LUKAS 14:12-24

LUKAS 14:12-24 AFR53

En Hy sê ook vir die man wat Hom genooi het: Wanneer jy 'n môre- of middagete gee, moenie jou vriende nooi, of jou broers of bloedverwante of ryk bure nie, sodat hulle jou nie miskien ook eendag weer uitnooi en jy vergelding ontvang nie. Maar wanneer jy 'n feesmaal gee, nooi armes, verminktes, kreupeles, blindes, en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie; want dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges. EN toe een van die wat saam aan tafel was, dit hoor, sê hy vir Hom: Salig is hy wat brood eet in die koninkryk van God. Maar Hy antwoord hom: 'n Sekere man het 'n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi. En op die uur van die maaltyd het hy sy dienskneg uitgestuur om vir die genooides te sê: Kom, want alles is nou gereed. En hulle het hul almal eenparig begin verontskuldig. Die eerste het vir hom gesê: Ek het 'n stuk grond gekoop en ek moet noodsaaklik uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my tog. En 'n ander een het gesê: Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u, verskoon my tog. En 'n ander een het gesê: Ek het 'n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie. En daardie dienskneg het gekom en dié dinge aan sy heer vertel. Toe het die eienaar van die huis kwaad geword en vir sy dienskneg gesê: Gaan gou uit in die strate en die gangetjies van die stad en bring die armes en verminktes en kreupeles en blindes hier in. En die dienskneg het gesê: Meneer, wat u beveel het, is gedoen, en daar is nog plek. Toe sê die heer vir die dienskneg: Gaan uit op die paaie en na die lanings en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word. Want ek sê vir julle dat nie een van daardie manne wat genooi is, my maaltyd sal smaak nie.