Kort daarna het die Here 72 van sy volgelinge aangewys om twee-twee voor Hom uit te gaan na al die plekke toe waar Hy sou aandoen op pad Jerusalem toe. Hy sê toe vir hulle: “Die lande staan ryp met ’n groot oes, maar daar is so min mense om die oes te gaan insamel. Vra die Here, aan wie hierdie oes behoort, om nog ekstra arbeiders te stuur.
“Gaan nou na die plekke toe waarheen Ek nog op pad is. Maar wees gewaarsku: daar wag groot gevare op julle. Ek stuur julle soos ’n klompie skape deur ’n bos wat wemel van gevaarlike diere.
“Julle moet só te werk gaan: Moenie ’n klomp geld saamvat nie. Dit is ook nie nodig om groot tasse met baie klere te pak nie. Moenie langs die pad met ander mense gesels nie.
“As julle in ’n huis inkom, sê dan: ‘God sal baie goed wees vir hierdie huis.’ As die eienaar julle net so vriendelik teruggroet, is alles in orde. Dan sal God se vrede by hom bly. Maar as hy julle nie goed ontvang nie, sal God se vrede nie by hom bly nie. Bly oor in die huise waar die mense julle goed ontvang. Eet en drink alles wat hulle vir julle gee. Immers, iemand wat werk, word tog daarvoor betaal. Moenie na ’n ander huis gaan soek as julle te min kos kry nie. In al die dorpe waarheen Ek julle stuur, moet julle by mense gaan bly wat julle goed ontvang. En wees tevrede met julle kos en slaapplek.
“Maak al die siek mense gesond wat julle raakloop. Sê ook vir hulle: ‘God se nuwe wêreld het tot hier by julle gekom.’
“Wanneer die mense van ’n dorp julle die rug toekeer, gee dan dadelik daar pad. Maar skud eers voor almal die stof van daardie plek uit julle klere uit. Sê ook vir almal in die dorp dat hulle die kans van ’n leeftyd om deel van God se nuwe wêreld te word deur hulle vingers laat glip het. Hulle gaan nog baie spyt wees daaroor. Dit gaan vir hulle baie erger wees wanneer hulle eendag voor God moet gaan staan as wat dit sal wees vir Sodom en Gomorra, daardie twee stede wat so berug was vir al hulle sondes.”
Toe het Jesus ’n skerp uitspraak gemaak oor ’n paar van die dorpe in Galilea waar Hy gepreek het: “Gorasin en Betsaida, vir julle twee dorpe wag daar net probleme. Weet julle, as al daardie slegte mense van Tirus en Sidon die wonderwerke kon sien wat julle gesien het, was hulle almal binne sekondes op hulle knieë voor My. Met harte vol berou sou hulle dan vergifnis kom vra het. Maar toemaar, God se finale oordeel is op pad. En dan sal Tirus en Sidon lig daarvan afkom in vergelyking met wat julle gaan tref.
“En julle spul daar in Kapernaum, wat dink julle van julleself? Dink julle God gaan vir julle ’n spesiale plek in die hemel gee? Dan wag daar vir julle ’n baie groot ontnugtering. Julle plekke in die doderyk is al klaar bespreek.
“Ek sê weer: as mense julle met oop arms ontvang en julle vriende wil wees, is hulle my vriende ook. Maar as hulle nie na julle luister nie en die rug vir julle draai, draai hulle ook die rug vir My. En as hulle My verwerp, doen hulle presies dieselfde met God, want Hy het My na julle toe gestuur.”
Later het die 72 volgelinge van Jesus teruggekom van die plekke af waarheen Hy hulle gestuur het. Hulle was baie opgewonde. Hulle sê toe vir Jesus: “Weet U, Here, tot die duiwels luister na ons wanneer ons hulle in u Naam uit mense uitdryf.”
“Maar natuurlik,” het Jesus geantwoord. “Ek is mos baie sterker as hulle. Ek het immers self gesien hoe die duiwel uit die hemel gegooi is. So vinnig soos ’n weerligstraal is hy daar uit God se terrein verwyder.
“Maar Ek het nog goeie nuus vir julle: Ek gee aan julle mag oor die duiwel en oor sy handlangers se terrein waar daar baie dinge is wat julle skade kan aandoen. Julle het nou mag oor al sy bose magte. Sy slange en skerpioene sal julle geen skade aandoen nie. Omdat julle in My glo, is julle nou sterker as al my vyande. Maar wag, julle moenie feesvier omdat daardie bose magte voor julle die knie buig nie. Nee, vier liewer fees omdat daar vir julle plek in my Vader se nuwe wêreld is. Julle name is klaar op die lys van die gaste wat na sy hemelse feesmaal toe genooi is.”
Toe het Jesus hardop begin bid. Omdat die Heilige Gees se krag in Hom was, was Hy so vol vreugde dat Hy dit eenvoudig met God moes deel: “My Vader, alles in die hemel en op die aarde behoort aan U. Ek wil vir U dankie sê dat u boodskap so duidelik en eenvoudig is. U het al u groot geheime verberg vir die groot en slim mense en dit aan die kleinste ou kindertjies kom bekendmaak. Dit was deel van u plan dat hulle in U moet glo. Ja, Vader, en nou gebeur dit ook.
“Vader, U het al u groot krag tot my beskikking gestel. Alles en almal behoort nou aan My. Net U ken My regtig. U weet presies wie Ek is en wat Ek hier op die aarde kom doen het. Net so weet niemand anders wie U regtig is nie, behalwe Ek self. Ek ken U deur en deur. Ander mense kan net in U glo wanneer Ek vir hulle wys wie U regtig is. Dan eers gaan hulle oë oop.”
Toe draai Jesus om na sy volgelinge toe en sê vir hulle: “Weet julle hoe bevoorreg julle is? Julle sien en hoor dinge wat g’n ander mens nog gesien of gehoor het nie. Weet julle hoeveel profete en konings van Israel het begeer om te sien wat julle nou sien? Vir hulle was dit egter nie beskore nie. Maar julle - julle sien nou die Seun van die lewende God met julle eie oë.”
’n Kenner van die wet van Moses wat na Jesus gesit en luister het, besluit toe om Hom ’n strikvraag te vra. Hy wou Jesus daar voor almal verneder. Hy staan toe op en vra ewe vroom: “Leermeester, wat moet ek doen sodat ek vir altyd in God se nuwe wêreld kan gaan bly?”
“Ken jy dan nie die wet nie?” het Jesus vinnig teruggevra. “Sê My ’n bietjie, wat staan daar in die wet geskryf?”
Die wetskenner antwoord toe: “Die wet sê jy moet die Here jou God liefhê met alles in jou: met jou wil, jou emosies, jou krag en jou denke. En jy moet jou medemens net so liefhê soos jouself.”
“Mooi so!” het Jesus gesê. “Jy het reg geantwoord. Gaan doen dit, dan sal daar vir jou ’n plek wees in God se nuwe wêreld. So eenvoudig is dit!”
Maar die kenner van die wet was nog lank nie klaar nie. Hy het sy strikvraag vir laaste gebêre: “Wag eers. Sê my, wie is my medemens van wie die wet praat?”
Jesus antwoord toe met ’n verhaal: “Weet jy, eendag was daar ’n man wat van Jerusalem na Jerigo toe gestap het. Langs die pad het ’n klomp rowers hom ingewag en hom behoorlik toegetakel. Hulle het hom ernstig aangerand, al sy geld en klere gevat en hom daar vir dood laat lê.
“Toevallig stap ’n priester ’n rukkie later daar verby. Maar toe hy die halfdooie man daar sien lê, het hy aan die ander kant van die pad verbygestap en gemaak of hy hom glad nie sien nie.
“Die priester was skaars weg of daar stap ’n Leviet verby, iemand wat in die tempel diens gedoen het. Maar hy het ook gemaak of hy nie die gewonde man raaksien nie en het verder gestap.