JOSUA 7:1-23

JOSUA 7:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Israeliete het troueloos gehandel met die banoffer wat aan die Here behoort het. Akan seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag uit die Judastam, het van die goed wat aan die Here gewy was, gevat en daardeur het die toorn van die Here teen die Israeliete ontvlam. Josua het van Jerigo af manne gestuur na Ai toe, naby Bet-Awen, oos van Bet-El, en vir hulle gesê: “Gaan verken die land.” Die manne is toe weg en het Ai verken. Toe hulle by Josua terugkom, sê hulle vir hom: “Dit is nie nodig dat al die manskappe gaan nie. So twee of drie duisend man kan gaan en Ai inneem. Die manskappe hoef hulle nie almal daar te gaan moeg maak nie, daar is min mense in Ai.” Daar het toe omtrent drie duisend man daarheen opgetrek, maar hulle moes op die vlug slaan vir die mense van Ai, en dié het omtrent ses en dertig van hulle doodgemaak. Die mense van Ai het van die stadspoort af op hulle hakke gebly tot by die klipskeure en hulle daar teen die afdraand doodgemaak. Die volk se moed is gebreek, en Josua het sy klere geskeur en tot die aand toe met sy gesig in die grond gelê voor die ark van die Here, hy en die leiers van Israel. Hulle het stof op hulle koppe gegooi. Daarna het Josua gesê: “Ag, Here, waarom het U eintlik hierdie volk oor die Jordaan gebring? Om ons in die mag van die Amoriete oor te gee dat hulle ons kan uitroei? Het ons tog maar liewer oorkant die Jordaan gebly! Here, wat moet ek sê noudat Israel vir sy vyande moes vlug? Die Kanaäniete en al die inwoners van die land sal daarvan hoor en ons omsingel en alle gedagtenis aan ons uit die land uitroei! Wat sal U dán doen om die grootheid van u Naam te verseker?” Toe sê die Here vir Josua: “Staan op. Hoekom lê jy met jou gesig in die grond? Israel het gesondig en my verbond wat Ek hulle opgelê het, verbreek. Hulle het van die goed wat aan My gewy is, gevat, hulle het gesteel, hulle het gelieg en van die goed by hulle s'n gesit. Daarom kan die Israeliete nie teen hulle vyande staande bly nie; hulle vlug vir hulle vyande omdat hulle nou self mense geword het wat vernietig moet word. As julle nie al die gewyde goed tussen julle verwyder nie, sal Ek nie meer by julle bly nie. Staan op, reinig die volk, sê vir hulle: Reinig julle vir môre, want so sê die Here die God van Israel: Daar is gewyde goed tussen julle, Israel. Julle kan nie teen julle vyande staande bly as julle nie die gewyde goed tussen julle verwyder nie. Kom môre nader volgens julle stamme; die stam wat deur die Here aangewys word, moet volgens families nader kom, die familie wat deur die Here aangewys word, moet volgens gesinne nader kom, en die gesin wat deur die Here aangewys word, moet man vir man nader kom. Die man wat gevang word met die gewyde goed, moet verbrand word, hy en al sy mense, want hy het die verbond van die Here verbreek en 'n roekelose sonde in Israel begaan.” Josua het die môre vroeg opgestaan en Israel volgens stamme laat nader kom. Die stam Juda is aangewys. Toe hy die families uit Juda laat nader kom, is die Seragfamilie aangewys, en toe hy die Seragfamilie man vir man laat nader kom, is Sabdi aangewys. Toe hy die gesin van Sabdi man vir man laat nader kom, is Akan seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag uit die Judastam aangewys. Josua het vir Akan gesê: “My seun, gee tog aan die Here die God van Israel die eer wat Hom toekom en doen belydenis voor Hom. Sê my wat jy gedoen het, moet dit nie vir my wegsteek nie.” Toe sê Akan vir Josua: “Dit is waar. Ek het gesondig teen die Here die God van Israel. Wat ek gedoen het, is dit: ek het onder die buit pragtige klere uit Sinar gesien en ook sowat twee kilogram silwer en 'n staaf goud van meer as 'n halwe kilogram; ek wou dit baie graag hê en ek het dit gevat. Dit is in die grond in my tent begrawe. Die silwer is heel onder.” Josua het mense gestuur, en hulle het na die tent toe gehardloop en daar kry hulle toe die goed in Akan se tent, die silwer onder. Hulle het die goed uitgehaal en na Josua en al die Israeliete toe gebring. Toe hulle dit daar voor die Here uitskud

JOSUA 7:1-23 Bybel vir almal (ABA)

Die Israeliete was nie gehoorsaam aan die Here nie. Hulle was ontrou met die goed wat gewy was. Akan seun van Karmi seun van Sabdi seun van Serag was van die Juda-stam. Akan het van die goed gevat wat gewy was, en die Here het kwaad geword vir die Israeliete. Josua het mans gestuur van Jerigo na die stad Ai, naby die stad Bet-Awen, oos van die stad Bet-El. Josua het vir hulle gesê hulle moet gaan kyk hoe die plek is. Die mans het gegaan en hulle het gekyk hoe die stad Ai is. Hulle het teruggekom na Josua toe en vir hom gesê: “Jy moenie al die manne laat gaan nie, omtrent 2 000 of 3 000 manne is genoeg om Ai te oorwin. Daar is nie baie mense in Ai nie, jy moenie al die manne moeg maak nie.” Daar het toe omtrent 3 000 manne gegaan, maar die manne van Ai het hulle oorwin en hulle het weggevlug van die manne van Ai. Die manne van Ai het omtrent 36 Israeliete doodgemaak. Hulle het die Israeliete gevolg en gejaag van die poort van Ai tot by die klowe in die berge en hulle het die Israeliete doodgemaak toe hulle daar afgaan. Die Israeliete het moedeloos en baie bang geword. Josua het sy klere geskeur en hy het tot die aand voor die kis van die Here gaan lê met sy gesig teen die grond, hy en die leiers van Israel. Hulle het stof op hulle koppe gegooi. Josua het gebid en gevra: “Ag, Here, my Here, hoekom het U hierdie volk oor die Jordaan-rivier laat kom? Hoekom het U ons vir die Amoriete gegee sodat hulle ons almal kan doodmaak? Dit sou beter gewees het as ons anderkant die Jordaan-rivier gebly het. Asseblief, Here, wat kan ek nou sê? Die Israeliete het gevlug vir hulle vyande! Die Kanaäniete en die ander mense in die land sal hoor wat gebeur het, en hulle sal ons aanval en vang en ons doodmaak sodat niemand in die land sal onthou dat ons hier was nie. Wat sal U dan doen sodat mense kan aanhou om U te respekteer?” Toe sê die Here vir Josua: “Staan op, hoekom lê jy hier met jou gesig teen die grond? Die Israeliete het sonde gedoen, hulle het ook verkeerd gedoen teen my verbond wat Ek met hulle gemaak het. Hulle het van die gewyde goed gevat, hulle het dit gesteel en hulle het dit skelm by hulle eie goed gesit. Daarom kan die Israeliete nie teen hulle vyande veg nie, hulle sal weer verloor en vlug vir hulle vyande, want hulle is nou self gewy en hulle sal moet sterf. Julle moet die goed wegvat wat gewy is. As julle dit nie doen nie, dan sal Ek nie meer by julle wees nie. Jy moet opstaan en vir die volk sê: ‘Julle moet julleself wy vir môre, want die Here, die God van Israel, sê: “Julle het goed by julle wat gewy is, en julle sal nie teen julle vyande kan wen nie, julle moet eers die goed wegvat.” Julle moet môre-oggend nader kom, elke stam apart. Die Here sal 'n stam kies, en dan moet elke familie van daardie stam nader kom. Die Here sal 'n familie kies, en dan moet elke huisgesin van daardie familie nader kom. Die Here sal 'n huisgesin kies, en dan moet elke man in daardie huisgesin nader kom. Die Here sal wys wie is die man wat die gewyde goed gevat het, en dan moet julle hom verbrand, hom en al sy mense. Want hierdie man het verkeerd gedoen teen die verbond van die Here, hy het 'n dwase ding gedoen tussen die Israeliete.’ ” Josua het vroeg die oggend opgestaan en hy het die stamme van die Israeliete laat nader kom. Die Here het die Juda-stam gekies. Toe het hy die families van die Juda-stam laat nader kom, en die Here het die Serag-familie gekies. Uit die Serag-familie het die Here die huisgesin van Sabdi gekies. Toe het Josua die huisgesin van Sabdi laat nader kom, en die Here het vir Akan seun van Karmi seun van Sabdi gekies. Toe sê Josua vir Akan: “My seun, jy moet die Here, die God van Israel, respekteer. Jy moet Hom prys en sê dat Hy doen wat reg is. Sê asseblief vir my wat jy gedoen het, moenie dit vir my wegsteek nie.” Akan het geantwoord: “Ja, ek het sonde gedoen teen die Here, die God van Israel. Dit is wat ek gedoen het: Ek het tussen die goed wat ons gevat het, 'n mooi bo-kleed gesien uit die land Sinar, en ook 200 sikkels silwer en 'n staaf goud wat 50 sikkels weeg. Ek wou dit graag hê en ek het dit gevat. Ek het dit in my tent begrawe. Die silwer is onder al die ander goed.” Josua het mense gestuur en hulle het na die tent gehardloop. Daar kry hulle toe die goed wat in die tent begrawe is, die silwer was onder al die ander goed. Hulle het die goed uit die tent geneem en hulle het dit na Josua en al die Israeliete toe gebring. Hulle het dit daar voor die kis van die Here neergesit.

JOSUA 7:1-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MAAR die kinders van Israel het hulle vergryp aan die bangoed; want Agan, die seun van Karmi, die seun van Sabdi, die seun van Serag, van die stam van Juda, het van die bangoed geneem, sodat die toorn van die HERE ontvlam het teen die kinders van Israel. Daarop het Josua manne van Jérigo af gestuur na Ai wat by Bet-Awen lê, oostelik van Bet-el, en hy het met hulle gespreek en gesê: Trek op en verken die land; en die manne het opgetrek en Ai verken. Toe hulle by Josua terugkom, het hulle vir hom gesê: Al die manskappe hoef nie op te trek nie; omtrent tweeduisend man of omtrent drieduisend kan optrek, en hulle sal Ai verslaan; moenie al die manskappe met 'n tog daarheen vermoei nie, want hulle is daar maar min. So het daar dan van die manskappe omtrent drieduisend man daarnatoe opgetrek; maar hulle moes vlug voor die manne van Ai; en die manne van Ai het uit hulle omtrent ses-en-dertig man doodgeslaan en hulle agtervolg van die poort af tot by Sebárim en hulle verslaan op die afdraand; en die volk se hart het versmelt en soos water geword. Toe het Josua sy klere geskeur en met sy aangesig op die grond geval voor die ark van die HERE, tot die aand toe, hy en die oudstes van Israel, en hulle het stof op hul hoofde gegooi. En Josua het gesê: Ag, Here HERE, waarom het U hierdie volk ooit deur die Jordaan laat trek om ons oor te gee in die hand van die Amoriete, sodat hulle ons kan vernietig? Het ons tog maar besluit om oorkant die Jordaan te bly! Ag Here, wat sal ek sê nadat Israel vir sy vyande die rug gegee het? En as die Kanaäniete en al die inwoners van die land dit hoor, sal hulle ons omsingel en ons naam van die aarde af uitroei; wat sal U dan vir u grote Naam doen? Toe sê die HERE aan Josua: Staan op; waarom tog lê jy op jou aangesig? Israel het gesondig en het ook my verbond oortree wat Ek hulle opgelê het, en ook geneem van die bangoed en ook gesteel en dit selfs heimlik by hulle goed gevoeg. En die kinders van Israel sal nie kan standhou voor hulle vyande nie; hulle sal hul vyande die rug gee, omdat hulle self 'n ban geword het. Ek sal nie meer met julle wees tensy julle die ban onder julle uit verdelg nie. Staan op! Heilig die volk en sê: Heilig julleself teen môre; want so sê die HERE, die God van Israel: Daar is 'n ban in jou midde, Israel! Jy sal nie kan standhou voor jou vyande totdat julle die ban onder julle uit verwyder het nie. Kom dan môre vroeg aan volgens julle stamme; en die stam wat die HERE deur die lot aanwys, moet aankom volgens die geslagte; en die geslag wat die HERE aanwys, moet aankom volgens die huisgesinne, en die huisgesin wat die HERE aanwys, moet aankom man vir man. En hy wat in besit van die bangoed aangewys is, moet met vuur verbrand word, hy met alles wat aan hom behoort, omdat hy die verbond van die HERE oortree en 'n skanddaad in Israel begaan het. En Josua het vroeg in die môre klaargemaak en Israel laat aankom volgens sy stamme; en die stam van Juda is aangewys. Toe hy die geslagte van Juda laat aankom, het die lot die geslag van die Sargiete aangewys; toe hy die geslag van die Sargiete laat aankom man vir man, is Sabdi aangewys; toe hy sy huisgesin man vir man laat aankom, is Agan, die seun van Karmi, die seun van Sabdi, die seun van Serag, van die stam van Juda, aangewys. Toe sê Josua vir Agan: My seun, maak tog die HERE, die God van Israel, heerlik en gee Hom die eer; en gee my tog te kenne wat jy gedoen het; steek dit nie vir my weg nie. Toe het Agan Josua geantwoord en gesê: Waarlik, ek het gesondig teen die HERE, die God van Israel, en so en so het ek gedoen. Ek het naamlik een mooi mantel uit Sínear by die buitgoed gesien en tweehonderd sikkels silwer en een goudstaaf van vyftig sikkels in gewig, en ek het dit begeer en dit geneem; en kyk, daar lê dit begrawe in die grond binne-in my tent, en die silwer daaronder. Toe Josua dan boodskappers stuur en hulle na die tent loop, lê dit daar begrawe in sy tent, en die silwer daaronder. En hulle het dit uit die tent uitgehaal en dit na Josua en al die kinders van Israel gebring en dit voor die aangesig van die HERE uitgeskud.

JOSUA 7:1-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die Israeliete het egter 'n daad van ontrou begaan met die bangoed. Agan, seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag, van die stam van Juda, het van die bangoed gevat; en die toorn van die HERE het teen die Israeliete ontbrand. Josua het manne uit Jerigo na Ai gestuur, wat by Bet-Awen, oos van Bet-El, lê. Hy het vir hulle gesê: “Trek op, verken die land.” Die manne het opgetrek en Ai verken. Hulle het na Josua teruggekom en gesê: “Nie al die manskappe moet optrek nie. Ongeveer twee- of drieduisend man kan optrek; hulle sal Ai verslaan. Moenie al die manskappe die moeite aandoen om hulle daarheen te stuur nie, want daar is maar min mense.” Ongeveer drieduisend van die manskappe het daarheen opgetrek, maar hulle het gevlug voor die manne van Ai. Die manne van Ai het ongeveer ses-en-dertig van hulle neergevel. Hulle het hulle van voor die stadspoort af tot by Sebarím agtervolg en hulle teen die hang neergevel. Die harte van die manskappe het ineengekrimp en soos water geword. Josua het sy klere geskeur en tot die aand toe met sy gesig teen die grond neergebuig voor die ark van die HERE – hy en die oudstes van Israel. Hulle het stof op hulle koppe gestrooi. Josua het gesê: “Ag, HERE, my Heer, waarom het U hierdie volk ooit deur die Jordaan laat trek om ons in die hande van die Amoriete oor te gee, om ons te vernietig? Was ons maar liewer bereid om oorkant die Jordaan te bly! Asseblief, my Heer! Wat moet ek sê nadat Israel voor sy vyande gevlug het? Die Kanaäniete en al die inwoners van die land sal dit hoor, ons omsingel en ons naam van die aarde af uitroei . Wat sal U dan doen vir u groot Naam? ” Die HERE het Josua geantwoord: “Staan op! Waarom lê jy nou op jou gesig? Israel het gesondig. Hulle het my verbond wat Ek hulle beveel het, oortree, asook van die bangoed geneem, dit gesteel en daaroor gelieg, en dit boonop by hulle goed gevoeg. Die Israeliete sal nie kan standhou voor hulle vyande nie; hulle moet voor hulle vyande vlug, omdat hulle self bangoed geword het. Ek sal nie meer met julle wees nie, tensy julle die bangoed tussen julle uitdelg. Staan op, heilig die volk en sê, ‘Heilig julleself teen môre, want so het die HERE, die God van Israel, gesê: “Bangoed is in jou midde, Israel. Jy sal nie standhou voor jou vyande nie, totdat julle die bangoed uit julle midde verwyder het.” Kom môreoggend nader volgens julle stamme. Die stam wat die HERE uitwys, moet volgens familiegroepe nader kom, en die familiegroep wat die HERE uitwys, moet volgens families nader kom, en die familie wat die HERE uitwys, moet man vir man nader kom. Die een wat met die bangoed uitgewys word, moet verbrand word, hy met alles wat aan hom behoort, omdat hy die verbond van die HERE oortree en heiligskennis gepleeg het in Israel.’ ” Josua het vroeg die môre opgestaan en Israel volgens hulle stamme laat nader kom. Die stam van Juda is toe uitgewys. Hy het die familiegroepe van Juda laat nader kom, en die familiegroep van Serag is uitgewys. Daarna het hy die familiegroep van Serag man vir man laat nader kom, en Sabdi is uitgewys. Toe het hy Sabdi se familie man vir man laat nader kom, en Agan, die seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag, van die stam van Juda, is uitgewys. Josua sê toe vir Agan: “My seun, gee tog eer aan die HERE, die God van Israel, en bring lof aan Hom. Vertel my tog wat jy gedoen het. Moenie vir my iets wegsteek nie.” Agan het Josua geantwoord en gesê: “Waarlik, dit is ek wat gesondig het teen die HERE, die God van Israel. Dit is wat ek gedoen het: Ek het onder die buit een mooi koningsmantel uit Sinar, tweehonderd sikkel silwer en een staaf goud wat vyftig sikkel weeg, gesien. Ek het dit begeer en dit gevat. Kyk, dit is weggesteek in die grond, binne-in my tent. Die silwer is heel onder.” Josua het toe boodskappers gestuur. Hulle het na die tent gehardloop, en sowaar, dit was weggesteek in die tent met die silwer heel onder. Hulle het dit uit die tent gehaal en na Josua en al die Israeliete gebring. Hulle het dit voor die HERE uitgeskud.

JOSUA 7:1-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Maar die kinders van Israel het 'n oortreding begaan in die bangoed; want Akan, die seun van Karmi, die seun van Sabdi, die seun van Serag, uit die stam van Juda, het van die bangoed geneem, en die toorn van die HERE was aangesteek teen die kinders van Israel. En Josua het manne van Jérigo na Ai gestuur wat langs Bet-Aven is, aan die oostekant van Bet-el, en met hulle gespreek en gesê: Trek op en bekyk die land. En die manne het opgegaan en Ai bekyk. En hulle het na Josua teruggekeer en vir hom gesê: Laat die hele volk nie optrek nie; maar laat omtrent twee of drie duisend man optrek en Ai verslaan; en laat die hele volk nie daar werk nie; want hulle is maar min. En daar het van die volk omtrent drie duisend man daarheen opgetrek, en hulle het voor die manne van Ai gevlug. En die manne van Ai het omtrent ses-en-dertig man van hulle verslaan, want hulle het hulle van voor die poort af tot by Sebarim gejaag en hulle in die afgang verslaan; daarom het die harte van die volk gesmelt en soos water geword. En Josua het sy klere geskeur en op sy aangesig op die aarde neergeval voor die ark van die HERE tot die aand toe, hy en die oudstes van Israel, en stof op hulle koppe gegooi. Toe sê Josua: Ag, HERE HERE, waarom het U hierdie volk enigsins oor die Jordaan gebring om ons in die hand van die Amoriete te gee om ons te vernietig? sou ons tot God tevrede gewees het en aan die oorkant van die Jordaan gewoon het! O HERE, wat sal ek sê as Israel hulle rug keer voor hulle vyande! Want die Kanaäniete en al die inwoners van die land sal daarvan hoor en ons omsingel en ons naam van die aarde af uitroei; en wat sal U aan u groot Naam doen? Toe sê die HERE vir Josua: Staan op; waarom lê jy so op jou aangesig? Israel het gesondig, en hulle het ook my verbond wat Ek hulle beveel het, oortree; want hulle het selfs van die bangoed geneem en ook gesteel en ook verskrik, en hulle het dit onder hulle eie goed gesit. Daarom kon die kinders van Israel nie voor hulle vyande standhou nie, maar hulle het hulle rug voor hulle vyande gedraai, omdat hulle vervloek was; en Ek sal nie meer met julle wees as julle nie die vervloektes uit julle midde vernietig nie. Staan op, heilig die volk en sê: Heilig julle teen môre, want so sê die HERE, die God van Israel: Daar is 'n vervloekte ding in jou, o Israel; jy kan nie voor jou vyande standhou totdat jy wegneem nie en die vervloekte uit julle midde. Daarom moet julle in die môre gebring word volgens julle stamme; en die stam wat die HERE aanneem, moet kom volgens sy geslagte; en die geslag wat die HERE sal aanneem, sal volgens huisgesinne kom; en die huisgesin wat die HERE sal neem, sal man vir man kom. En hy wat met die bangoed geneem is, moet met vuur verbrand word, hy en alles wat hy het, omdat hy die verbond van die HERE oortree het en omdat hy dwaasheid in Israel gedoen het. Daarop het Josua die môre vroeg opgestaan en Israel volgens hulle stamme gebring; en die stam van Juda is ingeneem. En hy het die geslag van Juda gebring; en hy het die geslag van die Sargiete geneem; en hy het die geslag van die Sargiete man vir man gebring; en Sabdi is geneem: En hy het sy huisgesin man vir man gebring; en Akan, die seun van Karmi, die seun van Sabdi, die seun van Serag, uit die stam van Juda, is geneem. Toe sê Josua vir Akan: My seun, gee tog eer aan die HERE, die God van Israel, en bely aan Hom; en vertel my nou wat jy gedoen het; verberg dit nie vir my nie. En Akan het Josua geantwoord en gesê: Waarlik, ek het gesondig teen die HERE, die God van Israel, en so en so het ek gedoen: Toe ek onder die buit 'n mooi Babiloniese kleed sien en twee honderd sikkels silwer en 'n goudwig van vyftig sikkels gewig, het ek dit begeer en dit geneem; en kyk, hulle is verborge in die aarde in die middel van my tent, en die silwer daaronder. Daarop het Josua boodskappers gestuur, en hulle het na die tent gehardloop; en kyk, dit was weggesteek in sy tent, en die silwer daaronder. En hulle het dit uit die middel van die tent gehaal en dit na Josua en na al die kinders van Israel gebring en dit voor die aangesig van die HERE uitgelê.

JOSUA 7:1-23 Die Boodskap (DB)

Israel was ontrou aan die Here se bevel dat alles in Jerigo aan Hom geoffer moes word. ’n Man met die naam Akan het van die goed wat aan die Here geoffer moes word, vir homself gevat. Dit het die Here baie kwaad gemaak. Akan was die seun van Karmi en die kleinseun van Sabdi uit die familie van Serag wat deel was van die stam van Juda. Josua het van sy manne uit Jerigo uit na Ai toe gestuur, ’n stad oos van Bet-El, naby die dorp Bet-Awen, met die opdrag om die omgewing te gaan verken. Toe hulle dit gedoen het, het hulle teruggekom en vir Josua gesê: “Ai is maar ’n klein dorpie met min soldate. Dit is nie nodig om die hele leër te vat om hierdie dorpie in te neem nie; 2 000 of 3 000 soldate is genoeg.” Josua stuur toe omtrent 3 000 soldate om Ai aan te val, maar hulle het hulle teen die soldate van Ai vasgeloop en moes op die vlug slaan. Die soldate van Ai het hulle van die stadshekke af agtervolg tot by die steengroewe. Daar het hulle teen die afdraande omtrent 36 soldate doodgemaak. Dit het die volk se moed gebreek en hulle baie bang gemaak. Josua en die leiers van die volk het hulle klere geskeur en met hulle gesig in die grond voor die verbondsark van die Here gaan lê. Hulle het tot die aand toe daar gelê met stof op hulle kop om hulle hartseer te wys. Toe sê Josua: “Ag, Here, hoekom het U ons oor die Jordaan laat trek, net om ons in die mag van die Amoriete oor te gee dat hulle ons kan uitroei? Het ons tog maar liewer aan die ander kant van die Jordaan gebly! Here, wat moet ek sê noudat Israel vir sy vyande moes vlug? Want as die Kanaäniete en al die ander inwoners van die land dit hoor, sal hulle ons omsingel en ons totaal uitroei! Wat word dan van die eer en ontsag wat U toekom?” Toe sê die Here vir Josua: “Staan op! Hoekom lê jy so met jou gesig in die grond? Israel het sonde gedoen! Hulle het die ooreenkoms verbreek wat Ek met hulle gemaak het. Hulle het van die goed wat vir My opsy gesit is, vir hulleself gevat. Hulle het My besteel! Dit is die rede hoekom die Israeliete nou nie hulle vyande kan wen nie. Hulle moet voor hulle uit vlug omdat hulle self nou deel geword het van die oorlogsbuit wat vernietig moet word. Ek gaan julle alleen los, tensy julle al die goed wat aan My geoffer moes word, teruggee en dit vernietig. Staan op! Beveel die mense om hulleself te reinig en hulleself gereed te maak om môre voor My te verskyn. Want dit is wat Ek, die Here, die God van Israel te sê het: Julle het van die goed by julle wat Ek julle beveel het om te vernietig. Julle sal nie weerstand kan bied teen julle vyande tensy julle van hierdie goed ontslae raak nie! “Môre moet julle in julle stamverband aantree. Die Here sal die stam uitwys waaraan die skuldige persoon behoort. Daardie stam moet dan aantree volgens familiegroepe en die Here sal die skuldige familiegroep uitwys. Uit hierdie familiegroepe sal die Here dan die skuldige gesin aanwys. Daarna moet die lede van die gesin een vir een na vore kom. Die een wat dan uitgewys word as die een wat van die goed gevat het wat aan die Here behoort, moet met vuur verbrand word: hy, sy gesin en al sy besittings, want hy het ’n skandelike ding gedoen. Hy het my ooreenkoms met Israel verbreek.” Die volgende môre vroeg het Josua die Israeliete in stamverband laat aantree. Toe is die stam van Juda uitgewys. Uit die stam van Juda is die familiegroep van Serag aangewys. Uit hierdie familiegroep is die gesin van Sabdi uitgekies. Toe hy die gesin van Sabdi een vir een laat verbykom, is Akan die seun van Karmi, die kleinseun van Sabdi, as die skuldige aangewys. Toe sê Josua vir Akan: “My seun, gee tog aan die Here die God van Israel die eer wat Hom toekom en bely jou skuld voor Hom. Sê vir my wat jy gedoen het. Moenie iets vir my probeer wegsteek nie.” “Dis waar,” het Akan gesê. “Ek het teen die Here, Israel se God, gesondig. Ek het onder die buit in Jerigo ’n pragtige mantel uit Babilonië gesien en ook sowat twee kilogram silwer en ’n staaf goud van meer as ’n halwe kilogram. Ek wou dit bitter graag gehad het. Daarom het ek dit maar vir my gevat. Ek het dit in my tent begrawe. Die silwer is dieper as die ander goed begrawe.” Josua het mense gestuur om te gaan kyk of dit so is. Hulle is haastig na die tent toe. Daar aangekom, kry hulle alles net so daar begrawe, met die silwer heel onder. Hulle het al die goed uit die tent gehaal en dit na Josua en die Israeliete toe gebring. Daar by die heiligdom het hulle die goed voor die Here op die grond uitgeskud.

JOSUA 7:1-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Israeliete het kwaad gedoen. Hulle het nie met die ban gemaak soos die Here vir hulle gesê het nie. Akan, die seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag uit die stam Juda, het van die goed gevat wat deur die ban aan die HERE gewy moes wees. Die HERE het toe kwaad geword vir die Israeliete. Josua het manskappe van Jerigo af na Ai toe uitgestuur. Ai was naby Bet-Awen en oos van Bet-El. Hy het vir hulle gesê: “Gaan en verken die land.” Die mans het toe Ai gaan verken. Hulle het teruggekom en aan Josua rapporteer: “Die hele volk hoef nie daarteen op te trek nie. Daar hoef net so 2 000 of 3 000 man soontoe te gaan. Hulle sal Ai kan inneem. Dit is maar ’n klein plekkie.” Ongeveer 3 000 mans het toe daarheen opgetrek. Hulle moes egter vlug voor die mense van Ai. Die mense van Ai het die Israeliete van die poort van die stad af agternagesit en hulle gejaag tot by die klipskeure waar hulle omtrent 36 van hulle teen die skuinste doodgemaak het. Die volk se moed het in hulle skoene gesak. Josua het sy klere geskeur. Hy het voor die ark van die HERE op die grond neergeval en daar bly lê tot die aand toe. Hy en die leiers van Israel het stof oor hulle koppe gestrooi. Josua het toe gehuil: “Ag, oppermagtige HERE, waarom het U hierdie volk oor die Jordaan laat kom om ons in die mag van die Amoriete oor te gee dat hulle ons kan vernietig? As ons tog maar liewer aan die ander kant van die Jordaan gebly het! HERE, wat kan ek nou sê nadat Israel vir sy vyande moes vlug? Wanneer die Kanaäniete en almal wat in die land woon daarvan hoor, gaan hulle ons omsingel en ons van die aarde af verdelg. Wat sal dan van u eervolle Naam word?” Die HERE sê toe vir Josua: “Staan op. Hoekom lê jy daar op die grond? Israel het oortree. Hulle het my ooreenkoms verbreek wat Ek met hulle gemaak het. Hulle het van die goed van die ban gevat. Hulle het daarvan gesteel. Hulle het daaroor gelieg en dit by hulle goed gaan wegsteek. Die Israeliete sal nie weerstand kan bied teen hulle vyande nie. Hulle sal moet vlug vir hulle vyande, want hulle het nou self ’n banvloek geword wat vernietig moet word. “Ek sal nie langer by julle bly as julle nie alles tussen julle vernietig wat onder die ban staan nie. Staan op! Laat die volk hulle reinig en toewy aan God. Sê vir hulle: ‘Kry julle reg vir môre. Die HERE die God van Israel sê: Daar is nog van die goed van die ban onder julle, Israel. Julle sal nie teen julle vyande opgewasse wees solank julle dit nie onder julle verwyder het nie. “‘Julle moet môre-oggend volgens julle stamme kom aanmeld. Die HERE sal die skuldige stam uitwys. Daardie stam wat deur die HERE aangewys word, moet met sy families naderkom sodat die HERE die skuldige familie onder hulle kan uitwys. Hulle moet weer volgens hulle gesinne een vir een naderkom dat die HERE die gesin kan aanwys. Die man wat met die bangoed in sy besit gevang word, moet met vuur verbrand word, saam met al sy mense. Hy het die ooreenkoms met die HERE verbreek. Hy het iets skandeliks in Israel aangevang.’” Josua het die volgende oggend vroeg opgestaan. Hy het Israel volgens sy stamme voor die HERE laat kom. Die stam van Juda is aangewys. Hy het die families uit Juda laat naderstaan en die Seragfamilie is uitgewys. Hy het toe die Seragfamilie laat naderkom. Sabdi is uitgewys. Toe hy die gesinne van Sabdi een vir een laat naderkom, is Akan, die seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag, uit die stam van Juda, uitgewys. Josua het toe vir Akan gesê: “My seun, erken die almag van die HERE die God van Israel. Bely jou skuld voor Hom. Sê vir my wat jy gedoen het. Moenie iets vir my wegsteek nie.” Toe sê Akan vir Josua: “Dit is waar. Ek het teen die HERE die God van Israel oortree. Dit is wat ek gedoen het: Ek het tussen die buit pragtige klere uit Sinar gesien en ook silwer van ongeveer twee kilogram en ’n stuk goud van meer as ’n halwe kilogram. Ek het dit begeer en toe vir myself gevat. Dit is in die grond in my tent weggesteek. Die silwer lê onder.” Josua het toe mense gestuur. Hulle het na die tent toe gehardloop. Daar kry hulle toe alles weggesteek in die tent, met die silwer heel onder. Hulle het dit uit die tent uitgehaal en dit vir Josua en al die Israeliete gebring. Hulle het dit daar voor die HERE neergesit.