LEVITIKUS 27:1-13

LEVITIKUS 27:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: Wanneer iemand in 'n gelofte 'n persoon aan die Here gewy het, en die persoon se loskoopwaarde moet vasgestel word, moet die volgende riglyne geld: 'n Man van twintig tot sestig jaar kan losgekoop word teen vyf honderd en sewentig gram silwer volgens die standaardgewig van die heiligdom. 'n Vrou van dieselfde ouderdom teen drie honderd en veertig gram. Tussen vyf jaar en twintig jaar is die loskoopwaarde van 'n man twee honderd en dertig gram en van 'n meisie honderd en vyftien. Van 'n maand oud tot op vyf jaar is 'n seun se loskoopwaarde sewe en vyftig gram en 'n dogter s'n vier en dertig. Bo sestig is 'n man se loskoopwaarde honderd een en sewentig gram en 'n vrou s'n honderd en vyftien. As iemand wat 'n gelofte afgelê het, te arm is om hierdie loskoopwaarde te betaal, moet hy die persoon oor wie dit gaan, na die priester toe bring. Die priester moet die persoon dan deurkyk en 'n bedrag bepaal wat bekostig kan word deur die een wat die gelofte afgelê het. “As die gelofte gaan oor 'n rein dier wat aan die Here geoffer word, geld die reël dat 'n dier wat eenmaal aan die Here gegee is, sy eiendom word. So 'n dier mag dus nie vervang word met 'n dier van dieselfde kwaliteit of omgeruil word vir 'n slegter of selfs 'n beter dier nie. As iemand so 'n dier tóg probeer omruil, word albei diere die Here se eiendom. As die gelofte gaan oor 'n onrein dier wat nie aan die Here geoffer mag word nie, moet die dier na die priester toe gebring word. Hy moet dan die loskoopwaarde van die dier bepaal volgens sy kwaliteit. Die oordeel van die priester is in so 'n geval finaal. As die persoon self die dier wil terugkoop, moet hy twintig persent meer as die vasgestelde loskoopwaarde betaal.

LEVITIKUS 27:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

VERDER het die HERE met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As iemand 'n besondere gelofte aflê — mense aan die HERE toewy volgens jou skatting, dan moet jou skatting vir 'n manspersoon van twintig tot sestig jaar, dan moet jou skatting vyftig sikkels silwer wees, volgens die sikkel van die heiligdom. Maar is dit 'n vrou, dan moet jou skatting dertig sikkels wees. En is dit iemand van vyf tot twintig jaar, dan moet jou skatting vir 'n manspersoon twintig sikkels wees en vir 'n vroulike tien sikkels. Maar is dit iemand van 'n maand oud tot vyf jaar, dan moet jou skatting vir die manlike geslag vyf sikkels silwer wees en jou skatting vir die vroulike drie sikkels silwer. En is dit iemand van sestig jaar oud en daarbo — is dit 'n manspersoon, dan moet jou skatting vyftien sikkels wees en vir 'n vrou tien sikkels. Maar as hy te arm is vir die geskatte bedrag, moet hy voor die priester gestel word, sodat die priester hom kan skat; volgens wat hy kan bekostig wat die gelofte gedoen het, moet die priester hom skat. En as dit vee is waarvan hulle aan die HERE 'n offer kan bring, moet alles wat hy daarvan aan die HERE gee, heilig wees. Hy mag dit nie omwissel of omruil nie — 'n goeie vir 'n slegte of 'n slegte vir 'n goeie nie; maar as hy tog 'n dier vir 'n ander een omruil, moet dit en die geruilde heilig wees. En as dit enige onrein stuk vee is waarvan hulle aan die HERE geen offer mag bring nie, moet hy die dier voor die priester stel, en die priester moet dit skat of dit goed of sleg is; na jou skatting, priester, so sal dit wees. Maar as hy dit wil los, moet hy die vyfde deel daarvan bo jou skatting byvoeg.

LEVITIKUS 27:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die HERE het vir Moses gesê: “ Praat met die Israeliete en sê vir hulle, ‘Wanneer iemand 'n buitengewone gelofte aflê, en die loskoopwaarde van persone vir die HERE bereken word, moet die loskoopwaarde die volgende wees: 'n Manlike persoon van twintig tot sestig jaar se loskoopwaarde is vyftig sikkel silwer volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld. As dit 'n vroulike persoon is, is die loskoopwaarde dertig sikkel. As dit iemand van vyf tot twintig jaar is, is die loskoopwaarde van 'n manlike persoon twintig sikkel en van 'n vroulike persoon tien sikkel. As dit iemand van een maand tot vyf jaar is, is die loskoopwaarde van 'n manlike persoon vyf sikkel silwer en die loskoopwaarde van 'n vroulike persoon drie sikkel silwer. As dit iemand van sestig jaar en ouer is, is die loskoopwaarde vyftien sikkel as dit 'n manlike persoon is, en tien sikkel as dit 'n vroulike persoon is. “ ‘As iemand te arm is vir die loskoopgeld, moet hy die persoon voor die priester bring. Die priester moet dan aan die persoon 'n loskoopwaarde toeken. In verhouding tot wat die een wat die gelofte afgelê het, kan bekostig, moet die priester 'n loskoopwaarde aan die persoon toeken. “ ‘ As dit gaan oor diere waarvan dele as 'n offer vir die HERE aangebied kan word, sal enige dier wat iemand vir die HERE gee, heilig wees. Die persoon mag dit nie vervang nie. Ja, hy mag dit nie omruil nie, nie 'n beter dier vir 'n slegter een, of 'n slegter dier vir 'n beter een nie. As hy wel 'n dier vir 'n ander omruil, dan is daardie dier en die geruilde een heilig. As dit enige •onrein dier is waarvan dele nie as 'n offer vir die HERE aangebied mag word nie, moet die persoon die dier voor die priester bring. Die priester moet daaraan 'n loskoopwaarde toeken, hoog of laag. Die loskoopwaarde sal dan wees soos wat die priester dit bepaal. As die persoon dit wel wil loskoop, moet hy een vyfde by die loskoopwaarde byvoeg.

LEVITIKUS 27:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: As 'n man 'n enkele gelofte maak, sal die persone volgens jou skatting vir die HERE wees. En jou skatting moet wees van 'n manlike van twintig jaar oud tot sestig jaar oud, ja, jou skatting moet vyftig sikkels silwer wees, volgens die sikkel van die heiligdom. En as dit 'n wyfie is, moet jou skatting dertig sikkels wees. En as dit van vyf jaar oud tot twintig jaar oud is, dan moet jou skatting van die manlike twintig sikkels wees, en vir die vroulike tien sikkels. En as dit van 'n maand oud tot vyf jaar oud is, moet jou skatting vir die manlike vyf sikkels silwer wees, en vir die vrou moet jou skatting drie sikkels silwer wees. En as dit van sestig jaar oud en ouer is; as dit 'n mannetjie is, moet jou skatting vyftien sikkels wees, en vir die vroulike tien sikkels. Maar as hy armer is as wat jy geskat het, moet hy hom voor die priester stel, en die priester moet hom skat; volgens sy vermoë sal die priester hom skat. En as dit 'n dier is waarvan 'n mens 'n offer aan die HERE bring, moet alles wat 'n mens daarvan aan die HERE gee, heilig wees. Hy mag dit nie verander of verander nie, 'n goeie vir 'n slegte of 'n slegte vir 'n goeie; en as hy enigsins dier vir dier verander, dan moet dit en die ruil daarvan heilig wees. En as dit 'n onrein dier is waarvan hulle nie 'n offer aan die HERE bring nie, moet hy die dier voor die priester bring. En die priester moet dit skat, of dit goed of sleg is; soos jy dit skat, wie die priester is, so moet dit wees. Maar as hy dit enigsins wil loskoop, moet hy 'n vyfde deel daarvan by jou skatting byvoeg.

LEVITIKUS 27:1-13 Die Boodskap (DB)

Die Here het deur Moses vir die Israeliete gesê: “As ’n persoon iemand anders aan die Here beloof het en hy wil sy gelofte nakom, maar hy wil eerder geld vir die Here gee as die persoon self, moet dit soos volg bereken word: vir ’n manspersoon tussen twintig en 60 jaar oud moet hy 50 stukke geld gee. Dit is volgens die bepaling van die dienaars by die tent hoeveel elke stuk werd is. Vir ’n vrou gee hy 30 stukke. Die afkoopprys vir iemand tussen vyf jaar en twintig jaar oud is twintig stukke vir ’n manspersoon en tien vir ’n meisie. Tussen ’n maand oud en vyf jaar oud is die bedrag vyf stukke vir die seuntjie en drie vir die dogtertjie. Die bedrag vir ’n man bo 60 is vyftien stukke en vir ’n vrou bo dieselfde ouderdom is dit tien stukke. “As die persoon wat die belofte gemaak het nie hierdie bedrag kan bekostig nie, moet hy die persoon wat hy aan God belowe het, na die dienaar by die tent toe vat. Hy sal dan ’n kleiner afkoopsom bepaal wat binne die vermoë is van die persoon wat die belofte gemaak het.” “As hy ’n dier wat geskik is om geoffer te word aan die Here beloof het, behoort dit geheel en al aan die Here. Hy mag nie die dier omruil met ’n ander dier of dit vervang met óf iets beters óf iets slegters nie. As hy tog wel probeer om een dier met ’n ander een om te ruil, sal sowel die plaasvervanger as die dier wat eerste belowe is, aan die Here behoort. As die dier wat vir die Here belowe is ’n dier is wat nie op die altaar geoffer mag word nie, moet die dier na die dienaar by die Here se tent gebring word om dit te waardeer. Hy bepaal die bedrag wat vir die dier betaal moet word, en daaroor word nie verder gekibbel nie. As die persoon wat die belofte gemaak het, die dier vir homself wil terugkoop, moet hy nog ’n vyfde byvoeg by die bedrag wat die dienaar gesê het.”

LEVITIKUS 27:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het vir Moses gesê: “Gee die volgende instruksies vir die Israeliete: Wanneer jy met ’n spesiale gelofte iemand aan die HERE gewy het en sy loskoopwaarde wil bepaal, moet die volgende skaal van waardes gebruik word. ’n Man tussen twintig en 60 jaar is 50 stukke silwer werd, ’n vrou van daardie selfde ouderdom is 30 stukke silwer werd. Iemand tussen vyf en twintig jaar oud is twintig stukke silwer werd en ’n dogter van daardie selfde ouderdom is tien stukke silwer werd. ’n Seun tussen die ouderdom van een maand en vyf jaar is vyf stukke silwer werd en ’n dogter van daardie ouderdom is drie stukke silwer werd. ’n Man ouer as 60 is vyftien stukke silwer werd en ’n vrou ouer as 60 is tien stukke silwer werd. As iemand so ’n gelofte gemaak het, maar nie kan bekostig om die afkoopsom te betaal nie, moet hy die persoon saamvat na die priester toe. Hy sal dan die bedrag bepaal. Hy sal dan die bedrag wat die priester bepaal het, betaal. “As jou gelofte gaan oor ’n rein dier, een wat aanvaarbaar is as ’n offer vir die HERE, dan word dit die HERE se eiendom. Die dier mag nooit geruil of vervang word met ’n ander een nie, nie ’n goeie vir ’n slegte dier nie en ook nie ’n slegte vir ’n goeie dier nie. As so ’n ruil wel gemaak word, word beide die oorspronklike en die dier wat geruil is, albei die Here se eiendom. “As jou gelofte gaan oor ’n onrein dier, een wat nie aanvaarbaar is as ’n offer vir die HERE nie, moet jy die dier na die priester toe bring. Hy sal die waarde van die dier bepaal en sy beslissing is finaal. As jy die dier wil loskoop, moet jy sy waarde soos deur die priester bepaal, plus twintig persent betaal.