JOHANNES 16:5-15

JOHANNES 16:5-15 Bybel vir almal (ABA)

Nou gaan Ek terug na die Vader wat My na die wêreld gestuur het, maar nie een van julle vra vir My waarnatoe Ek gaan nie. Julle het baie hartseer geword omdat Ek al hierdie dinge vir julle gesê het. Maar Ek vertel vir julle die waarheid: Dit is goed vir julle dat Ek weggaan. As Ek nie weggaan nie, dan sal die Helper, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie. As Ek weggaan, dan sal Ek Hom na julle toe stuur. Wanneer die Helper kom, dan sal Hy vir die mense van die wêreld bewys dat hulle verkeerd dink oor sonde, en oor wie reg is voor God, en oor die oordeel van God. Hulle dink verkeerd oor sonde, want hulle glo nie in My nie. Hulle dink verkeerd oor wie reg is voor God, want Ek gaan na die Vader toe en julle sal My nie meer sien nie. Hulle dink verkeerd oor die oordeel van God, want God het klaar die Satan, die leier van die mense van die wêreld, ge-oordeel. “Daar is nog baie ander dinge wat Ek vir julle wil sê, maar dit is te moeilik vir julle om nou te verstaan. Wanneer die Helper kom, die Heilige Gees wat vir julle sal wys wat die waarheid is, dan sal Hy vir julle alles vertel van die waarheid. Hy sal nie self dink wat Hy vir julle moet vertel nie. Nee, Hy sal vir julle vertel wat Hy by My en by die Vader hoor. Hy sal julle help om die dinge te verstaan wat nog met julle sal gebeur. Die Helper sal wys dat Ek God is, want alles wat Hy vir julle sal sê, kom van My. Alles wat aan die Vader behoort, behoort ook aan My. Dit is hoekom Ek sê alles wat die Heilige Gees vir julle sal sê, kom van My.”

JOHANNES 16:5-15 Die Boodskap (DB)

“Maar Ek is op pad weg, na my Vader toe wat My gestuur het. En sowaar, nie een van julle vra eens: ‘Waarheen gaan U?’ nie. “Dit lyk My julle is te hartseer oor alles wat Ek vir julle gesê het. Moenie hartseer wees nie. Glo My, dit gaan glad nie so sleg wees wanneer Ek weggaan nie. Inteendeel, julle gaan daarby baat vind. Dink net, as Ek nie teruggaan nie, sal die spesiale Helper nie na julle toe kom nie. As Ek egter weggaan, sal Ek Hom na julle toe stuur. En wanneer Hy kom, sal Hy sorg dat die wêreld drie dinge waterpas in die oë moet kyk. Dit het te doen met hulle sonde en God se oordeel oor hulle. “In die eerste plek sal hulle nie daarvan kan loskom dat hulle sonde gedoen het nie. Hulle wou mos nie in My glo nie. “In die tweede plek sal hulle besef dat die reg aan my kant is. Ek gaan na my Vader toe. Julle sal My nie meer met die blote oog kan sien nie. “In die derde plek sal niemand die finale oordeel van God kan keer nie. Die duiwel, wat hier op aarde probeer baasspeel, het hom al klaar in God se straf vasgeloop. “O, Ek het soveel dinge om nog vir julle te sê, maar dit is nie nou die regte tyd nie. Julle is nog nie ryp daarvoor nie. Maar as die Heilige Gees eers hier is, sal Hy julle hand vat en julle met die paaie van die waarheid langs lei. Hy is immers die Gees wat die waarheid ken. Hy sal nie sommer ’n klomp los dinge uit sy eie vir julle vertel nie. Hy sal met julle praat oor wat Hy gehoor het. Verder sal Hy julle ook voorberei vir alles wat nog vir julle voorlê. Die Gees sal voortbou op wat Ek gesê en gedoen het. Hy sal maak dat mense sal agterkom hoe belangrik Ek is. Ek wil nie onnodig my eie beuel blaas nie, maar wat aan my Vader behoort, is ook Myne. Daarom kan Ek sê dat die Gees verder sal verkondig wat Ek gedoen en gesê het.