JEREMIA 7:1-28

JEREMIA 7:1-28 Bybel vir almal (ABA)

Jeremia het gehoor die Here sê vir hom: “Jy moet in die poort gaan staan tussen die paleis en die tempel en jy moet hard praat en sê: Al die mense van Juda wat deur hierdie poorte kom om die Here te aanbid, julle moet hoor wat sê die Here. Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Julle moet reg lewe en reg doen, dan sal Ek by julle in hierdie plek woon. Julle moenie dink dit sal goed gaan wanneer mense sê: ‘Hierdie is die tempel van die Here, die tempel van die Here, die tempel van die Here!’ nie. Maar julle moet waarlik reg lewe en reg doen, julle moet waarlik regverdig wees wanneer julle oordeel, julle moenie vreemdelinge, weeskinders en weduwees laat swaarkry nie, julle moenie onskuldige mense laat doodmaak nie, en julle moenie ander gode dien nie, want dan sal dit sleg gaan met julle. As julle reg lewe en reg doen, dan sal Ek by julle woon in hierdie plek wat Ek vir altyd vir julle voorvaders gegee het. Julle dink dit sal goed gaan wanneer mense vir julle dinge sê wat nie waar is nie en wat julle niks sal help nie. Julle steel en vermoor mense en pleeg egbreuk, julle belowe dinge wat julle nie wil doen nie, en julle vertel leuens, julle bring wierook-offers vir Baäl en julle dien ander gode wat julle nie geken het nie. Julle kan nie al hierdie baie verkeerde dinge doen en dan voor My kom staan in hierdie tempel wat my Naam het, en sê: ‘U sal ons red’ nie. Dink julle hierdie tempel wat my Naam het, is 'n plek waar diewe veilig is? Julle moet weet, Ek sien wat hier gebeur. Want gaan na die stad Silo, na die plek wat my Naam gehad het en waar Ek voorheen gewoon het. Gaan kyk wat Ek met daardie plek gedoen het omdat my volk Israel sonde gedoen het. En nou, julle het al hierdie dinge gedoen. Ek het aangehou om met julle te praat, maar julle het nie geluister nie, Ek het julle geroep, maar julle het nie geantwoord nie. Daarom sal Ek met die plek wat Ek vir julle en julle voorvaders gegee het, hierdie tempel wat my Naam het, doen soos Ek met Silo gedoen het. Julle dink hierdie tempel sal dit goed laat gaan met julle. Maar Ek sal julle weggooi soos Ek julle familie, die hele nageslag van Efraim, weggegooi het. “En jy, Jeremia, jy moenie vir hierdie volk bid nie, jy moenie vir My soebat dat Ek weer goed moet wees vir hulle nie, want Ek sal nie na jou luister nie. Jy sien self wat doen hulle in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem. Die seuns kap hout en die pa's maak vuur en die vroue knie deeg en bak koeke vir die koningin van die hemel. Hulle bring drank-offers vir ander gode om My ongelukkig te maak. Maar dit is nie vir My wat hulle ongelukkig maak nie, hulle maak hulleself ongelukkig, dit is húlle wat sal swaarkry.” Dit sê die Here. Daarom sê die Here: “Ek is kwaad en Ek sal almal en alles in hierdie plek straf: mense en diere, bome en plante. Dit sal wees soos 'n vuur wat aanhou brand.” Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: “Dit sal beter wees as julle die vleis van julle brand-offers self eet saam met die vleis van julle ander offers. Toe Ek julle voorvaders uit Egipte gebring het, het Ek nie gesê brand-offers en ander offers is die belangrikste nie. Die belangrikste wat Ek vir hulle gesê het, is: Julle moet gehoorsaam wees aan My, dan sal Ek julle God wees en julle sal my volk wees. Julle moet altyd lewe soos Ek wil hê, dan sal dit goed gaan met julle. “Maar julle voorvaders was nie gehoorsaam nie, hulle het nie geluister nie. Hulle het gelewe soos hulle self gedink het, hulle was hardkoppig en hulle het gelewe soos hulle slegte harte vir hulle gesê het. Hulle wou nie naby My wees nie. Dit het julle gedoen vandat julle voorvaders uit die land Egipte gekom het, tot vandag toe. Ek het aangehou om my dienaars, die profete, na julle toe te stuur, maar julle was nie gehoorsaam nie, julle het nie geluister nie, julle was hardkoppig en julle was slegter as julle voorvaders. “Jeremia, jy sal dit alles vir die volk sê, maar hulle sal nie na jou luister nie. Jy sal hulle roep, maar hulle sal jou nie antwoord nie. Dan sal jy van hulle sê: ‘Hulle is die volk wat nie gehoorsaam was aan hulle God die Here nie en wat nie gedoen het wat Hy vir hulle gesê het nie. Daar is niks wat reg is by hulle nie.

JEREMIA 7:1-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DIE woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: Staan in die poort van die huis van die HERE, en roep hierdie woord daar uit en sê: Hoor die woord van die HERE, o hele Juda, wat deur hierdie poorte ingaan om die HERE te aanbid! So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Maak julle weë en julle handelinge goed, dat Ek julle kan laat woon in hierdie plek. Vertrou nie op bedrieglike woorde nie — wat sê: Die HERE se tempel, die HERE se tempel, die HERE se tempel is dit! Maar as julle jul weë en julle handelinge waarlik goed maak, as julle waarlik reg doen onder mekaar; vreemdeling, wees en weduwee nie verdruk nie en geen onskuldige bloed in hierdie plek vergiet nie en agter ander gode nie aan loop tot julle eie skade nie — dan sal Ek julle laat woon in hierdie plek, in die land wat Ek aan julle vaders gegee het, van eeu tot eeu. Kyk, julle vertrou op bedrieglike woorde wat nie baat nie. Sal julle steel, doodslaan en owerspel bedrywe en vals sweer en vir Baäl offerrook laat opgaan en agter ander gode aan loop, wat julle nie ken nie, en dan kom staan voor my aangesig in hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, en sê: Ons is verlos! — om al hierdie gruwels te doen? Is hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, 'n spelonk van moordenaars in julle oë? Ook Ek — kyk, Ek het dit gesien, spreek die HERE. Want gaan tog na my plek wat in Silo was, waar Ek my Naam vroeër laat woon het, en kyk wat Ek daaraan gedoen het weens die boosheid van my volk Israel. Omdat julle dan nou al hierdie dinge gedoen het, spreek die HERE, en Ek met julle gespreek het, vroeg en laat, maar julle nie geluister het nie, en Ek julle geroep, maar julle nie geantwoord het nie, daarom sal Ek aan die huis waaroor my Naam uitgeroep is, waar julle op vertrou, en aan die plek wat Ek aan julle en julle vaders gegee het, doen soos Ek aan Silo gedoen het. En Ek sal julle van my aangesig wegwerp soos Ek al julle broers, die hele geslag van Efraim, weggewerp het. En jy, bid nie vir hierdie volk nie en hef vir hulle geen smeking of gebed op nie en dring by My nie aan nie, want Ek sal na jou nie luister nie. Sien jy nie wat hulle in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem doen nie? Die kinders maak hout bymekaar, en die vaders steek die vuur aan, en die vroue knie deeg om koeke te maak vir die hemelkoningin en vir ander gode drankoffers uit te giet om My te terg. Terg hulle Mý? spreek die HERE. Doen hulle dit nie aan hulleself tot beskaming van hul aangesig nie? Daarom, so sê die Here HERE: Kyk, my toorn en my grimmigheid sal uitgestort word oor hierdie plek, oor die mense en oor die diere en oor die bome van die veld en oor die vrugte van die land; en dit sal brand en nie uitgeblus word nie. So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Voeg julle brandoffers by julle slagoffers en eet vleis. Want Ek het met julle vaders, op die dag dat Ek hulle uit Egipteland uitgelei het, nie gespreek nie en hulle geen bevel gegee in verband met brandoffer of slagoffer nie. Maar hierdie saak het Ek hulle beveel, naamlik: Luister na my stem, dan sal Ek vir julle 'n God wees, en julle sal vir My 'n volk wees; en wandel net in die weg wat Ek julle beveel, dat dit met julle goed kan gaan. Maar hulle het nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar gewandel in wat hulle in die verharding van hul bose hart beraadslaag het, en hulle het agteruitgegaan en nie vooruit nie. Van die dag af dat julle vaders uit Egipteland uitgetrek het tot vandag toe het Ek na julle al my knegte, die profete, gestuur, daagliks, vroeg en laat; maar hulle het na My nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar hul nek verhard; hulle het dit erger gemaak as hul vaders. Ook moet jy al hierdie woorde aan hulle meedeel, maar hulle sal na jou nie luister nie; en jy moet na hulle roep, maar hulle sal jou nie antwoord nie. Sê dan vir hulle: Dit is die nasie wat na die stem van die HERE hulle God nie geluister het nie en die tugtiging nie aangeneem het nie; die opregtheid het verdwyn en is uitgeroei uit hulle mond.

JEREMIA 7:1-28 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het: Gaan staan in die poort van die huis van die Here en roep daar hierdie woorde uit: Al julle Judeërs wat by hierdie poorte ingaan om die Here te dien, hoor die woord van die Here! So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Maak julle lewe en julle dade reg, dat Ek julle kan laat bly in hierdie land. Moenie julle vertroue stel in leuens nie. Julle sê: “Ons is veilig! Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel!” Maak liewers julle lewe en julle dade reg. Doen aan mekaar wat reg is, moenie vreemdelinge, weeskinders en weduwees onreg aandoen nie, moenie mense onskuldig om die lewe bring in hierdie land nie en moenie ander gode dien nie. Dit sal onheil oor julle bring. As julle aan My gehoorsaam is, sal Ek julle in hierdie plek laat bly, in hierdie land wat Ek vir altyd aan julle voorvaders gegee het. Julle vertrou op leuens wat julle niks gaan baat nie. Julle kan mos nie steel, moor, egbreuk pleeg, vals ede aflê, wierookoffers vir Baäl bring, ander gode dien vir wie julle glad nie ken nie, en My dan ook nog in hierdie tempel wat na my Naam genoem is, kom dien en sê: “Ons is veilig” nie! En dan gaan julle maar voort met al hierdie gruwelike dinge! Het hierdie huis wat na my Naam genoem is, vir julle 'n rowerspelonk geword? Ek het gesien wat julle doen, sê die Here. Gaan na Silo toe, na die plek waar Ek voorheen my Naam laat woon het, gaan kyk wat Ek aan hom gedoen het oor die sonde van my volk Israel. Julle het al hierdie dinge gedoen, sê die Here. Ek het vroeg en laat met julle gepraat, maar julle het nie geluister nie; Ek het julle geroep, maar julle het nie geantwoord nie. Daarom gaan Ek met hierdie huis wat na my Naam genoem is, en waarin julle julle vertroue stel, en met hierdie land wat Ek aan julle en aan julle voorvaders gegee het, net so maak soos Ek met Silo gemaak het. Ek sal julle verwerp soos Ek julle broers, die hele nageslag van Efraim, verwerp het. Jy moenie vir hierdie volk bid nie. Moet My nie ter wille van hulle smeek en by My vir hulle voorspraak probeer doen nie. Ek sal nie na jou luister nie. Sien jy nie wat doen hulle in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem nie? Kinders maak hout bymekaar, die mans steek vure aan en die vrouens knie deeg om koeke te bak vir die koningin van die hemel. Hulle bring ook drankoffers aan ander gode om My seer te maak. Is dit vir My wat hulle seermaak? vra die Here. Nee, hulle maak hulleself seer en hulle bring skande oor hulleself. Daarom, sê die Here my God, laat Ek my gloeiende toorn oor hierdie land kom, oor mens en dier, oor die bome in die veld en die opbrengs van die land. My toorn sal bly brand en nie tot bedaring gebring kan word nie. So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Bring nog meer brandoffers saam met julle offers en eet die vleis. Toe Ek julle voorvaders uit Egipte laat trek het, het Ek hulle nie beveel om vir My brandoffers en ander offers te bring nie. Maar wat Ek hulle beveel het, is: Julle moet My gehoorsaam. Dan sal Ek julle God wees en julle sal my volk wees. Maar julle moet leef soos Ek julle beveel sodat dit met julle goed kan gaan. Maar hulle het nie geluister nie en hulle aan My nie gesteur nie. Hulle was hardkoppig en moedswillig, hulle het hulle eie kop gevolg, sodat hulle versleg het in plaas van te verbeter. Vandat julle voorvaders uit Egipte getrek het tot vandag toe, het Ek vroeg en laat my dienaars die profete na julle toe gestuur. Maar die volk het nie na My geluister nie en hulle nie aan My gesteur nie, hulle het hardkoppig gebly en meer kwaad as hulle voorvaders gedoen. Al sê jy al hierdie dinge vir hulle, sal hulle nie na jou luister nie; al roep jy hulle, sal hulle jou nie antwoord nie. Sê vir hulle hulle is 'n nasie wat ongehoorsaam is aan die Here hulle God en wat hulle nie laat leer nie. Waarheid het verdwyn, dit word nie meer by hulle gehoor nie.

JEREMIA 7:1-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Dit is die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het: “Gaan staan by die poort van die huis van die HERE. Roep hierdie woorde daar uit en sê, ‘Hoor die woord van die HERE, die hele Juda wat by hierdie poorte ingaan om voor die HERE in aanbidding te buig! So sê die HERE, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Laat julle doen en late goed wees, sodat Ek julle in hierdie plek kan laat bly! Moet julle vertroue nie stel op bedrieglike woorde deur te sê, ‘Die •tempel van die HERE, die tempel van die HERE, die tempel van die HERE is dit!’ nie. As julle werklik julle doen en late goed maak, as julle werklik die reg handhaaf onder mekaar, •vreemdelinge, vaderloses en weduwees nie verdruk nie, nie onskuldige bloed vergiet op hierdie plek nie, en agter ander gode nie aanloop tot onheil vir julleself nie, dan sal Ek julle in hierdie plek laat bly, in die land wat Ek vir julle voorouers gegee het, van altyd af en vir altyd. Kyk, julle bly julle vertroue stel op bedrieglike woorde wat niks baat nie. “ ‘ “ Sal julle steel, moord pleeg, egbreuk pleeg, vals sweer, vir Baäl offers verbrand, agter ander gode aanloop vir wie julle nie ken nie, en dan inkom en in my teenwoordigheid kom staan in hierdie huis, waaroor my Naam uitgeroep is, en dan nog sê, ‘Ons is gered!’ sodat julle met hierdie afstootlike dinge kan voortgaan? Het hierdie huis, waaroor my Naam uitgeroep is, 'n grot van struikrowers geword in julle oë? Ook Ek, kyk, Ek het dit gesien,” ’ is die uitspraak van die HERE. “ ‘ “ Ja, gaan gerus na my plek wat in Silo was, waar Ek vroeër my Naam laat woon het, en kyk wat Ek daaraan gedoen het weens die boosheid van my volk, Israel. Nou, omdat julle al hierdie dinge gedoen het,” ’ is die uitspraak van die HERE, ‘ “en Ek aanhoudend met julle gepraat het, maar julle nie geluister het nie, Ek julle geroep het, maar julle nie geantwoord het nie, sal Ek met hierdie huis, waaroor my Naam uitgeroep is, waarop julle vertrou, die plek wat Ek aan julle en julle voorouers gegee het, doen wat Ek met Silo gedoen het. Ek sal julle wegwerp uit my teenwoordigheid, soos Ek al julle broers, die hele nageslag van Efraim, weggewerp het.” ’ ” “ En jy, jy moenie vir hierdie volk bid nie; moenie vir hulle 'n klaagroep, 'n gebed opstuur nie, en moenie by My pleit nie. Want Ek sal glad nie na jou luister nie. Sien jy nie wat doen hulle in die dorpe van Juda en op die strate van Jerusalem nie? Die kinders maak hout bymekaar, en die pa's steek die vuur aan. Die vroue knie deeg om offerkoeke gereed te kry vir die koningin van die hemel, en hulle giet drankoffers uit vir ander gode, net om My te tart. Tart hulle My?” is die uitspraak van die HERE. “Tart hulle nie hulleself nie, sodat hulle beskaamd sal staan? Daarom,” so sê die Heer, die HERE, “Kyk, my toorn en my woede sal uitbars teen hierdie plek, oor mens en dier, oor die bome van die veld en oor die opbrengs van die landerye. Dit sal brand en nie geblus word nie.” “ ‘So sê die HERE, Heerser oor alle magte, die God van Israel: “Julle •brandoffers, voeg dit by julle •maaltydoffers en eet vleis! Ja, Ek het nie, op die dag toe Ek hulle uit Egipteland laat optrek het, met julle voorouers soseer gepraat of opdrag gegee oor brandoffers of maaltydoffers nie, maar eintlik hierdie saak aan hulle opgedra, ‘Luister na my stem, dan sal Ek vir julle 'n God wees, en julle sal vir My 'n volk wees! Loop die hele pad wat Ek julle beveel, sodat dit met julle goed kan gaan.’ Maar hulle het nie geluister nie, nie hulle ore oopgemaak nie. Hulle het voortgegaan met hulle eie planne, in die verstoktheid van hulle bose harte. Hulle het agteruit gegaan en nie vooruit nie. Vanaf die dag dat julle voorouers uit Egipteland getrek het tot vandag toe, het Ek aanhoudend al my diensknegte, die profete, na julle gestuur – dag vir dag. Maar hierdie volk het nie na My geluister nie, nie hulle ore oopgemaak nie. Hulle was hardnekkig en het hulle nog slegter gedra as hulle voorouers. Jy moet al hierdie woorde vir hulle sê, maar hulle sal nie na jou luister nie; jy moet hulle roep, maar hulle sal jou nie antwoord nie. Dan moet jy vir hulle sê, ‘Dit is die nasie wat nie na die stem van die HERE hulle God luister nie en teregwysing nie aanvaar nie. Betroubaarheid het verdwyn, dit is uitgewis uit hulle monde. ’ ” ’ ”

JEREMIA 7:1-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het en gesê het: Staan in die poort van die huis van die HERE en roep daar hierdie woord uit en sê: Hoor die woord van die HERE, hele Juda, wat deur hierdie poorte ingaan om die HERE te aanbid. So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Maak julle weë en julle handelinge reg, en Ek sal julle op hierdie plek laat woon. Vertrou nie op leuenagtige woorde nie, wat sê: Die tempel van die HERE, die tempel van die HERE, die tempel van die HERE, is dit. Want as julle jul weë en julle handelinge heeltemal verander; as julle volkome oordeel tussen 'n man en sy naaste; As julle die vreemdeling, die wees en die weduwee nie verdruk en geen onskuldige bloed in hierdie plek vergiet nie, en nie agter ander gode aan loop tot julle skade nie; Dan sal Ek jou in hierdie plek laat woon, in die land wat Ek aan jou vaders gegee het, vir ewig en altyd. Kyk, julle vertrou op leuenagtige woorde wat niks baat nie. Sal julle steel, moor en egbreuk pleeg en vals sweer en vir Baäl rook laat opgaan en agter ander gode aan loop wat julle nie ken nie? En kom staan voor my aangesig in hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, en sê: Ons is oorgelewer om al hierdie gruwels te doen? Is hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, in julle oë 'n rowerskuil geword? Kyk, selfs Ek het dit gesien, spreek die HERE. Maar gaan nou na my plek wat in Silo was, waar Ek my Naam eers gestel het, en kyk wat Ek daaraan gedoen het weens die boosheid van my volk Israel. En nou, omdat julle al hierdie werke gedoen het, spreek die HERE, en Ek het met julle gespreek, vroeg opgestaan en gespreek, maar julle het nie gehoor nie; en Ek het julle geroep, maar julle het nie geantwoord nie; Daarom sal Ek doen met hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, waarop julle vertrou, en met die plek wat Ek aan julle en julle vaders gegee het, soos Ek aan Silo gedoen het. En Ek sal julle van my aangesig verdryf, soos Ek al julle broers, die hele nageslag van Efraim, verdryf het. Bid dan nie vir hierdie volk nie, en hef geen geroep of gebed vir hulle op nie, en tree nie by My in nie, want Ek sal jou nie verhoor nie. Sien jy nie wat hulle in die stede van Juda en op die strate van Jerusalem doen nie? Die kinders maak hout bymekaar, en die vaders steek die vuur aan, en die vroue knie hulle deeg om vir die hemelkoningin koeke te maak en drankoffers uit te giet vir ander gode, om My tot toorn te terg. Terg hulle my tot toorn? spreek die HERE: terg hulle hulle nie tot verwarring van hul eie aangesig nie? Daarom, so sê die HERE HERE: Kyk, my toorn en my grimmigheid sal uitgestort word oor hierdie plek, oor mense en oor diere en oor die bome van die veld en oor die vrugte van die aarde; en dit sal brand en nie uitgeblus word nie. So sê die HERE van die leërskare, die God van Israel: Bring julle brandoffers by julle slagoffers, en eet vleis. Want Ek het nie met julle vaders gespreek en hulle nie bevel gegee op die dag toe Ek hulle uit Egipteland uitgelei het oor brandoffers of slagoffers nie. Maar hierdie ding het ek hulle beveel en gesê: Luister na my stem, en Ek sal julle God wees, en julle sal vir My 'n volk wees; en wandel in al die weë wat Ek julle beveel het, dat dit met julle goed kan gaan. Maar hulle het nie geluister en nie hul oor geneig nie, maar gewandel in die raadslae en in die verbeelding van hul bose hart en agteruit gegaan en nie vorentoe nie. Van die dag af dat julle vaders uit Egipteland uitgetrek het tot vandag toe stuur Ek al my knegte, die profete, na julle toe, elke dag vroeg opstaan en hulle stuur. Maar hulle het nie na My geluister en nie hul oor geneig nie, maar hul nek verhard; hulle het erger gedoen as hul vaders. Daarom moet jy al hierdie woorde tot hulle spreek; maar hulle sal na jou nie luister nie; ook moet jy na hulle roep; maar hulle sal jou nie antwoord nie. Maar jy moet vir hulle sê: Dit is 'n nasie wat na die stem van die HERE hulle God nie luister nie en die tugtiging nie aanneem nie; die waarheid het verlore gegaan en uit hulle mond uitgeroei.

JEREMIA 7:1-28 Die Boodskap (DB)

Die Here het vir Jeremia nog ’n boodskap vir Juda gegee. Hy het vir Jeremia gesê: “Gaan na die ingang van die Here se tempel en dra die boodskap oor wat Ek vir jou gegee het. Sê: Judeërs, almal van julle wat na die tempel toe kom om die Here te kom dien, hoor wat sê die Here. Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel. Hy sê: As julle ophou om al die verkeerde dinge te doen waarmee julle nou besig is, sal Ek julle in julle land laat bly. Moenie julle laat mislei deur mense wat vir julle sê dat julle veilig is omdat die tempel van die Here in Jerusalem is nie. Ek sal genadig wees as julle regtig ophou om die dinge te doen wat julle nou doen. Tree regverdig teenoor mekaar op. Moenie mense wat nie van Juda af kom sleg behandel en uitbuit nie. Ook nie weduwees en weeskinders nie. Ek sal ook nie so hard met julle wees as julle sal ophou om onskuldige mense in julle land te vermoor nie. Dit geld ook as julle sal ophou om julleself skade aan te doen deur ander gode te dien. As julle gehoorsaam is aan My, sal Ek toelaat dat julle in hierdie land bly. Ek het dit lank terug vir julle voorouers gegee. “Weet julle, die leuens wat julle glo dat julle nie sal swaarkry nie omdat die tempel hier is, gaan julle nêrens bring nie. Dink julle regtig julle kan maar voortgaan om te steel, mense te vermoor, julle huweliksmaat te bedrieg en te lieg? Asof dit nie al is nie, bring julle ook offers vir die god Baäl. Op die koop toe dien julle nog sommer ’n klomp ander gode wat julle vroeër nie eens geken het nie. Dan het julle die vermetelheid om hier in my tempel te kom staan en te sê: ‘Ons is veilig!’ Julle gaan hiervandaan af weg en hou maar net aan om hierdie afskuwelike dinge te doen! Sê My, dink julle dat my tempel ’n wegkruipplek vir skelms behoort te wees? Onthou, Ek sien wat julle doen,” sê die Here. “Gaan na Silo toe waar julle My eers aanbid het. Kyk wat het Ek met Silo gemaak omdat my volk Israel verkeerde dinge gedoen het.” Die Here sê: “Ek het aanhoudend met julle gepraat omdat julle hierdie verkeerde dinge gedoen het, maar julle wou nie na My luister nie. Ek het hard probeer om julle te laat besef dat julle nie reg doen nie, maar julle het My geïgnoreer. Silo bestaan nie meer nie, Ek het die plek verwoes. Julle het al julle hoop op my tempel geplaas. Dit gaan julle niks help nie, want Ek gaan my tempel hier in Jerusalem verwoes net soos Ek Silo tot niet gemaak het. Presies dieselfde gaan gebeur met hierdie land wat Ek aan julle en julle voorouers gegee het. Ek gaan toelaat dat ’n vyand julle uit julle land uit wegvat. Dit het met julle familie in die noordelike gebied, Israel, gebeur, nou is dit julle voorland.” Die Here sê: “Moenie meer vir Juda bid nie, Jeremia. Moet ook nie by My kom huil of vir hulle bid nie. Dit sal ook nie help dat jy namens hulle by My kom hulp vra nie. Ek sal nie na jou luister nie. Kan jy nie sien wat hulle in die stede van Juda en in die strate van Jerusalem doen nie? Dit maak My woedend! Die kinders maak hout bymekaar. Die pa’s is besig om vuur te maak. Die vroue knie deeg en bak koeke vir die afgod wat hulle die koningin van die hemel noem. Vir hulle ander afgode bring hulle drank om hulle te plesier. Ek wil vra: Wat dink hulle, dat Ek nou eintlik die een is wat gaan seerkry? Nee, hulle trek aan die kortste end. Hulle veroorsaak hulle eie seerkry en vernedering.” Daarom sê die Here wat die meeste mag van almal het: “Ek sal hierdie land my woede en my straf laat voel. My woede is soos ’n vuur wat nie doodgemaak kan word nie. Dit sal al die mense, diere, bome en die oeste op die land verteer.” Die Here is sterker as alles en almal. Hy is die God van Israel en Hy sê: “Gaan aan, bring nog meer offers wat verbrand word saam met julle ander offers. Ja, en eet self die vleis. Toe Ek julle voorouers uit Egipte gelei het, was dit nie allerhande offers wat Ek van hulle verwag het nie. Wat Ek van hulle verwag het, was bloot die volgende: Wees aan My gehoorsaam en Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. As julle doen wat Ek sê, sal dit met julle goed gaan. Maar my volk het nie na My geluister nie en hulle nie aan My gesteur nie. Hulle het gemaak soos hulle wou. Hulle het hulle eie kop gevolg en verkeerd gedoen. Op die ou einde het dit net al hoe slegter met hulle gegaan. Vandat jou voorouers uit Egipte getrek het tot vandag toe, het Ek gereeld boodskappers wat in my diens is, na hulle gestuur. Maar my volk wou nie na My luister nie. Hulle het hulle glad nie aan My gesteur nie. Hulle het net meer teen My in opstand gekom. Hulle was nog erger as hulle voorouers. Al sê jy al hierdie dinge vir hulle, sal hulle nie na jou luister nie. Selfs al waarsku jy hulle baie ernstig, sal hulle jou ignoreer. Sê vir hulle: Julle is die volk wat nie na die Here julle God wou luister nie. Julle laat julle ook nie leer nie. Hulle ken nie meer iets soos waarheid nie. Dit is nie iets wat oor hulle lippe kom nie.

JEREMIA 7:1-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jeremia het weer ’n boodskap van die HERE ontvang wat hy aan Juda moes oordra. Hy het vir Jeremia gesê: “Gaan na die ingang van die HERE se tempel en dra die boodskap oor wat Ek vir jou gegee het. Sê vir die Judeërs: “‘Almal van julle wat na die tempel toe kom om die HERE te aanbid, luister na die boodskap van die HERE. “‘Die HERE, die Almagtige, die God van Israel, sê: As julle nou ophou om verkeerde dinge te doen, sal Ek julle in julle land laat bly. Moenie julle laat mislei deur mense wat vir julle sê dat julle veilig is omdat die tempel van die HERE in Jerusalem is nie. Ek sal julle genadig wees slegs as julle ophou om verkeerde dinge te doen en regverdig teenoor ander mense optree. Julle moet ook ophou om vreemdelinge, weduwees en weeskinders uit te buit. Verder moet julle ophou om onskuldige mense te vermoor. Dit geld ook as julle sal ophou om julleself skade aan te doen deur ander gode te dien. “‘As julle dit doen, sal Ek toelaat dat julle in hierdie land bly wat Ek lank gelede vir altyd vir julle voorouers gegee het. “‘Maar julle vertrou op bedrieglike woorde wat mislei. Dink julle miskien omdat die tempel hier is, sal julle nie swaarkry nie? Dink julle regtig julle kan maar steel, mense vermoor, egbreuk pleeg, lieg, wierookoffers vir Baäl bring en al die nuwe gode wat julle nie geken het nie, dien en dan hier in my tempel voor My kom staan en sê: Ons is veilig! en daarna voortgaan om hierdie afskuwelike dinge te doen? Dink julle my tempel, wat my Naam eer, is ’n wegkruipplek vir moordenaars? Onthou, Ek sien al die boosheid wat daar aangaan, sê die HERE. “‘Gaan na my plek in Silo waar Ek voorheen die tabernakel tot my eer opgerig het. Kyk wat het Ek met Silo gedoen omdat my volk Israel bose dinge gedoen het. Die HERE sê: Ek het aanhoudend met julle gepraat oor die verkeerde dinge wat julle doen, maar julle wou nie luister nie. Ek het julle probeer terugroep, maar julle het nie na My geluister nie. Soos Ek Silo vernietig het, so sal Ek verseker maak met hierdie tempel wat tot my eer opgerig is, hierdie plek wat Ek vir julle en julle voorouers gegee het. Ek sal julle in ballingskap laat gaan soos met Israel gebeur het.’” “Jeremia, moenie meer vir Juda bid nie. Moenie oor hulle huil of vir hulle bid nie. Moet ook nie namens hulle by My kom hulp vra nie. Ek sal nie na jou luister nie. Sien jy nie wat hulle in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem doen nie? Geen wonder Ek is woedend nie! Die kinders maak hout bymekaar en die pa’s maak die vuur. Die vroue knie deeg en hulle bak koekies om aan die koningin van die hemel te offer en hulle bring drankoffers vir ander afgode! En dit alles net om my eer te krenk.” Die HERE vra: “Is dit vir My wat hulle seermaak? Nee, hulle veroorsaak hulle eie seerkry en vernedering.” Daarom sê die oppermagtige HERE: “Ek sal my woede en my straf oor hierdie land uitgiet. My woede is soos ’n vuur wat nie geblus kan word nie. Dit sal al die mense, diere, bome en die oeste verteer.” Die HERE, die Almagtige, die God van Israel, sê: “Weg met julle brandoffers en ander offers! Eet self die vleis! Toe Ek julle voorouers uit Egipte uitgelei het, het Ek nie brandoffers en ander offers van hulle verwag nie. Wat Ek beveel het, was die volgende: ‘Wees aan My gehoorsaam en Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees. As julle doen wat Ek sê, sal dit met julle goed gaan.’ “Maar my volk het nie na My geluister nie en hulle nie aan My gesteur nie. Hulle het gemaak soos hulle wou. Hulle het hulle eie idees gevolg en verkeerd gedoen sodat hulle agteruitgegaan het in plaas van vorentoe. Vandat jou voorouers uit Egipte getrek het tot vandag toe het Ek aangehou om profete na hulle te stuur, dagin en daguit. Maar my volk het nie na My geluister nie. Hulle het hulle geensins aan My gesteur nie. Hulle het net nog meer teen My in opstand gekom. Hulle was nog erger as hulle voorouers. “Al sê jy al hierdie dinge vir hulle, sal hulle nie na jou luister nie. Selfs al waarsku jy hulle baie ernstig, sal hulle jou ignoreer. Sê vir hulle: ‘Julle is die volk wat nie na die HERE julle God wou luister nie. Julle laat julle ook nie leer nie. Julle ken nie meer iets soos waarheid nie en praat dit ook nie.