Johannes 10:22-42

Johannes 10:22-42 AFR20

In daardie tyd het die Fees van die Tempelwyding in Jerusalem plaasgevind. Dit was winter, en Jesus het op die tempelterrein rondbeweeg, in die Pilaargang van Salomo. Die Jode het toe om Hom saamgedrom en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan u ons nog in onsekerheid hou? As u die Christus is, sê dit openlik vir ons. ” Jesus het hulle geantwoord: “Ek het dit vir julle gesê, maar julle glo nie. Die dade wat Ek in die Naam van my Vader doen, dit getuig van My. Maar julle glo nie, omdat julle nie van my skape is nie. My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal tot in ewigheid nooit verlore gaan nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My Vader, wat hulle aan My gegee het, is groter as almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie. Ek en die Vader is een.” Die Jode het weer klippe opgetel om Hom te stenig. Jesus het hulle geantwoord: “Baie goeie dade van die Vader het Ek aan julle gewys. Oor watter een van daardie dade wil julle My stenig?” Die Jode het Hom geantwoord: “Dit is nie oor 'n goeie daad dat ons jou wil stenig nie, maar oor godslastering, en omdat jy, wat net 'n mens is, jouself God maak. ” Jesus het hulle geantwoord: “Staan daar nie in julle Wet geskryf, ‘Ek het gesê julle is gode’ nie? As Hy hulle tot wie die woord van God gekom het, gode genoem het – en die Skrif kan nie verbreek word nie – hoe sê julle dan van Hom wat die Vader geheilig en na die wêreld gestuur het, ‘Jy laster,’ omdat Ek gesê het, ‘Ek is die •Seun van God’? As Ek nie die dade van my Vader doen nie, moet julle My nie glo nie. Maar as Ek dit doen en julle My tog nie glo nie, glo dan my dade, sodat julle kan besef en steeds weet dat die Vader in My en Ek in die Vader is. ” Hulle het toe weer probeer om Hom te arresteer, maar Hy het uit hulle hande ontglip. Daarop het Hy weer teruggegaan na die plek oorkant die Jordaan waar Johannes tevore gedoop het, en daar vertoef. En baie het na Hom gekom; hulle het gesê: “Johannes het wel geen teken gedoen nie, maar alles wat Johannes oor Hom gesê het, is waar. ” En talle het daar in Hom begin glo.