“Ek verseker julle, wie aanhou glo, het reeds die ewige lewe. Ek is die brood wat lewe gee. Julle voorvaders het in die woestyn manna geëet en tog gesterf. Hierdie is die brood wat uit die hemel gekom het sodat iemand daarvan kan eet en nie sterf nie. Ek is die brood wat lewe gee, wat uit die hemel gekom het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy vir altyd lewe. En die brood wat Ek beskikbaar sal stel, is my liggaam. Dit doen Ek ter wille daarvan dat die wêreld kan lewe.” Die Jode het toe heftig onder mekaar begin stry en gesê: “Hoe kan hierdie man sy liggaam aan ons gee om te eet?” Jesus het toe teenoor hulle reageer: “Ek verseker julle, as julle nie die liggaam van die Seun van die Mens eet en sy bloed drink nie, het julle nie deel aan die lewe nie. Wie my liggaam eet en my bloed drink, besit die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag opwek. My liggaam is egte voedsel en my bloed is egte drank. Wie my liggaam eet en my bloed drink, beleef ’n innige verhouding met My en Ek met hom. “Soos die lewende Vader My gestuur het en Ek deur die Vader lewe, só sal hy wat My eet, ook as gevolg van My lewe. “Hierdie brood wat uit die hemel gekom het, is nie soos die voorvaders wat die manna geëet en gesterf het nie. Wie hierdie brood eet, sal vir altyd lewe.” Jesus het hierdie dinge gesê terwyl Hy besig was om in die sinagoge van Kapernaum onderrig te gee. Toe baie van Jesus se dissipels dit hoor, het hulle gesê: “Hierdie boodskap is te kras, wie kan daarna luister?” Jesus het besef dat sy dissipels hieroor mor en Hy het vir hulle gesê: “Gee dit julle aanstoot? Wat dan as julle vir My, die Seun van die Mens, sien opvaar na waar Ek vroeër was? Dit is die Gees wat lewend maak; die liggaam baat jou niks. Die woorde wat Ek aan julle gerig het, is Gees en lewe. En tog is daar sommige onder julle wat nie glo nie.” (Jesus het van die heel begin af geweet wie dit is wat nie glo nie en wie dit is wat Hom gaan verraai.) Daarop het Hy gesê: “Daarom het Ek aan julle gesê dat niemand in staat is om na My toe te kom as dit nie aan so ’n persoon gegun word deur die Vader nie.” Hieroor het baie van Jesus se dissipels teruggegaan na hulle vroeëre lewe en nie meer saam met Hom die pad geloop nie. Toe sê Jesus vir die twaalf: “Wil júlle nie ook weggaan nie?” Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons weggaan? U het die woorde wat ewige lewe gee.
Lees JOHANNES 6
Luister na JOHANNES 6
Deel
Vergelyk alle weergawes: JOHANNES 6:47-68
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's