Lukas 20:1-18

Lukas 20:1-18 AFR20

Op een van die dae waarop Jesus die volk op die tempelterrein onderrig en die evangelie verkondig het, het die leierpriesters en skrifkenners saam met die familiehoofde nader gestaan en vir Hom gevra: “Sê vir ons, op watter gesag doen jy hierdie dinge? Wie het aan jou hierdie gesag gegee?” Hy het geantwoord: “Ek sal julle ook 'n vraag vra. Sê My: Was die doop van Johannes van die hemel, of van mense?” Hulle het toe onder mekaar geredeneer: “As ons sê, ‘van die hemel,’ sal Hy sê, ‘Waarom het julle hom dan nie geglo nie?’ En as ons sê, ‘van mense,’ sal die hele volk ons stenig, omdat hulle daarvan oortuig is dat Johannes 'n profeet is.” Hulle antwoord toe dat hulle nie weet waar dit vandaan kom nie. Daarop sê Jesus vir hulle: “Dan sê Ek ook nie vir julle op watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.” Hy het die volgende gelykenis aan die volk vertel: “Daar was 'n man wat 'n wingerd aangeplant het. Toe het hy dit aan landbouers verhuur, en vir 'n lang tyd op reis gegaan. Teen oestyd het hy 'n slaaf na die landbouers gestuur, sodat hulle vir hom van die opbrengs van die wingerd kon gee. Maar die landbouers het hom afgeransel en met leë hande teruggestuur. Daarna het hy weer 'n ander slaaf gestuur, maar ook hom het hulle afgeransel, verneder en met leë hande teruggestuur. Die eienaar het nog 'n derde een gestuur, maar hulle het hom erg verwond en uit die wingerd uitgegooi. “Toe sê die eienaar van die wingerd, ‘Wat sal ek doen? Ek sal my geliefde seun stuur – dalk sal hulle hom met respek behandel.’ Toe die landbouers hom egter sien, het hulle onder mekaar beraadslaag en gesê, ‘Dit is die erfgenaam dié! Kom ons maak hom dood, sodat die erfdeel ons s'n kan word.’ Hulle het hom toe uit die wingerd uitgegooi en doodgemaak. Wat sal die eienaar van die wingerd met hulle doen? Hy sal kom en die landbouers doodmaak, en die wingerd aan ander gee.” Toe die mense dit hoor, sê hulle: “Mag dit nooit gebeur nie!” Jesus het hulle stip aangekyk en gesê: “Wat beteken dit dan wat geskryf staan: “ ‘Die klip wat die bouers afgekeur het, juis dit het die hoeksteen geword.’ ” “Elkeen wat op daardie klip val, sal verpletter word, en as dit op iemand val, sal dit hom vergruis.”