleise. Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek verseker julle, nog meer as 'n profeet. Dit is hy van wie daar geskrywe staan: “ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit; hy sal die pad vir jou regmaak.’ “Ek sê vir julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter as Johannes is nie, en tog is die geringste in die koninkryk van God groter as hy.” Al die mense, ook die tollenaars, het na hom geluister en was aan die wil van God gehoorsaam. Hulle het hulle met die doop van Johannes laat doop. Net die Fariseërs en die wetgeleerdes het die bedoeling van God verwerp en hulle nie deur Johannes laat doop nie. Verder het Jesus gesê: “Waarmee sal Ek die mense van hierdie geslag vergelyk? Soos wie is hulle? Hulle is net soos kinders wat op die markplein sit en vir mekaar roep: “Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie! Ons het 'n treurlied gesing, en julle het nie gehuil nie! “Johannes die Doper het gekom en nie brood geëet of wyn gedrink nie, en julle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’ Die Seun van die mens het gekom, geëet en gedrink, en julle sê: ‘Kyk daar, 'n vraat en 'n wynsuiper, 'n vriend van tollenaars en sondaars.’ Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.” Een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het toe in die huis van die Fariseër ingegaan en aan tafel plek ingeneem. 'n Sekere vrou in die dorp, wat 'n sondige lewe gelei het, het gehoor dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was. Sy bring toe 'n albaste flessie met reukolie en gaan staan agter Jesus by sy voete en huil, sodat haar trane op sy voete begin drup het. Daarna het sy sy voete met haar hare afgedroog, hulle gesoen en met die reukolie gesalf. Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: “Hy, as hy 'n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy 'n sondares is.” Maar Jesus spreek hom aan en sê: “Simon, Ek het iets om vir jou te sê.” “Meneer, sê dit maar!” antwoord hy. Jesus sê toe: “Twee mense was in die skuld by 'n geldskieter. Die een het vyf honderd rand geskuld en die ander een vyftig. Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir albei kwytgeskeld. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?” Simon antwoord: “Ek veronderstel dié een vir wie hy die meeste kwytgeskeld het.” “Jou antwoord is heeltemal reg,” sê Jesus, en Hy draai na die vrou toe om en sê verder vir Simon: “Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom – en jy, water vir my voete het jy My nie gegee nie, maar sy, met haar trane het sy my voete natgemaak en met haar hare het sy dit afgedroog. 'n Soen het jy My nie gegee nie, maar sy het vandat sy hier ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. My kop het jy nie eens met olie gesalf nie; sy het my voete met reukolie gesalf. Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.” En Jesus sê vir haar: “Jou sondes is vergewe.” Toe begin dié wat saam aan tafel was, onder mekaar sê: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?” Maar Jesus sê vir die vrou: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”
LUKAS 7:18-50 Bybel vir almal (ABA)
Die dissipels van Johannes die Doper het vir hom alles vertel wat Jesus gedoen het. Johannes roep toe twee van sy dissipels en stuur hulle na die Here toe om vir Hom te vra: “Is U die Christus wat moes kom? Of moet ons vir 'n ander Een wag?” Johannes se dissipels het by Jesus gekom en gesê: “Johannes die Doper het ons gestuur om vir U te vra of U die Christus is wat moes kom, en of ons vir 'n ander Een moet wag.” Jesus was besig om baie mense gesond te maak wat siek was. Hy het ook bose geeste uit mense gejaag en Hy het baie blinde mense weer laat sien. Jesus sê toe vir Johannes se dissipels: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: Blinde mense kan nou sien, kreupel mense kan nou loop, melaatse mense is weer gesond, dowe mense kan nou hoor, mense wat gesterf het, lewe weer, en arm mense hoor die goeie boodskap dat Jesus die Christus is. En God sal mense seën wat aanhou om in My te glo.” Die boodskappers van Johannes het teruggegaan, en toe het Jesus vir die mense iets oor Johannes vertel. Jesus het gevra: “Wat het julle gedink sal julle sien toe julle in die woestyn na Johannes toe gegaan het? Het julle gedink julle sal iemand sien wat soos 'n riet in die wind heen en weer waai? Nee! Het julle gedink julle sal 'n man sien wat mooi en duur klere dra? Nee, die mense wat mooi klere aantrek en blink goed het, woon in konings se paleise. Maar wat wou julle gaan sien? 'n Profeet? Ja, maar Ek sê vir julle: Julle het meer as 'n profeet gesien. God het in die Ou Testament oor Johannes gepraat toe Hy gesê het: “ Kyk, Ek stuur my boodskapper. Hy sal voor jou gaan en hy sal die pad gereedmaak vir jou. “Ek sê vir julle, niemand is belangriker as Johannes nie, nie een van al die mense wat gebore is nie. Maar wanneer God Koning is, dan is die mens wat die minste belangrik is, nog belangriker as Johannes.” Al die mense, ook die tollenaars, het gedink God oordeel reg oor hulle, en daarom het hulle gevra dat Johannes hulle moet doop. Maar die Fariseërs en die skrifgeleerdes wou nie vir Johannes vra om hulle te doop nie, want hulle wou nie God se plan aanvaar nie, God se plan om hulle te red. Jesus het ook gesê: “Wat kan Ek sê van die mense wat vandag lewe? Hulle is soos kinders wat op die oop stuk grond in die stad sit. Party kinders sê: ‘Ons het vir julle trou-musiek op die fluit gespeel, maar julle wou nie dans nie.’ En die ander kinders sê: ‘Ons het vir julle 'n begrafnis-lied gesing, maar julle wou nie huil nie.’ So doen die mense ook met Johannes die Doper en met My. Hulle is nooit tevrede nie. Toe Johannes hier was, het hy nie saam feesgevier nie. Toe sê julle: ‘Daar is 'n duiwel in hom.’ Nou het Ek, die Seun van die mens, gekom en Ek vier graag fees. Nou sê julle: ‘Hy is 'n vraat en 'n dronklap. En Hy is ook 'n vriend van die tollenaars en van mense wat nie doen wat die Here in sy wette sê nie.’ Die mense wat regtig weet wat die wysheid van God is, is die mense wat in My en Johannes geglo het.” Een van die Fariseërs het vir Jesus genooi om by hom te kom eet. Jesus het by die Fariseër se huis gekom en Hy het by die tafel gaan sit. Daar was 'n slegte vrou in die stad, almal het geweet sy is 'n slegte vrou. Sy het gehoor Jesus is by die huis van die Fariseër om daar te eet. Sy neem toe 'n klip-kruikie met lekkerruik-olie en sy gaan sit by Jesus se voete. Sy het aangehou huil. Sy het Jesus se voete met haar trane natgemaak en met haar hare afgedroog. Toe soen sy Jesus se voete en gooi die olie op sy voete. Toe die Fariseër wat vir Jesus genooi het, dit sien, het hy gedink: As hierdie man 'n profeet was, dan sou hy geweet het watter soort vrou dit is wat aan hom raak. Hy sou geweet het sy is 'n slegte vrou. Toe sê Jesus vir die Fariseër: “Simon, Ek wil vir jou iets sê.” En Simon sê: “Meneer, sê dit vir my.” Jesus vertel toe vir hom 'n gelykenis: “Daar was twee mense wat geld geskuld het aan iemand wat vir hulle geld geleen het. Die een man het 500 silwer geldstukke geskuld, en die ander man het 50 silwer geldstukke geskuld. Altwee mans kon nie hulle skuld betaal nie. Toe het die man wat die geld vir hulle geleen het, gesê hulle moenie die skuld terugbetaal nie, hulle mag die geld hou. Watter man sal die dankbaarste wees vir die man wat gesê het hulle mag die geld hou?” Simon het gesê: “Ek dink die man wat die meeste geld geskuld het.” Jesus sê toe: “Jy het reg gedink.” Toe draai Jesus na die vrou en Hy sê vir Simon: “Sien jy hierdie vrou? Toe Ek by jou huis gekom het, het jy nie vir My water gegee om my voete te was nie, maar hierdie vrou het my voete met haar trane gewas en met haar hare afgedroog. Jy het My nie gesoen toe jy My gegroet het nie. Maar hierdie vrou het aangehou om my voete te soen vandat Ek ingekom het. Jy het ook nie lekkerruik-olie op my kop gegooi nie, maar hierdie vrou het lekkerruik-olie op my voete gegooi. Daarom sê Ek vir jou, God het die baie sondes wat sy gedoen het, vergewe. Toe sy hierdie dinge aan My gedoen het, het sy gewys dat sy lief is vir My. Dit wys ook sy is baie dankbaar dat God haar baie sondes vergewe het. Jy dink jy het min sondes, maar God het dit vergewe. Jy wys ook hoe min dankbaar jy is en hoe min jy lief is vir Hom.” Jesus sê toe vir die vrou: “Ek vergewe jou sondes.” Die mense wat saam met Jesus by die tafel gesit het, begin toe met mekaar praat en hulle sê: “Wie is hierdie man wat sondes vergewe?” Maar Jesus het vir die vrou gesê: “Omdat jy glo, daarom red Ek jou. Totsiens, dit sal goed gaan met jou.”
LUKAS 7:18-50 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN die dissipels van Johannes het hom van al hierdie dinge berig gebring. En Johannes het sekere twee van sy dissipels na hom geroep en hulle na Jesus gestuur en gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag? En toe die manne by Hom kom, sê hulle: Johannes die Doper het ons na U gestuur en gesê: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag? En in dieselfde uur het Hy baie mense genees van siektes en kwale en bose geeste, en aan baie blindes die gesig geskenk. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Gaan vertel aan Johannes wat julle sien en hoor: blindes sien weer, kreupeles loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig. En salig is elkeen wat aan My nie aanstoot neem nie. En nadat die boodskappers van Johannes weggegaan het, begin Hy vir die skare aangaande Johannes te sê: Wat het julle uitgegaan in die woestyn om te aanskou? 'n Riet wat deur die wind beweeg word? Maar wat het julle uitgegaan om te sien? 'n Man met sagte klere aan? Kyk, die wat pragtige klere dra en in weelde lewe, is in die paleise. Maar wat het julle uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, nog baie meer as 'n profeet! Dit is hy van wie daar geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor u aangesig, wat u weg voor U uit sal regmaak. Want Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen profeet groter as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van God is groter as hy. En toe die hele volk en die tollenaars dit hoor, het hulle God geregverdig deur hulle te laat doop met die doop van Johannes. Maar die Fariseërs en die wetgeleerdes het die raad van God aangaande hulle verwerp deur hulle nie deur hom te laat doop nie. Toe sê die Here: Waarmee sal Ek dan die mense van hierdie geslag vergelyk, en waaraan is hulle gelyk? Hulle is net soos kinders wat op die mark sit en na mekaar roep en sê: Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie; ons het vir julle 'n klaaglied gesing, en julle het nie gehuil nie. Want Johannes die Doper het gekom en het nie brood geëet of wyn gedrink nie, en julle sê: Hy het 'n duiwel. Die Seun van die mens het gekom en Hy eet en drink, en julle sê: Daar is 'n mens wat 'n vraat en 'n wynsuiper is, 'n vriend van tollenaars en sondaars. Maar die wysheid is geregverdig deur al sy kinders. EN een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te eet; en Hy het in die huis van die Fariseër gekom en aan tafel gegaan. En toe 'n vrou in die stad, wat 'n sondares was, verneem dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was, het sy 'n albaste fles met salf gebring en agter by sy voete gaan staan en geween; en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf. Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: Hy, as Hy 'n profeet was, sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat Hom aanraak; want sy is 'n sondares. En Jesus antwoord en sê vir hom: Simon, Ek het iets om aan jou te sê. En hy antwoord: Meester, spreek. Hy sê toe: 'n Sekere geldskieter het twee skuldenaars gehad; die een het vyfhonderd pennings geskuld en die ander een vyftig; en omdat hulle niks gehad het om te betaal nie, het hy dit aan altwee geskenk. Sê nou, wie van hulle sal hom die meeste liefhê? En Simon antwoord en sê: Ek veronderstel dié een aan wie hy die meeste geskenk het. En Hy antwoord hom: Jy het reg geoordeel. Daarop draai Hy om na die vrou en sê vir Simon: Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom — water het jy nie vir my voete gegee nie; maar sy het met haar trane my voete natgemaak en met die hare van haar hoof afgedroog. 'n Soen het jy My nie gegee nie; maar sy het, vandat sy ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. Met olie het jy my hoof nie gesalf nie; maar sy het my voete met salf gesalf. Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief. En Hy sê vir haar: Jou sondes is vergewe. Toe begin die wat aan tafel was, by hulleself te sê: Wie is hierdie man wat selfs die sondes vergewe? En Hy sê vir die vrou: Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.
LUKAS 7:18-50 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die volgelinge van Johannes het hom van al hierdie dinge vertel. Hy laat toe twee van sy volgelinge roep en stuur hulle na die Here toe om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?” Toe die manne by Hom kom, sê hulle: “Johannes die Doper het ons na U toe gestuur om te vra: Is U die Een wat sou kom, of moet ons 'n ander een verwag?” Op daardie oomblik het Jesus juis baie mense gesond gemaak van siektes en kwale en bose geeste, en baie blindes het Hy laat sien. Sy antwoord aan die boodskappers was: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: blindes sien, lammes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die evangelie verkondig. En gelukkig is die man wat nie aan My begin twyfel nie.” Nadat die boodskappers van Johannes vertrek het, het Jesus met die mense oor Johannes begin praat en gesê: “Waarna het julle in die woestyn gaan kyk? Na 'n riet wat deur die wind heen en weer gewaai word? Nee? Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, dié wat swierige klere dra en in weelde lewe, kry 'n mens in koninklike paleise. Maar wat het julle dan uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek verseker julle, nog meer as 'n profeet. Dit is hy van wie daar geskrywe staan: “ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit; hy sal die pad vir jou regmaak.’ “Ek sê vir julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter as Johannes is nie, en tog is die geringste in die koninkryk van God groter as hy.” Al die mense, ook die tollenaars, het na hom geluister en was aan die wil van God gehoorsaam. Hulle het hulle met die doop van Johannes laat doop. Net die Fariseërs en die wetgeleerdes het die bedoeling van God verwerp en hulle nie deur Johannes laat doop nie. Verder het Jesus gesê: “Waarmee sal Ek die mense van hierdie geslag vergelyk? Soos wie is hulle? Hulle is net soos kinders wat op die markplein sit en vir mekaar roep: “Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie! Ons het 'n treurlied gesing, en julle het nie gehuil nie! “Johannes die Doper het gekom en nie brood geëet of wyn gedrink nie, en julle sê: ‘Hy is van die duiwel besete.’ Die Seun van die mens het gekom, geëet en gedrink, en julle sê: ‘Kyk daar, 'n vraat en 'n wynsuiper, 'n vriend van tollenaars en sondaars.’ Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit.” Een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het toe in die huis van die Fariseër ingegaan en aan tafel plek ingeneem. 'n Sekere vrou in die dorp, wat 'n sondige lewe gelei het, het gehoor dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was. Sy bring toe 'n albaste flessie met reukolie en gaan staan agter Jesus by sy voete en huil, sodat haar trane op sy voete begin drup het. Daarna het sy sy voete met haar hare afgedroog, hulle gesoen en met die reukolie gesalf. Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: “Hy, as hy 'n profeet was, sou tog geweet het wie en watter soort vrou dit is wat aan hom raak, dat sy 'n sondares is.” Maar Jesus spreek hom aan en sê: “Simon, Ek het iets om vir jou te sê.” “Meneer, sê dit maar!” antwoord hy. Jesus sê toe: “Twee mense was in die skuld by 'n geldskieter. Die een het vyf honderd rand geskuld en die ander een vyftig. Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir albei kwytgeskeld. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?” Simon antwoord: “Ek veronderstel dié een vir wie hy die meeste kwytgeskeld het.” “Jou antwoord is heeltemal reg,” sê Jesus, en Hy draai na die vrou toe om en sê verder vir Simon: “Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom – en jy, water vir my voete het jy My nie gegee nie, maar sy, met haar trane het sy my voete natgemaak en met haar hare het sy dit afgedroog. 'n Soen het jy My nie gegee nie, maar sy het vandat sy hier ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. My kop het jy nie eens met olie gesalf nie; sy het my voete met reukolie gesalf. Ek sê vir jou, omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde.” En Jesus sê vir haar: “Jou sondes is vergewe.” Toe begin dié wat saam aan tafel was, onder mekaar sê: “Wie is hierdie man dat hy selfs sondes vergewe?” Maar Jesus sê vir die vrou: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”
LUKAS 7:18-50 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Johannes se dissipels het hom van al hierdie dinge vertel. Johannes het twee van sy dissipels laat roep en hulle na die Here gestuur om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?” Toe die manne by Hom aankom, sê hulle: “Johannes die Doper het ons na U gestuur om te vra, ‘Is U die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?’ ” Op daardie oomblik was Jesus besig om baie mense van hulle siektes en kwale en bose geeste te genees en om baie blindes weer te laat sien. Hy het hulle geantwoord: “Gaan vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het: “Blindes sien weer, verlamdes loop, melaatses word gereinig, dowes hoor, dooies word opgewek, aan armes word die goeie boodskap verkondig. “En gelukkig is elkeen wat nie aan My aanstoot neem nie.” Nadat Johannes se gesante vertrek het, het Hy met die skare oor Johannes begin praat: “Toe julle na die woestyn uitgegaan het, wat wou julle gaan sien? 'n Riet wat deur die wind heen en weer geruk word? Maar wat wou julle dan gaan sien? 'n Man met deftige klere aan? Nee, kyk, mense met swierige klere, wat in weelde leef, woon in koninklike paleise. Maar wat wou julle dan gaan sien? 'n Profeet? Ja, Ek verseker julle, selfs meer as 'n profeet. Hy is die een oor wie geskryf staan, “ ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit – hy sal jou pad voor jou gereedmaak.’ “Ek sê vir julle: Onder diegene wat uit vroue gebore is, is daar niemand groter as Johannes nie , en tog is die geringste in die •koninkryk van God groter as hy.” Die hele volk wat na Hom geluister het, ook die •tollenaars, het saamgestem dat God reg gehandel het, en hulle met die doop van Johannes laat doop. Maar die •Fariseërs en die wetskenners het God se plan vir hulle verwerp, en hulle nie deur Johannes laat doop nie. “Met wie kan ek dan hierdie geslag mense vergelyk? Soos wie is hulle? Hulle is soos kindertjies wat op die markplein sit en na mekaar roep, “ ‘Ons het vir julle fluit gespeel, maar julle wou nie dans nie; ons het 'n treurlied gesing, maar julle wou nie huil nie!’ “Want Johannes die Doper het gekom en nie brood geëet of wyn gedrink nie, “en julle sê, “ ‘Hy is van 'n demoon besete.’ “En die •Seun van die Mens het gekom en geëet en gedrink, “en julle sê, “ ‘Kyk, Hy is 'n vraat en 'n suiplap, 'n vriend van tollenaars en sondaars. ’ “Maar die wysheid word deur al haar kinders reg bewys.” Een van die •Fariseërs het Hom genooi om by hom te kom eet. Hy het die Fariseër se huis binnegegaan en vir ete aangeleun. En kyk, daar was 'n sondige vrou in die dorp wat gehoor het dat Hy by die Fariseër se huis gaan eet het. Sy het 'n albasterfles vol reukolie gevat en agter Jesus, by sy voete, gaan staan. Sy het gehuil en begin om sy voete met haar trane nat te maak. Sy het sy voete met haar hare afgedroog, dit gesoen, en met die reukolie ingevryf. Toe die Fariseër wat Hom uitgenooi het, dit sien, het hy in sy hart gedink, as hierdie man 'n profeet was, sou hy tog geweet het wie dit is wat hom aanraak en watter soort vrou sy is, dat sy 'n sondige vrou is. Maar Jesus het vir hom gesê: “Simon, Ek het iets om vir jou te sê.” “Sê maar, Meester! ” antwoord hy. “Twee mense was by 'n sekere geldskieter in die skuld. Die een het vyfhonderd denarius geskuld, en die ander vyftig. Omdat hulle hom nie kon terugbetaal nie, het hy albei se skuld kwytgeskeld. Wie van hulle sal hom dan die meeste liefhê?” Simon het geantwoord: “Ek veronderstel die een vir wie hy die meeste kwytgeskeld het.” En Jesus sê vir hom: “Jy het reg geoordeel.” Toe het Hy omgedraai na die vrou en vir Simon gesê: “Sien jy hierdie vrou? Toe Ek by jou huis ingestap het, het jy nie eers vir my water vir my voete gegee nie, maar sy het my voete met haar trane nat gemaak en met haar hare afgedroog. Jy het My nie 'n soen gegee nie, maar sy het, vandat Ek hier aangekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. Jy het my kop nie met olyfolie gesalf nie, maar sy het my voete met reukolie ingevryf. Daarom sê Ek vir jou, haar sondes – en dit was baie – is vergewe, omdat sy baie liefde betoon het. Maar die een vir wie min vergewe word, het min liefde.” En vir haar het Hy gesê: “Jou sondes is vergewe.” Toe begin die mense wat aangeleun het vir ete onder mekaar sê: “Wie is hierdie man, dat hy selfs sondes vergewe?” Maar Jesus het vir die vrou gesê: “Jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.”
LUKAS 7:18-50 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die dissipels van Johannes het hom van al hierdie dinge te kenne gegee. En Johannes het twee van sy dissipels na Hom geroep en hulle na Jesus gestuur en gesê: Is U die Een wat sou kom? of soek ons 'n ander? Toe die manne by Hom kom, sê hulle: Johannes Doper het ons na U gestuur om te sê: Is U die Een wat sou kom? of soek ons 'n ander? En in daardie selfde uur het Hy baie van hulle siektes en plae en van bose geeste genees; en aan baie wat blind was, het Hy sig gegee. Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Gaan heen en vertel vir Johannes wat julle gesien en gehoor het; hoe blindes sien, kreupeles loop, melaatses gereinig word, dowes hoor, dooies opgewek word, aan armes die evangelie verkondig word. En geseënd is hy elkeen wat nie aan My aanstoot neem nie. En toe die boodskappers van Johannes vertrek het, het hy met die volk oor Johannes begin praat: Wat het julle in die woestyn uitgegaan om te sien? 'n Riet geskud deur die wind? Maar waarvoor het julle uitgegaan om te sien? 'n Man geklee in sagte klere? Kyk, die wat pragtig geklee is en deftig lewe, is in die voorhowe van die konings. Maar waarvoor het julle uitgegaan om te sien? 'n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, en veel meer as 'n profeet. Dit is hy van wie geskrywe is: Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou aangesig, wat jou weg voor jou sal regmaak. Want Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen groter profeet as Johannes die Doper nie; maar die minste in die koninkryk van God is groter as hy. En die hele volk wat hom gehoor het, en die tollenaars, het God geregverdig deurdat hulle met die doop van Johannes gedoop is. Maar die Fariseërs en die wetgeleerdes het die raad van God teen hulleself verwerp, omdat hulle nie deur Hom gedoop is nie. En die Here het gesê: Waarmee sal Ek dan die manne van hierdie geslag vergelyk? en hoe is hulle? Hulle is soos kinders wat op die mark sit en die een na die ander roep en sê: Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie; ons het oor julle getreur, en julle het nie geween nie. Want Johannes die Doper het gekom en nie brood geëet of wyn gedrink nie; en julle sê: Hy het 'n duiwel. Die Seun van die mens het gekom en eet en drink; en julle sê: Daar is 'n vraat en 'n wynsuiper, 'n vriend van tollenaars en sondaars! Maar wysheid is geregverdig deur al haar kinders. En een van die Fariseërs het hom gevra om saam met hom te eet. En hy het in die huis van die Fariseër ingegaan en aangesit om te eet. En kyk, 'n vrou in die stad wat 'n sondaar was, het, toe sy geweet het dat Jesus in die huis van die Fariseër aan tafel gesit het, 'n albaste boks met salf gebring, En sy het by sy voete agter hom gaan staan en geween en sy voete met trane begin was en dit met die hare van haar hoof afgedroog en sy voete gesoen en hulle met die salf gesalf. En toe die Fariseër wat hom genooi het, dit sien, spreek hy by homself en sê: Hierdie man, as hy 'n profeet was, sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat hom aanraak, want sy is 'n sondaar. En Jesus antwoord en sê vir hom: Simon, Ek het iets om vir jou te sê. En hy sê: Meester, sê aan. Daar was 'n sekere skuldeiser wat twee skuldenaars gehad het: die een het vyf honderd pennings geskuld en die ander vyftig. En toe hulle niks gehad het om te betaal nie, het hy hulle altwee eerlik vergewe. Sê my dan, wie van hulle sal hom die liefste hê? Simon het geantwoord en gesê: Ek veronderstel dat hy aan wie hy die meeste vergewe het. En hy sê vir hom: Jy het reg geoordeel. En hy draai na die vrou en sê vir Simon: Sien jy hierdie vrou? Ek het in u huis ingegaan, U het my geen water vir my voete gegee nie; maar sy het my voete met trane gewas en dit met die hare van haar hoof afgedroog. U het my geen soen gegee nie, maar hierdie vrou het van die tyd dat ek ingekom het nie opgehou om my voete te soen nie. My hoof het jy nie met olie gesalf nie, maar hierdie vrou het my voete met salf gesalf. Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes, wat baie is, is vergewe; want sy het baie liefgehad, maar vir wie min vergewe is, hy het min lief. En hy sê vir haar: Jou sondes is vergewe. En die wat saam met Hom aan tafel was, het by hulleself begin sê: Wie is Hy wat ook sondes vergewe? En hy sê vir die vrou: Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.
LUKAS 7:18-50 Die Boodskap (DB)
Johannes die Doper het intussen ook gehoor wat Jesus alles doen. Sy volgelinge het hom op hoogte gehou van al Jesus se doen en late. Johannes het toe twee van hulle na die Here toe gestuur om vir Hom te vra: “Is U regtig die Een wat van God af na ons toe gestuur is, of nie? Sê ons asseblief eerlik. Ons wil nie die fout maak om dalk vir die verkeerde een te wag nie.” Toe Johannes se volgelinge by Jesus kom, sê hulle: “Johannes die Doper het ons na U toe laat kom. Hy wil weet of U die Een is wat van God af na ons toe gestuur is, of nie. Sê ons asseblief eerlik. Ons wil nie die fout maak om dalk vir die verkeerde een te wag nie.” Jesus was juis besig om ’n skare mense van allerhande siektes gesond te maak. Hy het mense bevry wat in die mag van bose geeste was en blindes laat sien. Jesus sê toe vir hulle: “Kyk om julle. Kyk na al die wonderwerke wat Ek doen. En luister mooi na wat Ek sê. Gaan vertel dan vir Johannes: mense wat nie kon sien nie, sien nou weer; mense wat glad nie kon loop nie, stap nou weer rond; mense wat eenkant moes bly omdat hulle melaats was, is nou heeltemal gesond; dowes kan weer hoor; mense wat dood was, leef weer, en mense wat niks het nie, hoor nou skielik dat hulle vir God baie spesiaal is. “Gelukkig is elkeen wat nie twyfel of Ek regtig die Een is wat van God af kom nie.” Toe Johannes se volgelinge daar weg is, het Jesus verder met die groot skare oor Johannes gepraat: “Wat het julle verwag om te sien toe julle agter Johannes die woestyn in is? Die een of ander kansvatter wat niks beteken nie? Natuurlik nie! Of dalk ’n ryk man wat mooi klere dra? Nee. Julle weet mos dat ryk mense nie in die woestyn bly nie. Hulle sit heeldag in groot, gerieflike huise, omring met alles wat hulle begeer. Ek vra weer ’n keer, wat het julle verwag om te sien? ’n Boodskapper van God? Wel, dan is julle heeltemal reg. Johannes is regtig ’n profeet. Om die waarheid te sê, hy is die heel belangrikste profeet wat nog ooit geleef het. Wat Maleagi geskryf het, is van hom waar: ‘Ek, God, stuur iemand voor jou uit om vir almal te vertel dat jy kom. Hy sal sorg dat die mense van jou weet sodat jy jou werk makliker kan doen.’ “Daar was nog nooit in die geskiedenis so ’n belangrike man soos Johannes nie. En tog is almal in God se nuwe wêreld waarvoor hy julle wou voorberei belangriker as hy, selfs die heel onbelangrikste persoon.” Toe die mense en diegene wat gewoonlik as sondaars beskou is, hoor wat Jesus sê, het hulle God se Naam grootgemaak. Want hulle almal is met die doop van Johannes gedoop. Maar die Fariseërs en die kenners van die wet het hulle natuurlik nie gesteur aan wat God deur Johannes vir hulle gesê het nie. Daarom dat hulle botweg geweier het om hulle deur Johannes te laat doop. Toe sê Jesus: “Kom Ek gebruik ’n voorbeeld om te verduidelik hoe hardkoppig hierdie spul mense is. Ja, hulle is soos ’n klomp bedorwe kinders wat op ’n partytjie mekaar sit en verwyt: ‘Ons speel die regte musiek, maar julle wil nie dans nie. Ons speel selfs vir julle ’n klomp treurige liedjies, maar julle sit daar soos ’n spul dooies en maak asof julle dit nie hoor nie.’ Hierdie geslag is net soos daardie kinders wat met niks tevrede is nie. Hulle vind gedurig fout met alles. “Kyk net: Johannes die Doper het in die woestyn gaan bly. Hy het glad nie lekker kos gehad om te eet nie, nie eens ’n stukkie vars brood of ’n bietjie wyn nie. En wat sê die mense toe van hom? ‘Hy is van die duiwel besete!’ “Toe kom Ek, die Seun van die mens. Ek het dikwels saam met die mense geëet en gedrink. En wat sê julle toe? ‘Kyk, Hy’s ’n regte vraat en ’n suiplap! Hy kuier graag saam met sondaars en daardie spul wat ons godsdienstige wette verwerp.’ “Ja, al wat hierdie mense doen, is om fout te vind. Maar gelukkig sal diegene wat doen wat God vra, weet wat die waarheid is.” Op ’n dag het ’n Fariseër met die naam Simon vir Jesus uitgenooi om by hom te kom eet. Daar aangekom, het Jesus saam met Simon en ’n paar ander mans by die tafel gaan aansit. In dieselfde dorp het daar ook ’n vrou gebly wat ’n baie slegte lewe gelei het. Toe sy hoor dat Jesus by Simon se huis gaan eet het, was sy baie opgewonde. Sy het toe ’n bottel met baie duur parfuum gevat en reguit na Simon se huis toe gegaan. Sy wou Jesus se voete gaan salf om vir Hom te wys hoeveel respek sy vir Hom het. Toe sy by Simon se huis kom, het sy ongenooid ingestap, tussen al die mans deur, tot by Jesus. Toe die vrou agter Jesus op haar knieë gaan staan, het sy skielik in trane uitgebars. Haar trane oor haar stukkende lewe het toe op Jesus se voete geval. Sy het sy voete haastig met haar hare afgedroog. Daarna het sy sy voete gesoen en met die duur parfuum gesalf. Simon was baie ontsteld oor wat hierdie vrou in sy huis aangevang het. Hy het goed geweet wie sy was. Hy dink toe in die stilligheid by homself: “As hierdie Jesus regtig ’n boodskapper van God is, sal Hy mos weet dat dié vrou wat nou aan Hom raak ’n groot sondaar is. Dan sal Hy haar wegjaag, want sy is besig om Hom onrein te maak.” Jesus het baie goed geweet wat Simon dink. Hy sê toe vir hom: “Simon, daar is iets wat Ek graag vir jou wil vertel.” “Praat maar. U is mos die leermeester. Ek luister,” het Simon geantwoord. Jesus vertel toe vir hom ’n kort verhaaltjie: “Twee mans het geld aan ’n bankbestuurder geskuld; die een 80 000 rand, en die ander 8 000 rand. Maar hulle kon nie hulle skuld betaal nie. Toe besluit die bestuurder na ’n ruk om hulle skuld af te skryf. Sê vir My: Wie van hierdie twee mans was die blyste? Wat dink jy?” “Die een wat die meeste geld geskuld het,” het Simon geantwoord. “Jy is heeltemal reg,” het Jesus gesê. Toe draai Jesus na die vrou toe terwyl Hy nog met Simon praat. “Simon, jy het gesien wat hierdie vrou alles vir My gedoen het. Baie meer as jy. Jy het nie eens die moeite gedoen om water by jou deur neer te sit sodat die stof van my voete afgewas kon word toe Ek hier aangekom het nie. Maar hierdie vrou het my voete met haar trane gewas en met haar hare afgedroog. “Jy het My ook nie baie hartlik ontvang nie, nie eens ’n warm handdruk of ’n vriendelike omhelsing gegee nie. Maar hierdie vrou kon nie ophou om my voete te soen nie. “Jy het ook nie ’n geskenk vir My gehad nie, nie eens ’n bietjie reukolie wat Ek aan my hare kon sit om lekker te ruik nie. Maar hierdie vrou het sommer ’n hele bottel reukolie oor my voete uitgegooi. “Ja, hierdie vrou het baie lelike dinge aangevang. Maar dis nou verby. Haar sondes is vergewe. God dink nie meer daaraan nie. Daarom doen sy al hierdie wonderlike dinge vir My. Jy het nie die vaagste idee wat dit vir ’n sondaar soos sy beteken om deur God vergewe te word nie. Daarom dien jy Hom so halfhartig.” Jesus kyk toe na die vrou en sê vir haar: “Ek het baie goeie nuus vir jou. Jou sondes tel nie meer by God nie.” Al die ander mense aan tafel het onder mekaar gesê: “Wie is hierdie man dat hy selfs die mag het om sondes te vergewe? Net God kan tog so iets doen!” Jesus het vir die vrou gesê: “Dit wat jy vandag gedoen het, wys dat jy in God glo. Jou saak met Hom is nou in orde. Gaan leef in vrede met God.”
LUKAS 7:18-50 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Johannes die Doper se dissipels het hom alles vertel wat Jesus gedoen het. Johannes het dus twee van sy dissipels geroep en hulle na die Here toe gestuur om te vra: “Is U die Messias wat ons verwag, of moet ons iemand anders verwag?” Johannes die Doper se twee dissipels het Jesus gekry en vir Hom gesê: “Johannes die Doper het ons gestuur om te vra: ‘Is U die Messias wat ons verwag, of moet ons iemand anders verwag?’” Op daardie oomblik het Jesus baie mense van verskeie siektes genees, en Hy het bose geeste uitgewerp en blindes se sig herstel. Hy het vir Johannes se dissipels gesê: “Gaan terug na Johannes, en vertel hom wat julle gesien en gehoor het – blindes sien, verlamdes loop, mense met ernstige velsiektes word genees, dowes hoor, dooies word tot die lewe opgewek, en die Goeie Nuus word aan die armes verkondig. En sê vir hom: ‘Gelukkig is hulle wat nie aan My aanstoot neem nie.’” Nadat hulle weg is, het Jesus met die skare oor Johannes gepraat. “Wie is hierdie man in die woestyn na wie julle gaan kyk het? Het julle hom soos ’n riet gevind wat deur elke windvlagie beweeg word? Of het julle verwag om ’n man geklee in deftige klere te sien? Nee, mense wat mooi klere dra en in luuksheid lewe, word in paleise gevind, nie in die woestyn nie. Het julle na ’n profeet gesoek? Ja, en hy is meer as ’n profeet. Johannes is die man na wie die Skrif verwys wanneer dit sê: ‘Kyk, Ek stuur my boodskapper voor jou uit, en hy sal die pad voor jou gereedmaak.’ “Ek sê vir julle, van almal wat ooit geleef het, is niemand groter as Johannes nie. Tog is selfs die geringste persoon in die koninkryk van God groter as hy!” Toe hulle dit hoor, het al die mense, ook die tollenaars, saamgestem dat God se plan reg was, want hulle is deur Johannes gedoop. Maar die Fariseërs en wetskenners het God se plan vir hulle verwerp, want hulle het geweier om deur Johannes gedoop te word. “Hoe sal Ek hierdie geslag mense beskryf?” het Jesus gevra. “Waarmee sal Ek hulle vergelyk? Hulle is soos ’n groep kinders wat ’n spel op die dorpsplein speel. Hulle kla teenoor hulle vriende: ‘Ons het vir julle ’n bruilofslied gespeel, maar julle wou nie dans nie. Ons het ’n begrafnislied gesing, maar julle het geweier om te huil.’ “Want Johannes die Doper het soos ’n askeet gelewe – nie wyn gedrink nie en dikwels gevas – en julle sê: ‘Hy is van ’n bose gees besete.’ “En Ek, die Seun van die Mens, hou van gesellige maaltye – Ek eet en drink – en julle sê: ‘Hy is ’n vraat en ’n dronkaard, en ’n vriend van die slegste soort sondaars!’ Maar die wysheid kom tot sy reg in die lewe van hulle wat dit navolg.” Een van die Fariseërs het Jesus na sy huis genooi vir ’n maaltyd, en Jesus het dit aanvaar en aangelê om te eet. En kyk, ’n sekere vrou van losse sedes het gehoor dat Hy daar is en het ’n albaste fles met duur aromatiese olie gebring. Sy het agter Jesus gekniel, by sy voete, en gehuil. Haar trane het op sy voete geval en sy het dit met haar hare afgevee. Sy het sy voete bly soen en die aromatiese olie daaraan gesmeer. Toe die Fariseër wat die gasheer was, sien wat gebeur en wie die vrou is, het hy vir homself gesê: “Dit bewys dat Jesus geen profeet is nie. As God hom werklik gestuur het, sou hy geweet het watter soort vrou hom aanraak. Sy is ’n sondaar!” Jesus het toe gereageer en vir Simon geantwoord. “Simon,” het Hy vir die Fariseër gesê, “Ek het iets om vir jou te sê.” “Reg, Meneer,” het Simon geantwoord, “sê maar.” Jesus vertel hom toe die volgende verhaal: “’n Man het vir twee mense geld geleen – 500 rand vir die een, en 50 vir die ander. Maar nie een van die twee kon hom terugbetaal nie; hy het dus maar al twee oorgesien en hulle skuld afgeskryf. Wie dink jy het hom daarna die meeste liefde bewys?” Simon het geantwoord: “Ek veronderstel die een vir wie hy die meeste skuld afgeskryf het.” “Dis reg,” het Jesus gesê. Hy het toe na die vrou gedraai en vir Simon gesê: “Kyk na hierdie vrou. Toe Ek jou huis ingekom het, het jy My nie water aangebied om die stof van my voete af te was nie, maar sy het hulle met haar trane gewas en met haar hare afgedroog. Jy het My nie met ’n soen verwelkom nie, maar sy het my voete weer en weer gesoen vandat Ek hier ingekom het. Jy het nie my kop met gewone olyfolie gesalf nie, maar sy het my voete met kosbare olie gesalf. Ek sê vir jou, haar sondes – en dit is baie – is vergewe, omdat sy baie liefde aan My bewys het. Maar iemand vir wie min sondes vergewe is, betoon maar min liefde!” Toe sê Jesus vir die vrou: “Jou sondes is vergewe.” Die mans aan tafel sê toe onder mekaar: “Wie dink hierdie man is hy om rond te gaan en sondes te vergewe?” En Jesus sê vir die vrou: “Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.”