JOB 23:1-10

JOB 23:1-10 AFR53

MAAR Job het geantwoord en gesê: Nog altyd geld my geklaag as wederstrewigheid; my hand lê swaar op my gesug. Ag, as ek maar geweet het waar ek Hom kon vind, maar kon kom tot by sy woning! Dan sou ek die regsaak voor sy aangesig uiteensit en my mond met bewyse vul; ek sou verneem die woorde wat Hy my sou antwoord, en verstaan wat Hy aan my sou sê. Sou Hy met oormag teen my stry? Nee, maar Hý sou ag op my gee. Dan sou daar 'n opregte met Hom staan en pleit, en ek sou vir ewig van my regter vrykom. KYK, ek gaan na die ooste, en Hy is nie daar nie; en na die weste, maar ek bemerk Hom nie. As Hy in die noorde werk, aanskou ek Hom nie; buig Hy af na die suide, dan sien ek Hom nie. Want Hy weet hoe my wandel is; as Hy my toets, sal ek soos goud te voorskyn kom.