LUKAS 3:1-22

LUKAS 3:1-22 Bybel vir almal (ABA)

Dit was in die vyftiende jaar nadat Tiberius keiser geword het. Pontius Pilatus het regeer oor Judea. Koning Herodes het regeer oor Galilea. Sy broer Filippus het regeer oor Iturea en Tragonitis. Lisanias het regeer oor Abilene. Annas en Kajafas was hoëpriesters. In daardie tyd het God met Johannes gepraat. Johannes was die seun van Sagaria. Johannes het in die woestyn gewoon. Hy het toe oral vir die mense naby die Jordaan-rivier gaan preek. Hy het gesê die mense moet verander en lewe soos God wil hê en hulle moet hulle laat doop. Dit sal beteken dat God hulle sondes vergewe het. Johannes het gedoen soos die profeet Jesaja in sy boek geskryf het: Iemand skree in die woestyn. Hy sê: Julle moet die pad gereedmaak vir die Here. Julle moet sy paaie reguit maak. Elke kloof in die berg sal toegaan, en elke berg en heuwel sal plat wees. Die krom paaie sal reguit wees en die ongelyk paaie sal gelyk wees. Almal sal dan sien dat God die mense red. Baie mense het na Johannes toe gekom en gevra dat hy hulle moet doop. Maar Johannes het vir hulle gesê: “Julle is so skelm soos slange! Julle sal nie kan wegvlug wanneer God se straf kom nie. Nee, julle moet wys julle het verander en julle lewe nou soos God wil hê. Julle moet wys julle is soos bome wat goeie vrugte dra. Julle sê vir mekaar: ‘Ons is kinders van Abraham,’ en daarom dink julle God sal julle nie straf nie. Julle moenie dit sê nie, dit is nie waar nie. Ek sê vir julle: God kan van hierdie klippe kinders vir Abraham maak. God het al klaar begin om te oordeel. Dit is soos wanneer iemand met 'n byl elke boom afkap wat nie goeie vrugte dra nie, en dit in die vuur gooi.” Die mense vra toe vir Johannes: “Wat moet ons dan doen?” Johannes het vir hulle gesê: “As jy twee stukke klere het, dan moet jy een gee vir iemand wat niks klere het nie. En as jy kos het, dan moet jy kos gee vir mense wat nie kos het nie.” Die tollenaars het ook gekom sodat Johannes hulle kan doop. Hulle het vir hom gevra: “Meneer, wat moet ons doen?” Johannes het vir hulle gesê: “Julle moenie meer tolgeld van die mense vat as wat julle mag vat nie.” Die soldate het ook vir Johannes gevra: “En óns, wat moet ons doen?” Johannes het vir hulle gesê: “Julle moenie mense seermaak of hulle dwing om vir julle geld te gee nie. Julle moet tevrede wees met die geld wat julle kry.” Die mense het toe met mekaar gepraat en gevra of Johannes miskien die Christus is. Johannes het vir almal gesê: “Ek doop julle met water, maar later sal Iemand kom wat meer kan doen as ek. Ek is nie belangrik genoeg om sy sandale los te maak nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. Hy sal nou die mense oordeel. Dit sal wees soos wanneer iemand 'n vurk neem om die koring en die kaf op sy dorsvloer van mekaar te skei. Hy maak die koring bymekaar en bêre dit in sy stoorkamer, en Hy verbrand die kaf. Die oordeel van God sal wees soos 'n vuur wat nie ophou brand nie.” Johannes het aangehou om die mense oor baie dinge te waarsku, en so het hy die goeie boodskap vir hulle gebring. Johannes het ook ernstig met koning Herodes gepraat en vir hom gesê hy mag nie sy broer se vrou, Herodias, vir hom vat nie. Johannes het ook vir Herodes gewaarsku oor al die verkeerde dinge wat hy gedoen het. Maar Herodes het toe iets gedoen wat nog slegter is: Hy het vir Johannes in die tronk toegesluit. Johannes het al die mense gedoop, ook vir Jesus. Toe hy klaar vir Jesus gedoop het, het Jesus gebid, en toe het die hemel oopgegaan. Die Heilige Gees het afgekom na Jesus toe soos 'n duif uit die lug afkom. God het uit die hemel gesê: “Jy is my Seun, Ek is lief vir Jou. Jy maak My bly.”

LUKAS 3:1-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN in die vyftiende jaar van die regering van keiser Tibérius, toe Pontius Pilatus goewerneur was van Judéa en Herodes viervors van Galiléa, en Filippus, sy broer, viervors van Ituréa en die land Trachonítus, en Lisánias viervors van Abiléne, tydens die hoëpriesterskap van Annas en Kájafas, het die woord van God gekom tot Johannes, die seun van Sagaría, in die woestyn. En hy het gekom in die hele omtrek van die Jordaan en die doop van bekering tot vergifnis van sondes verkondig; soos geskrywe is in die boek van die woorde van Jesaja, die profeet, waar hy sê: Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit. Elke dal moet opgevul word en elke berg en heuwel wegsak; en die krom draaie sal 'n reguit pad word en die skurwe plekke gelyk weë. En alle vlees sal die heil van God sien. Toe sê hy vir die skare wat uitgegaan het om deur hom gedoop te word: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is? Dra dan vrugte wat by die bekering pas, en moenie by julleself begin sê: Ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham te verwek. Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom dan wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. En die skare het hom gevra en gesê: Wat moet ons dan doen? En hy antwoord en sê vir hulle: Wie twee kledingstukke het, moet meedeel aan hom wat nie het nie; en wie voedsel het, moet dieselfde doen. En tollenaars het ook gekom om gedoop te word, en vir hom gesê: Meester, wat moet ons doen? En hy antwoord hulle: Moenie meer invorder as wat julle voorgeskrywe is nie. En die soldate het hom ook gevra en gesê: En ons, wat moet ons doen? En hy sê vir hulle: Julle moet niemand geweld aandoen of iets afpers nie; en wees tevrede met julle soldy. En terwyl die volk in verwagting was, en almal in hulle hart oorweeg het aangaande Johannes of hy nie miskien die Christus was nie, antwoord Johannes almal en sê: Ek doop julle wel met water, maar Hy kom wat sterker is as ek, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie — Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur. Sy skop is in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak en sy koring saambring in sy skuur, maar die kaf met onuitbluslike vuur verbrand. Hy het dan ook met baie ander vermaninge die evangelie aan die volk verkondig. Maar toe Herodes, die viervors, deur hom bestraf is oor Heródias, die vrou van Filippus, sy broer, en oor al die slegte dinge wat Herodes gedoen het, het hy by alles nog dít gevoeg, dat hy Johannes in die gevangenis opgesluit het. EN toe die hele volk gedoop en Jesus ook gedoop is, en Hy besig was om te bid, het die hemel oopgegaan; en die Heilige Gees het in liggaamlike gedaante soos 'n duif op Hom neergedaal; en 'n stem het uit die hemel gekom wat sê: U is my geliefde Seun; in U het Ek 'n welbehae.

LUKAS 3:1-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dit was die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius. Pontius Pilatus was goewerneur van Judea, en Herodes heerser van Galilea. Sy broer Filippus was heerser van Iturea en Tragonitis, en Lisanias heerser van Abilene. Annas en Kajafas was die hoëpriesters. In daardie tyd het die woord van God tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gekom. Hy het deur die hele Jordaanstreek gegaan en verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. So staan dit geskrywe in die boek van die profeet Jesaja: “Iemand roep in die woestyn: Maak die pad vir die Here gereed, maak die paaie vir Hom reguit. Elke kloof moet opgevul en elke berg en bult platgemaak word; die krom paaie moet reguit en die ruwe paaie gelyk word. En al die mense sal die verlossing sien wat van God kom.” Die mense het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word. Hy het vir hulle gesê: “Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.” Die mense vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?” Hy antwoord hulle: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.” Daar kom toe ook tollenaars om gedoop te word en hulle sê vir hom: “Meneer, wat moet ons doen?” En vir hulle sê hy: “Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.” Ook soldate het hom uitgevra: “En ons, wat moet ons doen?” Hy antwoord hulle: “Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling.” Die volk was vol verwagting, en almal het hulle begin afvra of Johannes nie miskien die Christus is nie. Daarop gee Johannes aan hulle almal die antwoord: “Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand.” Ook oor baie ander dinge het hy dikwels die volk vermaan en die goeie boodskap aan hulle verkondig. Hy het ook vir Herodes, die heerser, tereggewys oor Herodias, die vrou van sy broer, en oor al die ander slegte dinge wat Herodes gedoen het. Maar Herodes het nog verder gegaan en Johannes in die tronk opgesluit. Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos 'n duif op Hom neergedaal. Daar was ook 'n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

LUKAS 3:1-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die vyftiende regeringsjaar van keiser Tiberius was Pontius •Pilatus prokurator van Judea. Herodes was tetrarg van Galilea, en Filippus, sy broer, was tetrarg van Iturea en Tragonitis, en Lisanias was tetrarg van Abilene. In die tyd toe Annas en Kajafas die hoëpriesters was, het daar in die woestyn 'n woord van God na Johannes, seun van Sagaria, gekom. Hierna het hy in die hele omgewing van die Jordaan rondbeweeg en 'n doop van bekering met die oog op die vergewing van sondes verkondig, soos daar geskryf staan in die •boekrol met die woorde van die profeet Jesaja: “'n Stem van iemand wat roep in die woestyn, ‘Maak die pad vir die Here gereed, maak sy paaie reguit! Elke kloof sal opgevul en elke berg en heuwel sal platgemaak word. Maak die krom paaie reguit, en die hobbelrige paaie gelyk! Dan sal alle mense sien hoe God verlossing bring.’ ” Vir die skare wat in groot getalle na Johannes gestroom het om deur hom gedoop te word, het hy gesê: “Addergeslag, wie het julle wysgemaak dat julle aan die dreigende oordeel kan ontkom? Dra liewer vrugte wat by die bekering pas. Moenie vir julleself begin sê, ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want ek sê vir julle, God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. Die byl lê reeds teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.” Die skare vra hom toe: “Wat moet ons dan doen?” En hy het hulle geantwoord: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat niks het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.” Daar het ook •tollenaars gekom om gedoop te word , en hulle het hom gevra: “Meester, wat moet ons doen?” Hy het hulle geantwoord: “Moenie meer invorder as wat vir julle voorgeskryf is nie.” Ook soldate het hom gevra: “En ons, wat moet ons doen?” Vir hulle het hy gesê: “Moenie geld van mense afpers nie, en moet hulle nie vals aankla nie, maar wees tevrede met julle lone.” Omdat die volk allerhande verwagtings gehad het, het almal in hulle harte gewonder of Johannes nie dalk die Christus is nie. Johannes het hulle egter geantwoord: “Ek doop julle wel met water, maar daar kom iemand wat sterker as ek is, en ek is nie eers werd om die riempies van sy sandale los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Hy het sy hooivurk in sy hand om sy dorsvloer deeglik skoon te maak en om die koring in sy skuur te versamel, maar die kaf sal Hy met 'n onblusbare vuur verbrand.” Johannes het die volk ook oor baie ander dinge vermaan, en die goeie boodskap aan hulle verkondig. Hy het die tetrarg Herodes herhaaldelik tereggewys oor Herodias, sy broer se vrou, en oor al die booshede wat Herodes gepleeg het. Afgesien van al hierdie dade het Herodes Johannes ook nog in die tronk laat opsluit. In die tyd toe die hele volk gedoop is, is ook Jesus gedoop. En terwyl Hy besig was om te bid, het die hemel oopgegaan, en die Heilige Gees het in 'n sigbare vorm soos 'n duif op Hom neergedaal. Daar het ook 'n stem uit die hemel gekom: “Jy is my geliefde •Seun. Oor Jou verheug Ek My.”

LUKAS 3:1-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En in die vyftiende jaar van die regering van Tiberius Caesar, Pontius Pilatus was goewerneur van Judéa, en Herodes was viervors van Galilea, en sy broer Filippus viervors van Ituraea en van die landstreek Trachonitis, en Lisanias, die viervors van Abilene, Annas en Kajafas wat die hoëpriesters was, het die woord van God tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gekom. En hy het in die hele land rondom die Jordaan gekom en die doop van bekering tot vergewing van sondes verkondig; Soos geskrywe is in die boek van die woorde van die profeet Jesaja, wat sê: Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie gelyk. Elke dal sal gevul word, en elke berg en heuwel sal laag gemaak word; en die krom paaie sal reguit gemaak word en die ruwe paaie glad gemaak word; En alle vlees sal die verlossing van God sien. Toe sê Hy vir die skare wat uitgegaan het om deur Hom gedoop te word: Addergeslag, wie het julle gewaarsku om te vlug vir die toekomstige toorn? Dra dan vrugte wat bekering verdien, en begin nie by julleself te sê: Ons het Abraham vir ons vader nie; want Ek sê vir julle dat God magtig is om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek. En nou word ook die byl teen die wortel van die bome gelê: elke boom wat dus nie goeie vrugte dra nie, word afgekap en in die vuur gegooi. En die skare het Hom gevra en gesê: Wat moet ons dan doen? Hy antwoord en sê vir hulle: Wie twee rokke het, laat hom meedeel aan hom wat nie het nie; en wie voedsel het, laat hom net so doen. Toe het ook tollenaars gekom om gedoop te word en vir Hom gesê: Meester, wat moet ons doen? En hy sê vir hulle: Moenie meer eis as wat julle aangewys is nie. En die soldate het hom eweneens geëis en gesê: En wat moet ons doen? En Hy sê vir hulle: Moet niemand geweld aandoen nie en moenie vals beskuldig nie; en wees tevrede met jou loon. En terwyl die volk in verwagting was en almal in hulle harte oor Johannes peins of Hy die Christus is of nie; Johannes antwoord en sê vir almal: Ek doop julle wel met water; maar een wat sterker is as ek, kom, wie se skoene ek nie waardig is om los te maak nie; hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. Wie se waaier in sy hand is, en hy sal sy vloer deurgaans suiwer en die koring in sy skuur bymekaarmaak; maar die kaf sal hy met onuitbluslike vuur verbrand. En baie ander dinge het hy in sy vermaning aan die volk verkondig. Maar Herodes, die viervors, deur hom tereggewys oor Herodias, die vrou van sy broer Filippus, en oor al die euwels wat Herodes gedoen het, Dit het nog bo alles bygevoeg, dat hy Johannes in die gevangenis opgesluit het. En toe die hele volk gedoop is, het dit gebeur dat Jesus ook gedoop en gebid het, en die hemel is geopen, En die Heilige Gees het in 'n liggaamlike gedaante soos 'n duif op hom neergedaal, en 'n stem het uit die hemel gekom wat gesê het: U is my geliefde Seun; in U het ek 'n welbehae.

LUKAS 3:1-22 Die Boodskap (DB)

In die vyftiende jaar van die regering van keiser Tiberius het die volgende persone oor Palestina regeer: Pontius Pilatus: hy was die goewerneur van Judea. Herodes Antipas: hy was die heerser oor Galilea. Filippus, die broer van Herodes: hy was die heerser oor Iturea en Tragonitis. Lisanias: hy het oor Abilene regeer. In daardie tyd, toe Annas en Kajafas die hoëpriesters was, het God vir Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn gaan roep om met sy werk te begin. Johannes het toe in die gebied rondom die Jordaanrivier begin preek. Hy het vir almal wat na hom toe gekom het, gesê dat hy mense doop wat nie langer in sonde wou leef nie. Hy het ook gesê dat God almal vergewe wat hulle sondige lewe die rug toekeer. Johannes het presies gedoen wat die profeet Jesaja geskryf het: “Iemand roep hard in die woestyn: ‘Die Here is op pad! Sorg dat die pad waarop Hy moet loop gelyk en reguit is. Vul elke slaggat in die pad op. Kry elke bult en opdraande uit sy pad uit. Verwyder al die ompaaie. Sorg dat al die grondpaaie geteer is. Dan sal almal God se verlossing kan sien.’” ’n Groot skare het na Johannes toe gestroom om gedoop te word. Kort voor lank was dit ’n hele nuwe mode. Hy het egter dwarsdeur al die skynheiliges gesien en vir hulle gesê: “Julle klomp skynheiliges. Dink julle dat julle so maklik sal wegkom van God se oordeel? Julle moet reg leef. Dra die regte vrugte. Moenie julleself bluf deur te sê: ‘Abraham is ons pa’ nie. Dit tel glad nie by God nie. As dit vir Hom saak gemaak het, kon Hy die klippe hier om julle in ’n oogwink in kinders van Abraham verander het. “God se oordeel is voor die deur. Hy is op pad na julle toe soos ’n houtkapper met ’n groot byl in sy hand. Hy gaan elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, uitkap en in die verskriklike vuur van die hel gooi.” Die skare het toe benoud vir Johannes gevra: “Sê asseblief vir ons wat ons moet doen om in die regte verhouding met God te leef.” Johannes sê toe: “As julle twee stelle klere het, gee dan een vir iemand wat niks het om aan te trek nie. Doen dieselfde met julle kos. Deel julle kos met mense wat niks het om te eet nie.” ’n Klompie mense wat belasting ingevorder het, het ook na Johannes toe gekom om gedoop te word. Hulle vra toe vir hom: “Meneer, wat van ons? Wat moet ons doen om in die regte verhouding met God te kom?” “Moenie meer belasting uit die mense wurg as wat hulle volgens die wet moet betaal nie. Wees eerlik,” was sy antwoord aan hulle. ’n Groep soldate het ook ’n vraag vir Johannes gehad: “En ons? Wat moet ons doen om gered te word?” Johannes het vir hulle gesê: “Moenie julle mag misbruik nie. Moenie mense met geweld intimideer nie. En moenie mense afpers om geld uit hulle te probeer kry nie. Wees tevrede met julle betaling.” Johannes se woorde het die mense aangegryp. Oral het mense onder mekaar begin vra: “Is hy nie dalk die Messias nie?” Maar hy het gou ’n einde aan hierdie praatjies gemaak. Hy het vir die skare gesê: “Ek doop julle nou hier in die rivier met water. Maar ’n baie belangrike Man is op pad na julle toe. Hy is so belangrik dat ek nie eens werd is om soos ’n slaaf sy skoenveters los te maak nie. Weet julle, Hy sal nie water gebruik om julle mee te doop nie. Nee, Hy sal julle met die Heilige Gees doop. Hy sal ’n vuur in julle lewens aansteek wat julle lewens van binne af sal skoonmaak. “Hierdie Man wat op pad is na julle toe gaan Israel van hoek tot kant skoonmaak. Hy gaan die koring van die kaf skei. Vir almal wat na Hom luister, sal Hy ’n plek gee in God se splinternuwe wêreld. Maar almal wat hulle nie aan God steur nie, sal Hy in die vuur van die hel gooi wat nooit ophou brand nie.” Johannes het die mense aangespoor om te doen wat God vra. God se goeie nuus het dag na dag oor sy lippe weerklink. Op ’n dag het Johannes vir Herodes, die heerser van Galilea, in die openbaar gekritiseer omdat hy sy broer Filippus se vrou, Herodias, afgevat het. Ook ’n hele rits ander sondes van Herodes is deur Johannes veroordeel. Herodes was woedend hieroor. Hy het Johannes laat arresteer en hom in die tronk opgesluit. Onder al die mense wat na Johannes toe gekom het om gedoop te word, was daar ’n baie belangrike Man: Jesus. Nadat Johannes Hom klaar gedoop het, het Jesus tot God gebid. Terwyl Hy nog besig was om te bid, het die hemel skielik oopgegaan. Die Heilige Gees het soos ’n duif na Jesus toe afgekom. ’n Stem uit die hemel het ook hardop gesê: “Jy is my Seun vir wie Ek baie lief is. Oor Jou is Ek baie bly.”

LUKAS 3:1-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dit was nou die vyftiende regeringsjaar van Tiberius, die Romeinse keiser. Pilatus was goewerneur in Judea, Herodes Antipas was heerser in Galilea, sy broer Filippus was heerser oor Iturea en Tragonitis, en Lisanias was heerser oor Abilene. Annas en Kajafas was die hoofpriesters. In dié tyd het ’n boodskap van God gekom na Johannes, seun van Sagaria, wat in die woestyn gebly het. Johannes het van plek tot plek aan albei kante van die Jordaanrivier beweeg en gepreek dat mense gedoop moes word om te wys dat hulle tot inkeer gekom het, en so vergifnis van sonde ontvang het. Jesaja het van Johannes gepraat toe hy gesê het: “Hy is ’n stem wat uitroep in die woestyn: ‘Kry die Here se pad gereed. Maak vir Hom ’n hoofweg. Vul die valleie op, en maak die berge en heuwels gelyk! Maak die krom paaie reguit, en maak die ruwe plekke gelyk! En al die mense sal die verlossing sien wat van God kom.’” Hier is ’n voorbeeld van Johannes se prediking aan die skares wat gekom het om gedoop te word: “Julle broeisel slange! Wie het julle gewaarsku om God se komende oordeel te ontvlug? Bewys deur julle lewe dat julle werklik tot inkeer gekom het. Moenie eers daaraan dink om te sê: ‘Ons is veilig – ons is afstammelinge van Abraham’ nie. God kan hierdie klippe in kinders van Abraham verander. Die byl van God se oordeel is reeds gereed om julle wortels af te kap. Ja, elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, sal afgekap en in die vuur gegooi word.” Die skare het gevra: “Wat moet ons dan doen?” Johannes het geantwoord: “As jy twee kledingstukke het, gee een vir die armes. As jy kos het, deel dit met hulle wat honger is.” Selfs tollenaars het gekom om gedoop te word en gevra: “Leermeester, wat moet ons doen?” “Wys julle eerlikheid,” het hy geantwoord. “Maak seker dat julle nie méér belasting invorder as wat vereis word nie.” “Wat moet óns doen?” het die soldate gevra. Johannes het geantwoord: “Moenie geld afpers nie, en moet niemand afdreig of vals beskuldig nie. En wees tevrede met julle salaris.” Almal het verwag dat die Messias gou sou kom en hulle was gretig om te weet of dit dalk Johannes is. Hy het hulle vrae beantwoord deur te sê: “Ek doop met water, maar Iemand wat groter is as ek, kom binnekort – Iemand soveel groter dat ek nie eens werd is om sy slaaf te wees nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. “Hy is gereed om met sy gaffel die kaf van die koring te skei. Hy sal dan die dorsvloer skoonmaak en die graan in sy skuur bêre en die kaf met onblusbare vuur verbrand.” Johannes het baie sulke waarskuwings gebruik in sy verkondiging van die Goeie Nuus aan die mense. Johannes het ook vir Herodes Antipas, heerser van Galilea, openlik aangespreek omdat hy Herodias, sy broer se vrou, gevat het, en ook oor baie ander verkeerde dinge wat hy gedoen het. Daarop het Herodes vir Johannes in die tronk gegooi, en dié sonde by al sy ander sondes gevoeg. Eendag toe die skares gedoop word, is Jesus self ook gedoop. Terwyl Hy bid, het die hemel oopgegaan, en die Heilige Gees het fisies soos ’n duif op Hom neergedaal. En ’n stem uit die hemel het gesê: “Jy is my geliefde Seun. Jy is ’n kind so na my hart.”