LUKAS 10:1-32

LUKAS 10:1-32 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het nog 72 ander dissipels gekies. Hy het hulle twee-twee voor Hom gestuur na al die stede en plekke waarnatoe Hy self later wou gaan. Jesus sê toe vir die 72 dissipels: “Daar is baie ryp koring om af te sny, maar daar is baie min werkers wat kan help om dit te doen. Die ryp koring is die mense wat aan die Here behoort. Julle moet bid tot Hom, en julle moet vra dat Hy werkers sal stuur om sy ryp koring af te sny. Gaan nou, maar onthou, Ek stuur julle na die mense in die wêreld, en julle sal wees soos skape wat tussen gevaarlike wolwe is. Moenie beursies saamneem nie. Julle moet ook nie rugsakke en sandale saamneem nie. En julle moenie tyd mors en vir almal op die pad vra hoe dit gaan nie. Wanneer julle in 'n huis kom, dan moet julle eers sê: ‘God gee vir hierdie huis vrede.’ “As daar iemand in die huis woon wat vrede wil hê, dan sal die vrede by hom bly. Maar as daar niemand in die huis is wat die vrede wil hê nie, dan sal God nie vir daardie huis vrede gee nie. Julle moet bly by die mense wat God se vrede wil hê, en julle moet eet en drink wat hulle vir julle gee. Julle moet onthou: “ Wanneer iemand werk, dan moet jy hom beloon. “Moenie skuldig voel wanneer die mense goed is vir julle nie, want onthou, julle werk vir die Here. Julle moenie elke maal in 'n ander huis gaan bly nie. As julle in 'n stad kom en die mense sê julle is welkom, dan moet julle eet wat die mense vir julle gee. Julle moet die siek mense in daardie stad gesond maak. Julle moet vir hulle sê: ‘Die tyd is naby wanneer julle sal weet God is Koning.’ Maar as julle in 'n stad kom en die mense sê julle mag nie daar bly nie, dan moet julle in die strate uitgaan en sê: ‘Ons gaan nou weg en ons vee nou ook julle stad se stof van ons voete af. Dit is vir julle die teken dat God ook nou weggaan van julle. Maar julle moet weet: Die tyd is naby wanneer julle sal weet God is Koning.’ Ek sê vir julle, wanneer God die mense sal oordeel, dan sal dit beter gaan met die stad Sodom as met daardie stad. Dit sal sleg gaan met die mense van die stad Gorasin! Dit sal sleg gaan met julle wat in Betsaida woon! Ek het baie wonderwerke by julle gedoen. As Ek dieselfde wonderwerke gedoen het in die stede Tirus en Sidon, dan sou al daardie mense hulle lewe verander het. Hulle sou rouklere gedra het en as op hulle koppe gegooi het. So sou hulle gewys het hulle het verander en hulle wil begin lewe soos God wil hê. Die dag wanneer God sal oordeel, sal God die mense van Tirus en Sidon minder straf as vir julle. En julle wat in Kapernaum woon, julle dink God sal vir julle eer gee en julle optel tot in die hemel. Nee! Hy sal julle verneder en Hy sal julle laat val tot in die hel.” Jesus het ook vir die dissipels gesê: “Wanneer die mense na julle luister, dan luister hulle na My. Die mense wat hulle rug draai na julle toe, draai hulle rug na My toe. En die mense wat hulle rug draai na My toe, draai hulle rug na God toe wat My gestuur het.” Die 72 dissipels het teruggekom en hulle was bly en opgewonde oor alles wat gebeur het. Hulle het vir Jesus gesê: “Here, ook die duiwels luister na ons wanneer ons u Naam gebruik om hulle uit mense te jaag.” Toe sê Jesus vir hulle: “Ek het gesien hoe die Satan skielik uit die hemel val, soos wanneer weerlig uit die hemel kom. Onthou, Ek het vir julle gesê julle kan op slange en skerpioene trap, en hulle sal niks aan julle kan doen nie. Ook as my vyand, die Satan, probeer om julle aan te val, sal hy niks kan doen aan julle nie. Julle moet bly wees, maar moenie net bly wees omdat die bose geeste na julle luister nie. Julle moet meer bly wees omdat God julle name opgeskryf het in die hemel.” In daardie tyd het die Heilige Gees in Jesus gekom. Jesus het gejuig en gesê: “Vader, Here van die hemel en die aarde, Ek sê vir U dankie, want U het kinders en gewone mense gehelp om u woorde en tekens te verstaan. Maar slim en geleerde mense het dit nie verstaan nie, want U het hulle nie gehelp om dit te verstaan nie. Ja, Vader, U het dit so gedoen omdat U dit so wou doen.” Jesus het ook gesê: “My Vader het alles vir My gegee. Niemand ken regtig die Seun van God nie, net die Vader ken Hom. En niemand ken regtig die Vader nie, net die Seun van God ken die Vader. En net as die Seun vir mense help om te weet wie die Vader is, dan ken hulle ook die Vader.” Toe draai Jesus om na sy dissipels en Hy praat net met hulle en sê: “Julle is gelukkig, julle wat al hierdie dinge sien. Want Ek sê vir julle: Baie profete en konings wou graag sien wat julle nou sien, maar hulle het dit nie gesien nie. Hulle wou ook graag hoor wat julle nou hoor, maar hulle het dit nie gehoor nie.” Daar het 'n skrifgeleerde na Jesus toe gekom. Hy wou hê Jesus moet iets sê wat vir Hom probleme sal gee en hy het vir Hom gevra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te kry?” Jesus het vir hom gevra: “Wat het God in sy wette geskryf? Wat lees jy in die wette?” Die skrifgeleerde antwoord toe: “ Jy moet vir jou God die Here lief wees met jou hele hart, met jou hele lewe, met al jou krag, en met jou hele verstand. Jy moet ook vir jou naaste lief wees soos jy lief is vir jouself.” Toe sê Jesus vir hom: “Jy het reg geantwoord. Gaan doen dit, en jy sal die ewige lewe kry.” Maar die skrifgeleerde wou wys dat hy slimmer is as Jesus. Daarom vra hy toe vir Jesus: “Maar wie is my naaste?” Jesus het vir hom gesê: “'n Man het van Jerusalem na Jerigo geloop. Op daardie pad het manne hom aangeval. Hulle het sy klere uitgetrek en hom geslaan en sy goed gesteel. Toe hardloop hulle weg en los hom daar. Hy was amper dood. Daar het toe 'n priester op dieselfde pad geloop. Toe hy die man sien, het hy verbygeloop, op die ander kant van die pad. 'n Leviet het ook daar verbygeloop en hy het dieselfde gedoen. Toe hy die man sien, het hy verbygeloop, op die ander kant van die pad.

LUKAS 10:1-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN ná hierdie dinge het die Here weer sewentig ander aangestel, en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke stad en plek waar Hy sou kom. Hy sê toe vir hulle: Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes uitstuur. Gaan dan; kyk, Ek stuur julle soos lammers onder wolwe. Moenie 'n beurs of 'n reissak of skoene dra nie, en groet niemand op die pad nie. En in watter huis julle ook al mag ingaan, sê eers: Vrede vir hierdie huis! En as dáár 'n man van vrede is, sal julle vrede op hom rus; anders sal dit tot julle terugkeer. Bly dan in daardie selfde huis en eet en drink wat hulle het, want die arbeider is sy loon werd. Moenie van huis tot huis gaan nie. En in watter stad julle ook al mag ingaan en hulle jul ontvang, eet wat aan julle voorgesit word. En maak die siekes gesond wat daarin is, en sê vir hulle: Die koninkryk van God het naby julle gekom. Maar in watter stad julle ook al mag ingaan en hulle jul nie ontvang nie, gaan uit op sy strate en sê: Selfs die stof wat uit julle stad aan ons kleef, vee ons vir julle af; maar tog moet julle dit weet dat die koninkryk van God naby julle gekom het. En Ek sê vir julle: Vir Sodom sal dit verdraagliker wees in dié dag as vir daardie stad. Wee jou, Górasin, wee jou, Betsáida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. Maar vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeel verdraagliker wees as vir julle. En jy, Kapérnaüm, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestoot word. Wie na julle luister, luister na My; en wie julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het. En die sewentig het met blydskap teruggekom en gesê: Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam. Toe sê Hy vir hulle: Ek het die Satan soos 'n bliksem uit die hemel sien val. Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie. Maar julle moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is nie, maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskrywe is. In dieselfde uur het Jesus Hom in die gees verheug en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was dit u welbehae. Alles is aan My oorgegee deur my Vader; en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader, en wie die Vader is nie, behalwe die Seun en hy aan wie die Seun dit wil openbaar. En Hy het Hom omgedraai na sy dissipels en afsonderlik aan hulle gesê: Salig is die oë wat sien wat julle sien; want Ek sê vir julle, baie profete en konings het gewens om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie. EN daar het 'n sekere wetgeleerde opgestaan wat Hom versoek het deur te sê: Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? En Hy antwoord hom: Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy? En hy antwoord en sê: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself. Toe sê Hy vir hom: Jy het reg geantwoord; doen dit, en jy sal lewe. Maar hy wou homself regverdig, en sê vir Jesus: En wie is my naaste? En Jesus antwoord en sê: 'n Sekere man het afgegaan van Jerusalem na Jérigo en onder rowers verval, en nadat hulle hom uitgetrek en geslaan het, gaan hulle weg en laat hom half dood lê. En bygeval het 'n priester met daardie pad afgekom, en toe hy hom sien, gaan hy anderkant verby. En net so het ook 'n Leviet by dié plek gekom en hom gesien en anderkant verbygegaan.

LUKAS 10:1-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daarna het die Here twee en sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke dorp en plek waarheen Hy van plan was om te gaan. Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes. Gaan nou! Maar onthou: Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in. “Moenie 'n beurs of 'n reissak of skoene saamdra nie, en moenie langs die pad met groetery tyd verkwis nie. As julle in 'n huis kom, moet julle eerste woorde wees: ‘Vrede vir hierdie huis.’ As daar iemand woon vir wie die vrede bestem is, sal die vrede op hom bly; so nie, sal dit na julle toe terugkom. Moenie van een huis na die ander trek nie, maar bly in dieselfde huis, eet en drink wat hulle voorhande het, want die arbeider is geregtig op sy loon. As julle in 'n dorp kom en hulle ontvang julle, eet dan wat hulle vir julle voorsit. Maak die siekes daar gesond en sê vir die mense: ‘Vir julle is die koninkryk van God baie naby!’ Maar as julle in 'n dorp kom en hulle ontvang julle nie, gaan dan uit in sy strate en sê: ‘Selfs julle dorp se stof wat aan ons voete sit, vee ons af as aanklag teen julle. Maar dit moet julle weet: die koninkryk van God is baie naby.’ Ek sê vir julle: Vir die mense van Sodom sal dit op dié dag draagliker wees as vir daardie dorp. “Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. Maar vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeel draagliker wees as vir julle. En jy, Kapernaum, dink jy jý sal tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal tot in die doderyk afdaal! “Wie na julle luister, luister na My; wie vir julle verwerp, verwerp My; en wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.” Die twee en sewentig het vol blydskap teruggekom en gesê: “Here, selfs die bose geeste onderwerp hulle aan ons by die hoor van u Naam.” Toe sê Hy vir hulle: “Ek het die Satan soos 'n weerligstraal uit die hemel sien val. Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen. En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie, maar wees veral bly omdat julle name in die hemel opgeskryf is.” By daardie selfde geleentheid het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling. “My Vader het alles aan My toevertrou. Niemand weet wie die Seun is nie behalwe die Vader, en wie die Vader is nie behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun dit wil bekend maak.” Toe draai Jesus Hom na sy dissipels afsonderlik en sê vir hulle: “Hoe bevoorreg is die oë wat sien wat julle sien, want Ek sê vir julle: Baie profete en konings het daarna verlang om te sien wat julle nou sien, en hulle het dit nie gesien nie; en om te hoor wat julle nou hoor, en hulle het dit nie gehoor nie.” Daar was 'n wetgeleerde wat aan Jesus 'n strikvraag wou stel. Hy staan toe op en vra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Jesus sê vir hom: “Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?” Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.” “Jy het reg geantwoord,” sê Jesus vir hom. “Doen dit en jy sal die lewe verkry.” Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf en vra vir Jesus: “En wie is my naaste?” Jesus gaan toe nader daarop in deur te sê: “Toe 'n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. Dit gebeur toe dat daar 'n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. Net so het daar ook 'n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby.

LUKAS 10:1-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hierna het die Here nog twee-en-sewentig ander aangewys en hulle twee-twee voor Hom uitgestuur na elke dorp en plek wat Hy nog wou besoek. Hy het vir hulle gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Daarom moet julle bid tot die Here, aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes. Gaan nou! Kyk, Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe in. “ Moenie 'n beursie of 'n reissak of sandale saamdra nie, en moet niemand langs die pad groet nie. Watter huis julle ook al binnegaan, sê eers, ‘Vrede vir hierdie huis!’ As daar 'n vredeliewende mens woon, sal julle vrede op hom rus, anders sal dit na julle terugkeer. Bly in dieselfde huis, terwyl julle eet en drink wat hulle aanbied, want die arbeider is sy loon werd. Moenie van huis tot huis rondtrek nie. As julle in 'n dorp kom en die mense verwelkom julle, eet wat aan julle voorgesit word. Maak die siekes wat daar is, gesond en sê vir hulle, ‘Vir julle is die •koninkryk van God op hande.’ Maar as julle in 'n dorp kom waar hulle julle nie verwelkom nie, gaan dan uit in die strate en sê, ‘Selfs die stof van julle dorp wat aan ons voete kleef, vee ons af as aanklag teen julle. Maar dit moet julle weet: Die koninkryk van God is op hande!’ Ek sê vir julle: Vir die mense van Sodom sal dit op daardie dag draagliker wees as vir daardie dorp.” “Wee jou, Gorasin! Wee jou, Betsaida! Want as die kragtige dade wat in julle plaasgevind het, in Tirus en Sidon gebeur het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het. Maar vir Tirus en Sidon sal dit op die oordeelsdag draagliker wees as vir julle. En jy, Kapernaum, “Sal jy tot die hemel toe verhoog word? Nee, jy sal na Hades afdaal! “Wie na julle luister, luister na My, en wie julle verwerp, verwerp My. En wie My verwerp, verwerp Hom wat My gestuur het.” Die twee-en-sewentig het vol blydskap teruggekeer en gesê: “Here, selfs die demone onderwerp hulle aan ons op grond van u Naam.” Toe sê Hy vir hulle: “Ek het Satan soos 'n weerligstraal uit die hemel sien val. Kyk, Ek het aan julle gesag gegee om op slange en skerpioene te trap, en ook oor al die mag van die vyand. Niks sal julle enige skade kan aandoen nie. En tog moet julle nie bly wees net omdat die geeste hulle aan julle onderwerp nie. Wees eerder bly dat julle name reeds in die hemel opgeskryf is. ” Op daardie oomblik het Jesus deur die Heilige Gees dit uitgejubel en gesê: “Ek loof U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg en dit aan kindertjies bekend gemaak het. Ja, Vader, want so het U dit goedgevind. Alles is deur my Vader aan My toevertrou. En niemand ken die •Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken die Vader nie, behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom bekend wil maak.” Toe hulle op hulle eie was, het Jesus na sy dissipels gedraai en vir hulle gesê: “Gelukkig is die oë wat sien wat julle sien, want Ek sê vir julle, baie profete en konings sou graag wou sien wat julle sien, maar het nie gesien nie, en sou graag wou hoor wat julle hoor, en hulle het nie gehoor nie.” En kyk, 'n sekere wetskenner het opgestaan om Jesus te toets en Hom gevra: “Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te erf?” Jesus sê toe vir hom: “Wat staan in die Wet geskryf? Wat lees jy daar?” Hy het geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself. ” “Jy het reg geantwoord,” het Jesus vir hom gesê. “Doen dit, en jy sal leef!” Maar hy wou homself regverdig, en het toe vir Jesus gevra: “En wie is my naaste?” Hierop het Jesus geantwoord: “'n Man het van Jerusalem afgegaan na Jerigo, en is deur rowers oorval. Hulle het sy klere uitgetrek, hom geslaan en toe weggegaan, en hom half dood agtergelaat. 'n Priester het onvoorsiens met daardie pad langs afgegaan en toe hy hom sien, het hy aan die ander kant verbygegaan. En net so het ook 'n Leviet by die plek aangekom, en toe hy hom sien, het ook hy aan die ander kant verbygegaan.

LUKAS 10:1-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ná hierdie dinge het die Here ook ander sewentig aangestel en hulle twee-twee voor sy aangesig gestuur na elke stad en plek waarheen Hy self sou kom. Daarom sê Hy vir hulle: Die oes is wel groot, maar die arbeiders is min; bid dan die Here van die oes dat Hy arbeiders in sy oes sal uitstuur. Gaan voort: kyk, Ek stuur julle soos lammers tussen wolwe. Dra geen beurs of sak of skoene nie, en groet niemand op die pad nie. En in watter huis julle ook al ingaan, sê eers: Vrede vir hierdie huis! En as die seun van vrede daar is, sal julle vrede daarop rus; so nie, sal dit weer tot julle terugkeer. En bly in dieselfde huis en eet en drink wat hulle gee, want die arbeider is sy loon werd. Gaan nie van huis tot huis nie. En in watter stad julle ook al ingaan en hulle julle ontvang, eet die dinge wat julle voorgehou word. En genees die siekes wat daarin is, en sê vir hulle: Die koninkryk van God het naby julle gekom. Maar in watter stad julle ook al ingaan, en hulle ontvang julle nie, gaan uit op die strate daarvan en sê: Selfs die stof van julle stad wat aan ons kleef, vee ons teen julle af; maar julle moet daarvan seker wees dat die koninkryk van God naby julle gekom het. Maar Ek sê vir julle dat dit vir Sodom in dié dag verdraagliker sal wees as vir daardie stad. Wee jou, Chorasin! wee jou, Betsaida! want as die magtige werke in Tirus en Sidon gedoen is wat in julle gedoen is, het hulle 'n lang tyd gelede berou gehad terwyl hulle in sak en as gesit het. Maar dit sal vir Tirus en Sidon verdraagliker wees by die oordeel as vir julle. En jy, Kapernaum, wat tot die hemel toe verhef is, sal na die hel neergewerp word. Wie na julle luister, luister na My; en hy wat julle verag, verag My; en hy wat My verag, verag hom wat My gestuur het. En die sewentig het met blydskap teruggekom en gesê: Here, ook die duiwels is aan ons onderdanig deur u Naam. En hy sê vir hulle: Ek het Satan soos weerlig uit die hemel sien val. Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die mag van die vyand, en niks sal julle hoegenaamd skade doen nie. Maar julle nie daaroor verheug dat die geeste aan julle onderdanig is nie; maar wees liewer bly, want julle name is in die hemel opgeskryf. In daardie uur het Jesus hom in die gees verheug en gesê: Ek dank U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir wyse en verstandiges verberg het en dit aan kindertjies geopenbaar het; want so het dit goed gelyk in jou oë. Alles is aan My oorgegee deur my Vader, en niemand weet wie die Seun is nie, behalwe die Vader; en wie die Vader is, behalwe die Seun, en hy aan wie die Seun Hom sal openbaar. En Hy het Hom na sy dissipels gedraai en alleen gesê: Geseënd is die oë wat sien wat julle sien. Want Ek sê vir julle dat baie profete en konings begeer het om te sien wat julle sien, en hulle het dit nie gesien nie; en om te hoor wat julle hoor en dit nie gehoor het nie. En kyk, 'n sekere wetgeleerde het opgestaan en Hom versoek en gesê: Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe? Hy sê vir hom: Wat is in die wet geskrywe? hoe lees jy? En hy antwoord en sê: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand; en jou naaste soos jyself. En hy sê vir hom: Jy het reg geantwoord; doen dit, en jy sal lewe. Maar hy, wat bereid was om homself te regverdig, sê vir Jesus: En wie is my naaste? En Jesus antwoord en sê: 'n Sekere man het van Jerusalem af na Jérigo afgegaan en onder diewe verval, wat hom van sy klere uitgetrek en gewond het en weggegaan het en hom halfdood agtergelaat het. En toevallig het 'n sekere priester daar afgekom, en toe hy hom sien, het hy anderkant verbygegaan. En net so het 'n Leviet, toe hy op die plek was, gekom en hom bekyk en aan die ander kant verbygegaan.

LUKAS 10:1-32 Die Boodskap (DB)

Kort daarna het die Here 72 van sy volgelinge aangewys om twee-twee voor Hom uit te gaan na al die plekke toe waar Hy sou aandoen op pad Jerusalem toe. Hy sê toe vir hulle: “Die lande staan ryp met ’n groot oes, maar daar is so min mense om die oes te gaan insamel. Vra die Here, aan wie hierdie oes behoort, om nog ekstra arbeiders te stuur. “Gaan nou na die plekke toe waarheen Ek nog op pad is. Maar wees gewaarsku: daar wag groot gevare op julle. Ek stuur julle soos ’n klompie skape deur ’n bos wat wemel van gevaarlike diere. “Julle moet só te werk gaan: Moenie ’n klomp geld saamvat nie. Dit is ook nie nodig om groot tasse met baie klere te pak nie. Moenie langs die pad met ander mense gesels nie. “As julle in ’n huis inkom, sê dan: ‘God sal baie goed wees vir hierdie huis.’ As die eienaar julle net so vriendelik teruggroet, is alles in orde. Dan sal God se vrede by hom bly. Maar as hy julle nie goed ontvang nie, sal God se vrede nie by hom bly nie. Bly oor in die huise waar die mense julle goed ontvang. Eet en drink alles wat hulle vir julle gee. Immers, iemand wat werk, word tog daarvoor betaal. Moenie na ’n ander huis gaan soek as julle te min kos kry nie. In al die dorpe waarheen Ek julle stuur, moet julle by mense gaan bly wat julle goed ontvang. En wees tevrede met julle kos en slaapplek. “Maak al die siek mense gesond wat julle raakloop. Sê ook vir hulle: ‘God se nuwe wêreld het tot hier by julle gekom.’ “Wanneer die mense van ’n dorp julle die rug toekeer, gee dan dadelik daar pad. Maar skud eers voor almal die stof van daardie plek uit julle klere uit. Sê ook vir almal in die dorp dat hulle die kans van ’n leeftyd om deel van God se nuwe wêreld te word deur hulle vingers laat glip het. Hulle gaan nog baie spyt wees daaroor. Dit gaan vir hulle baie erger wees wanneer hulle eendag voor God moet gaan staan as wat dit sal wees vir Sodom en Gomorra, daardie twee stede wat so berug was vir al hulle sondes.” Toe het Jesus ’n skerp uitspraak gemaak oor ’n paar van die dorpe in Galilea waar Hy gepreek het: “Gorasin en Betsaida, vir julle twee dorpe wag daar net probleme. Weet julle, as al daardie slegte mense van Tirus en Sidon die wonderwerke kon sien wat julle gesien het, was hulle almal binne sekondes op hulle knieë voor My. Met harte vol berou sou hulle dan vergifnis kom vra het. Maar toemaar, God se finale oordeel is op pad. En dan sal Tirus en Sidon lig daarvan afkom in vergelyking met wat julle gaan tref. “En julle spul daar in Kapernaum, wat dink julle van julleself? Dink julle God gaan vir julle ’n spesiale plek in die hemel gee? Dan wag daar vir julle ’n baie groot ontnugtering. Julle plekke in die doderyk is al klaar bespreek. “Ek sê weer: as mense julle met oop arms ontvang en julle vriende wil wees, is hulle my vriende ook. Maar as hulle nie na julle luister nie en die rug vir julle draai, draai hulle ook die rug vir My. En as hulle My verwerp, doen hulle presies dieselfde met God, want Hy het My na julle toe gestuur.” Later het die 72 volgelinge van Jesus teruggekom van die plekke af waarheen Hy hulle gestuur het. Hulle was baie opgewonde. Hulle sê toe vir Jesus: “Weet U, Here, tot die duiwels luister na ons wanneer ons hulle in u Naam uit mense uitdryf.” “Maar natuurlik,” het Jesus geantwoord. “Ek is mos baie sterker as hulle. Ek het immers self gesien hoe die duiwel uit die hemel gegooi is. So vinnig soos ’n weerligstraal is hy daar uit God se terrein verwyder. “Maar Ek het nog goeie nuus vir julle: Ek gee aan julle mag oor die duiwel en oor sy handlangers se terrein waar daar baie dinge is wat julle skade kan aandoen. Julle het nou mag oor al sy bose magte. Sy slange en skerpioene sal julle geen skade aandoen nie. Omdat julle in My glo, is julle nou sterker as al my vyande. Maar wag, julle moenie feesvier omdat daardie bose magte voor julle die knie buig nie. Nee, vier liewer fees omdat daar vir julle plek in my Vader se nuwe wêreld is. Julle name is klaar op die lys van die gaste wat na sy hemelse feesmaal toe genooi is.” Toe het Jesus hardop begin bid. Omdat die Heilige Gees se krag in Hom was, was Hy so vol vreugde dat Hy dit eenvoudig met God moes deel: “My Vader, alles in die hemel en op die aarde behoort aan U. Ek wil vir U dankie sê dat u boodskap so duidelik en eenvoudig is. U het al u groot geheime verberg vir die groot en slim mense en dit aan die kleinste ou kindertjies kom bekendmaak. Dit was deel van u plan dat hulle in U moet glo. Ja, Vader, en nou gebeur dit ook. “Vader, U het al u groot krag tot my beskikking gestel. Alles en almal behoort nou aan My. Net U ken My regtig. U weet presies wie Ek is en wat Ek hier op die aarde kom doen het. Net so weet niemand anders wie U regtig is nie, behalwe Ek self. Ek ken U deur en deur. Ander mense kan net in U glo wanneer Ek vir hulle wys wie U regtig is. Dan eers gaan hulle oë oop.” Toe draai Jesus om na sy volgelinge toe en sê vir hulle: “Weet julle hoe bevoorreg julle is? Julle sien en hoor dinge wat g’n ander mens nog gesien of gehoor het nie. Weet julle hoeveel profete en konings van Israel het begeer om te sien wat julle nou sien? Vir hulle was dit egter nie beskore nie. Maar julle - julle sien nou die Seun van die lewende God met julle eie oë.” ’n Kenner van die wet van Moses wat na Jesus gesit en luister het, besluit toe om Hom ’n strikvraag te vra. Hy wou Jesus daar voor almal verneder. Hy staan toe op en vra ewe vroom: “Leermeester, wat moet ek doen sodat ek vir altyd in God se nuwe wêreld kan gaan bly?” “Ken jy dan nie die wet nie?” het Jesus vinnig teruggevra. “Sê My ’n bietjie, wat staan daar in die wet geskryf?” Die wetskenner antwoord toe: “Die wet sê jy moet die Here jou God liefhê met alles in jou: met jou wil, jou emosies, jou krag en jou denke. En jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself.” “Mooi so!” het Jesus gesê. “Jy het reg geantwoord. Gaan doen dit, dan sal daar vir jou ’n plek wees in God se nuwe wêreld. So eenvoudig is dit!” Maar die kenner van die wet was nog lank nie klaar nie. Hy het sy strikvraag vir laaste gebêre: “Wag eers. Sê my, wie is my medemens van wie die wet praat?” Jesus antwoord toe met ’n verhaal: “Weet jy, eendag was daar ’n man wat van Jerusalem na Jerigo toe gestap het. Langs die pad het ’n klomp rowers hom ingewag en hom behoorlik toegetakel. Hulle het hom ernstig aangerand, al sy geld en klere gevat en hom daar vir dood laat lê. “Toevallig stap ’n priester ’n rukkie later daar verby. Maar toe hy die halfdooie man daar sien lê, het hy aan die ander kant van die pad verbygestap en gemaak of hy hom glad nie sien nie. “Die priester was skaars weg of daar stap ’n Leviet verby, iemand wat in die tempel diens gedoen het. Maar hy het ook gemaak of hy nie die gewonde man raaksien nie en het verder gestap.

LUKAS 10:1-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Here het nou 72 ander dissipels gekies en hulle in pare vooruit gestuur na al die dorpe en plekkies wat Hy wou besoek. Dít was sy instruksies aan hulle: “Die oes is só groot, maar die werkers is so min. Bid tot die Here wat in beheer is van die oes, en vra dat Hy meer werkers in die veld sal stuur. Gaan nou, en onthou dat Ek julle soos lammers tussen wolwe instuur. Moenie enige geld saamvat nie, of ’n reissak of selfs ’n ekstra paar sandale nie. En moenie enigiemand langs die pad groet nie. “Elke keer wanneer julle ’n huis binnegaan, spreek die vredesgroet daaroor uit. As dié wat daar bly, dit waardig is, sal die seën bly; as hulle dit nie is nie, sal die seën na julle toe terugkom. Wanneer julle in ’n dorp aankom, moenie van huis tot huis gaan nie. Bly op een plek, eet en drink wat hulle aan julle voorsit. Moenie huiwer om gasvryheid te aanvaar nie, want dié wat werk, verdien hulle loon. “As ’n dorp julle verwelkom, eet wat ook al aan julle voorgesit word. Genees die siekes wat daar woon, en sê vir hulle: ‘Die koningsheerskappy van God is nou naby julle.’ Maar as ’n dorp weier om julle te ontvang, gaan uit in die strate en sê: ‘Ons vee die stof van julle dorp van ons voete af as ’n openbare aankondiging van julle oordeel. Maar dit moet julle weet: die koningsheerskappy van God is naby!’ Ek verseker julle, selfs die bose Sodom sal in die oordeelsdag beter daaraan toe wees as só ’n dorp. “Ellende wag vir julle, Gorasin en Betsaida! Want as die wonders wat Ek in julle gedoen het in die bose Tirus en Sidon gedoen was, sou hulle inwoners lankal in sakke geklee gewees het, met as op hulle koppe as teken van hulle berou. En hulle sou tot inkeer gekom het. Ja, Tirus en Sidon sal in die oordeelsdag beter daaraan toe wees as julle. En julle, mense van Kapernaum, sal julle tot die hemel verhoog word? Nee, julle sal afdaal tot in die doderyk.” Toe sê Hy vir die dissipels: “Enigeen wat julle boodskap ontvang, ontvang My ook. En enigeen wat julle verwerp, verwerp My. En enigeen wat My verwerp, verwerp God wat My gestuur het.” Toe die 72 dissipels terugkom, het hulle met vreugde gesê: “Here, selfs die bose geeste gehoorsaam ons wanneer ons u Naam gebruik!” “Ja,” het Hy hulle vertel. “Ek het Satan uit die hemel sien val soos ’n weerligstraal! En Ek het julle gesag gegee oor alle mag van die vyand, en julle kan oor slange en skerpioene loop en hulle vermorsel. Niks sal julle beseer nie. Maar moenie bly wees net omdat bose geeste julle gehoorsaam nie; wees bly omdat julle name opgeteken is as burgers van die hemel.” Toe is Jesus vervul met die blydskap van die Heilige Gees en het gesê: “O Vader, Here van hemel en aarde, dankie dat U die waarheid verberg het vir dié wat in hulle eie oë so wys en slim is, en dit aan die kindertjies bekendgemaak het. Ja, Vader, dit het U behaag om dit só te doen. “My Vader het My gesag oor alles gegee. Niemand ken werklik die Seun nie, behalwe die Vader, en niemand ken werklik die Vader nie, behalwe die Seun en hulle aan wie die Seun Hom wil openbaar.” Toe hulle alleen was, het Hy na die dissipels gedraai en gesê: “Hoe bevoorreg is julle om te sien wat julle sien! Ek sê vir julle, baie profete en konings het begeer om te sien en te hoor wat julle sien en hoor, maar hulle kon nie.” Eendag het ’n wetskenner na vore gekom om Jesus te toets deur Hom hierdie vraag te vra: “Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te ontvang?” Jesus het geantwoord: “Wat sê die wet van Moses? Wat lees jy daarin?” Die man het geantwoord: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, al jou krag en jou hele verstand.’ En: ‘Jy moet jou medemens liefhê soos jouself.’” “Reg!” het Jesus vir hom gesê. “Doen dit en jy sal lewe!” Maar die man wou homself regverdig en vra toe vir Jesus: “En wie is my medemens?” En Jesus antwoord: “’n Joodse man was op reis van Jerusalem na Jerigo toe hy deur rowers aangeval is. Hulle het sy klere uitgetrek, hom aangerand en halfdood langs die pad laat lê. En toe is hulle vort. “Toevallig kom daar ’n Joodse priester verby, maar toe hy die man daar sien lê, het hy aan die ander kant by hom verbygegaan. “So het ook ’n Leviet daar aangekom, die man een kyk gegee en ook aan die ander kant verbygegaan.