LUKAS 20:1-18
LUKAS 20:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN op een van dié dae, terwyl Hy besig was om die volk in die tempel te leer en die evangelie te verkondig, kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes saam met die ouderlinge by Hom staan, en hulle spreek met Hom en sê: Vertel ons deur watter gesag U hierdie dinge doen, of wie dit is wat U hierdie gesag gegee het? En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra — sê vir My: die doop van Johannes, was dit uit die hemel of uit mense? Toe het hulle onder mekaar geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel — sal Hy sê: Waarom het julle hom dan nie geglo nie? En as ons sê: Uit mense — sal die hele volk ons stenig, want hulle is daarvan oortuig dat Johannes 'n profeet is. Toe antwoord hulle dat hulle nie weet waarvandaan nie. En Jesus sê vir hulle: Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie. TOE begin Hy aan die volk hierdie gelykenis te vertel: 'n Sekere man het 'n wingerd geplant en dit aan landbouers verhuur en vir 'n geruime tyd op reis gegaan. En op die regte tyd het hy 'n dienskneg na die landbouers gestuur, dat hulle hom van die vrug van die wingerd sou gee. Maar die landbouers het hom geslaan en met leë hande weggestuur. En hy het weer 'n ander dienskneg gestuur, en hulle het hom ook geslaan en skandelik behandel en met leë hande weggestuur. En hy het weer 'n derde gestuur, en hulle het ook hierdie een gewond en uitgedryf. Toe sê die eienaar van die wingerd: Wat sal ek doen? Ek sal my geliefde seun stuur; miskien sal hulle ontsag hê as hulle hom sien. Maar toe die landbouers hom sien, het hulle onder mekaar geredeneer en gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak, sodat die erfdeel ons s'n kan wees. En hulle het hom uit die wingerd gewerp en hom doodgemaak. Wat sal die eienaar van die wingerd dan aan hulle doen? Hy sal kom en daardie landbouers ombring en die wingerd aan ander gee. En toe hulle dit hoor, sê hulle: Nee, stellig nie! Maar Hy het hulle aangekyk en gesê: Wat beteken dan hierdie Skrifwoord: die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword? Elkeen wat op dié steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel.
LUKAS 20:1-18 Bybel vir almal (ABA)
Jesus was eendag by die tempel besig om vir die mense te leer. Hy het vir hulle die goeie boodskap gebring dat God Koning is. Die priesterleiers en die skrifgeleerdes saam met die familieleiers het na Hom toe gekom en hulle het vir Hom gevra: “Hoekom dink jy dat jy hierdie dinge mag doen? Wie het gesê jy mag dit doen?” Jesus het vir hulle gesê: “Ek sal vir julle ook 'n vraag vra, en dan moet julle vir My antwoord. Johannes die Doper het mense gedoop. Wie het hom gestuur om dit te doen? Was dit God, of was dit mense?” Die Joodse leiers het daaroor met mekaar gepraat en gesê: “As ons sê: ‘God het hom gestuur,’ dan sal Jesus vra: ‘Hoekom het julle nie geglo wat Johannes gesê het nie?’ Maar ons kan ook nie sê: ‘Dit was mense wat vir Johannes gestuur het om te doop’ nie. As ons dit sê, dan sal al die mense ons met klippe wil doodgooi, want hulle het geglo Johannes is 'n profeet.” Daarom het hulle vir Jesus gesê hulle weet nie wie vir Johannes gestuur het nie. Toe sê Jesus vir hulle: “Dan sal Ek ook nie vir julle sê wie het vir My gesê Ek mag hierdie dinge doen nie.” Toe begin Jesus vir die mense hierdie gelykenis vertel. Hy het gesê: “'n Man het 'n klomp wingerdstokke op sy grond geplant. Daarna het hy gesê ander mense mag die wingerd huur. Toe het hy 'n lang tyd weggegaan. Toe dit tyd was om die druiwe te pluk, het hy 'n slaaf na die mense toe gestuur sodat hulle vir die eienaar die druiwe kan gee wat hy moet kry. Maar die mense het die slaaf geslaan en hom weggejaag. Hulle het vir hom niks gegee nie. Die eienaar van die wingerd het nog 'n slaaf na hulle toe gestuur. Die mense het hom ook geslaan en hulle het slegte dinge gedoen aan hom. Hulle het hom weggejaag en vir hom niks gegee nie. Die eienaar van die wingerd het toe 'n derde slaaf gestuur. Maar die mense het hierdie slaaf ook seergemaak en hom weggejaag. Toe het die eienaar van die wingerd gesê: ‘Wat moet ek nou doen? Ek is baie lief vir my seun, ek sal hóm na hulle toe stuur. Hulle sal miskien my seun respekteer.’ Toe die mense die eienaar se seun sien, het hulle vir mekaar gesê: ‘Hierdie seun sal eendag al die eienaar se goed kry. Kom ons maak hom dood, dan vat ons alles vir onsself.’ Hulle het die eienaar se seun uit die wingerd gejaag en hulle het hom doodgemaak. Wat dink julle, wat sal die eienaar van die wingerd met die mense doen? Hy sal kom en hy sal daardie mense doodmaak. Hy sal die wingerd vir ander mense gee.” Toe sê die mense: “Nee, dit sal nooit gebeur nie! Hierdie wingerd sal nooit aan ander mense behoort nie!” Jesus het ernstig na hulle gekyk en gesê: “Wat beteken hierdie woorde in die Psalms: “ Die klip wat die bouers nie wou gebruik nie, daardie klip het die belangrikste klip in die hele gebou geword. Elkeen wat oor daardie klip val, sal sy bene breek en sterf. En as daardie klip op iemand val, dan sal die klip so iemand doodval?”
LUKAS 20:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN op een van dié dae, terwyl Hy besig was om die volk in die tempel te leer en die evangelie te verkondig, kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes saam met die ouderlinge by Hom staan, en hulle spreek met Hom en sê: Vertel ons deur watter gesag U hierdie dinge doen, of wie dit is wat U hierdie gesag gegee het? En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra — sê vir My: die doop van Johannes, was dit uit die hemel of uit mense? Toe het hulle onder mekaar geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel — sal Hy sê: Waarom het julle hom dan nie geglo nie? En as ons sê: Uit mense — sal die hele volk ons stenig, want hulle is daarvan oortuig dat Johannes 'n profeet is. Toe antwoord hulle dat hulle nie weet waarvandaan nie. En Jesus sê vir hulle: Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie. TOE begin Hy aan die volk hierdie gelykenis te vertel: 'n Sekere man het 'n wingerd geplant en dit aan landbouers verhuur en vir 'n geruime tyd op reis gegaan. En op die regte tyd het hy 'n dienskneg na die landbouers gestuur, dat hulle hom van die vrug van die wingerd sou gee. Maar die landbouers het hom geslaan en met leë hande weggestuur. En hy het weer 'n ander dienskneg gestuur, en hulle het hom ook geslaan en skandelik behandel en met leë hande weggestuur. En hy het weer 'n derde gestuur, en hulle het ook hierdie een gewond en uitgedryf. Toe sê die eienaar van die wingerd: Wat sal ek doen? Ek sal my geliefde seun stuur; miskien sal hulle ontsag hê as hulle hom sien. Maar toe die landbouers hom sien, het hulle onder mekaar geredeneer en gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak, sodat die erfdeel ons s'n kan wees. En hulle het hom uit die wingerd gewerp en hom doodgemaak. Wat sal die eienaar van die wingerd dan aan hulle doen? Hy sal kom en daardie landbouers ombring en die wingerd aan ander gee. En toe hulle dit hoor, sê hulle: Nee, stellig nie! Maar Hy het hulle aangekyk en gesê: Wat beteken dan hierdie Skrifwoord: die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword? Elkeen wat op dié steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel.
LUKAS 20:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op een van daardie dae, toe Jesus by die tempel besig was om die volk te leer en aan hulle die evangelie te verkondig, het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes saam met die familiehoofde nader gestaan en Hom gevra: “Sê vir ons, met watter gesag doen u hierdie dinge? Wie is dit wat u hierdie gesag gegee het?” Hy antwoord hulle: “Ek gaan julle ook iets vra, en julle moet My dan sê: Die doop van Johannes – kom dit van God of van mense af?” Hulle redeneer toe onder mekaar: “As ons sê: ‘Van God af,’ sal hy sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ En as ons sê: ‘Van mense af,’ sal die hele volk ons stenig, want hulle is daarvan oortuig dat Johannes 'n profeet is.” Toe antwoord hulle dat hulle nie weet waar dit vandaan kom nie. Daarop sê Jesus vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.” Verder het Jesus aan die volk hierdie gelykenis vertel: “Daar was 'n man wat 'n wingerd aangeplant en dit aan boere verhuur het. Daarna was hy 'n hele ruk weg van die huis af. Toe dit tyd was daarvoor, stuur hy 'n slaaf na die boere toe om sy deel van die wingerd se opbrengs te gaan haal. Maar die boere het die slaaf geslaan en met leë hande weggejaag. Die eienaar het weer geprobeer en 'n ander slaaf gestuur. Maar hulle het hierdie een ook geslaan en uitgeskel en met leë hande weggejaag. Die eienaar het nog 'n keer geprobeer en 'n derde slaaf gestuur. Hulle het hom geslaan dat die bloed loop, en hom uit die wingerd uitgegooi. “Toe sê die eienaar van die wingerd: ‘Wat moet ek nou doen? Ek sal my geliefde seun stuur. Miskien sal hulle hom ontsien.’ Maar toe die boere hom sien, het hulle onder mekaar geredeneer: ‘Dit is die erfgenaam dié. Kom ons slaan hom dood, dan is die erfenis ons s'n.’ Toe gooi hulle hom uit die wingerd uit en slaan hom dood. Wat sal die eienaar van die wingerd dan met hulle doen? Hy sal kom en daardie boere om die lewe bring en die wingerd vir ander mense gee.” Dié wat dit gehoor het, sê toe: “Nee, dit moenie gebeur nie!” Maar Jesus het hulle aangekyk en gesê: “Wat beteken hierdie Skrifwoord dan: “ ‘Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword’ ? Elkeen wat op hierdie klip val, sal verpletter word; elkeen op wie hy val, sal hy vermorsel.”
LUKAS 20:1-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Op een van die dae waarop Jesus die volk op die tempelterrein onderrig en die evangelie verkondig het, het die leierpriesters en skrifkenners saam met die familiehoofde nader gestaan en vir Hom gevra: “Sê vir ons, op watter gesag doen jy hierdie dinge? Wie het aan jou hierdie gesag gegee?” Hy het geantwoord: “Ek sal julle ook 'n vraag vra. Sê My: Was die doop van Johannes van die hemel, of van mense?” Hulle het toe onder mekaar geredeneer: “As ons sê, ‘van die hemel,’ sal Hy sê, ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ En as ons sê, ‘van mense,’ sal die hele volk ons stenig, omdat hulle daarvan oortuig is dat Johannes 'n profeet is.” Hulle antwoord toe dat hulle nie weet waar dit vandaan kom nie. Daarop sê Jesus vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle op watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.” Hy het die volgende gelykenis aan die volk vertel: “Daar was 'n man wat 'n wingerd aangeplant het. Toe het hy dit aan landbouers verhuur, en vir 'n lang tyd op reis gegaan. Teen oestyd het hy 'n slaaf na die landbouers gestuur, sodat hulle vir hom van die opbrengs van die wingerd kon gee. Maar die landbouers het hom afgeransel en met leë hande teruggestuur. Daarna het hy weer 'n ander slaaf gestuur, maar ook hom het hulle afgeransel, verneder en met leë hande teruggestuur. Die eienaar het nog 'n derde een gestuur, maar hulle het hom erg verwond en uit die wingerd uitgegooi. “Toe sê die eienaar van die wingerd, ‘Wat sal ek doen? Ek sal my geliefde seun stuur – dalk sal hulle hom met respek behandel.’ Toe die landbouers hom egter sien, het hulle onder mekaar beraadslaag en gesê, ‘Dit is die erfgenaam dié! Kom ons maak hom dood, sodat die erfdeel ons s'n kan word.’ Hulle het hom toe uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak. Wat sal die eienaar van die wingerd met hulle doen? Hy sal kom en die landbouers doodmaak, en die wingerd aan ander gee.” Toe die mense dit hoor, sê hulle: “Mag dit nooit gebeur nie!” Jesus het hulle stip aangekyk en gesê: “Wat beteken dit dan wat geskryf staan: “ ‘Die klip wat die bouers afgekeur het, juis dit het die hoeksteen geword.’ ” “Elkeen wat op daardie klip val, sal verpletter word, en as dit op iemand val, sal dit hom vergruis.”
LUKAS 20:1-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dit het gebeur dat op een van daardie dae, terwyl Hy die volk in die tempel geleer en die evangelie verkondig het, het die owerpriesters en die skrifgeleerdes op Hom afgekom saam met die ouderlinge, En met hom gespreek en gesê: Vertel ons, deur watter gesag doen jy hierdie dinge? of wie is dit wat jou hierdie gesag gegee het? En hy antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra; en antwoord my: Die doop van Johannes, was dit uit die hemel of van mense? En hulle het met hulleself geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel; sal hy sê: Waarom het julle hom dan nie geglo nie? Maar as ons sê: Van mense; die hele volk sal ons stenig, want hulle is oortuig dat Johannes 'n profeet was. En hulle het geantwoord dat hulle nie kon weet waar dit vandaan kom nie. En Jesus sê vir hulle: Ek sê ook vir julle nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie. Toe het Hy hierdie gelykenis aan die volk begin vertel; 'n Sekere man het 'n wingerd geplant en dit aan landbouers uitgegee en 'n lang tyd na 'n ver land gegaan. En op die tyd het hy 'n dienskneg na die landbouers gestuur, dat hulle hom van die vrugte van die wingerd sou gee; maar die landbouers het hom geslaan en met leë hande weggestuur. En hy het weer 'n ander dienskneg gestuur, en hulle het hom ook geslaan en hom skandelik gesmeek en hom leeg weggestuur. En hy het weer 'n derde gestuur, en hulle het hom ook gewond en uitgedryf. Toe sê die heer van die wingerd: Wat moet ek doen? Ek sal my geliefde seun stuur; miskien sal hulle hom eerbiedig wanneer hulle hom sien. Maar toe die landbouers hom sien, het hulle onder mekaar geredeneer en gesê: Dit is die erfgenaam; kom, laat ons hom doodmaak, sodat die erfdeel ons s'n kan wees. Hulle het hom toe uit die wingerd gegooi en hom doodgemaak. Wat sal die heer van die wingerd dan aan hulle doen? Hy sal kom en hierdie landbouers uitroei en die wingerd aan ander gee. En toe hulle dit hoor, sê hulle: God verhoed dit! En hy het hulle aanskou en gesê: Wat is dit dan wat geskrywe is: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword? Elkeen wat op daardie klip val, sal gebreek word; maar wie dit ook al val, sal hom fyn maal.
LUKAS 20:1-18 Die Boodskap (DB)
Eendag toe Jesus in die tempel besig was om die mense te leer wat God van hulle vra, het ’n klomp van die godsdienstige leiers en ’n paar ander belangrike mense uit Jerusalem ook by die skare aangesluit. Hulle vra toe: “Wie gee jou die reg om al hierdie dinge te doen? Op wie se gesag tree jy op?” Maar Jesus was reg vir hulle: “Laat Ek julle eers gou ’n vraag vra. Sê My, wie het Johannes die reg gegee om te doop? Was dit God of die mense?” Die leiers het dadelik besef hulle is in ’n hoek. Hulle sê toe onderlangs vir mekaar: “Kyk, as ons sê God het Johannes die reg gegee, sal Jesus vir ons vra: ‘Waarom het julle dan nie geglo wat hy gesê het nie?’ As ons egter antwoord dat die mense Johannes die reg gegee het om te doop, sal die volk ons uitmekaarskeur. Hulle almal dink mos dat Johannes ’n profeet was wat sy gesag van God af gekry het.” Om uit die moeilikheid te bly antwoord hulle toe: “Nee, ons weet nie.” Jesus trek toe sy skouers op en sê: “Wel, dan kan Ek ook nie vir julle sê wie My die reg gee om te doen wat Ek doen nie.” Daarna het Jesus vir die mense die volgende verhaal vertel: “Daar was eendag ’n ryk boer wat ’n wingerd aangeplant het. Hy moes kort daarna op ’n reis na ’n ver land gaan. Hy verhuur toe die wingerd aan ’n groep ander boere. Die eienaar het met hulle ooreengekom dat hulle hom ’n deel van die druiwe as huur vir die grond sou betaal. “Later, toe die druiwe begin ryp word, stuur die eienaar een van sy werkers om die deel wat hy moes kry te gaan haal. Maar die arme werker is deur die boere aangerand en weggejaag. “Toe stuur die eienaar een van sy ander werkers na die plaas toe. Maar presies dieselfde het met hom gebeur. Hy is pimpel en pers geslaan en van ’n kant af beledig. Daarna het die boer ’n derde werker na sy plaas toe gestuur. Maar hy is halfdoodgeslaan en ook met leë hande van die plaas af weggejaag. “Toe sê die eienaar vir homself: ‘Wat moet ek nog doen? Al wat nog oorbly, is dat ek my seun vir wie ek so lief is na hulle toe moet stuur. Hulle behoort mos vir hom net soveel respek te hê as vir my.’ “Maar toe die huurders die seun sien aankom, het hulle gou-gou koppe bymekaargesit: ‘Kyk, dis nou ons kans. As ons daardie seun doodmaak, sal ons later self die grond in die hande kan kry.’ “Toe pak die spul boere die seun en sleep hom tot buite die wingerd. Daar het hulle hom doodgemaak.” Jesus vra toe vir die mense: “Wat dink julle sal die eienaar met die klomp boere doen wanneer hy terugkom na sy wingerd toe? Kom Ek sê vir julle: hy sal al daardie boere doodmaak en sy wingerd aan ander mense gee.” Maar ’n klomp van die godsdienstige leiers wat na Hom geluister het, het vinnig geantwoord: “Nee, so iets sal nooit gebeur nie! Jy probeer maak asof ons soos daardie slegte boere in die verhaal is.” Jesus het hulle egter reguit in die oë gekyk en vir hulle gesê: “Julle is mos sulke danige kenners van die Bybel. Wel, sê ’n bietjie vir My wat die volgende teks beteken: ‘’n Klip wat die bouers nie wou gebruik nie en sommer eenkant toe gegooi het, het God reg bokant die voordeur ingebou vir almal om te sien.’ “Oppas! Elkeen wat op hierdie ‘klip’ val, gaan bitter seerkry. Maar elkeen op wie hierdie ‘klip’ beland, gaan morsdood wees. Van hulle gaan daar net mooi niks oorbly nie.” Die Joodse godsdienstige leiers het die skimp gevang. Hulle het besef dat Jesus hierdie teks op Homself toegepas het en dat hulle die mense is wat Hom verwerp. Hulle was woedend daaroor. Hulle wou Hom sommer daar en dan in die tronk stop. Maar die gewone mense was baie beïndruk met Jesus. Daarom kon die leiers in daardie stadium niks aan Hom doen nie.
LUKAS 20:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op een van die dae, terwyl Jesus besig was om mense in die tempel te onderrig en die Goeie Nuus te verkondig, het die priesterhoofde en die skrifkenners saam met die familiehoofde nadergestaan en vir Jesus gevra: “Sê vir ons met watter gesag doen jy hierdie dinge? Wie het jou hierdie gesag gegee?” Sy reaksie was: “Ook Ek het ’n vraag vir julle. Sê My, die doop van Johannes – was dit uit die hemel afkomstig of was dit ’n bloot menslike saak?” Hulle het dit toe onder mekaar bespreek: “As ons sê dat dit uit die hemel kom, sal hy sê: ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ En as ons sou sê: ‘Dit was ’n bloot menslike saak,’ sal die hele volk ons stenig, want hulle is vas oortuig dat Johannes ’n profeet is.” Hulle antwoord was dat hulle nie weet waarvandaan dit kom nie. Jesus het toe aan hulle gesê: “Dan sê Ek ook nie vir julle met watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.” Hierna het Jesus vir die volk hierdie gelykenis vertel: “Daar was ’n man wat ’n wingerd geplant het en dit toe aan boere verhuur het. Daarna het hy vir ’n lang tyd weggegaan. Met oestyd het hy ’n slaaf na die boere toe gestuur met die doel dat hulle ’n deel van die druiwe-oes aan hom sou gee. Maar die boere het die slaaf geslaan en hom met leë hande teruggejaag. Die eienaar het verder gegaan en ’n ander slaaf gestuur. Maar hulle het daardie een ook aangerand, hom beledig en met leë hande teruggejaag. Die eienaar het toe nog verder gegaan en ’n derde slaaf gestuur, maar hulle het hom ernstig verwond en weggejaag. “Toe sê die eienaar van die wingerd: ‘Wat staan my nou te doen? Ek sal my lieflingseun stuur. Hopelik sal hulle hom met respek behandel.’ “Toe die boere hom egter sien, het hulle onder mekaar beraadslaag en gesê: ‘Hierdie man is die erfgenaam. Laat ons hom doodmaak sodat die erfenis ons s’n kan wees.’ Hulle het hom toe uit die wingerd gejaag en vermoor. “Wat moet die eienaar van die wingerd dan met hulle doen? Hy sal opdaag en daardie boere doodmaak en die wingerd aan ander mense gee.” Die mense wat dit gehoor het, sê toe: “Nee, dit mag nooit gebeur nie!” Jesus het hulle stip aangekyk en gesê: “Wat is die betekenis van hierdie Skrifwoord dan? ‘Juis daardie klip wat die bouers afgekeur het, het die hoekklip van die gebou geword.’ “Elkeen wat op daardie klip val, sal verpletter word; elkeen op wie hy val, sal vergruis word.”