JOSUA 6:22-25
JOSUA 6:22-25 Die Boodskap (DB)
Toe het Josua vir die twee mans wat die land moes verken, gesê: “Kom julle belofte na. Gaan na die prostituut se huis toe en bring haar en al haar mense uit.” Die mans het toe vir Ragab, haar pa, haar ma, haar broers en susters en al haar ander familielede wat by haar was, uit die stad gelei en hulle na ’n veilige plek naby die Israeliete se kamp toe gebring. Toe het hulle die stad met alles wat daarin was, tot op die grond afgebrand. Net die artikels van goud, silwer, brons en yster is uitgehou vir die skatkis in die Here se huis. Maar Josua het Ragab die prostituut en al haar familie wat by haar was laat leef, omdat sy die spioene wat hy gestuur het om Jerigo te verken weggesteek het. Haar nageslag is nou nog deel van Israel.
JOSUA 6:22-25 Bybel vir almal (ABA)
Josua het vir die twee mans wat gaan kyk het hoe die land is, gesê: “Gaan na die huis van die prostituut en bring haar en al haar mense uit. Doen dit, want julle het dit vir haar belowe.” Die jongmanne wat gaan kyk het hoe die land is, het gegaan en hulle het vir Ragab, haar ouers, haar broers en al haar mense, haar hele familie, uitgebring. Die jongmanne het hulle buite die kamp van die Israeliete laat bly. Die manne het die stad en alles wat daarin was, verbrand. Hulle het net die silwer en die goud en die goed van brons en yster in die stoorkamer van die tempel gesit. Josua het vir Ragab en haar familie, al haar mense, laat aanhou lewe. Sy het tussen die Israeliete gewoon, en haar nageslag woon nou nog hier, want sy het die boodskappers weggesteek wat Josua gestuur het om te kyk hoe die land is.
JOSUA 6:22-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En aan die twee manne wat die land verken het, het Josua gesê: Gaan in die huis van die hoer, en bring die vrou en almal wat aan haar behoort, daaruit, soos julle vir haar gesweer het. Die jongmanne, die spioene, het toe ingegaan en Ragab met haar vader en haar moeder en haar broers en almal wat aan haar behoort het uitgebring — al haar familiebetrekkinge het hulle uitgebring en hulle buitekant die laer van Israel laat bly. En die stad met alles wat daarin was, het hulle met vuur verbrand; net die silwer en die goud en die koper — en ystervoorwerpe het hulle by die skat van die huis van die HERE gevoeg. Maar Josua het Ragab, die hoer, laat lewe en haar familie en almal wat aan haar behoort het; sodat sy onder Israel gewoon het tot vandag toe, omdat sy die boodskappers weggesteek het wat Josua gestuur het om Jérigo te verken.
JOSUA 6:22-25 Afrikaans 1983 (AFR83)
Vir die twee manne wat die land moes verken, het Josua gesê: “Gaan na die huis van die prostituut toe en bring die vrou en al haar mense uit soos julle haar met 'n eed beloof het.” Die verkenners het toe gegaan en vir Ragab, haar pa en ma, haar broers en al haar mense, haar hele familie, uitgebring en vir hulle 'n plek buite die kamp van Israel ingerig. Die stad met alles daarin is verbrand, net die silwer en goud en die brons- en ystergoed is in die skatkis van die huis van die Here gesit. Josua het die prostituut Ragab en haar familie, al haar mense, laat lewe. Sy het tussen die Israeliete gewoon, en haar nageslag woon nou nog hier, omdat sy die manne vir wie Josua gestuur het om Jerigo te verken, weggesteek het.
JOSUA 6:22-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Vir die twee manne wat die land verken het, het Josua gesê: “Gaan na die huis van die prostituut. Bring die vrou en al haar mense uit, soos julle haar met 'n eed beloof het.” Die jong manne wat die verkenners was, het toe gegaan en Ragab, haar vader en moeder, haar broers en almal wat by haar hoort, na buite gebring. Haar hele familiegroep het hulle na buite gebring en hulle buite die kamp van Israel laat bly. Die stad en alles wat daarin was, het hulle afgebrand. Net die silwer, die goud en voorwerpe van brons en yster het hulle oorhandig vir die skatkamer van die huis van die HERE. Maar vir Ragab, die prostituut, en haar familie – almal wat by haar hoort – het Josua laat leef. Sy het in Israel bly woon tot vandag toe, omdat sy die boodskappers wat Josua gestuur het om Jerigo te verken, versteek het.
JOSUA 6:22-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar Josua het aan die twee manne wat die land verken het, gesê: Gaan in die huis van die hoer en bring die vrou en alles wat sy het, daarvandaan uit, soos julle aan haar gesweer het. En die jongmanne wat spioene was, het ingegaan en Ragab en haar vader en haar moeder en haar broers en alles wat sy gehad het, uitgelei; en hulle het al haar geslagte uitgebring en hulle buitekant die laer van Israel agtergelaat. En hulle het die stad met vuur verbrand en alles wat daarin was: net die silwer en die goud en die koper- en ystervoorwerpe het hulle in die skatkamer van die huis van die HERE gesit. En Josua het Ragab, die hoer, en haar vader se huisgesin en alles wat sy gehad het, in die lewe gebring; en sy het in Israel gewoon tot vandag toe; omdat sy die boodskappers versteek het wat Josua gestuur het om Jerigo te verken.
JOSUA 6:22-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Josua het vir die twee mans wat die land kom verken het, gesê: “Gaan na die prostituut se huis toe en bring die vrou met almal wat by haar is daar uit, soos julle haar beloof het.” Die twee verkenners het gegaan en vir Ragab, haar pa en ma, haar broers en hulle gesinne en haar familie uitgebring. Die mans het hulle na ’n veilige plek buite die kamp van Israel gebring. Hulle het die stad met alles wat daarin was, verbrand. Die goed wat van silwer en goud gemaak was en die brons- en ystergoed het hulle egter in die skatkis van die HERE se heiligdom gaan sit. So het Josua die prostituut Ragab en haar familie wat saam met haar in die huis was, laat bly leef. Sy het haar tussen die Israeliete gevestig tot vandag toe. Sy het die mans wat Josua gestuur het om Jerigo te gaan verken, weggesteek.