JOHANNES 6:47-68

JOHANNES 6:47-68 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Amen, amen, Ek sê vir julle: Hy wat glo, het die ewige lewe. Ek is die brood van die lewe. Julle vaders het in die woestyn die manna geëet en nogtans gesterf. Maar die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterf nie, is dit: Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir ewig leef. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam wat Ek gee vir die lewe van die wêreld.” Die Jode het toe onder mekaar gestry en gesê: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?” Daarop sê Jesus vir hulle: “Amen, amen, Ek sê vir julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die Mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julle nie. Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag laat opstaan. Want my liggaam is ware voedsel, en my bloed is ware drank. Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader leef, so sal die een wat My eet, ook deur My leef. Dít is die brood wat uit die hemel neergedaal het – nie soos die manna wat die vaders geëet het en nogtans gesterf het nie. Wie hierdie brood eet, sal vir ewig leef.” Dit het Hy in 'n •sinagoge gesê terwyl Hy in Kapernaum onderrig gegee het. Baie van sy dissipels het, toe hulle dit hoor, gesê: “Hierdie woord is erg; wie kan daarna luister?” Maar Jesus, innerlik bewus daarvan dat sy dissipels hieroor mor, het vir hulle gesê: “Gee dit julle aanstoot? Wat dan as julle die •Seun van die Mens sou sien opvaar na waar Hy voorheen was? Dit is die Gees wat lewend maak; die vlees is van geen nut nie. Die woorde wat Ek tot julle gespreek het, is Gees en is lewe. Maar daar is sommige van julle wat nie glo nie.” Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie Hom sou verraai. Verder het Hy gesê: “Daarom het Ek vir julle gesê: Niemand kan na My toe kom as dit nie deur die Vader aan hom gegee is nie.” Hieroor het baie van sy dissipels teruggedraai en nie meer saam met Hom rondgegaan nie. Daarop het Jesus vir die twaalf gesê: “Julle wil tog seker nie ook weggaan nie?” Simon •Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het woorde van die ewige lewe.

JOHANNES 6:47-68 Bybel vir almal (ABA)

Ek sê vir julle, en dit is seker: Elkeen wat in My glo, sal altyd lewe. Ek is die brood wat die ewige lewe gee. Julle voorvaders het manna geëet in die woestyn, maar hulle het later gesterf. Maar die brood wat uit die hemel kom, is anders. Elkeen wat van hierdie brood eet, sal nooit sterf nie. Ek is die brood wat self lewe en wat ook lewe gee. Ek kom uit die hemel. As iemand van hierdie brood eet, dan sal hy altyd lewe. Die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die mense van die wêreld altyd kan lewe.” Die Jode het toe baie met mekaar gestry en gesê: “Hoe kan Jesus vir ons sy liggaam gee om te eet?” Jesus het vir hulle gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek is die Seun van die mens. As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, dan sal julle nie altyd lewe nie. Iemand wat my liggaam eet en my bloed drink, sal altyd lewe. Ek sal hom op die laaste dag weer laat lewe. Dit sal gebeur, want my liggaam en my bloed is die ware kos. Wanneer iemand my liggaam eet en my bloed drink, dan is Ek by hom en hy is by My. Die Vader lewe. Hy het My gestuur en Hy laat My lewe. So laat Ek ook almal lewe wat my liggaam eet. Julle moet verstaan dat die brood wat uit die hemel gekom het, heeltemal anders is as die manna wat julle voorvaders in die woestyn geëet het. Hulle het nie aangehou lewe nie, hulle het gesterf, maar iemand wat hierdie brood uit die hemel eet, sal altyd lewe.” Jesus het al hierdie dinge oor die brood wat uit die hemel kom, vir die mense geleer in die sinagoge in Kapernaum. Baie van Jesus se dissipels het gehoor wat Hy sê oor die brood uit die hemel. Hulle sê toe: “Die dinge wat Jesus sê, is baie moeilik om te verstaan. Ons wil dit nie hoor nie.” Niemand het dit vir Jesus gesê nie, maar Hy het geweet dat sy dissipels kla. Hy het vir hulle gevra: “Hou julle nie van die dinge wat Ek sê nie? Wat sal julle sê wanneer julle sien dat Ek, die Seun van die mens, teruggaan na die hemel waar Ek voorheen was? Dit is die Heilige Gees wat vir julle waarlik weer laat lewe. Julle kan dit nie self doen nie. Wanneer Ek met julle praat, dan kom die Gees na julle toe en Hy laat julle waarlik lewe. Maar party van julle glo nie in My nie.” Jesus het van die begin af geweet wie nie in Hom sal glo nie. Hy het ook van die begin af geweet wie Hom sal verraai. Jesus het ook vir hulle gesê: “Dit is hoekom Ek vir julle gesê het niemand kan self na My toe kom nie. Die Vader bring hom na My toe.” Hieroor het baie van Jesus se dissipels teruggegaan. Hulle wou nie langer saam met Jesus gaan nie. Toe vra Jesus vir die twaalf dissipels: “En julle, wil julle ook weggaan?” Simon Petrus het vir Jesus gesê: “Nee, Here, daar is niemand na wie toe ons kan gaan nie. Die dinge wat U sê, laat mense altyd lewe.

JOHANNES 6:47-68 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe. Ek is die brood van die lewe. Julle vaders het die manna in die woestyn geëet en het gesterwe. Dít is die brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee. Die Jode het toe met mekaar gestry en gesê: Hoe kan Hy ons sy vlees gee om te eet? En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank. Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe. Dít is die brood wat uit die hemel neergedaal het — nie soos julle vaders die manna geëet en gesterwe het nie; wie hierdie brood eet, sal tot in ewigheid lewe. Hierdie dinge het Hy gesê in die sinagoge toe Hy in Kapérnaüm onderrig gegee het. EN baie van sy dissipels het gesê toe hulle dit hoor: Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister? En Jesus het in Homself geweet dat sy dissipels hieroor murmureer, en Hy sê vir hulle: Is dit julle tot 'n aanstoot? Hoe dan as julle die Seun van die mens daarheen sien opvaar waar Hy tevore was? Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe. Maar daar is sommige van julle wat nie glo nie. Want Jesus het van die begin af geweet wie hulle was wat nie glo nie, en wie hy was wat Hom sou verraai. En Hy sê: Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie. Hieroor het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie. Toe sê Jesus vir die twaalf: Wil julle nie ook weggaan nie? En Simon Petrus antwoord Hom: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe.

JOHANNES 6:47-68 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe. Ek is die brood wat lewe gee. Julle voorouers het in die woestyn manna geëet en tog gesterwe. Maar hier is die brood wat uit die hemel kom sodat 'n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy ewig lewe. En die brood wat Ek sal gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die wêreld kan lewe.” Die Jode het toe onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hy sy liggaam vir ons gee om te eet?” Maar Jesus sê vir hulle: “Dit verseker Ek julle: As julle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie die lewe in julle nie. Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan. My liggaam is die ware voedsel, en my bloed is die ware drank. Wie my liggaam eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe. Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die manna wat julle voorouers geëet het nie. Hulle het dit geëet en tog gesterwe. Wie hierdie brood eet, sal ewig lewe.” Dit het Jesus gesê toe Hy die mense in die sinagoge in Kapernaum geleer het. Toe hulle dit hoor, het baie van Jesus se dissipels gesê: “Wat Hy nou sê, is darem te erg. Wie kan daaraan gehoor gee?” Jesus het vanself geweet dat sy dissipels hieroor mor, en Hy sê vir hulle: “Skrik dit julle af? Wat dan nog as julle die Seun van die mens sien opvaar na waar Hy voorheen was? Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie. Wat Ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe. Maar daar is party van julle wat nie in My glo nie.” Jesus het immers van die begin af geweet wie dit is wat nie glo nie, en wie dit is wat Hom sou verraai. Verder het Hy gesê: “Daarom het Ek vir julle gesê niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie.” Hieroor het baie van sy dissipels omgedraai huis toe en nie meer saam met Hom gegaan nie. Toe vra Jesus vir die twaalf: “Wil julle nie ook weggaan nie?” Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee.

JOHANNES 6:47-68 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo, het die ewige lewe. Ek is die brood van die lewe. Julle vaders het manna in die woestyn geëet, en hulle is dood. Dit is die brood wat uit die hemel neerdaal, dat 'n mens daarvan kan eet en nie sterwe nie. Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het; as iemand van hierdie brood eet, sal hy vir ewig lewe; en die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek sal gee vir die lewe van die wêreld. Die Jode het dan onder mekaar getwis en gesê: Hoe kan hierdie man vir ons sy vleis gee om te eet? Toe sê Jesus vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julle nie. Wie my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe; en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank. Hy wat my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe. Dit is die brood wat uit die hemel neergedaal het: nie soos julle vaders manna geëet het en dood is nie: wie van hierdie brood eet, sal vir ewig lewe. Dit het Hy in die sinagoge gesê terwyl Hy in Kapernaum geleer het. Baie van sy dissipels het dan, toe hulle dit hoor, gesê: Dit is 'n harde woord; wie kan dit hoor? Toe Jesus by Homself weet dat sy dissipels daaroor murmureer, sê Hy vir hulle: Laat dit julle aanstoot? Wat en as julle die Seun van die mens sal sien opvaar waar Hy tevore was? Dit is die gees wat lewend maak; die vlees baat niks; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe. Maar daar is sommige van julle wat nie glo nie. Want Jesus het van die begin af geweet wie hulle was wat nie geglo het nie, en wie Hom sou verraai. En hy sê: Daarom het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit nie deur my Vader aan hom gegee is nie. Van daardie tyd af het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie. Toe sê Jesus vir die twaalf: Sal julle ook weggaan? Toe antwoord Simon Petrus Hom: Here, na wie toe sal ons gaan? jy het die woorde van die ewige lewe.

JOHANNES 6:47-68 Die Boodskap (DB)

Luister daarom mooi na wat Ek vir julle sê: die ewige lewe behoort aan daardie persoon wat ’n persoonlike volgeling en vriend van My is. Want Ek is die brood wat lewe gee. Julle voorouers het in die woestyn van die manna geëet. Dit het hulle maar tydelik gehelp, want hulle almal is uiteindelik dood. Die brood wat uit die hemel kom, is anders. As iemand daarvan eet, sal hy nooit doodgaan nie. Dit sal sy geestelike behoeftes vir altyd stil. Ek is daardie brood uit die hemel wat leef, maar ook lewe gee. As iemand dus van hierdie brood eet, sal hy tot in ewigheid leef. Die brood wat Ek gee, is my liggaam. Ek gee dit sodat die mense in die wêreld ook die ewige lewe kan hê.” Dit het die Jode onder mekaar aan die stry gesit: “Hoe kan hy sy eie liggaam vir ons te ete gee?” Maar Jesus het dit net nog sterker gestel: “Julle kan net die ware lewe in julle hê as julle die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink. Ek herhaal, wie my liggaam eet en my bloed drink, het die lewe wat nooit sal ophou nie. Met die wederkoms sal Ek hom liggaamlik laat opstaan. Weet julle wat stil ’n mens se geestelike honger en dors? Dít: my liggaam is die ware geestelike voedsel en my bloed die ware geestelike drank. Dit werk so: as iemand my liggaam eet en my bloed drink, ontstaan daar ’n geestelike eenheid tussen ons. Vir so ’n persoon word Ek die fokus van sy lewe en Ek is ook altyd by hom. Die Vader, wat My gestuur het, het die lewe. Hy het aan My die lewe gegee en daarom lewe Ek. Net so sal Ek dieselfde goddelike lewe aan die persoon gee wat My ‘eet’. Daarom kan Ek sê: hierdie brood wat uit die hemel gekom het, verskil heeltemal van die brood wat julle voorouers geëet het. Hulle almal is dood, maar wie van hierdie hemelse brood eet, sal so lank lewe as wat God daar is, en dit is vir ewig.” Hierdie leersame gesprek het in Kapernaum plaasgevind waar die Jode bymekaargekom het. Toe hulle dit hoor, het baie van Jesus se volgelinge onder mekaar gepraat: “Het julle dit gehoor? ’n Mens praat mos nie so nie! Wie kan daarna luister?” Hulle kon hierdie gebrom nie vir Jesus wegsteek nie. Hy sê toe vir hulle: “Voel julle dit is te erg? Hoe gaan julle voel as julle My sien teruggaan hemel toe waar Ek oorspronklik vandaan kom? Dit moet so wees. Wanneer Ek teruggaan, kom gee die Gees vir mense die ewige lewe. ’n Mens kan dit tog nie doen nie. Ek is egter ’n uitsondering. Die Gees werk nou reeds deur my woorde en daarom kan julle die ewige lewe kry as julle luister na wat Ek vir julle sê. Maar daar is ’n klomp van julle wat dit ongelukkig nie wil glo nie.” (Jesus het van die begin af geweet watter mense glo en watter nie. Hy het ook geweet dat Judas teen Hom sou draai.) Teen hierdie agtergrond sê Hy toe: “Nou verstaan julle miskien ook waarom Ek sê dat niemand ’n Christen kan word as die Vader dit nie vir hom moontlik maak nie.” Na dié gesprek het baie van Jesus se volgelinge nie meer in Hom belanggestel nie. Hulle het omgedraai en toe op die ou manier met hulle lewe aangegaan. Jesus vra toe vir sy twaalf getrouste volgelinge: “En julle? Het julle nie ook lus om alles maar op te gee en ook weg te gaan nie?” Simon Petrus antwoord: “Here, na wie anders sal ons gaan? Daar is niemand soos U nie! U vertel dan vir ons hoe om die ewige lewe te kry.

JOHANNES 6:47-68 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Ek verseker julle, wie aanhou glo, het reeds die ewige lewe. Ek is die brood wat lewe gee. Julle voorvaders het in die woestyn manna geëet en tog gesterf. Hierdie is die brood wat uit die hemel gekom het sodat iemand daarvan kan eet en nie sterf nie. Ek is die brood wat lewe gee, wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir altyd lewe. En die brood wat Ek beskikbaar sal stel, is my liggaam. Dit doen Ek ter wille daarvan dat die wêreld kan lewe.” Die Jode het toe heftig onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hierdie man sy liggaam aan ons gee om te eet?” Jesus het toe teenoor hulle reageer: “Ek verseker julle, as julle nie die liggaam van die Seun van die Mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie deel aan die lewe nie. Wie my liggaam eet en my bloed drink, besit die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag opwek. My liggaam is egte voedsel en my bloed is egte drank. Wie my liggaam eet en my bloed drink, beleef ’n innige verhouding met My en Ek met hom. “Soos die lewende Vader My gestuur het en Ek deur die Vader lewe, só sal hy wat My eet, ook as gevolg van My lewe. “Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die voorvaders wat die manna geëet en gesterf het nie. Wie hierdie brood eet, sal vir altyd lewe.” Jesus het hierdie dinge gesê terwyl Hy besig was om in die sinagoge van Kapernaum onderrig te gee. Toe baie van Jesus se dissipels dit hoor, het hulle gesê: “Hierdie boodskap is te kras, wie kan daarna luister?” Jesus het besef dat sy dissipels hieroor mor en Hy het vir hulle gesê: “Gee dit julle aanstoot? Wat dan as julle vir My, die Seun van die Mens, sien opvaar na waar Ek vroeër was? Dit is die Gees wat lewend maak; die liggaam baat jou niks. Die woorde wat Ek aan julle gerig het, is Gees en lewe. En tog is daar sommige onder julle wat nie glo nie.” (Jesus het van die heel begin af geweet wie dit is wat nie glo nie en wie dit is wat Hom gaan verraai.) Daarop het Hy gesê: “Daarom het Ek aan julle gesê dat niemand in staat is om na My toe te kom as dit nie aan so ’n persoon gegun word deur die Vader nie.” Hieroor het baie van Jesus se dissipels teruggegaan na hulle vroeëre lewe en nie meer saam met Hom die pad geloop nie. Toe sê Jesus vir die twaalf: “Wil júlle nie ook weggaan nie?” Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons weggaan? U het die woorde wat ewige lewe gee.