JOB 23:1-10
JOB 23:1-10 Bybel vir almal (ABA)
Job het weer gepraat. Hy het gesê: “Ek is nog hardkoppig, ek wil aanhou kla, ek sal nie ophou nie. As ek weet waar ek vir God kan kry, dan sal ek na Hom toe gaan waar Hy is. Ek sal vir Hom vra om te luister na wat ek sê, ek sal aanhou praat. Ek sal luister na wat Hy vir my sê wanneer Hy my antwoord. Hy sal nie met al sy krag téén my wees nie, ek is seker dat Hy sal luister na my. Ek is 'n eerlike mens, ek sal met God praat en alles vir Hom vertel. God is my Regter en Hy sal my vir altyd vrymaak. Maar Hy is nie daar waar ek Hom soek nie, Hy is nie in die ooste of in die weste nie. As Hy in die noorde werk, dan kry ek Hom nie, as Hy na die suide gaan, dan sien ek Hom nie. Maar Hy weet watter pad ék loop, as Hy my toets, dan sal Hy sien dat ek so skoon soos goud is.
JOB 23:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MAAR Job het geantwoord en gesê: Nog altyd geld my geklaag as wederstrewigheid; my hand lê swaar op my gesug. Ag, as ek maar geweet het waar ek Hom kon vind, maar kon kom tot by sy woning! Dan sou ek die regsaak voor sy aangesig uiteensit en my mond met bewyse vul; ek sou verneem die woorde wat Hy my sou antwoord, en verstaan wat Hy aan my sou sê. Sou Hy met oormag teen my stry? Nee, maar Hý sou ag op my gee. Dan sou daar 'n opregte met Hom staan en pleit, en ek sou vir ewig van my regter vrykom. KYK, ek gaan na die ooste, en Hy is nie daar nie; en na die weste, maar ek bemerk Hom nie. As Hy in die noorde werk, aanskou ek Hom nie; buig Hy af na die suide, dan sien ek Hom nie. Want Hy weet hoe my wandel is; as Hy my toets, sal ek soos goud te voorskyn kom.
JOB 23:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het Job weer gepraat: “Ek kla nog steeds uit opstandigheid, ek kan nie ophou kla nie. As ek maar geweet het waar om God te vind, sou ek na sy woonplek toe gaan en my saak voor Hom lê, my pleidooie aan Hom stel. Ek sou van Hom antwoord probeer kry, probeer verstaan wat Hy vir my wil sê. Hy sal tog nie met sy groot krag teen my 'n saak voer nie; Hy sal my dit nie aandoen nie, want dit sou 'n opregte mens wees wat daar voor Hom pleit en ek sou vir altyd deur my Regter vrygespreek word. Maar gaan ek na die ooste toe, Hy is nie daar nie, na die weste, ek kry Hom nie. Sou Hy in die noorde aan die werk wees, ek vind Hom nie daar nie, sou Hy na die suide toe draai, ek sien Hom nie. Hy ken my pad; as Hy my toets, is ek suiwer soos goud.
JOB 23:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Job het hierop gereageer en gesê: “Ook vandag is my klag rebels; sy hand is swaar, ten spyte van my gesug. Ag, as ek maar geweet het waar ek Hom kon vind, as ek maar tot by sy vaste woonplek kon kom! Ek sou die saak voor Hom uiteensit; my mond sou ek vul met pleitredes. Ek sou kennis neem van die woorde waarmee Hy teen my getuig; ek sou begryp wat Hy vir my sê. Sou Hy met groot krag 'n regstryd teen my voer? Nee, maar Hy sal aan my aandag gee. 'n Opregte sou daar met Hom redeneer; en ek sou vir altyd ontkom aan my regter. Kyk, gaan ek oos, is Hy nie daar nie, en wes, dan gewaar ek Hom nie. In die noorde, terwyl Hy werk, merk ek Hom nie op nie; verhul Hy Hom in die suide, sien ek Hom nie raak nie. Ja, Hy ken die pad waarop ek gaan; as Hy my toets – soos goud sal ek daar uitkom.
JOB 23:1-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe antwoord Job en sê: Vandag is my klagte bitter: my beroerte is swaarder as my gekerm. Ag, ek het geweet waar ek hom kon kry! dat ek selfs by sy sitplek kan kom! Ek sou my saak voor hom bevel en my mond met argumente vul. Ek sou weet watter woorde hy my sou antwoord, en ek sou verstaan wat hy vir my sou sê. Sal hy met sy groot krag teen my pleit? Geen; maar hy sou krag in my gee. Daar kan die regverdiges met hom twis; so sou ek vir ewig van my regter verlos word. Kyk, ek gaan vorentoe, maar hy is nie daar nie; en agteruit, maar ek kan hom nie sien nie: aan die linkerhand, waar hy werk, maar ek kan hom nie aanskou nie; aan die regterhand verberg hy hom, dat ek hom nie kan sien nie. Maar hy ken die weg wat ek loop; as hy my beproef, sal ek uitkom soos goud.
JOB 23:1-10 Die Boodskap (DB)
Job het gereageer op wat Elifas te sê gehad het. Hy het gesê: “Ek wil vandag weer kla. Ek is nog steeds opstandig omdat ek swaarkry. Ek kreun van swaarkry. Ek wens ek het geweet waar om God in die hande te kry. Ek sou na Hom toe gegaan het waar Hy ook al is. Ek sou my saak gestel het en al my argumente vir Hom uitgepak het. Ek sou na sy antwoord geluister het en probeer verstaan het wat Hy sê. Ek glo nie Hy sou sy groot mag gebruik het om my te oorrompel nie. Nee, Hy sou na my geluister het. ’n Mens wat reg leef, sou met Hom oor sake kon redeneer. Ek is oortuig daarvan dat my Regter my sou vrygespreek het. “Ek gaan oos, en Hy is nie daar nie. Ek soek in ’n westelike rigting, maar ek kry Hom nie. Ek het in die noorde en in die suide gesoek, maar ek kon Hom steeds nie kry nie. Die Here ken my lewe. As Hy my sou toets, sal Hy uitvind dat ek soos suiwer goud is.
JOB 23:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Job het weer gepraat: “Ek kla vandag nog steeds bitterlik. Ek probeer om nie hard te kreun nie. As ek maar net geweet het waar om God te vind, sou ek na sy troon gaan. Ek sou my saak voor Hom stel, en my argumente voor Hom noem. Ek sal luister na sy antwoord en begryp wat Hy vir my sê. Sou Hy in sy groot krag met my redeneer? Nee, Hy sal sekerlik na my luister. Opregte mense kan by Hom pleit en ek sal vir altyd deur my Regter vrygespreek word. “Maar soek ek in die ooste, kry ek Hom nie. In die weste kan ek Hom ook nie vind nie. Ek sien Hom nie in die noorde nie, want Hy is onsigbaar. In die suide soek ek Hom, maar ek vind Hom nie. Maar Hy weet waarheen ek gaan! Wanneer Hy my toets, sal ek na vore tree suiwer soos goud uit ’n vuur.