JONA 1:11-15
JONA 1:11-15 Bybel vir almal (ABA)
Die branders in die see het groter geword, en die matrose het vir Jona gevra: “Wat moet ons doen met jou sodat die storm op die see stil kan word?” Jona het vir hulle gesê: “Tel my op en gooi my in die see, dan sal die see stil word rondom julle. Ek weet dit is my skuld dat hierdie groot storm oor julle gekom het.” Die matrose het hard geroei en hulle het eers probeer om terug te kom by die land, maar hulle kon nie, want die branders van die see het groter en groter geword rondom hulle. Hulle het tot die Here gebid en gesê: “Ag, Here, U moet ons asseblief nie laat sterf omdat hierdie een man verkeerd gedoen het nie. Help ons ook dat ons nie iemand doodmaak wat onskuldig is nie. U is die Here, U kan doen wat U wil doen.” Hulle het Jona opgetel en hulle het hom in die see gegooi. Toe het die see kalm geword en die branders was nie meer groot nie.
JONA 1:11-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Verder sê hulle vir hom: Wat moet ons met jou doen, sodat die see om ons heen kan bedaar? — want die see het hoe langer hoe onstuimiger geword. En hy antwoord hulle: Neem my en gooi my in die see; dan sal die see om julle heen bedaar; want ek weet dat om my ontwil hierdie groot storm oor julle gekom het. Nogtans het die manne geroei om die skip weer land toe te bring; maar hulle kon nie, omdat die see hoe langer hoe onstuimiger teen hulle geword het. Toe roep hulle tot die HERE en sê: Ag, HERE, laat ons tog nie vergaan weens die lewe van hierdie man nie, en bring geen onskuldige bloed oor ons nie; want U, HERE, het gedoen na u welbehae. En hulle het Jona geneem en hom in die see gegooi. En die see het stil geword van sy onstuimigheid.
JONA 1:11-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe vra hulle hom: “Wat moet ons met jou maak dat die see weer rondom ons kan kalm word?” Die see het ondertussen al hoe onstuimiger geword. Jona het hulle geantwoord: “Vat my en gooi my in die see, dan sal dit kalm word rondom julle, want ek weet dit is oor my dat hierdie groot storm rondom julle woed.” Die manne het hard geroei om weer die vasteland te bereik, maar hulle kon nie, want die see het al hoe onstuimiger geword rondom hulle. Toe bid hulle tot die Here en sê: “Ag, Here, moet ons tog nie laat vergaan oor hierdie man nie. Moenie dat ons iemand onskuldig doodmaak nie. U is die Here, U doen wat U wil.” Hulle vat toe vir Jona en gooi hom in die see. Die storm op die see het toe bedaar.
JONA 1:11-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hulle sê toe vir hom: “Wat moet ons met jou maak sodat die see om ons kan bedaar?” Want die see het al hoe onstuimiger geraak. Hy het geantwoord: “Vat my en gooi my in die see, dan sal die see om julle bedaar; want ek is seker dit is oor my dat hierdie groot storm oor julle woed.” Die mans het hard geroei om weer die land te probeer bereik, maar hulle kon nie daarin slaag nie, want die see het al hoe onstuimiger geraak teen hulle. Toe het hulle die HERE aangeroep. Hulle het gesê: “Ag, HERE, laat ons asseblief nie vergaan as gevolg van hierdie man se lewe nie. Moet dit tog nie teen ons hou as ons onskuldige bloed vergiet nie. U is immers die HERE; U doen wat U wil. ” Hulle het Jona opgetel en hom in die see gegooi, en die see het opgehou met sy getier.
JONA 1:11-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê hulle vir hom: Wat moet ons met jou doen, dat die see vir ons kalm kan word? want die see het gevloei en was onstuimig. En Hy sê vir hulle: Neem my op en gooi my in die see; so sal die see vir julle kalm word, want ek weet dat hierdie groot storm om My ontwil oor julle is. Maar die manne het hard geroei om dit na die land te bring; maar hulle kon nie, want die see het gewoel en teen hulle storm. Daarom het hulle die HERE aangeroep en gesê: Ons smeek U, HERE, laat ons nie omkom ter wille van hierdie man se lewe nie en nie onskuldige bloed op ons gooi nie; want U, HERE, het gedoen wat U behaag het. Toe het hulle Jona opgeneem en hom in die see gegooi, en die see het opgehou van sy woedende.
JONA 1:11-15 Die Boodskap (DB)
Die storm het al erger geword. Hulle vra toe vir Jona: “Wat moet ons met jou maak, dat hierdie storm kan bedaar?” “Julle moet my in die see gooi,” sê Jona, “dan sal die see weer kalm word. Ek besef nou dat ek die oorsaak is dat julle in hierdie storm beland het.” Die matrose het eers land toe probeer roei. Hulle kon dit nie regkry nie, want die see was te rof. Hulle het toe tot die Here begin bid: “Here, moet ons asseblief nie oor hierdie man laat doodgaan nie. Ons is jammer as ons hom nou onskuldig in die see gaan gooi, maar U moet maar met hom laat gebeur wat U goeddink.” Hulle het toe vir Jona gevat, hom oor die kant van die skip gelig en hom in die see gesmyt. Die storm op die see het dadelik bedaar.
JONA 1:11-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die storm het al hoe hewiger geword; daarom het hulle hom gevra: “Wat moet ons met jou doen sodat die see kan bedaar?” Jona het hulle geantwoord: “Gooi my in die see en dit sal kalm word. Ek weet ék is die oorsaak van hierdie groot storm.” Die matrose het egter nog harder geroei en die land probeer bereik. Hulle was nie suksesvol nie, want die see het net al hoe onstuimiger geword. Hulle het die HERE aangeroep en gesê: “Ag, HERE, moet tog nie dat ons weens hierdie man vergaan nie. Moet ons nie verantwoordelik hou vir sy dood nie. HERE, U het gedoen soos U wou.” Toe het die matrose Jona opgetel en in die see gegooi. Die onstuimige see het dadelik kalm geword.