JOB 40:10-19
JOB 40:10-19 Bybel vir almal (ABA)
“Maar kyk ook na die seekoei. Toe Ek jou gemaak het, het Ek ook die seekoei gemaak. Hy vreet gras soos 'n bees. Hy is 'n sterk dier, sy liggaam is vol spiere. Hy hou sy stert so reguit soos 'n sederboom, en hy het sterk spiere in sy bene. Die bene in sy lyf is so sterk soos waterpype van brons, so sterk soos stukke yster. Hy is die belangrikste dier, God het hom gemaak, en net God kan hom oorwin. Hy kry sy kos in die berge waar al die wilde diere speel. Hy lê onder die waterplante, hy kruip weg tussen die riete in die vlei. Die waterplante maak hom toe, hulle skaduwee beskerm hom, en rondom staan die populierbome wat in die valleie groei. Wanneer die rivier vol word, dan skrik hy nie, hy staan stil as die Jordaan-rivier se water teen sy bek vloei. Niemand kan sy oë toedruk en hom aan sy neus vang nie.”
JOB 40:10-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Kyk, daar is die seekoei wat Ek gemaak het saam met jou. Gras eet hy soos 'n bees. Kyk tog, sy krag is in sy kruis, en sy sterkte in die spiere van sy buik. Hy hou sy stert reguit soos 'n seder; die senings van sy dye is inmekaar gevleg. Sy gebeente is pype van koper, sy bene soos stawe van yster. Hy is die eersteling van die weë van God; Hy wat hom gemaak het, het hom sy swaard verskaf. Want die berge lewer vir hom voer, en al die wilde diere van die veld speel daar. Onder lotusbome lê hy, in 'n skuilplek van riete en moeras. Lotusbome oordek hom as sy skaduwee, die rivierwilgers omring hom. As die rivier swel — hy word nie verskrik nie; hy voel gerus, ook al bruis 'n Jordaan teen sy mond. Sal 'n mens hom gryp terwyl hy jou aankyk, met vangtoue sy neus deurboor?
JOB 40:10-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Kyk die seekoei: Ek het hom gemaak toe Ek jou gemaak het, hy vreet gras soos 'n bees. Daar is krag in sy liggaam, die spiere in sy lyf is sterk. Sy stert is so reguit soos 'n seder. Sy boudspiere is inmekaar gevleg. Die bene in sy lyf is soos bronspype, soos stukke yster. Onder alles wat Ek gemaak het, staan hy eerste, net sy Maker kan hom verslaan. Die berge lewer vir hom die water en al die wilde diere speel daar. Hy lê tussen waterplante, hy skuil tussen die riete in die moeras. Die skaduwee van die waterplante is sy skuiling, rondom hom is rivierpopuliere. As die rivier sterk word, skrik dit hom nie af nie, hy bly rustig al styg die Jordaan hoe hoog. Wie kan hom van voor af pak, wie kan 'n vangtou aan sy neus sit?
JOB 40:10-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Kyk na Behemoot, wat Ek gemaak het, soos Ek jou ook gemaak het. Hy eet gras soos 'n bees. Kyk na die krag in sy kruis. En sy manlike krag, dit is in die spiere van sy buik. Hy maak sy stert styf soos 'n seder, die senings van sy dye is ineengevleg. Sy gebeente is bronspype, sy bene soos ysterstawe. Hy is die voortreflikste van God se werke; Hy wat hom gemaak het, het sy swaarde verskaf. Ja, die opbrengs van die berge word na hom aangedra, daar waar al die diere van die veld baljaar. Onder lotusbome lê hy, in 'n skuilplek van riete en moeras. Lotusbome bedek hom met skaduwee; rivierwilgers omring hom. Kyk, die rivier kan maar afkom, hy gee nie haastig pad nie; hy bly rustig, al stu die Jordaan teen sy bek. Sal iemand hom aan sy oë beetpak, met stokke sy neus deurboor?
JOB 40:10-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Versier jou nou met majesteit en voortreflikheid; en bekleed jou met heerlikheid en skoonheid. Werp die woede van u toorn weg, en kyk elkeen wat trots is, en verneder hom. Kyk na elke hoogmoedige en verneder hom; en vertrap die goddelose in hulle plek. Steek hulle saam in die stof weg; en bind hulle aangesig in die geheim. Dan sal ek ook aan jou bely dat jou eie regterhand jou kan red. Kyk nou 'n behemoth wat Ek saam met jou gemaak het; hy eet gras soos 'n bees. Kyk nou, sy krag is in sy lendene, en sy krag is in die naeltjie van sy buik. Hy beweeg sy stert soos 'n seder; die senings van sy klippe is saamgewikkel. Sy bene is soos sterk stukke koper; sy gebeente is soos ysterstawe. Hy is die hoof van die weë van God: Hy wat hom gemaak het, kan sy swaard na hom laat nader kom.
JOB 40:10-19 Die Boodskap (DB)
Die Here het verder gesê: “Kyk na die seekoei: Ek het die seekoei gemaak net soos Ek jou ook gemaak het. Hy eet gras soos ’n bees. Hy het baie krag in sy lyf en sy maagspiere is baie sterk. Sy stert is so reguit soos ’n sederboom en sy boudspiere is styf saamgevleg. Sy bene is so hard soos koperpype en sy ledemate soos ysterstawe. Dit is die beste voorbeeld van God se ongelooflike handewerk. Hy staan bo almal uit. Net God wat hom gemaak het, kan hom baasraak en verslaan. Die beste plek vir hom om sy kos te kry, is in die berge. Hy wei daar waar die ander diere van die veld speel. Hy lê graag onder die waterplante, weggesteek tussen die riete in die moeras. Die skaduwee van die waterplante en die wilgerbome om hom steek hom weg waar hy in die water van die rivier lê. Hy skrik nie vir water wat in vloed is nie. Selfs al kom die Jordaan af en styg tot teen sy mond, bly hy rustig. Wie sien kans om hom reg van voor aan te pak? Niemand is dapper genoeg om ’n ring in sy neus te sit en hom weg te lei nie.”
JOB 40:10-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Kyk na die seekoei. Ek het hom gemaak net soos Ek jou gemaak het. Hy vreet gras soos ’n bees. Hy het ’n kragtige liggaam met sterk spiere. Sy stert is so reguit soos ’n seder. Sy boudspiere is inmekaargevleg. Sy bene is soos bronspype. Sy ledemate so sterk soos yster. Dit is ’n uitstekende voorbeeld van God se handewerk. Net sy Maker kan hom in toom hou. Die berge lewer vir hom voedsel, en al die wilde diere speel daar. Hy lê onder waterplante. Hy skuil tussen die riete in die moeras. Hy skuil in die skadu van die waterplante tussen die wilgers langs die rivier. As die rivier in vloed is, word hy nie bang nie. Hy is rustig selfs as die Jordaan rondom hom bruis. Niemand kan hom van voor af pak en ’n ring in sy neus sit nie.”