LUKAS 6:43-49

LUKAS 6:43-49 Die Boodskap (DB)

“’n Goeie boom dra nooit slegte vrugte nie. En ’n slegte boom dra ook nooit goeie vrugte nie. ’n Mens ken ’n boom uit aan die soort vrugte wat dit oplewer. Niemand verwag tog om vye aan ’n doringbos te kry nie. Of druiwe aan ’n spul doringtakke nie. Goeie mense is soos goeie bome. Uit hulle binneste kom daar net goeie dinge. En slegte mense is soos slegte bome. Uit hulle binneste kom daar net lelike dinge. Luister maar net wat mense sê, dan weet julle watter soort mense hulle is. Mense se woorde wys wat in hulle harte aangaan. “Julle praat so maklik. Kyk net hoe graag sê julle: ‘Here, ons Here,’ maar julle doen net mooi niks wat Ek vir julle sê nie. “Mense wat luister na wat Ek sê en dit doen, is verstandig. Hulle is soos ’n man wat op ’n dag ’n huis begin bou het. Hierdie man het sy huis se fondament baie diep uitgegrawe tot in die rots. Sy huis was skaars klaar toe breek daar ’n groot storm los. Dit het net gereën en gereën. Kort voor lank het ’n massa vloedwater teen sy huis opgedam, maar dit het geen skade aan sy huis aangerig nie. Die huis se fondament was daarvoor veels te sterk. Dit was op rots gebou. So is mense wat doen wat Ek sê. “Aan die ander kant: mense wat hoor wat Ek sê en dit nie doen nie, is soos ’n ander man wat sy huis sommer vinnig aanmekaargeslaan het, sonder ’n behoorlike fondament. Toe die storm daardie huis tref, het al die stormwater dit in ’n paar oomblikke uitmekaargeruk. Daar het net mooi niks van sy nuwe huis oorgebly nie. So sal dit met almal gaan wat nie doen wat Ek sê nie.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid