JOHANNES 10:22-42
JOHANNES 10:22-42 Bybel vir almal (ABA)
Dit was tyd vir die Fees van die Tempelwyding in Jerusalem. Dit was winter en Jesus het in die tempel geloop in die Pilaargang van Salomo. Party Jode het rondom Jesus kom staan. Hulle het vir Hom gesê: “Hoe lank moet ons nog wag en onseker wees? As jy die Christus is, dan moet jy dit vir ons reguit sê.” Jesus het vir hulle gesê: “Ek het dit klaar vir julle gesê, maar julle glo My nie. Ek doen die dinge wat my Vader gesê het Ek moet doen. Daardie dinge wys wie Ek is. Julle glo My nie, want julle is nie my skape nie. My skape luister na my stem. Ek ken my skape, en hulle volg My. Ek gee vir hulle die ewige lewe. Hulle sal nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle wegvat uit my hand nie. Die mense wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van al die mense. Daarom kan niemand hulle wegvat uit die Vader se hand nie. Ek en die Vader doen dieselfde dinge, Ons is Een.” Die Jode het toe weer klippe opgetel om Jesus dood te gooi. Jesus het vir hulle gesê: “Die Vader het gesê Ek moet baie dinge doen, goeie dinge, en Ek het dit gedoen. Julle moet vir My sê oor watter goeie ding wil julle My doodgooi met klippe.” Die Jode het vir Jesus gesê: “Ons wil jou nie met klippe doodgooi omdat jy 'n goeie ding gedoen het nie. Ons wil jou doodgooi omdat jy verkeerde dinge sê teen God. Jy is 'n mens, maar jy maak of jy God is.” Jesus het vir hulle gesê: “In die Ou Testament is geskryf: “ God het gesê: Julle is gode. “Dit beteken: Die Ou Testament sê mense met wie God praat, is gode. Ons mag dit nie verander nie. God het My gekies om 'n spesiale werk te doen. Hy het My na die wêreld gestuur. Hoekom sê julle Ek praat verkeerd teen God wanneer Ek sê Ek is die Seun van God? Die Vader het vir My gesê wat Ek moet doen. As Ek dit nie doen nie, dan moet julle nie in My glo nie. Maar as Ek die dinge doen wat die Vader vir My gesê het, dan moet julle glo wat Ek doen, ook as julle nie in My wil glo nie. Dan sal julle regtig weet die Vader is by My en Ek is by die Vader.” Toe het die Jode weer probeer om Jesus te vang, maar hulle kon nie, want Hy het weggegaan. Jesus het weer oor die Jordaan-rivier gegaan, na die plek waar Johannes voorheen die mense gedoop het. Jesus het daar gebly. Baie mense het na Jesus toe gegaan. Hulle het gesê: “Johannes het nooit 'n wonderteken gedoen nie, maar alles wat hy oor Jesus gesê het, is waar.” Baie mense het daar in Jesus begin glo.
JOHANNES 10:22-42 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN dit was die fees van die tempelwyding in Jerusalem, en dit was winter. En Jesus het in die tempel gewandel in die pilaargang van Salomo. En die Jode het Hom omring en vir Hom gesê: Hoe lank hou U ons in onsekerheid? As U die Christus is, sê dit vir ons ronduit. Jesus antwoord hulle: Ek het dit vir julle gesê, en julle glo nie. Die werke wat Ek doen in die Naam van my Vader, dié getuig van My. Maar julle glo nie, want julle is nie van my skape nie, soos Ek vir julle gesê het. My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. Ek en die Vader is een. Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig. Jesus antwoord hulle: Baie goeie werke het Ek julle getoon van my Vader. Oor watter een van dié werke stenig julle My? Die Jode antwoord Hom en sê: Dit is nie oor 'n goeie werk dat ons U stenig nie, maar oor godslastering, en omdat U wat 'n mens is, Uself God maak. Jesus antwoord hulle: Is daar nie in julle wet geskrywe: Ek het gesê, julle is gode nie? As dit húlle gode noem tot wie die woord van God gekom het, en die Skrif nie gebreek kan word nie, sê julle vir Hom wat die Vader geheilig en in die wêreld gestuur het: U spreek godslasterlik — omdat Ek gesê het: Ek is die Seun van God? As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle My nie glo nie; maar as Ek dit doen, al glo julle My nie, glo die werke, dat julle kan erken en glo dat die Vader in My is, en Ek in Hom. Toe het hulle weer probeer om Hom gevange te neem, en Hy het uit hulle hand ontkom. En Hy het weer oor die Jordaan gegaan na die plek waar Johannes eers gedoop het; en Hy het daar gebly. En baie het na Hom gekom en gesê: Johannes het wel geen teken gedoen nie, maar alles wat Johannes van Hom gesê het, was waar. En baie het daar in Hom geglo.
JOHANNES 10:22-42 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit was daardie tyd die fees van die tempelwyding in Jerusalem, en dit was winter. Jesus het in die tempel in die Pilaargang van Salomo geloop. Die Jode het daar om Hom saamgedrom en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan u ons nog in onsekerheid hou? As u die Christus is, sê dit reguit vir ons.” Jesus antwoord hulle toe: “Ek het dit vir julle gesê, en tog glo julle nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, bewys wie Ek is. Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie. My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Dié wat my Vader vir My gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Ek en die Vader is een.” Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig, maar Jesus sê vir hulle: “Op gesag van die Vader het Ek julle talle goeie dade laat sien. Oor watter een daarvan wil julle My stenig?” “Dis nie oor 'n goeie daad dat ons jou wil stenig nie,” antwoord die Jode Hom, “maar oor godslastering, omdat jy, wat 'n gewone mens is, jou as God voordoen.” Daarop sê Jesus vir hulle: “Staan daar nie in julle wet geskrywe: ‘Ek het gesê: Julle is gode’ nie? God noem hulle tot wie sy woord gekom het, dus ‘gode’, en wat daar geskrywe staan, kan nie verander word nie. Hoe sê julle dan vir My wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is: ‘Jy praat godslasterlik’, omdat Ek gesê het: ‘Ek is die Seun van God’? As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle nie in My glo nie. Maar as Ek dit wel doen en julle tog nie in My glo nie, moet julle ten minste aan die werke glo, sodat julle kan insien en weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is.” Hulle wou Hom toe weer gevange neem, maar Hy het hulle ontglip. Hy het teruggegaan na die plek oorkant die Jordaan waar Johannes vroeër gedoop het, en daar gebly. Baie mense het na Hom toe gekom. Hulle het gesê: “Johannes het wel geen wonderteken gedoen nie, maar alles wat Johannes oor hierdie man gesê het, is waar.” Baie mense het daar tot geloof in Hom gekom.
JOHANNES 10:22-42 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In daardie tyd het die Fees van die Tempelwyding in Jerusalem plaasgevind. Dit was winter, en Jesus het op die tempelterrein rondbeweeg, in die Pilaargang van Salomo. Die Jode het toe om Hom saamgedrom en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan u ons nog in onsekerheid hou? As u die Christus is, sê dit openlik vir ons. ” Jesus het hulle geantwoord: “Ek het dit vir julle gesê, maar julle glo nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, dit getuig van My. Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie. My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal tot in ewigheid nooit verlore gaan nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader, wat hulle aan My gegee het, is groter as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Ek en die Vader is een.” Die Jode het weer klippe opgetel om Hom te stenig. Jesus het hulle geantwoord: “Baie goeie dade van die Vader het Ek aan julle gewys. Oor watter een van daardie dade wil julle My stenig?” Die Jode het Hom geantwoord: “Dit is nie oor 'n goeie daad dat ons jou wil stenig nie, maar oor godslastering, en omdat jy, wat net 'n mens is, jouself God maak. ” Jesus het hulle geantwoord: “Staan daar nie in julle Wet geskryf, ‘Ek het gesê julle is gode’ nie? As Hy hulle tot wie die woord van God gekom het, gode genoem het – en die Skrif kan nie verbreek word nie – hoe sê julle dan van Hom wat die Vader geheilig en na die wêreld gestuur het, ‘Jy laster,’ omdat Ek gesê het, ‘Ek is die •Seun van God’? As Ek nie die dade van my Vader doen nie, moet julle My nie glo nie. Maar as Ek dit doen en julle My tog nie glo nie, glo dan my dade, sodat julle kan besef en steeds weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is. ” Hulle het toe weer probeer om Hom te arresteer, maar Hy het uit hulle hande ontglip. Daarop het Hy weer teruggegaan na die plek oorkant die Jordaan waar Johannes tevore gedoop het, en daar vertoef. En baie het na Hom gekom; hulle het gesê: “Johannes het wel geen teken gedoen nie, maar alles wat Johannes oor Hom gesê het, is waar. ” En talle het daar in Hom begin glo.
JOHANNES 10:22-42 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dit was in Jerusalem die fees van die inwyding, en dit was winter. En Jesus het in die tempel in Salomo se voorportaal gewandel. Toe kom die Jode om hom en sê vir hom: Hoe lank laat jy ons twyfel? As U die Christus is, vertel ons dit duidelik. Jesus antwoord hulle: Ek het dit vir julle gesê, en julle het nie geglo nie: die werke wat Ek in die Naam van my Vader doen, dit getuig van My. Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie, soos Ek vir julle gesê het. My skape hoor my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. En Ek gee aan hulle die ewige lewe; en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie. Ek en my Vader is een. Toe het die Jode weer klippe opgetel om hom te stenig. Jesus antwoord hulle: Baie goeie werke het Ek julle van my Vader laat sien; oor watter van daardie werke stenig julle My? Die Jode antwoord hom en sê: Oor 'n goeie werk stenig ons jou nie; maar vir godslastering; en omdat U, wat 'n mens is, Uself God maak. Jesus antwoord hulle: Is daar nie in julle wet geskrywe: Ek het gesê: Julle is gode nie? as hy hulle gode genoem het, tot wie die woord van God gekom het, en die Skrif kan nie gebreek word nie; Sê julle van Hom wat die Vader geheilig en na die wêreld gestuur het: U laster; omdat ek gesê het: Ek is die Seun van God? As Ek nie die werke van my Vader doen nie, glo My nie. Maar as Ek dit doen, al glo julle My nie, glo die werke, sodat julle kan weet en glo dat die Vader in My is en Ek in Hom. Daarom het hulle weer probeer om hom te neem, maar hy het uit hulle hand ontsnap, En weer weggegaan oorkant die Jordaan na die plek waar Johannes eers gedoop het; en daar het hy gebly. En baie het na Hom toe gekom en gesê: Johannes het geen wonderwerk gedoen nie, maar alles wat Johannes van hierdie man gespreek het, was waar. En baie het daar in Hom geglo.
JOHANNES 10:22-42 Die Boodskap (DB)
Dit was weer tyd vir die fees waarin daar teruggedink is aan die tyd toe die tempel ingewy is. Elke jaar in die winter het die Jode met ’n groot fees teruggedink aan die inwyding van hulle tempel. Jesus het juis toe deur die Salomosaal in die tempel gestap. Die Jode het om Hom saamgedrom. “Moet ons asseblief nie langer so aan die raai hou nie. Toe, sê vir ons, is jy die Een vir wie God gestuur het om ons te red? Praat reguit met ons!” Jesus sê toe: “Maar dit is wat Ek nog die hele tyd vir julle sê. Dit is julle wat nie wil glo wat julle hoor nie. En dis nie al nie. Kyk wat doen Ek alles. Dit moet seker ook iets vir julle sê. Julle moet tog daaruit kan agterkom dat God deur My werk. Maar niks wat Ek doen of sê, maak enige indruk op julle nie. En laat Ek vir julle sê hoekom nie. Ek gaan weer die voorbeeld van die herder en die skape gebruik. Julle is nie van my skape nie. My skape sal my boodskap herken. Ek ken hulle en hulle volg My. Vir hulle gee Ek die lewe wat nooit sal ophou nie. So sal hulle vir altyd saam met God wees. Hulle hoef nooit vir die hel bang te wees nie. Ek sal hulle versorg en beskerm. Niemand sal hulle uit my versorgende hand kan ruk nie. Daarvoor sal Ek self sorg. Hierdie skape het my Vader self vir My gegee. Hulle is die belangrikste van almal. My Vader self sal ook na hulle kyk. En God sal nie toelaat dat enigiemand hulle uit sy versorgende hand kom ruk nie. “Ek en die Vader dink en doen dieselfde dinge. Ja, Ons is een.” Die Joodse leiers het niks daarvan gehou nie. Hulle wou Jesus sommer daar en dan met klippe doodgooi. Jesus was egter te vinnig vir hulle. “Wag ’n bietjie,” sê Hy. “Ek het baie mense gehelp en goeie dinge gedoen. My Vader wou hê Ek moes dit doen. Watter een van die dinge wat Ek gedoen het, het julle so kwaad gemaak dat julle My nou met klippe wil doodgooi? Sê My.” Die Jode het nie op hulle laat wag nie. “Moenie woorde in ons mond lê nie! Dit gaan nie daaroor dat jy mense gehelp het nie. Wat ons briesend maak, is dat jy God beledig. Jy, wat ’n gewone mens is, stel jouself sommer as God aan. Waar het jy dít nou al gehoor?” “Sê julle Skrif nie iewers: ‘Ek, God, het gesê: Julle is gode’ nie?” vra Jesus toe. “God self noem die mense ‘gode’ wat na sy boodskap geluister het. En die Bybel jok mos nie. Nou goed, as dit so is, waarom gaan julle so te kere asof Ek God so beledig? Immers, die Vader self het My spesiaal toegerus en My na die mense in die wêreld toe gestuur. Hier het Ek net kom sê: ‘Ek is God se Seun,’ en julle sê sommer Ek beledig God. Wel, as dit wat Ek doen God ongelukkig maak, ja, nie is wat Hy graag wil hê nie, dan kan julle dit sê. Maar julle weet dit is nie so nie. As julle dink dat wat Ek sê nie waar is nie, kyk dan na wat Ek doen. Julle sal agterkom dat Ek presies doen wat God in so ’n situasie sou doen. Ons tree soos ’n onverbeterlike span saam op.” Die Joodse leiers sit toe weer aan die polisie om Jesus te vang. Voor hulle hulle egter kom kry, was Jesus al weer weg. Die mense het Hom opgespoor by die plek waar Johannes begin doop het (oos van die Jordaan). Hy is ’n rukkie lank soontoe. Die mense wou Hom net nie met rus laat nie. Hulle het gesê: “Johannes het nou wel nie wonders gedoen nie, maar alles wat hy van Jesus gesê het, kan ’n mens maar glo.” Baie mense het juis daar Christene geword.
JOHANNES 10:22-42 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op daardie tydstip was dit die Fees van die Tempelwyding in Jerusalem. Dit was winter. Jesus het rondgestap in die tempelgebied, in die pilaargang van Salomo. Die Joodse leiers het toe ’n kring om Jesus gevorm en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan jy ons nog aan ’n lyntjie hou? As jy die Messias is, sê dit vir ons padlangs.” Jesus het hulle geantwoord: “Ek het dit vir julle gesê, maar julle glo My nie. My optrede is in die Naam van my Vader; hierdie dinge bevestig wie Ek is. Maar julle glo nie omdat julle nie van my skape is nie. My skape luister na my stem; Ek ken hulle en hulle volg My. Ek sal ook die ewige lewe aan hulle gee, en hulle sal so nimmer as te nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand steel nie. My Vader, wat hulle aan My gegee het, is magtiger as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader steel nie. Ek en die Vader is één.” Die Jode het weer klippe opgetel om Hom te stenig. Jesus het hulle geantwoord: “Ek het julle soveel goeie werke gewys wat van die Vader af kom. Op grond van watter een van hulle wil julle My nou stenig?” Die Jode het Hom geantwoord: “Dis nie oor die een of ander besondere daad dat ons jou wil stenig nie, maar oor laster. Jy wat ’n mens is, doen jouself voor as God.” Jesus het hulle nog ’n keer geantwoord: “Is dit nie in julle wet opgeteken dat God gesê het: ‘Julle is gode’ nie? As daardie mense wat God se boodskap ontvang het, gode genoem word – en die Skrif kan nie verbreek word nie – hoe sê julle dan dat Hy wat deur die Vader afgesonder en na die wêreld toe gestuur is, laster omdat Hy gesê het: ‘Ek is die Seun van God’? As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle ophou om in My te glo. Maar as Ek dit doen en julle sou nie in Mý glo nie, glo dan die werke sodat julle kan begryp en weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is.” Hulle het weer ’n nuwe poging aangewend om Je-sus te arresteer, maar Hy het hulle ontduik. Hy het weer teruggegaan na die omgewing oorkant die Jordaan waar Johannes aanvanklik gedoop het, en daar oorgebly. Baie mense het na Jesus toe gekom en gesê: “Johannes het geen wonderteken gedoen nie, maar al die dinge wat Johannes oor hierdie man gesê het, was die waarheid.” En baie mense het op daardie plek in Jesus begin glo.