Lukas 7:18-50

Lukas 7:18-50 DB

Johannes die Doper het intussen ook gehoor wat Jesus alles doen. Sy volgelinge het hom op hoogte gehou van al Jesus se doen en late. Johannes het toe twee van hulle na die Here toe gestuur om vir Hom te vra: “Is U regtig die Een wat van God af na ons toe gestuur is, of nie? Sê ons asseblief eerlik. Ons wil nie die fout maak om dalk vir die verkeerde een te wag nie.” Toe Johannes se volgelinge by Jesus kom, sê hulle: “Johannes die Doper het ons na U toe laat kom. Hy wil weet of U die Een is wat van God af na ons toe gestuur is, of nie. Sê ons asseblief eerlik. Ons wil nie die fout maak om dalk vir die verkeerde een te wag nie.” Jesus was juis besig om ’n skare mense van allerhande siektes gesond te maak. Hy het mense bevry wat in die mag van bose geeste was en blindes laat sien. Jesus sê toe vir hulle: “Kyk om julle. Kyk na al die wonderwerke wat Ek doen. En luister mooi na wat Ek sê. Gaan vertel dan vir Johannes: mense wat nie kon sien nie, sien nou weer; mense wat glad nie kon loop nie, stap nou weer rond; mense wat eenkant moes bly omdat hulle melaats was, is nou heeltemal gesond; dowes kan weer hoor; mense wat dood was, leef weer, en mense wat niks het nie, hoor nou skielik dat hulle vir God baie spesiaal is. “Gelukkig is elkeen wat nie twyfel of Ek regtig die Een is wat van God af kom nie.” Toe Johannes se volgelinge daar weg is, het Jesus verder met die groot skare oor Johannes gepraat: “Wat het julle verwag om te sien toe julle agter Johannes die woestyn in is? Die een of ander kansvatter wat niks beteken nie? Natuurlik nie! Of dalk ’n ryk man wat mooi klere dra? Nee. Julle weet mos dat ryk mense nie in die woestyn bly nie. Hulle sit heeldag in groot, gerieflike huise, omring met alles wat hulle begeer. Ek vra weer ’n keer, wat het julle verwag om te sien? ’n Boodskapper van God? Wel, dan is julle heeltemal reg. Johannes is regtig ’n profeet. Om die waarheid te sê, hy is die heel belangrikste profeet wat nog ooit geleef het. Wat Maleagi geskryf het, is van hom waar: ‘Ek, God, stuur iemand voor jou uit om vir almal te vertel dat jy kom. Hy sal sorg dat die mense van jou weet sodat jy jou werk makliker kan doen.’ “Daar was nog nooit in die geskiedenis so ’n belangrike man soos Johannes nie. En tog is almal in God se nuwe wêreld waarvoor hy julle wou voorberei belangriker as hy, selfs die heel onbelangrikste persoon.” Toe die mense en diegene wat gewoonlik as sondaars beskou is, hoor wat Jesus sê, het hulle God se Naam grootgemaak. Want hulle almal is met die doop van Johannes gedoop. Maar die Fariseërs en die kenners van die wet het hulle natuurlik nie gesteur aan wat God deur Johannes vir hulle gesê het nie. Daarom dat hulle botweg geweier het om hulle deur Johannes te laat doop. Toe sê Jesus: “Kom Ek gebruik ’n voorbeeld om te verduidelik hoe hardkoppig hierdie spul mense is. Ja, hulle is soos ’n klomp bedorwe kinders wat op ’n partytjie mekaar sit en verwyt: ‘Ons speel die regte musiek, maar julle wil nie dans nie. Ons speel selfs vir julle ’n klomp treurige liedjies, maar julle sit daar soos ’n spul dooies en maak asof julle dit nie hoor nie.’ Hierdie geslag is net soos daardie kinders wat met niks tevrede is nie. Hulle vind gedurig fout met alles. “Kyk net: Johannes die Doper het in die woestyn gaan bly. Hy het glad nie lekker kos gehad om te eet nie, nie eens ’n stukkie vars brood of ’n bietjie wyn nie. En wat sê die mense toe van hom? ‘Hy is van die duiwel besete!’ “Toe kom Ek, die Seun van die mens. Ek het dikwels saam met die mense geëet en gedrink. En wat sê julle toe? ‘Kyk, Hy’s ’n regte vraat en ’n suiplap! Hy kuier graag saam met sondaars en daardie spul wat ons godsdienstige wette verwerp.’ “Ja, al wat hierdie mense doen, is om fout te vind. Maar gelukkig sal diegene wat doen wat God vra, weet wat die waarheid is.” Op ’n dag het ’n Fariseër met die naam Simon vir Jesus uitgenooi om by hom te kom eet. Daar aangekom, het Jesus saam met Simon en ’n paar ander mans by die tafel gaan aansit. In dieselfde dorp het daar ook ’n vrou gebly wat ’n baie slegte lewe gelei het. Toe sy hoor dat Jesus by Simon se huis gaan eet het, was sy baie opgewonde. Sy het toe ’n bottel met baie duur parfuum gevat en reguit na Simon se huis toe gegaan. Sy wou Jesus se voete gaan salf om vir Hom te wys hoeveel respek sy vir Hom het. Toe sy by Simon se huis kom, het sy ongenooid ingestap, tussen al die mans deur, tot by Jesus. Toe die vrou agter Jesus op haar knieë gaan staan, het sy skielik in trane uitgebars. Haar trane oor haar stukkende lewe het toe op Jesus se voete geval. Sy het sy voete haastig met haar hare afgedroog. Daarna het sy sy voete gesoen en met die duur parfuum gesalf. Simon was baie ontsteld oor wat hierdie vrou in sy huis aangevang het. Hy het goed geweet wie sy was. Hy dink toe in die stilligheid by homself: “As hierdie Jesus regtig ’n boodskapper van God is, sal Hy mos weet dat dié vrou wat nou aan Hom raak ’n groot sondaar is. Dan sal Hy haar wegjaag, want sy is besig om Hom onrein te maak.” Jesus het baie goed geweet wat Simon dink. Hy sê toe vir hom: “Simon, daar is iets wat Ek graag vir jou wil vertel.” “Praat maar. U is mos die leermeester. Ek luister,” het Simon geantwoord. Jesus vertel toe vir hom ’n kort verhaaltjie: “Twee mans het geld aan ’n bankbestuurder geskuld; die een 80 000 rand, en die ander 8 000 rand. Maar hulle kon nie hulle skuld betaal nie. Toe besluit die bestuurder na ’n ruk om hulle skuld af te skryf. Sê vir My: Wie van hierdie twee mans was die blyste? Wat dink jy?” “Die een wat die meeste geld geskuld het,” het Simon geantwoord. “Jy is heeltemal reg,” het Jesus gesê. Toe draai Jesus na die vrou toe terwyl Hy nog met Simon praat. “Simon, jy het gesien wat hierdie vrou alles vir My gedoen het. Baie meer as jy. Jy het nie eens die moeite gedoen om water by jou deur neer te sit sodat die stof van my voete afgewas kon word toe Ek hier aangekom het nie. Maar hierdie vrou het my voete met haar trane gewas en met haar hare afgedroog. “Jy het My ook nie baie hartlik ontvang nie, nie eens ’n warm handdruk of ’n vriendelike omhelsing gegee nie. Maar hierdie vrou kon nie ophou om my voete te soen nie. “Jy het ook nie ’n geskenk vir My gehad nie, nie eens ’n bietjie reukolie wat Ek aan my hare kon sit om lekker te ruik nie. Maar hierdie vrou het sommer ’n hele bottel reukolie oor my voete uitgegooi. “Ja, hierdie vrou het baie lelike dinge aangevang. Maar dis nou verby. Haar sondes is vergewe. God dink nie meer daaraan nie. Daarom doen sy al hierdie wonderlike dinge vir My. Jy het nie die vaagste idee wat dit vir ’n sondaar soos sy beteken om deur God vergewe te word nie. Daarom dien jy Hom so halfhartig.” Jesus kyk toe na die vrou en sê vir haar: “Ek het baie goeie nuus vir jou. Jou sondes tel nie meer by God nie.” Al die ander mense aan tafel het onder mekaar gesê: “Wie is hierdie man dat hy selfs die mag het om sondes te vergewe? Net God kan tog so iets doen!” Jesus het vir die vrou gesê: “Dit wat jy vandag gedoen het, wys dat jy in God glo. Jou saak met Hom is nou in orde. Gaan leef in vrede met God.”