Josua 7:1-23

Josua 7:1-23 AFR20

Die Israeliete het egter 'n daad van ontrou begaan met die bangoed. Agan, seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag, van die stam van Juda, het van die bangoed gevat; en die toorn van die HERE het teen die Israeliete ontbrand. Josua het manne uit Jerigo na Ai gestuur, wat by Bet-Awen, oos van Bet-El, lê. Hy het vir hulle gesê: “Trek op, verken die land.” Die manne het opgetrek en Ai verken. Hulle het na Josua teruggekom en gesê: “Nie al die manskappe moet optrek nie. Ongeveer twee- of drieduisend man kan optrek; hulle sal Ai verslaan. Moenie al die manskappe die moeite aandoen om hulle daarheen te stuur nie, want daar is maar min mense.” Ongeveer drieduisend van die manskappe het daarheen opgetrek, maar hulle het gevlug voor die manne van Ai. Die manne van Ai het ongeveer ses-en-dertig van hulle neergevel. Hulle het hulle van voor die stadspoort af tot by Sebarím agtervolg en hulle teen die hang neergevel. Die harte van die manskappe het ineengekrimp en soos water geword. Josua het sy klere geskeur en tot die aand toe met sy gesig teen die grond neergebuig voor die ark van die HERE – hy en die oudstes van Israel. Hulle het stof op hulle koppe gestrooi. Josua het gesê: “Ag, HERE, my Heer, waarom het U hierdie volk ooit deur die Jordaan laat trek om ons in die hande van die Amoriete oor te gee, om ons te vernietig? Was ons maar liewer bereid om oorkant die Jordaan te bly! Asseblief, my Heer! Wat moet ek sê nadat Israel voor sy vyande gevlug het? Die Kanaäniete en al die inwoners van die land sal dit hoor, ons omsingel en ons naam van die aarde af uitroei . Wat sal U dan doen vir u groot Naam? ” Die HERE het Josua geantwoord: “Staan op! Waarom lê jy nou op jou gesig? Israel het gesondig. Hulle het my verbond wat Ek hulle beveel het, oortree, asook van die bangoed geneem, dit gesteel en daaroor gelieg, en dit boonop by hulle goed gevoeg. Die Israeliete sal nie kan standhou voor hulle vyande nie; hulle moet voor hulle vyande vlug, omdat hulle self bangoed geword het. Ek sal nie meer met julle wees nie, tensy julle die bangoed tussen julle uitdelg. Staan op, heilig die volk en sê, ‘Heilig julleself teen môre, want so het die HERE, die God van Israel, gesê: “Bangoed is in jou midde, Israel. Jy sal nie standhou voor jou vyande nie, totdat julle die bangoed uit julle midde verwyder het.” Kom môreoggend nader volgens julle stamme. Die stam wat die HERE uitwys, moet volgens familiegroepe nader kom, en die familiegroep wat die HERE uitwys, moet volgens families nader kom, en die familie wat die HERE uitwys, moet man vir man nader kom. Die een wat met die bangoed uitgewys word, moet verbrand word, hy met alles wat aan hom behoort, omdat hy die verbond van die HERE oortree en heiligskennis gepleeg het in Israel.’ ” Josua het vroeg die môre opgestaan en Israel volgens hulle stamme laat nader kom. Die stam van Juda is toe uitgewys. Hy het die familiegroepe van Juda laat nader kom, en die familiegroep van Serag is uitgewys. Daarna het hy die familiegroep van Serag man vir man laat nader kom, en Sabdi is uitgewys. Toe het hy Sabdi se familie man vir man laat nader kom, en Agan, die seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag, van die stam van Juda, is uitgewys. Josua sê toe vir Agan: “My seun, gee tog eer aan die HERE, die God van Israel, en bring lof aan Hom. Vertel my tog wat jy gedoen het. Moenie vir my iets wegsteek nie.” Agan het Josua geantwoord en gesê: “Waarlik, dit is ek wat gesondig het teen die HERE, die God van Israel. Dit is wat ek gedoen het: Ek het onder die buit een mooi koningsmantel uit Sinar, tweehonderd sikkel silwer en een staaf goud wat vyftig sikkel weeg, gesien. Ek het dit begeer en dit gevat. Kyk, dit is weggesteek in die grond, binne-in my tent. Die silwer is heel onder.” Josua het toe boodskappers gestuur. Hulle het na die tent gehardloop, en sowaar, dit was weggesteek in die tent met die silwer heel onder. Hulle het dit uit die tent gehaal en na Josua en al die Israeliete gebring. Hulle het dit voor die HERE uitgeskud.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Josua 7:1-23