LUKAS 23:32-49
LUKAS 23:32-49 Bybel vir almal (ABA)
Die soldate het ook twee ander mans weggevat om hulle saam met Jesus te kruisig. Hierdie mans was skelms. Hulle kom toe by 'n plek, die plek se naam was Kopbeen. Daar het die soldate vir Jesus gekruisig. Hulle het ook die twee skelms gekruisig, een regs langs Jesus en die ander een links langs Hom. Toe sê Jesus: “Vader, U moet die mense vergewe wat My kruisig, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Die soldate wat vir Jesus gekruisig het, het Jesus se klere gevat. Hulle het lootjies getrek om te besluit watter klere elkeen moet kry. Al die mense het daar gestaan en kyk wat gebeur. Die Joodse leiers het vir Jesus gespot. Hulle het gesê: “Hy het ander mense gered, nou moet Hy Homself red as Hy die Christus van God is, as God Hom gekies het om Koning te wees.” Die soldate het ook vir Jesus gespot. Hulle wou hê Hy moet suur wyn drink. Hulle het gesê: “As jy die koning van die Jode is, dan moet jy jouself red.” Bo-aan die kruis het hulle op 'n plank geskryf hoekom hulle vir Jesus gekruisig het. Hulle het daarop geskryf: “Hierdie man is die koning van die Jode.” Een van die skelms wat langs Jesus aan 'n kruis gehang het, wou vir Jesus verneder en hy het gesê: “O, jy sê jy is die Christus. Dan moet jy jouself red en ook vir ons.” Maar die ander skelm het gesê hy moet stilbly. Hy het gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Want hulle straf jou soos hulle vir Jesus straf. Dit is reg dat hulle ons straf, want ons het verkeerde dinge gedoen. Maar Jesus het niks verkeerd gedoen nie.” Toe sê hy vir Jesus: “Jesus, dink aan my wanneer God vir U Koning maak.” En Jesus het vir hom gesê: “Ek sê vir jou, en dit is seker: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” Dit was omtrent twaalfuur die middag. Dit het donker geword oor die hele land. Dit was donker tot drie-uur die middag. Toe dit donker word, het die gordyn in die tempel van bo tot onder geskeur. En Jesus het hard gesê: “ Vader, Ek gee myself vir U.” Nadat Jesus dit gesê het, het Hy gesterf. Die kaptein van die Romeinse soldate het gesien wat gebeur. Hy het God geprys en gesê: “Hierdie man was regtig onskuldig.” Daar was baie mense wat kom kyk het wat gebeur. Hulle was jammer dat dit gebeur het en hulle het hulleself op die bors geslaan. Toe het hulle teruggegaan na hulle huise in die stad. Maar al die mense wat vir Jesus geken het, ook die vroue wat saam met Jesus van Galilea gekom het, het daar gebly staan, 'n bietjie verder weg. Almal, ook die vroue, het gesien hoe Jesus sterf en wat alles gebeur.
LUKAS 23:32-49 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En daar is nog twee ander, kwaaddoeners, weggelei om saam met Hom tereggestel te word. EN toe hulle op die plek kom wat Hoofskedel genoem word, het hulle Hom daar gekruisig, en die kwaaddoeners, een aan die regter- en een aan die linkerkant. En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. En hulle het sy klere verdeel en die lot daaroor gewerp. En die volk het dit staan en aanskou. En die owerstes het saam met hulle ook geskimp en gesê: Ander het Hy verlos; laat Hy Homself verlos as Hy die Christus, die uitverkorene van God, is. En die soldate het Hom ook bespot en gekom en vir Hom asyn gebring en gesê: As U die Koning van die Jode is, verlos Uself. En daar was ook 'n opskrif bokant Hom geskrywe in Griekse en Romeinse en Hebreeuse letters: HY IS DIE KONING VAN DIE JODE. En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: As U die Christus is, verlos Uself en ons. Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jý ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? — ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie. En hy sê vir Jesus: Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom. En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees. En dit was omtrent die sesde uur, en daar het duisternis oor die hele aarde gekom tot die negende uur toe; en die son is verduister; en die voorhangsel van die tempel het middeldeur geskeur. En Jesus het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Vader, in u hande gee Ek my gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit. En toe die hoofman oor honderd sien wat daar gebeur, het hy God verheerlik en gesê: Waarlik, hierdie man was regverdig. En die hele skare wat vir hierdie skouspel bymekaar was, het op hulle borste geslaan toe hulle sien wat gebeur het, en hulle het teruggegaan. En al sy bekendes het ver weg gestaan; ook die vroue wat Hom van Galiléa gevolg het, het hierdie dinge gesien.
LUKAS 23:32-49 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar is ook twee ander, albei misdadigers, weggelei om saam met Jesus tereggestel te word. Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant. Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” Hulle het sy klere verdeel deur te loot. Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag en gesê: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.” Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom suur wyn aangebied en gesê: “As jy die koning van die Jode is, red jouself.” Daar was ook 'n opskrif bokant Hom: “Dit is die koning van die Jode.” Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!” Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” Dit was al omtrent twaalfuur, toe kom daar duisternis oor die hele land, en dit het tot drie-uur geduur; die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het middeldeur geskeur. Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas. Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: “Hierdie man was werklik onskuldig.” Al die mense wat saamgedrom het om na die skouspel te kyk en gesien het wat daar gebeur het, het verslae huis toe gegaan. Maar al Jesus se vriende, ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op 'n afstand bly staan. Hulle het al hierdie dinge gesien.
LUKAS 23:32-49 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Saam met Jesus is ook twee ander misdadigers weggelei om tereggestel te word. Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar gekruisig – so ook die misdadigers, een aan sy regterhand en een aan sy linkerhand. Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hulle het sy boklere verdeel deur daaroor te loot. Die volk het gestaan en toekyk. Die volksleiers het aangehou om smalend te sê: “Ander het hy gered, laat hy homself red as hy die Christus van God, die Uitverkorene, is!” Ook die soldate het met Hom die spot gedryf, terwyl hulle nader staan en vir Hom suur wyn aanbied, met die woorde: “As jy die koning van die Jode is, red jouself!” Bokant Hom was daar ook 'n opskrif: “Hy is die koning van die Jode.” Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom aanhoudend gelaster en gesê: “Jy is mos die Christus, of hoe? Red jouself, en ons!” Die ander een het hom egter bestraf en gesê: “Het jy nie ontsag vir God nie? Jy ondergaan per slot van rekening dieselfde straf! In ons geval is dit regverdig – ons word tereg gestraf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” Hy sê toe: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom! ” Jesus het hom geantwoord: “•Amen, Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” Dit was ongeveer die sesde uur, en duisternis het oor die hele aarde toegesak tot die negende uur. Die son is verduister , en die voorhangsel in die heiligdom is in twee geskeur. Met 'n harde stem het Jesus uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor! ” Nadat Hy dit gesê het, het Hy sy asem uitgeblaas. Die centurio het gesien wat gebeur het, en God geloof en gesê: “Waarlik, hierdie man was onskuldig!” Die hele skare wat vir hierdie skouspel bymekaargekom en gesien het wat gebeur, het teruggegaan, terwyl hulle op hulle bors slaan. Al sy kennisse en ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op 'n afstand bly staan en hierdie dinge gesien.
LUKAS 23:32-49 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En daar is ook twee ander kwaaddoeners saam met hom gelei om gedood te word. En toe hulle by die plek kom wat Golgota genoem word, het hulle Hom daar gekruisig en die kwaaddoeners, een aan die regter- en een aan die linkerkant. Toe sê Jesus: Vader, vergeef hulle; want hulle weet nie wat hulle doen nie. En hulle het sy klere verdeel en die lot gewerp. En die volk het gestaan en kyk. En die owerstes saam met hulle het Hom ook gespot en gesê: Ander het Hy gered; laat hy homself red as hy Christus is, die uitverkorenes van God. En die soldate het ook met hom gespot en na hom gekom en vir hom asyn geoffer, en gesê: As jy die koning van die Jode is, red jouself. En 'n opskrif was ook oor hom geskrywe in Griekse en Latynse en Hebreeuse letters: DIT IS DIE KONING VAN DIE JODE. En een van die kwaaddoeners wat opgehang is, het Hom gesmaad en gesê: As U die Christus is, verlos Uself en ons. Maar die ander een antwoord en bestraf hom en sê: Vrees jy God nie, aangesien jy in dieselfde oordeel is? En ons is wel tereg; want ons ontvang die gepaste loon vir ons dade, maar hierdie man het niks verkeerd gedoen nie. En hy sê vir Jesus: Here, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom. En Jesus sê vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees. En dit was omtrent die sesde uur, en daar was duisternis oor die hele aarde tot die negende uur. En die son is verduister, en die voorhangsel van die tempel het in die middel geskeur. En toe Jesus met 'n groot stem uitgeroep het, sê Hy: Vader, in u hande gee Ek my Gees oor; en nadat Hy dit gesê het, het Hy die asem gegee. En toe die hoofman oor honderd sien wat gebeur het, het hy God verheerlik en gesê: Dit was sekerlik 'n regverdige man. En al die mense wat by daardie gesig bymekaargekom het, het die dinge gesien wat gebeur het, en hulle het op hulle borste geslaan en teruggekeer. En al sy bekendes en die vroue wat hom van Galiléa gevolg het, het van ver af gestaan en hierdie dinge aanskou.
LUKAS 23:32-49 Die Boodskap (DB)
Jesus is nie alleen gekruisig nie. Twee terroriste is ook saam met Hom daar op Golgota, “die Plek van die Kopbeen”, gekruisig. Hulle kruise is aan weerskante van Syne in die grond ingeplant. Daar aan die kruis het Jesus hardop vir God gesê: “My Vader, vergeef hierdie mense. Hulle weet glad nie waarmee hulle nou besig is nie.” Maar die soldate het hulle nie aan Hom gesteur nie. Hulle was te besig om sy klere onder mekaar te verdeel deur lootjies te trek. Baie mense het na Golgota gestroom om te sien hoe Jesus gekruisig word. Party van hulle het allerhande lelike dinge vir Hom gesê. Die godsdienstige leiers het ook saam gespot: “Ons het van vroeg tot laat gehoor hoe hy ander mense red. Nou is hy self in die moeilikheid. Laat hy homself dan nou red as hy die Gestuurde van God is! Laat ons sien of God regtig aan sy kant is soos hy sê.” Die soldate het lustig aan hierdie spottery deelgeneem deur ’n lap vol asyn in Jesus se mond te druk. “Hier hang die koning van die Jode,” het hulle laggend uitgeroep. “Toe, wys ons hoe sterk jy is. Trek al daardie spykers uit jou uit en klim van die kruis af!” Bokant Jesus se kop was ’n nota vasgesit: “Hierdie man is die koning van die Jode.” Later het een van die terroriste wat saam met Jesus gekruisig is ook met Hom begin spot: “Nou toe, waarvoor wag jy? As jy regtig die Messias is, kry ons hier af!” Die man aan die ander kruis het hom egter gou stilgemaak. “Het jy g’n respek vir God nie? Jy staan nou onder sy oordeel! Ons twee verdien om hier te hang, want ons is misdadigers. Maar hierdie Man het net mooi niks verkeerds gedoen nie.” Toe kyk hierdie man na Jesus toe en sê: “Ag, Here, sal U asseblief aan my dink wanneer U daar in God se woonplek aankom?” “Ek het baie goeie nuus vir jou,” het Jesus dadelik geantwoord. “Jy gaan nie meer na die doderyk toe nie. Nee, jy gaan saam met My na die paradys toe. Vandag nog sal jy jou oë daar oopmaak.” Toe, skielik, word alles pikdonker. Van twaalfuur af tot drie-uur daardie Vrydagmiddag, toe die son op sy helderste moes skyn, was die hele gebied donker. Boonop het die swaar gordyn wat die allerheiligste deel van die tempel van die ander vertrekke afgeskei het, ook middeldeur geskeur. Toe roep Jesus skielik baie hard uit: “My Vader, Ek is besig om te sterf. Ontvang My asseblief daar by U!” Daarna het Hy sy laaste asem uitgeblaas en gesterf. Toe die Romeinse offisier wat daar by die kruis aan diens was dit hoor, het hy vir God gesê: “Hierdie man was regtig onskuldig. Hy het die hele tyd net gedoen wat U sê!” Die skare daar om die kruis het dadelik hulle koppe laat sak en op hulle bors geslaan as teken van hartseer. ’n Klompie van Jesus se getroue volgelinge het ook daar eenkant gestaan en alles aanskou. Onder hulle was die groepie vroue wat oral in Galilea agter Jesus aangekom het.
LUKAS 23:32-49 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Twee ander misdadigers is ook saam met Jesus weggelei om tereggestel te word. Toe hulle by die plek aankom wat Kopbeen genoem word, het hulle Jesus daar gekruisig, asook die misdadigers – een aan Jesus se regter- en een aan sy linkerkant. Daarop het Jesus gesê: “Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!” Hulle het ook sy klere verdeel deur die lot te werp. Die volk het net daar gestaan en toekyk. En die leiers het aangehou om Hom te bespot met dié woorde: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Messias, die uitverkorene van God is!” Ook die soldate het vorentoe beweeg en Jesus gespot. Hulle het vir Hom asynwyn aangebied en gesê: “As jy die Koning van die Jode is, red jouself.” Daar was ook ’n kennisgewing bokant Jesus se kop: “Hierdie man is die Koning van die Jode.” Een van die misdadigers wat daar gehang is, het Jesus aanhou beledig deur te sê: “Is jy dan nie die Messias nie? Red jouself en ook vir ons!” Die ander een het hom egter bestraf en gesê: “Het jy óók nie respek vir God nie, alhoewel jy dieselfde straf as hierdie man ondergaan! Ons het dit terdeë verdien, want ons verdien die straf vir wat ons gedoen het. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” Hy het verder gesê: “Jesus, onthou my asseblief wanneer U in u koninkryk kom.” Jesus se antwoord was: “Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.” Teen ongeveer twaalfuur het duisternis toegesak oor die hele land tot drie-uur toe. Die son is uitgedoof en die swaar gordyn van die tempel het middeldeur geskeur. Met ’n harde stem het Jesus uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” Nadat Hy dit gesê het, het Hy sy asem uitgeblaas. Toe die Romeinse offisier oor honderd sien wat gebeur, het hy God geloof en gesê: “Hierdie man was werklikwaar regverdig.” Die hele skare wat saamgedrom het vir hierdie skouspel en gesien het wat alles gebeur het, het as teken van rou op hulle bors geslaan en huis toe gegaan. Maar Jesus se vriende, asook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op ’n afstand bly staan en al hierdie dinge aanskou.