Josua 20

20
Asielstede
1Die Here het met Josua gepraat en gesê: 2“ Praat met die Israeliete en sê, ‘Julle moet vir julleself die asielstede daarstel wat Ek vir julle by monde van Moses aangewys het, 3sodat iemand wat 'n lewe geneem het, wat 'n persoon onopsetlik, sonder voorbedagte rade, doodgeslaan het, daarheen kan vlug. Dit sal vir julle 'n toevlugsoord wees teen bloedwrekers. 4Iemand kan dan na een van hierdie stede vlug, en by die ingang van die stadspoort gaan staan en sy saak stel ten aanhore van die oudstes van daardie stad. Hulle moet hom by hulle in die stad opneem en vir hom 'n plek gee, sodat hy by hulle kan woon. 5As die bloedwreker hom agtervolg, mag hulle die een wat 'n lewe geneem het, nie aan hom uitlewer nie, omdat hy sy medemens sonder voorbedagte rade doodgeslaan het, sonder dat hy hom voorheen gehaat het. 6Hy moet in daardie stad bly totdat hy voor die volksvergadering verskyn het vir 'n beslissing, en daarna tot die dood van die hoëpriester wat in dié dae daar sal wees. Dan mag die een wat 'n lewe geneem het, terugkeer, teruggaan na sy dorp en sy huis, na die dorp waarvandaan hy gevlug het.’ ”
7Hulle het toe die volgende dorpe afgesonder: Kedes, in Galilea in die bergland van Naftali; Sigem, in die heuwelland van Efraim; en Kirjat-Arba, dit is Hebron, in die bergland van Juda. 8Oorkant die Jordaan, oos van Jerigo, het hulle afgestaan: Beser in die woestyn, op die plato van die stam van Ruben se grondgebied; Ramot in Gilead, uit die stamgebied van Gad; en Golan in Basan, uit die stamgebied van Manasse. 9Dit was die stede waaroor daar ooreengekom is vir al die Israeliete en vir die •vreemdelinge wat tydelike verblyf tussen hulle het, om heen te vlug, elkeen wat sonder opset 'n lewe geneem het, sodat hy nie sal sterf deur die hand van die bloedwreker voordat hy voor die volksvergadering verskyn het nie.

Tans Gekies:

Josua 20: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid