JOHANNES 21:6-11

JOHANNES 21:6-11 AFR53

En Hy sê vir hulle: Gooi die net aan die regterkant van die skuit, en julle sal kry. Hulle het toe gegooi en deur die menigte van visse was hulle nie meer in staat om dit te trek nie. Daarop sê die dissipel — die een vir wie Jesus liefgehad het — aan Petrus: Dit is die Here! En toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, gord hy sy bo-kleed om — want hy was naak — en werp homself in die see. Maar die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep; want hulle was nie ver van die land nie, maar omtrent tweehonderd el. En toe hulle geland het, sien hulle 'n koolvuur op die grond en vis daarop lê, en brood. Jesus sê vir hulle: Bring van die visse wat julle nou gevang het. Simon Petrus het in die skuit geklim en die net op die land getrek, vol groot visse, honderd-drie-en-vyftig in getal; en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie.