JOB 40:10-19

JOB 40:10-19 AFR53

Kyk, daar is die seekoei wat Ek gemaak het saam met jou. Gras eet hy soos 'n bees. Kyk tog, sy krag is in sy kruis, en sy sterkte in die spiere van sy buik. Hy hou sy stert reguit soos 'n seder; die senings van sy dye is inmekaar gevleg. Sy gebeente is pype van koper, sy bene soos stawe van yster. Hy is die eersteling van die weë van God; Hy wat hom gemaak het, het hom sy swaard verskaf. Want die berge lewer vir hom voer, en al die wilde diere van die veld speel daar. Onder lotusbome lê hy, in 'n skuilplek van riete en moeras. Lotusbome oordek hom as sy skaduwee, die rivierwilgers omring hom. As die rivier swel — hy word nie verskrik nie; hy voel gerus, ook al bruis 'n Jordaan teen sy mond. Sal 'n mens hom gryp terwyl hy jou aankyk, met vangtoue sy neus deurboor?