Dit was nou die vyftiende regeringsjaar van Tiberius, die Romeinse keiser. Pilatus was goewerneur in Judea, Herodes Antipas was heerser in Galilea, sy broer Filippus was heerser oor Iturea en Tragonitis, en Lisanias was heerser oor Abilene. Annas en Kajafas was die hoofpriesters.
In dié tyd het ’n boodskap van God gekom na Johannes, seun van Sagaria, wat in die woestyn gebly het. Johannes het van plek tot plek aan albei kante van die Jordaanrivier beweeg en gepreek dat mense gedoop moes word om te wys dat hulle tot inkeer gekom het, en so vergifnis van sonde ontvang het.
Jesaja het van Johannes gepraat toe hy gesê het:
“Hy is ’n stem wat uitroep
in die woestyn:
‘Kry die Here se pad gereed.
Maak vir Hom ’n hoofweg.
Vul die valleie op,
en maak die berge en heuwels gelyk!
Maak die krom paaie reguit,
en maak die ruwe plekke gelyk!
En al die mense sal die verlossing sien
wat van God kom.’”
Hier is ’n voorbeeld van Johannes se prediking aan die skares wat gekom het om gedoop te word: “Julle broeisel slange! Wie het julle gewaarsku om God se komende oordeel te ontvlug? Bewys deur julle lewe dat julle werklik tot inkeer gekom het. Moenie eers daaraan dink om te sê: ‘Ons is veilig – ons is afstammelinge van Abraham’ nie. God kan hierdie klippe in kinders van Abraham verander. Die byl van God se oordeel is reeds gereed om julle wortels af te kap. Ja, elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, sal afgekap en in die vuur gegooi word.”
Die skare het gevra: “Wat moet ons dan doen?”
Johannes het geantwoord: “As jy twee kledingstukke het, gee een vir die armes. As jy kos het, deel dit met hulle wat honger is.”
Selfs tollenaars het gekom om gedoop te word en gevra: “Leermeester, wat moet ons doen?”
“Wys julle eerlikheid,” het hy geantwoord. “Maak seker dat julle nie méér belasting invorder as wat vereis word nie.”
“Wat moet óns doen?” het die soldate gevra.
Johannes het geantwoord: “Moenie geld afpers nie, en moet niemand afdreig of vals beskuldig nie. En wees tevrede met julle salaris.”
Almal het verwag dat die Messias gou sou kom en hulle was gretig om te weet of dit dalk Johannes is. Hy het hulle vrae beantwoord deur te sê: “Ek doop met water, maar Iemand wat groter is as ek, kom binnekort – Iemand soveel groter dat ek nie eens werd is om sy slaaf te wees nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.
“Hy is gereed om met sy gaffel die kaf van die koring te skei. Hy sal dan die dorsvloer skoonmaak en die graan in sy skuur bêre en die kaf met onblusbare vuur verbrand.”
Johannes het baie sulke waarskuwings gebruik in sy verkondiging van die Goeie Nuus aan die mense.
Johannes het ook vir Herodes Antipas, heerser van Galilea, openlik aangespreek omdat hy Herodias, sy broer se vrou, gevat het, en ook oor baie ander verkeerde dinge wat hy gedoen het.
Daarop het Herodes vir Johannes in die tronk gegooi, en dié sonde by al sy ander sondes gevoeg.
Eendag toe die skares gedoop word, is Jesus self ook gedoop. Terwyl Hy bid, het die hemel oopgegaan, en die Heilige Gees het fisies soos ’n duif op Hom neergedaal. En ’n stem uit die hemel het gesê: “Jy is my geliefde Seun. Jy is ’n kind so na my hart.”