LUKAS 11:33-36
LUKAS 11:33-36 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het ook gesê: “Iemand wat 'n lamp opsteek, steek nie die lamp weg in die stoorkamer of maak dit toe met 'n emmer nie. Nee, 'n mens sit die lamp op die plek waar die lamp moet staan sodat almal wat inkom, die lig kan sien. Jou oog wys hoe jy is. As jou oog reg kyk en jy sien wanneer mense swaarkry, en jy help hulle, dan is jy vol lig. Maar as jou oog verkeerd kyk en jy sien wanneer mense swaarkry maar jy help hulle nie, dan is daar nie lig in jou nie. Daarom moet jy seker maak dat daar altyd lig in jou is, en nie donker nie. As jou lewe vol lig is, dan sal jy vol lig wees soos wanneer 'n lamp se lig op jou skyn.”
LUKAS 11:33-36 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN niemand steek 'n lamp op en sit dit in 'n verborge plek of onder die maatemmer nie, maar op die staander, sodat die wat binnekom, die lig kan sien. Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, is jou hele liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is, is jou liggaam ook donker. Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie. As jou hele liggaam dan verlig is en nie enige deel het wat donker is nie, sal dit heeltemal verlig wees, net soos wanneer die lamp met sy skynsel jou verlig.
LUKAS 11:33-36 Afrikaans 1983 (AFR83)
“'n Mens steek nie 'n lamp op en sit dit dan weg in 'n kelder of onder 'n emmer nie. Nee, jy sit dit op 'n staander, sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien. Die lamp van jou liggaam is die oog. As jou oog goed is, is jou hele liggaam ook verlig. Maar as jou oog sleg is, is jou hele liggaam ook sonder lig. Pas dus op dat die lig in jou nie donker is nie. As jou hele liggaam verlig is en nie 'n enkele donker plekkie het nie, sal dit heeltemal verlig wees soos wanneer 'n lamp jou met sy skynsel verlig.”
LUKAS 11:33-36 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ Niemand steek 'n lamp op en plaas dit dan in 'n versteekte hoekie of onder 'n maatemmer nie, maar op 'n lampstaander, sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien. Die oog is die lamp van die liggaam. As jou oog suiwer is, is jou hele liggaam ook verlig, maar as dit boos is, is jou liggaam ook donker. Pas dus op dat die lig in jou nie duisternis is nie. As jou hele liggaam verlig is en daar nie 'n enkele donker plekkie is nie, sal dit heeltemal verlig wees, soos wanneer 'n lamp jou met sy strale verlig.”
LUKAS 11:33-36 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Niemand, as hy 'n lamp aangesteek het, sit dit in 'n skuilplek nie, ook nie onder 'n maatemmer nie, maar op 'n kandelaar, sodat die wat inkom, die lig kan sien. Die lig van die liggaam is die oog; as jou oog dus enkel is, is jou hele liggaam ook vol lig; maar as jou oog sleg is, is jou liggaam ook vol duisternis. Pas dan op dat die lig wat in jou is, nie duisternis is nie. As jou hele liggaam dan vol lig is en geen deel donker het nie, sal die geheel vol lig wees, soos wanneer die helder skyn van 'n kers jou verlig.
LUKAS 11:33-36 Die Boodskap (DB)
“’n Mens sit nie in die aand ’n lig in jou huis aan en gaan steek dit dan onder ’n bed weg nie. Natuurlik nie. Nee, ’n mens sit ’n lig op so ’n plek in die huis dat dit vir almal kan lig gee. Dan sien hulle mos wat om hulle aangaan. Julle moet ook so maak. Wees ’n lig vir ander wat nog in die donker leef. “Jou oë is soos ’n lig. As jy op die regte manier daarmee kyk, maak dit alles in jou lewe helder. Maar as jy jou oë nie deur God laat instel om reg te kyk nie, maak jou oë jou hele lewe pikdonker. As daar geen goddelike lig in jou lewe skyn nie, is dit regtig nag binne-in jou. Maar aan die ander kant: as jou hele lewe vol lig is, is al die donker uit jou lewe verdryf. Dan loop jy nie meer in die een sonde na die ander vas nie. Nee, dan weerkaats al jou woorde en dade God se helder lig.”
LUKAS 11:33-36 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Niemand steek ’n lamp op en steek dit dan weg of sit dit onder ’n emmer nie. Inteendeel, dit word op ’n staander geplaas om lig te laat skyn vir almal wat die kamer binnekom. Jou oog is die lamp vir jou liggaam. ’n Skoon oog laat lig in jou liggaam inskyn. Maar ’n vuil oog sluit die lig uit en dompel jou in duisternis. Maak seker dat die lig wat jy dink jy het, nie dalk duisternis is nie. As jou hele liggaam met lig gevul is, sonder donker hoekies, sal jou hele lewe stralend wees asof ’n helder lig op jou skyn.”