JOHANNES 16:25-33
JOHANNES 16:25-33 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Hierdie dinge het Ek deur gelykenisse tot julle gespreek, maar daar kom 'n uur wanneer Ek nie meer deur gelykenisse tot julle sal spreek nie, maar julle openlik van die Vader sal vertel. In daardie dag sal julle in my Naam bid; en Ek sê nie vir julle dat Ek die Vader aangaande julle sal vra nie; want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefgehad en geglo het dat Ek van God uitgegaan het. Ek het van die Vader uitgegaan en in die wêreld gekom. Weer verlaat Ek die wêreld en gaan na my Vader. Sy dissipels sê vir Hom: Kyk, nou spreek U ronduit en gebruik geen gelykenis nie. Nou weet ons dat U alles weet en nie nodig het dat iemand U iets vra nie. Daarom glo ons dat U van God uitgegaan het. Jesus antwoord hulle: Glo julle nou? Kyk, die uur kom en het nou gekom dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie toe, en My alleen sal laat; tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader met My is. Dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.
JOHANNES 16:25-33 Bybel vir almal (ABA)
Voorheen het Ek voorbeelde gebruik wanneer Ek iets vir julle verduidelik het, maar daar sal 'n tyd kom wanneer Ek nie meer voorbeelde sal gebruik nie. Dan sal Ek vir julle reguit van die Vader vertel. Daardie dag sal julle self vir die Vader dinge vra, omdat julle aan My behoort. Ek sal dit nie vir die Vader vra nie, dit sal nie nodig wees nie. Die Vader self is lief vir julle, want julle is lief vir My en julle glo dat Ek van God kom. Ek het weggegaan van die Vader en Ek het na die mense van die wêreld toe gekom. Nou gaan Ek weer weg van die mense van die wêreld, Ek gaan terug na die Vader toe.” Die dissipels het vir Jesus gesê: “Nou praat U reguit. U gebruik nie voorbeelde nie. Nou weet ons dat U alles weet. Dit is nie nodig dat ons vir U vrae moet vra nie. Ons glo nou dat U van God kom.” Jesus het vir hulle gesê: “Julle sê julle glo nou, maar daar kom 'n tyd wanneer julle sal swaarkry. Daardie tyd is klaar hier. Die mense sal julle jaag na al die kante toe en julle sal na julle huise vlug. Julle sal My alleen los, maar Ek sal nie regtig alleen wees nie, want die Vader is by My. Ek sê dit alles vir julle sodat julle vrede kan hê omdat julle aan My behoort. Die mense van die wêreld sal julle laat swaarkry, maar julle moenie moedeloos word nie. Ek het die wêreld klaar oorwin.”
JOHANNES 16:25-33 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Dit het Ek deur beeldspraak vir julle gesê. Daar kom 'n tyd wanneer Ek nie meer deur beeldspraak met julle sal praat nie maar julle reguit van die Vader sal vertel. Van daardie dag af sal julle in my Naam bid en hoef Ek nie julle voorspraak by die Vader te wees nie, want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefhet en glo dat Ek van God gekom het. Ek het van die Vader gekom en Ek is hier in die wêreld. Nou verlaat Ek weer die wêreld en Ek gaan na die Vader toe.” Sy dissipels sê toe: “Kyk, nou praat U reguit en gebruik nie beeldspraak nie. Nou weet ons dat U alles weet, en niemand hoef U verder uit te vra nie. Ons glo nou dat U van God gekom het.” Daarop sê Jesus vir hulle: “Glo julle nou? Kyk, daar kom 'n tyd, en dit is nou al hier, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen sy eie koers in, en dat julle My alleen sal laat; en tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is. Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”
JOHANNES 16:25-33 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Hierdie dinge het Ek deur gelykenisse vir julle gesê. Daar kom 'n tyd dat Ek nie meer deur gelykenisse met julle sal praat nie, maar julle openlik van die Vader sal vertel. Op daardie dag sal julle in my Naam bid. Daarmee sê Ek nie vir julle dat Ek tot die Vader vir julle sal bid nie; want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefhet en glo dat Ek van God gekom het. Ek het van die Vader af gekom en in die wêreld ingegaan. Ek verlaat weer die wêreld en gaan terug na die Vader.” Sy dissipels sê toe: “Kyk, nou praat U openlik en vertel nie gelykenisse nie. Nou weet ons dat U alles weet, en dat niemand U nog hoef uit te vra nie. Daarom glo ons dat U van God af gekom het.” Jesus het hulle geantwoord: “Glo julle nou? Kyk, daar kom 'n uur, en dit het reeds aangebreek, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie huis, en My alleen sal agterlaat. Ek is egter nie alleen nie, omdat die Vader by My is. Dit het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede mag vind. In die wêreld ervaar julle swaarkry; maar hou moed, Ek het reeds die wêreld oorwin. ”
JOHANNES 16:25-33 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hierdie dinge het Ek tot julle gespreek in spreuke, maar die tyd kom wanneer Ek nie meer met julle in spreuke sal spreek nie, maar julle duidelik van die Vader sal verkondig. In dié dag sal julle in my Naam bid; en Ek sê nie vir julle dat Ek die Vader vir julle sal bid nie. Want die Vader self het julle lief, omdat julle My liefgehad het en geglo het dat Ek van God uitgegaan het. Ek het van die Vader uitgegaan en in die wêreld gekom; weer verlaat Ek die wêreld en gaan na die Vader. Sy dissipels sê vir Hom: Kyk, nou spreek U reguit en spreek geen spreekwoord nie. Nou is ons seker dat U alles weet en nie nodig het dat iemand U vra nie; hierdeur glo ons dat U van God uitgegaan het. Jesus antwoord hulle: Glo julle nou? Kyk, die uur kom, ja, dit is nou, dat julle verstrooi sal word, elkeen na sy eie toe, en My alleen sal laat; en tog is Ek nie alleen nie, want die Vader is met My. Hierdie dinge het Ek vir julle gesê, sodat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê, maar hou goeie moed; Ek het die wêreld oorwin.
JOHANNES 16:25-33 Die Boodskap (DB)
“Ek gebruik heelwat beelde om alles te verduidelik. Oor ’n ruk sal dit nie eens meer nodig wees nie. Ek sal sommer reguit vir julle kan sê wat Ek bedoel wanneer Ek oor my Vader praat. Julle sal dan ook reguit met die Vader kan praat omdat julle my vriende is. Ek sal dan nie meer nodig hê om allerhande dinge vir julle by die Vader te vra nie. Hy voel oor julle net soos Ek oor julle voel. Hy het julle lief. Hy voel so oor julle omdat julle my goeie vriende is. Julle het aanvaar dat Ek van God af kom. Dit is wat gebeur het: Ek het van my Vader af na julle mense toe gekom. Nou gaan Ek van julle af terug na my Vader toe.” “Nou praat U reguit, op die man af, sonder allerhande beelde,” sê sy volgelinge. “Ons besef al hoe meer hoeveel U weet. Ja-nee, wat daar te wete is, weet U. U hoef nie by ander mense te gaan aanklop nie. Watter beter bewys is daar dat U regtig van God af kom? Ons is in alle geval seker daarvan.” Jesus sê toe: “Is julle regtig so seker van julle saak? Oppas, die tyd kom nou vir My nader - wag, dit is eintlik nou al hier. Julle sal van skrik alles los en weghardloop. Sonder om links of regs te kyk sal julle net maak dat julle by die huis kom. En die ergste is, julle gaan My net so alleen los. Maar heeltemal alleen sal Ek nooit wees nie. My Vader is en bly altyd by My. Ek vertel hierdie dinge vir julle met ’n goeie rede. As my vriende kan julle maar rustig wees oor alles. Die ongelowiges sal alles wel vir julle probeer moeilik maak. Moenie dat hulle julle ontstel nie. Troos julle daaraan: Ek het bewys dat Ek sterker is as enigiets of enigiemand in hierdie wêreld. Ek en niemand anders nie is die regte Wenner.”
JOHANNES 16:25-33 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Dit het Ek met behulp van beeldspraak aan julle verduidelik. Daar kom ’n tyd wanneer Ek nie meer met behulp van beeldspraak met julle sal praat nie, maar openlik die Vader aan julle sal verkondig. Op daardie dag sal julle in my Naam bid. Ek sê nie dat Ek die Vader sal raadpleeg oor julle nie, want die Vader self het julle lief omdat julle My lankal reeds liefgehad het, en vas glo dat Ek van God af gekom het. Ek het van die Vader af gekom en bevind My nou in hierdie wêreld. Ek verlaat weer die wêreld en gaan terug na die Vader toe.” Sy dissipels sê toe: “Kyk, nou praat U openlik, en U doen dit sonder enige beeldspraak. Ons besef ook nou dat U alles weet en niemand hoef U verder uit te vra nie. Daardeur is ons oortuig dat U van God af gekom het.” Jesus het hulle geantwoord: “Glo julle nou? Kyk, daar kom ’n tyd, en dit het reeds aangebreek, dat julle uitmekaargedryf sal word, elkeen op sy eie, terwyl julle My alleen agterlaat. Tog is Ek nie alleen nie, omdat die Vader by My is. Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.”