Jona 1:11-15

Jona 1:11-15 AFR20

Hulle sê toe vir hom: “Wat moet ons met jou maak sodat die see om ons kan bedaar?” Want die see het al hoe onstuimiger geraak. Hy het geantwoord: “Vat my en gooi my in die see, dan sal die see om julle bedaar; want ek is seker dit is oor my dat hierdie groot storm oor julle woed.” Die mans het hard geroei om weer die land te probeer bereik, maar hulle kon nie daarin slaag nie, want die see het al hoe onstuimiger geraak teen hulle. Toe het hulle die HERE aangeroep. Hulle het gesê: “Ag, HERE, laat ons asseblief nie vergaan as gevolg van hierdie man se lewe nie. Moet dit tog nie teen ons hou as ons onskuldige bloed vergiet nie. U is immers die HERE; U doen wat U wil. ” Hulle het Jona opgetel en hom in die see gegooi, en die see het opgehou met sy getier.