JOHANNES 21:6-11
JOHANNES 21:6-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hy sê toe vir hulle: “Gooi die net aan die regterkant van die boot uit en julle sal vis kry.” Hulle het die net toe uitgegooi, en kon dit nie weer intrek nie as gevolg van die groot hoeveelheid vis. Die lieflingdissipel sê toe vir Petrus: “Dit is die Here!” Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy klere aangetrek, want hy was halfpad kaal, en hy het in die water gespring. Die ander dissipels het solank met die bootjie nadergekom, want hulle was nie ver van die land af nie, ongeveer 100 meter, en hulle het die net met visse land toe gesleep. Toe hulle aan land kom, sien hulle ’n vuurtjie met ’n vis wat daarop lê, en daar was ook brood. Jesus sê toe vir hulle: “Bring van die vis wat julle so pas gevang het.” Simon Petrus het in die boot geklim en die net aan land getrek. Dit was vol groot visse, 153 van hulle. Al was daar só baie, het die net nie geskeur nie.
JOHANNES 21:6-11 Bybel vir almal (ABA)
Jesus het vir hulle gesê: “Julle moet die visnet regs van die boot uitgooi, dan sal julle iets vang.” Hulle het die visnet uitgegooi in die water. Daar was toe so baie visse in die net dat hulle dit nie kon intrek nie. Die dissipel vir wie Jesus lief was, sê toe vir Petrus: “Dit is die Here!” Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy bo-kleed aangetrek, want hy het nie al sy klere aangehad nie. Hy het in die see gespring en na Jesus toe gegaan. Die ander dissipels het met die boot gekom en hulle het die visnet gesleep wat vol visse was. Dit was nie ver na die land nie, omtrent 200 el. Die dissipels het uit die boot geklim. Hulle sien toe 'n vuur op die strand, en daar was vis op die kole. Daar was ook brood. Jesus het vir hulle gesê: “Bring van die vis wat julle nou gevang het.” Simon Petrus het in die boot geklim en hy het die visnet op die land getrek. Die visnet was vol groot visse, daar was 153 visse. Daar was baie visse in die net, maar die visnet het nie geskeur nie.
JOHANNES 21:6-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Hy sê vir hulle: Gooi die net aan die regterkant van die skuit, en julle sal kry. Hulle het toe gegooi en deur die menigte van visse was hulle nie meer in staat om dit te trek nie. Daarop sê die dissipel — die een vir wie Jesus liefgehad het — aan Petrus: Dit is die Here! En toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, gord hy sy bo-kleed om — want hy was naak — en werp homself in die see. Maar die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep; want hulle was nie ver van die land nie, maar omtrent tweehonderd el. En toe hulle geland het, sien hulle 'n koolvuur op die grond en vis daarop lê, en brood. Jesus sê vir hulle: Bring van die visse wat julle nou gevang het. Simon Petrus het in die skuit geklim en die net op die land getrek, vol groot visse, honderd-drie-en-vyftig in getal; en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie.
JOHANNES 21:6-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy sê toe vir hulle: “Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry.” Hulle het die net toe daar uitgegooi, en vanweë die groot klomp vis kon hulle hom nie weer intrek nie. Die dissipel vir wie Jesus baie lief was, sê toe vir Petrus: “Dit is die Here!” Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy hemp aangetrek – want sy bolyf was kaal – en in die water gespring. Hulle was nie ver van die land af nie, net omtrent honderd tree. Die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep. Toe hulle aan land kom, sien hulle 'n vuur brand en 'n stuk vis daarop lê. Daar was brood ook. Jesus sê toe vir hulle: “Bring van die vis wat julle nou net gevang het.” Simon Petrus het toe in die skuit geklim en die net op die land getrek. Dit was vol groot visse, honderd drie en vyftig, en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie.
JOHANNES 21:6-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy sê toe vir hulle: “Gooi die visnet uit aan die regterkant van die boot, en julle sal iets kry.” Hulle gooi dit toe uit, en vanweë die groot klomp vis was hulle nie in staat om dit in te trek nie. Daarop sê die dissipel, die een vir wie Jesus liefgehad het, vir Petrus: “Dit is die Here!” Toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy bokleed omgebind – want sy bolyf was kaal – en in die see gespring. Maar die ander dissipels het met die skuit gekom en die net met die visse gesleep, want hulle was nie ver van die land af nie, net ongeveer tweehonderd el. En toe hulle aan land kom, sien hulle daar 'n koolvuur gereed, en vis wat daarop lê, en ook brood. Jesus sê vir hulle: “Bring van die visse wat julle nou net gevang het.” Simon Petrus het toe aan boord gegaan en die net vol groot visse op die land getrek, honderd drie-en-vyftig; en hoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie.
JOHANNES 21:6-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy sê vir hulle: Gooi die net aan die regterkant van die skip, en julle sal vind. Hulle het dus gegooi, en nou kon hulle dit nie trek nie, vanweë die menigte van die visse. Daarom sê daardie dissipel vir wie Jesus liefgehad het vir Petrus: Dit is die Here. En toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, het hy sy visserskleed aan hom omgord, want hy was naak, en hom in die see gegooi. En die ander dissipels het in 'n klein skippie gekom; (want hulle was nie ver van die land af nie, maar soos 't ware twee honderd el–) en sleep die net met visse. Toe hulle aan land gekom het, het hulle daar 'n kole vuur gesien en vis daarop gelê en brood. Jesus sê vir hulle: Bring van die visse wat julle nou gevang het. Simon Petrus het opgegaan en die net op die land getrek vol groot visse, honderd drie en vyftig; en daar was almal so baie, maar die net is nie gebreek nie.
JOHANNES 21:6-11 Die Boodskap (DB)
“Gooi die net daar regs van die skuit uit. Daar is vis,” kom dit van Jesus se kant af. Hulle maak toe so. Die net was toe so vol vis dat hulle dit nie in die skuit kon kry nie. Dit was te swaar vir hulle. Die volgeling van wie Jesus baie gehou het, sê toe vir Petrus: “Jong, dit is die Here daardie.” Toe Petrus dit hoor, pluk hy gou al sy klere aan. Omdat hulle op die skuit gewerk het, het hy net die nodigste aangehad. Toe spring hy in die meer. Die ander het in die skuit gebly en wal toe gevaar met die vrag vis. Gelukkig was hulle nie so ver van die wal af nie, omtrent 100 tree. Toe hulle daar land, sien hulle dat daar alreeds ’n vuurtjie brand met vis wat daarop braai. En daar was ook brood. Jesus sê toe vir hulle: “Bring nog ’n bietjie van daardie vis wat julle gevang het.” Simon Petrus spring toe gou in en sleep die vrag vis op die land uit. Daar was 153 groot visse in die net. Al was daar so baie vis, het die net verbasend genoeg nie geskeur nie.