JOHANNES 5:16-21
JOHANNES 5:16-21 Bybel vir almal (ABA)
Die Jode het begin om slegte dinge te doen aan Jesus omdat Hy die man op 'n Sabbatdag gesond gemaak het. Jesus het vir hulle gesê: “My Vader werk nog altyd, ook op die Sabbatdag. Daarom doen Ek dit ook.” Die Jode het van toe af hard probeer om Jesus dood te maak. Hulle wou Hom doodmaak omdat Hy nie gedoen het wat die wette oor die Sabbatdag sê nie, maar ook omdat Jesus gesê het God is sy Vader, en dit het beteken Jesus sê Hy is ook God. Jesus het vir die Jode gesê: “Ek sê vir julle, en dit is seker: Ek is die Seun, maar die Seun mag nie self besluit om iets te doen nie, Hy doen net wat Hy gesien het sy Vader doen. Alles wat die Vader doen, doen die Seun ook. Die Vader is lief vir die Seun en die Vader wys vir die Seun alles wat die Vader self doen. Die Vader sal vir die Seun dinge wys wat wonderliker is as om 'n siek man gesond te maak. Wanneer die Seun hierdie wonderlike dinge doen, dan sal julle verbaas wees. “Die Vader laat mense opstaan wat gesterf het, Hy laat hulle weer lewe. Die Seun doen dieselfde, Hy laat ook mense weer lewe, die mense wat Hy wil laat lewe.
JOHANNES 5:16-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN hieroor het die Jode Jesus vervolg en probeer om Hom dood te maak, omdat Hy dit op die sabbat gedoen het. En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook. Hieroor het die Jode toe nog meer probeer om Hom dood te maak, omdat Hy nie alleen die sabbat gebreek het nie, maar ook God sy eie Vader genoem het en Hom met God gelykgestel het. Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hý doen, dit doen die Seun ook net so. Want die Vader het die Seun lief en toon Hom alles wat Hy self doen. En groter werke as hierdie sal Hy Hom toon, sodat julle verwonderd kan wees. Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil.
JOHANNES 5:16-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Jode het toe teen Jesus te velde getrek omdat Hy dit op 'n sabbatdag gedoen het. Maar Jesus het Hom teen hulle verweer: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” Hieroor het die Jode nog des te meer probeer om Jesus dood te maak: Hy het nie net die sabbatdag ontheilig nie, maar God ook sy eie Vader genoem en Hom so met God gelyk gestel. Toe het Hy Hom verweer en vir hulle gesê: “Dít verseker Ek julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen maar net wat Hy die Vader sien doen; wat die Vader ook al doen, doen die Seun ook net so. Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy doen; en Hy sal Hom nog groter dade as hierdie wys, sodat julle verbaas sal staan. Soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil.
JOHANNES 5:16-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hieroor wou die Jode Hom vervolg, omdat Hy dit op 'n Sabbat gedoen het. Maar Jesus het hulle geantwoord: “My Vader is tot nou toe aan die werk, en Ek is ook aan die werk.” Om hierdie rede het die Jode nog harder probeer om Hom dood te maak – omdat Hy nie net die Sabbatsgebod verbreek het nie, maar boonop God sy eie Vader genoem en Hom so aan God gelykgestel het. Hierop het Jesus vir hulle gesê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Die Seun kan niks uit sy eie doen nie, behalwe wat Hy sien die Vader doen; want wat die Vader ook al doen, doen die Seun net so. Die Vader het immers die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen; en Hy sal Hom groter dade as dit wys, sodat julle verwonderd sal staan. Want soos die Vader die dooies opwek en lewend maak, so maak die Seun ook lewend wie Hy wil.
JOHANNES 5:16-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En daarom het die Jode Jesus vervolg en probeer om Hom dood te maak, omdat Hy hierdie dinge op die sabbatdag gedoen het. Maar Jesus antwoord hulle: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk. Daarom het die Jode des te meer probeer om hom dood te maak, omdat hy nie alleen die sabbat verbreek het nie, maar ook gesê het dat God sy Vader is en homself aan God gelyk maak. Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit homself doen as wat Hy die Vader sien doen nie; want alles wat Hy doen, dit doen ook die Seun net so. Want die Vader het die Seun lief en maak Hom alles bekend wat Hy doen; en Hy sal Hom groter werke as hierdie toon, sodat julle julle kan verwonder. Want soos die Vader die dooies opwek en hulle lewend maak; so maak die Seun lewend wie Hy wil.
JOHANNES 5:16-21 Die Boodskap (DB)
Daarna het die Jode begin kyk of hulle Jesus nie in die moeilikheid kon bring nie, want hulle was baie ontevrede omdat Hy hierdie tipe ding op die sabbat gedoen het. Jesus het Homself verdedig: “My Vader werk reg deur tot nou toe, sabbat of nie. Net so werk Ek ook.” Oor hierdie woorde was die Jode éérs ongelukkig. Veral twee dinge was vir hulle heeltemal te erg en dit was die manier waarop Jesus die sabbat so ongeërg gebreek het en dat Jesus sommer gesê het God is sy Vader. So maak Hy of Hy op gelyke voet met God staan. Daarom het hulle toe besluit om Jesus te probeer doodmaak. Jesus kap toe terug: “Julle kan My sowaar maar glo; die Seun kan niks uit sy eie sonder sy Vader doen nie. Soos ’n goeie Seun kyk Hy mooi wat sy Vader doen. Wat Hy sy Vader sien doen, doen Hy presies net so. Die Vader het die Seun lief. Daarom hou Hy niks vir Hom geheim nie, maar wys Hom alles wat Hy doen. Julle dink die lam man wat Ek gesond gemaak het, was iets besonders. Julle het eintlik nog niks gesien nie. Die Vader sal die Seun wys hoe om groter dinge as dit te doen. Julle sal julle oë nie kan glo nie. Soos die Vader dooie mense weer lewendig maak, so sal die Seun dit ook doen waar en wanneer Hy wil. En dit is nie al nie.
JOHANNES 5:16-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daarom het die Jode Jesus probeer vervolg, net omdat Hy dit op ’n Sabbat gedoen het. Maar Jesus het teenoor hulle reageer: “My Vader werk tot nou toe, en ook Ek is aan die werk.” Daarom het die Jode hulle nog meer beywer om Hom dood te maak, want Hy het nie net die Sabbat ontheilig nie, maar God ook sy eie Vader genoem, en Homself só aan God gelykgestel. Jesus het daarop reageer: “Ek verseker julle, die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen. Wat die Vader ook al doen, dit doen die Seun net so. Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen; en Hy sal Hom nog groter dinge wys as hierdie sodat julle verstom sal staan. Soos die Vader die dooies opwek en weer lewend maak, só maak die Seun ook lewend wie Hy wil.