LUKAS 14:12-24

LUKAS 14:12-24 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het ook vir die man wat Hom uitgenooi het, gesê: “Wanneer jy mense uitnooi na 'n middag-ete of 'n aand-ete, dan moet jy nie jou vriende uitnooi nie, ook nie jou broers of jou familie of ryk bure nie, want hulle sal jou miskien ook weer uitnooi om by hulle te kom eet, en so betaal hulle jou terug. Maar wanneer jy mense na 'n ete uitnooi, dan moet jy die arm mense uitnooi, en die kreupeles, die verlamdes en die blindes. Dan sal die Here jou seën, want hierdie mense het niks, hulle kan jou nie terugbetaal nie. Maar die Hére sal jou eendag terugbetaal wanneer al die mense wat reg gedoen het, weer begin lewe.” Een van die mense wat saam met Jesus geëet het, het gehoor wat Jesus sê oor die mense wat weer sal lewe. Hy sê toe vir Jesus: “Iemand wat eendag by die tafel sal sit waar God Koning is, sal 'n gelukkige mens wees.” Maar Jesus het vir hom gesê: “Daar was 'n man wat baie mense genooi het na 'n ete. Toe dit tyd word om te begin eet, stuur hy sy slaaf om vir almal wat hy genooi het, te sê: ‘Julle moet nou kom, alles is klaar, ons kan begin eet.’ Maar die mense wat uitgenooi was, het almal gesê hulle is jammer, hulle kan nie kom nie. Een man het vir die slaaf gesê: ‘Ek het 'n stuk grond gekoop en ek moet daarna gaan kyk. Ek vra vir jou, verskoon my asseblief.’ 'n Ander man het gesê: ‘Ek het vyf paar beeste gekoop en ek gaan nou kyk hoe goed hulle kan werk. Ek vra vir jou, verskoon my asseblief.’ 'n Ander man het gesê: ‘Ek het getrou en daarom kan ek nie kom nie.’ Die slaaf het teruggegaan en hy het vir sy eienaar alles vertel wat die mense gesê het. Die eienaar het kwaad geword en hy het vir sy slaaf gesê: ‘Gaan nou na die strate en smal paadjies van die stad, en bring die arm mense, die kreupeles, die blindes en die verlamdes hiernatoe.’ Die slaaf het dit gedoen en hy het vir die eienaar gesê: ‘Meneer, ek het gedoen wat jy gesê het, en daar is nog plek in die huis.’ Die eienaar sê toe vir die slaaf: ‘Gaan na die hoofpaaie en die klein paadjies en sê vir die mense hulle móét na my fees kom, sodat my huis vol kan wees. Ek sê vir julle, nie één van daardie mense wat ek eerste genooi het, sal van my kos kry nie.’ ”

LUKAS 14:12-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En Hy sê ook vir die man wat Hom genooi het: Wanneer jy 'n môre- of middagete gee, moenie jou vriende nooi, of jou broers of bloedverwante of ryk bure nie, sodat hulle jou nie miskien ook eendag weer uitnooi en jy vergelding ontvang nie. Maar wanneer jy 'n feesmaal gee, nooi armes, verminktes, kreupeles, blindes, en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie; want dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges. EN toe een van die wat saam aan tafel was, dit hoor, sê hy vir Hom: Salig is hy wat brood eet in die koninkryk van God. Maar Hy antwoord hom: 'n Sekere man het 'n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi. En op die uur van die maaltyd het hy sy dienskneg uitgestuur om vir die genooides te sê: Kom, want alles is nou gereed. En hulle het hul almal eenparig begin verontskuldig. Die eerste het vir hom gesê: Ek het 'n stuk grond gekoop en ek moet noodsaaklik uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my tog. En 'n ander een het gesê: Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u, verskoon my tog. En 'n ander een het gesê: Ek het 'n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie. En daardie dienskneg het gekom en dié dinge aan sy heer vertel. Toe het die eienaar van die huis kwaad geword en vir sy dienskneg gesê: Gaan gou uit in die strate en die gangetjies van die stad en bring die armes en verminktes en kreupeles en blindes hier in. En die dienskneg het gesê: Meneer, wat u beveel het, is gedoen, en daar is nog plek. Toe sê die heer vir die dienskneg: Gaan uit op die paaie en na die lanings en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word. Want ek sê vir julle dat nie een van daardie manne wat genooi is, my maaltyd sal smaak nie.

LUKAS 14:12-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

Hy het ook vir die gasheer gesê: “As jy in die middag of in die aand 'n maaltyd gee, moet dan nie jou vriende of broers of familie of ryk bure uitnooi sodat hulle jou waarskynlik ook weer uitnooi en jou op dié manier vergoed nie. Nee, as jy 'n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes. Jy kan jou gelukkig ag dat hulle niks het om jou mee te vergoed nie, want God sal jou vergoed by die opstanding van dié wat reg gedoen het.” Een van dié wat saam aan tafel was, het dit gehoor en vir Hom gesê: “Gelukkig is die man wat aan die maaltyd in die koninkryk van God kan deelneem.” Toe sê Jesus vir hom: “Daar was 'n man wat 'n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi het. Toe die maaltyd gereed was, stuur hy sy slaaf om vir die genooides te sê: ‘Kom, die maaltyd staan klaar.’ Maar hulle begin almal, die een na die ander, verskoning maak. Die eerste sê vir hom: ‘Ek het 'n stuk grond gekoop en dit is noodsaaklik dat ek uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my asseblief.’ 'n Ander een sê: ‘Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u, verskoon my asseblief.’ Nog 'n ander een sê: ‘Ek is pas getroud, daarom kan ek nie kom nie.’ “Die slaaf kom toe terug en vertel dit alles aan sy eienaar. Toe word die man kwaad en sê vir sy slaaf: ‘Gaan uit na die strate en gangetjies van die stad en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen.’ Later kom die slaaf sê: ‘Meneer, u opdrag is uitgevoer, en daar is nog plek.’ Toe sê die man vir die slaaf: ‘Gaan uit na die paaie en lanings en dring by hulle daarop aan om in te kom, sodat my huis vol kan word. Dit verseker ek julle: Nie een van die mense wat genooi is, sal sy mond aan my kos sit nie.’ ”

LUKAS 14:12-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Jesus het ook vir die man wat Hom genooi het, gesê: “Wanneer jy 'n ligte ete of 'n groot maaltyd gee, moenie jou vriende of broers of familie of ryk bure nooi, met die doel dat hulle jou weer op hulle beurt uitnooi, en jy dan vergoed word nie. Nee, wanneer jy 'n feesmaal aanbied, nooi die armes, kreupeles, verlamdes, en blindes. Dan sal jy gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou mee te vergoed nie; want jy sal beloon word by die opstanding van die •regverdiges. ” Toe een van diegene wat saam aangeleun het om te eet, dit hoor, sê hy vir Hom: “Gelukkig is die een wat aan die maaltyd in die •koninkryk van God sal deelneem. ” Toe sê Jesus vir hom: “'n Man het 'n groot feesmaal gehou en baie mense uitgenooi. Toe dit tyd was vir die feesmaal, stuur hy sy slaaf om vir die genooides te sê, ‘Kom, alles is gereed!’ Maar een ná die ander het almal verskonings begin aanbied. Die eerste een het vir hom gesê, ‘Ek het 'n stuk grond gekoop, en dit is noodsaaklik dat ek daarna gaan kyk. Ek vra u, verskoon my tog.’ 'n Ander een het gesê, ‘Ek het vyf paar osse gekoop, en ek gaan hulle uittoets. Ek vra u, verskoon my tog.’ Nog 'n ander een het gesê, ‘Ek is pas getroud, en daarom kan ek nie kom nie.’ Met sy terugkeer het die slaaf hierdie dinge aan sy eienaar gerapporteer. Toe het die eienaar van die huis kwaad geword en vir sy slaaf gesê, ‘Gaan dadelik uit in die strate en stegies van die stad en bring die armes en kreupeles en blindes en verlamdes hierheen.’ En die slaaf het kom sê, ‘Meneer, die opdrag wat u gegee het, is uitgevoer, en daar is nog plek.’ Toe sê die eienaar vir die slaaf, ‘Gaan uit na die paaie en lanings, en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word. Want ek verseker julle, nie een van daardie mense wat aanvanklik genooi is, sal hulle mond aan my feesmaal sit nie.’ ”

LUKAS 14:12-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe sê hy ook vir hom wat hom beveel het: As jy 'n maaltyd of 'n maaltyd maak, roep nie jou vriende of jou broers of jou bloedverwante of jou ryk bure nie; dat hulle jou ook nie weer bid en jou vergelding ontvang nie. Maar as jy 'n feesmaal hou, roep die armes, die verminktes, die kreupeles, die blindes: En jy sal geseënd wees; want hulle kan jou nie vergelde nie, want jy sal vergeld word by die opstanding van die regverdiges. En toe een van die wat saam met hom aan tafel was, hierdie dinge hoor, sê hy vir hom: Geseënd is hy wat brood eet in die koninkryk van God. Toe sê hy vir hom: 'n Sekere man het 'n groot maaltyd gemaak en baie aangebied. En met die maaltyd het sy dienskneg gestuur om vir die genooides te sê: Kom! want alles is nou gereed. En hulle het almal met een instemming begin om verskoning te maak. Die eerste sê vir hom: Ek het 'n stuk grond gekoop, en ek moet dit gaan kyk. Laat my tog verskoon word. En 'n ander een het gesê: Ek het vyf paar osse gekoop, en ek gaan om hulle te toets. Laat my tog verskoon word. En 'n ander een het gesê: Ek het 'n vrou getrou, en daarom kan ek nie kom nie. Daardie dienskneg het toe gekom en sy heer hierdie dinge te kenne gegee. Toe het die eienaar van die huis kwaad geword en vir sy dienaar gesê: Gaan gou uit in die strate en lanings van die stad, en bring die armes en die verminktes en die stilstaandes en die blindes hier in. Toe sê die dienaar: Here, dit is gedoen soos U beveel het, en tog is daar plek. Toe sê die Here vir die dienskneg: Gaan uit op die paaie en heinings en dwing hulle om in te gaan, sodat my huis vol kan word. Want Ek sê vir julle, dat nie een van daardie manne wat genooi is, van my aandete sal smaak nie.

LUKAS 14:12-24 Die Boodskap (DB)

Toe draai Jesus na die gasheer toe en sê vir hom: “As jy weer ’n groot ete of ’n fees hou, moet dan nie hierdie spul weer uitnooi nie. Haal al jou vriende en al jou familielede en die vernames se name van jou gastelys af. Moet ook nie daardie ryk bure van jou uitnooi nie. Dan is hulle almal weer onder die verpligting om jou vir ’n ete terug uit te nooi. En so gaan dit dan heeltyd aan. Nee, as jy weer ’n slag ’n partytjie hou, moet die volgende mense op jou uitnodigingslys wees: almal wat arm is en niks het om te eet nie, en almal wat siek is en swaarkry, veral diegene wat hulle ledemate verloor het of wat kreupel en blind is. “As jy sulke mense uitnooi, is jy ’n baie gelukkige mens. Hulle het niks om vir jou mee dankie te sê nie. Maar dit maak nie saak nie, want God sien raak wat jy doen. En Hy onthou dit. Op die laaste dag wanneer al sy kinders daar voor Hom bymekaar is, wag daar ’n groot geskenk vir jou van God self.” Een van die gaste wat saam met Jesus aan tafel was, sê toe: “Sjoe, wat ’n voorreg moet dit nie wees om eendag daar in God se nuwe wêreld ’n plek te kan kry nie!” Jesus draai na hom toe en sê vir hom: “Weet jy, eendag het ’n ryk man ’n groot feesmaal gehou en baie mense uitgenooi. Omdat daar baie voorbereidings was, het hy met die gaste afgespreek dat hy hulle sou laat roep sodra alles gereed was. So gesê, so gedaan. Later, toe die kos reg was, stuur die man een van sy helpers om al die genooides te laat weet: ‘Julle kan nou maar kom, die tafels staan gelaai met die heerlikste kos. Laat die fees begin.’ “Maar toe gebeur daar ’n snaakse ding. Al die genooides het skielik kop uitgetrek. Die een het gesê: ‘U moet my asseblief verskoon. Ek het so pas ’n stuk grond gekoop. Nou moet ek gou gaan kyk hoe dit lyk.’ “’n Ander een het gesê: ‘Ek het ’n klompie osse gekoop en moet gou gaan kyk hoe dit met hulle gaan.’ “Nog ’n ander een het gesê: ‘Ek het pas getrou. Daarom kan ek nie vandag by u ete wees nie.’ “Die helper het toe teruggekom en vir sy werkgewer vertel dat niemand meer kon kom nie. Die man was woedend daaroor. Nadat hy so ’n rukkie gestaan en dink het, sê hy toe vir sy helper: ‘Kom ons maak ’n ander plan. Alles staan mos gereed. So, waarom sal ons dan nie feesvier nie? Gaan nooi gou almal wat jy in die hande kan kry. Maak nie saak wie hulle is of waar hulle bly nie, gaan nooi hulle uit. Gaan haal die armes en al die siekes wat daar in die agterstrate tussen die asblikke slaap. Sê vir hulle hulle moet dadelik na my feesmaal toe kom.’ “Die helper is toe daar weg. Na ’n ruk kom hy met ’n groot klomp mense terug. Hy het vir sy werkgewer gaan sê: ‘Meneer, ek het gedoen wat u vir my gesê het om te doen. Hier is nou baie mense vir u feesmaal. Maar weet u, daar’s nog plek oor.’ “‘Nou ja, dan moet jy nog mense gaan soek,’ sê die huisheer. ‘Gaan keer almal voor wat met die hoofpad hier naby verbyry. Ja, en gaan ook daar na die winkelsentrum toe. Keer almal voor wat jy raakloop en smeek hulle om na my fees toe te kom. Moenie nee vir ’n antwoord vat nie. Hou aan totdat hulle ja sê. Sleep hulle saam met jou hierheen terug as dit moet. My huis moet vol word. Maar daardie ander spul wat genooi is, sal nie hulle monde aan my kos sit nie.’”

LUKAS 14:12-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe draai Hy na sy gasheer. “Wanneer jy ’n middag- of aandete gee,” het Hy gesê, “moenie jou vriende, broers, familie en ryk bure nooi nie. Want hulle sal jou beloon deur jou terug te nooi. Nooi liewer die armes, kreupeles, verlamdes en blindes. Jy sal geseënd wees, want by die opstanding van die godvresendes sal God jou beloon omdat jy hulle wat jou nie kon beloon nie, genooi het.” Toe hy dit hoor, het ’n man wat saam met Jesus aan tafel was, uitgeroep: “Wat ’n voorreg sal dit wees om deel te hê aan die feesmaal in die koninkryk van God!” Maar Jesus het hom geantwoord: “’n Man het ’n groot feesmaal voorberei en baie uitnodigings uitgestuur. Toe alles gereed was, het hy ’n slaaf rondgestuur om die gaste te laat weet dat hulle maar kan kom. Maar hulle het almal begin verskoning maak. Een het gesê hy het pas ’n stuk grond gekoop en wou daarna gaan kyk. Hy vra dus om verskoon te word. ’n Ander een het gesê hy het nou net vyf paar osse gekoop en wil hulle gaan probeer. ’n Ander een was pas getroud, en het gesê hy kon nie kom nie. “Die slaaf het toe teruggekom en aan sy baas vertel wat hulle gesê het. Die baas het kwaad geword en sê toe: ‘Gaan gou in die strate en stegies van die stad en nooi die armes, die kreupeles, die verlamdes en blindes.’ Nadat die slaaf dit gedoen het, het hy gerapporteer: ‘Daar is plek vir nog meer.’ Sy baas sê toe: ‘Gaan uit op die paaie en lanings en dring aan by enigiemand wat jy teëkom om te kom sodat my huis vol kan word. Want ek sê vir julle, niemand van dié wat genooi is, sal selfs die kleinste proeseltjie smaak van wat ek vir hulle voorberei het nie.’”