JOSUA 20:1-6
JOSUA 20:1-6 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het vir Josua gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê: Julle moet nou sê watter stede moet asielstede wees. Ek het vir Moses gestuur om dit vir julle te sê. Wanneer iemand 'n ander persoon doodgemaak het, maar dit was 'n ongeluk, hy wou dit nie doen nie, dan mag hy na 'n asielstad vlug. Die naaste familielid van die persoon wat dood is, mag nie die man doodmaak wat na die asielstad gevlug het nie. Wanneer so iemand vlug na een van hierdie asielstede, dan moet hy by die ingang van die stad se poort gaan staan en hy moet vir die leiers van die stad sê wat gebeur het. Hulle moet hom dan laat inkom in die stad en hulle moet vir hom 'n woonplek by hulle gee. As die naaste familielid van die persoon wat dood is, die man volg en jaag wat die persoon doodgemaak het, dan mag die leiers van die stad nie die man vir hulle gee nie, want hy wou nie die persoon doodmaak nie en hulle was nie voor die tyd vyande nie. Maar hy moet in daardie stad bly totdat die volksvergadering kan besluit of hy skuldig is of nie. As hy nie skuldig is nie, dan moet hy daar bly totdat die hoëpriester van daardie tyd gesterf het. Daarna mag hy teruggaan na sy eie stad, na sy huis in die stad waar hy gewoon het voordat hy gevlug het.”
JOSUA 20:1-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN die HERE het met Josua gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê: Wys die vrystede vir julle aan waarvan Ek deur die diens van Moses met julle gespreek het, dat hy wat 'n doodslag begaan het — wat per ongeluk, sonder opset, 'n mens doodgeslaan het, daarheen kan vlug, sodat dié vir julle kan dien as toevlugsoord vanweë die bloedwreker. As hy dan na een van hierdie stede toe vlug en gaan staan by die ingang van die stadspoort en sy saak voor die ore van die oudstes van daardie stad meedeel, moet hulle hom by hulle in die stad opneem en aan hom plek gee, dat hy by hulle kan woon; en as die bloedwreker hom agternajaag, mag hulle hom wat die doodslag begaan het, nie aan hom uitlewer nie, omdat hy sy naaste sonder opset doodgeslaan het, sonder dat hy hom gister en eergister vyandig was; en hy moet in daardie stad bly totdat hy voor die vergadering tereggestaan het, tot op die dood van die hoëpriester wat in dié dae daar sal wees; dan mag hy wat die doodslag begaan het, weer na sy stad en sy huis terugkeer, na die stad waar hy vandaan gevlug het.
JOSUA 20:1-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here het vir Josua gesê: “Sê vir die Israeliete: Julle moet nou die asielstede afstaan wat Ek julle deur Moses beveel het, sodat iemand wat onopsetlik en sonder voorbedagte rade die dood van 'n ander veroorsaak het, daarheen kan vlug om aan die wraak van 'n bloedverwant van die oorledene te ontkom. “Wanneer so iemand na een van dié stede toe vlug, moet hy by die ingang van die stadspoort gaan staan en sy saak stel aan die leiers van die stad. Hulle moet hom dan in die stad opneem en hom 'n woonplek by hulle gee. As die bloedverwant van die oorledene hom agtervolg, moet die leiers hom nie aan die bloedverwant uitlewer as hy onopsetlik die dood van 'n ander veroorsaak het en nie kwaadgesind teen hom was nie. Die vlugteling moet in die stad bly totdat hy voor die bevoegde vergadering tereggestaan het en totdat die hoëpriester van dié tyd dood is. Eers dan mag die persoon wat die dood veroorsaak het, vry teruggaan huis toe na die stad waar hy vandaan gevlug het.”
JOSUA 20:1-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE het met Josua gepraat en gesê: “ Praat met die Israeliete en sê, ‘Julle moet vir julleself die asielstede daarstel wat Ek vir julle by monde van Moses aangewys het, sodat iemand wat 'n lewe geneem het, wat 'n persoon onopsetlik, sonder voorbedagte rade, doodgeslaan het, daarheen kan vlug. Dit sal vir julle 'n toevlugsoord wees teen bloedwrekers. Iemand kan dan na een van hierdie stede vlug, en by die ingang van die stadspoort gaan staan en sy saak stel ten aanhore van die oudstes van daardie stad. Hulle moet hom by hulle in die stad opneem en vir hom 'n plek gee, sodat hy by hulle kan woon. As die bloedwreker hom agtervolg, mag hulle die een wat 'n lewe geneem het, nie aan hom uitlewer nie, omdat hy sy medemens sonder voorbedagte rade doodgeslaan het, sonder dat hy hom voorheen gehaat het. Hy moet in daardie stad bly totdat hy voor die volksvergadering verskyn het vir 'n beslissing, en daarna tot die dood van die hoëpriester wat in dié dae daar sal wees. Dan mag die een wat 'n lewe geneem het, terugkeer, teruggaan na sy dorp en sy huis, na die dorp waarvandaan hy gevlug het.’ ”
JOSUA 20:1-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die HERE het ook met Josua gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê: Stel vir julle vrystede uit waarvan ek deur die hand van Moses met julle gespreek het. Sodat die moordenaar wat iemand onwetend en onwetend doodmaak, daarheen kan vlug; en hulle sal vir julle 'n toevlug wees teen die bloedwreker. En wanneer hy wat na een van daardie stede vlug, by die ingang van die stadspoort gaan staan en sy saak voor die ore van die oudstes van daardie stad aankondig, moet hulle hom in die stad vir hulle inneem en gee vir hom 'n plek, dat hy onder hulle kan woon. En as die bloedwreker hom agtervolg, dan mag hulle die doodslagner nie in sy hand gee nie; omdat hy sy naaste onwetend geslaan het en hom nie tevore gehaat het nie. En hy moet in daardie stad woon totdat hy voor die vergadering staan vir oordeel en tot die dood van die hoëpriester wat in daardie dae sal wees, na die stad waaruit hy gevlug het.
JOSUA 20:1-6 Die Boodskap (DB)
Toe sê die Here vir Josua: “Sê vir die Israeliete: Kies nou vir julle ’n aantal stede wat bekend sal staan as toevlugstede. Ek het die opdrag hieroor al in Moses se tyd gegee. Die doel van hierdie stede is dat as iemand sonder opset iemand anders doodgemaak het, hulle daarheen kan vlug en daar beskerm kan word. Dan kan die familie van die persoon wat doodgemaak is, nie die ander persoon daar kom vang en doodmaak uit weerwraak nie. Wanneer iemand na so ’n stad toe vlug, moet hy eers by die leiers van die volk sy saak gaan stel. Hulle tree daar by die ingang van die stad as regters op. As hulle tevrede is, sal hulle die persoon toelaat om in die stad in te gaan en daar te gaan bly. As die familie van die persoon wat doodgemaak is daar aankom, moet die persoon nie aan hulle uitgelewer word nie. Hy moet beskerm word, aangesien die slagoffer per ongeluk, en nie uit woede of met voorbedagte rade nie, doodgemaak is. So ’n persoon moet in hierdie toevlugstad bly totdat hy in ’n openbare verhoor in die stad onskuldig verklaar is. Die persoon moet daarna in daardie stad bly totdat die hoëpriester van dié tyd dood is. Daarna mag die persoon as vry mens terugkeer huis toe.”
JOSUA 20:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE sê toe vir Josua: “Sê vir die Israeliete hulle moet besluit oor die asielstede waaroor Ek met Moses gepraat het. Iemand wat per ongeluk en sonder dat hy dit beplan het, iemand anders doodgemaak het, kan daarnatoe vlug. Dit sal vir hulle beskerming gee teen die wraak van ’n bloedverwant van die persoon wat dood is. “Iemand wat na een van hierdie stede toe vlug, moet by die stadspoort aanmeld om sy saak aan die leiers van die stad te stel. Hulle moet hom in die stad toelaat en hom by hulle laat bly. As die familielid van die een wat doodgemaak is, hom agtervolg, mag die leiers hom nie aan daardie persoon uitlewer nie. Hy het die persoon onopsetlik doodgemaak en nie uit kwaadwilligheid nie. Hy moet in daardie stad bly totdat sy saak verhoor is en hy onskuldig bevind is. Daarna moet hy in die stad aanbly tot die huidige hoëpriester dood is. Die persoon mag dan teruggaan na die stad en sy huis van waar af hy gevlug het.”