JEREMIA 15:1-9

JEREMIA 15:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Here het vir my gesê: Al het Moses en Samuel self by My gepleit, sou Ek geen gevoel vir dié volk gehad het nie. Stuur hulle weg van my teenwoordigheid af, laat hulle gaan. En as hulle vir jou vra: “Waar moet ons dan heen?” moet jy vir hulle sê: So sê die Here: Wie vir pes bestem is, pes toe, wie vir die swaard bestem is, swaard toe, wie vir hongersnood bestem is, hongersnood toe, wie vir ballingskap bestem is, ballingskap toe. Ek gee oor hulle opdrag aan vier soorte goed, sê die Here: die swaard om dood te maak, honde om die lyke weg te sleep, voëls en roofdiere om hulle op te vreet en te vernietig. Ek maak dié volk iets waarvoor al die koninkryke van die aarde sal skrik. Ek doen dit oor wat koning Manasse van Juda, seun van Hiskia, in Jerusalem gedoen het. Wie sal vir jou jammer wees, Jerusalem, wie sal medelye met jou hê? Wie sal afdraai en kom vra hoe gaan dit met jou? Jy het My verwerp, sê die Here, jy het al erger geword. Daarom het Ek my hand teen jou uitgesteek en jou verwoes. Ek is moeg daarvan om jou straf te bly herroep. Ek het my volk met 'n gaffel uitgewan in die stede in die land, Ek het my volk se kinders weggevat, hom vernietig, want hy het hom nie bekeer van sy bose lewe nie. Ek het sy weduwees meer laat word as die sand van die see, Ek het op jongmanne se moeders helder oordag 'n aanrander laat toesak, Ek het skrik en angs hulle skielik laat oorval. Selfs die vrou wat sewe kinders gehad het, het ineengestort en na asem gesnak, haar son het ondergegaan toe dit nog dag was, sy was kinderloos en reddeloos. En wat daar van die volk oor is, lewer Ek aan sy vyande uit om dood te maak, sê die Here.

JEREMIA 15:1-9 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir my gesê: “As Moses en Samuel self vir My kom soebat, dan sal Ek nog nie tevrede voel met hierdie volk nie. Stuur die volk weg, Ek wil hulle nie sien nie. En wanneer hulle vir jou vra: ‘Waarnatoe moet ons gaan?’ dan moet jy vir hulle sê: “ ‘Party van julle sal sterf van pes, die vyande sal party van julle doodmaak, party van julle sal sterf omdat daar nie kos is om te eet nie, en die vyande sal party van julle vang en wegvat. “ ‘Ek sal julle straf op vier maniere: Die vyande sal party van julle doodmaak met swaarde, die honde sal julle dooie liggame wegsleep, die voëls sal julle vleis eet, die wilde diere sal julle opvreet. Al die volke van die aarde sal skrik wanneer hulle sien wat met julle gebeur. Ek sal dit doen oor wat Manasse, seun van koning Hiskia van Juda, gedoen het. “ ‘Mense van Jerusalem, niemand sal jammer wees vir julle nie, niemand sal bekommerd wees oor julle nie, niemand sal afgaan van sy pad en kom vra hoe dit met julle gaan nie. Julle het My gelos en weggegaan. Daarom het Ek my hand uitgesteek en julle plat geslaan, Ek wil nie meer jammer wees vir julle nie. Ek het my volk soos kaf laat wegwaai van die dorsvloere by die poorte van die stede. Ek het my volk se kinders weggevat en hulle laat sterf. Maar my volk het nie hulle lewe verander nie. Ek het hulle weduwees meer gemaak as die sand van die see, Ek het in die middel van die dag mense laat kom wat die ma's van jongmanne aangeval het. Hulle het skielik geskrik en bang geword. Ma's wat sewe kinders gehad het, het bleek geword en kon nie asem kry nie. Hulle son het ondergegaan toe dit nog dag was, hulle het gesterf voordat hulle oud was. Hulle het al hulle kinders verloor en hulle het nie geweet wat om te doen nie. En Ek sal vyande laat kom om almal dood te maak wat nog lewe.’ ”

JEREMIA 15:1-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MAAR die HERE het vir my gesê: Al staan Moses en Samuel voor my aangesig, my siel wil niks van hierdie volk weet nie; dryf hulle van my aangesig af weg, en laat hulle heengaan. En as hulle jou vra: Waar moet ons heengaan? sê dan vir hulle: So spreek die HERE: Wie vir die pes bestem is, na die pes; en wie vir die swaard, na die swaard; en wie vir die hongersnood, na die hongersnood; en wie vir die gevangenskap, na die gevangenskap. En Ek sal oor hulle vier soorte besoekinge doen, spreek die HERE: die swaard om dood te maak en die honde om weg te sleep en die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde om op te eet en te vernietig. En Ek sal hulle 'n skrikbeeld maak vir al die koninkryke van die aarde vanweë Manasse, die seun van Hiskía, die koning van Juda, oor wat hy in Jerusalem gedoen het. Want wie sal jou bejammer, o Jerusalem? Of wie sal met jou medelyde hê? Of wie sal uitdraai om na jou welstand te vra? Jy het My verwerp, spreek die HERE, jy het ál agteruitgegaan; daarom strek Ek my hand teen jou uit en verwoes jou; Ek is moeg om berou te hê. En Ek wan hulle uit met 'n gaffel by die ingange van die land. Ek maak my volk kinderloos, maak hulle tot niet; hulle kom van hulle weë nie terug nie. Hulle weduwees het vir My meer geword as die sand van die see; Ek bring vir hulle oor die moeder van die jong manskappe 'n verwoester op die middag; Ek laat skielik op haar val angs en verskrikkinge. Sy wat sewe gebaar het, het weggekwyn; sy het magteloos neergesink; haar son het ondergegaan terwyl dit nog dag was; sy staan beskaamd en het rooi van skaamte geword. En hulle oorblyfsel gee Ek aan die swaard oor, voor hulle vyande, spreek die HERE.

JEREMIA 15:1-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die HERE het vir my gesê: “Al sou Moses en Samuel voor My staan, sou Ek niks vir hierdie volk voel nie. Stuur hulle weg uit my teenwoordigheid; laat hulle gaan! En as hulle vir jou vra, ‘Waarheen moet ons gaan?’ moet jy vir hulle sê, ‘So sê die HERE: “Wie vir die dood bestem is, na die dood, wie vir die swaard bestem is, na die swaard, wie vir hongersnood bestem is, na die hongersnood, en wie vir die ballingskap bestem is, na die ballingskap!” ’ “Ek sal vier soorte vernietigers teen hulle opkommandeer,” is die uitspraak van die HERE, “die swaard om dood te maak, honde om weg te sleep, die voëls van die hemel en die diere van die aarde om te verslind en te verdelg. Ek sal van hulle 'n skrikwekkende voorbeeld maak vir al die koninkryke van die aarde vanweë Manasse, die seun van Hiskia, die koning van Juda – oor dit wat hy in Jerusalem gedoen het. ” “ Ja, wie sal hom oor jou ontferm, Jerusalem? Wie sal met jou meegevoel hê? Wie sal afdraai om te vra hoe dit met jou gaan? Jy is die een wat My versaak het,” is die uitspraak van die HERE. “Jy het My die rug toegekeer. Toe het Ek my hand teen jou uitgesteek en jou vernietig. Ek was moeg daarvoor om jammer te kry. Ek het hulle met 'n hooivurk uitgewan in die poorte van die land. Ek het my volk kinderloos gemaak, hulle tot niet gemaak. Maar van hulle paaie draai hulle nie terug nie. My volk se weduwees is meer as die sand van die oseane. Ek bring oor my volk, oor die moeder van jong manne, 'n verwoester op die middaguur. Ek laat ontsteltenis, 'n verskriklike lot, haar onverwags oorval. Sy wat sewe in die wêreld gebring het, sal wegkwyn, sy sal na haar asem snak. Haar son sal ondergaan terwyl dit nog dag is; sy sal beskaamd staan, verleë wees. Wat van hulle oorbly, sal Ek aan die swaard oorgee voor hulle vyande,” is die uitspraak van die HERE.

JEREMIA 15:1-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe sê die HERE vir my: Al het Moses en Samuel voor my gestaan, tog kon my gedagtes nie op hierdie volk gerig wees nie; werp hulle weg van my aangesig en laat hulle uittrek. En dit sal gebeur as hulle vir jou sê: Waarheen sal ons uitgaan? dan moet jy vir hulle sê: So spreek die HERE; Die wat vir die dood is, tot die dood; en die wat vir die swaard is, vir die swaard; en die wat vir die hongersnood is, tot die hongersnood; en die wat vir die ballingskap is, tot die ballingskap. En Ek sal vier soorte oor hulle aanstel, spreek die HERE: die swaard om te slag en die honde om te verskeur, en die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde om te verslind en uit te roei. En Ek sal hulle in al die koninkryke van die aarde laat verwyder ter wille van Manasse, die seun van Hiskía, die koning van Juda, oor wat hy in Jerusalem gedoen het. Want wie sal hom oor jou ontferm, o Jerusalem? of wie sal jou betreur? of wie sal uitgaan om te vra hoe dit met jou gaan? Jy het My verlaat, spreek die HERE, jy het agteruitgegaan; daarom sal Ek my hand teen jou uitstrek en jou vernietig; Ek is moeg om te bekeer. En Ek sal hulle met 'n waaier waai in die poorte van die land; Ek sal hulle kinders beroof, my volk vernietig, omdat hulle van hul weë nie bekeer het nie. Hulle weduwees het vir my vermeerder bo die sand van die see: Ek het op die middag 'n verwoester oor hulle gebring teen die moeder van die jongmanne; Ek het hom skielik daarop laat val en verskrikkinge oor die stad. Sy wat sewe gebaar het, kwyn weg; sy het die gees opgegee; haar son het ondergegaan toe dit nog dag was; sy het beskaamd gestaan en beskaamd gestaan; en die oorblyfsel van hulle sal Ek aan die swaard oorgee voor hulle vyande, spreek die HERE.

JEREMIA 15:1-9 Die Boodskap (DB)

Die Here het vir my gesê: “Selfs al het Moses en Samuel voor My gestaan om hierdie mense se saak te stel, sou Ek hulle nie jammer gekry het nie. Raak ontslae van hulle, Ek wil hulle nie sien nie. As hulle vir jou vra: ‘Waarheen moet ons gaan?’ sê vir hulle die Here sê: Dié van julle wat moet doodgaan, sal doodgaan. Dié van julle wat in ’n oorlog moet gaan veg, sal gaan veg op die slagveld. Dié wat honger moet ly, sal honger ly. Ander van julle wat deur julle vyand uit julle land weggevat moet word, sal weggevat word.” Die Here sê: “Ek sal hulle op vier maniere straf. Hulle sal met ’n wapen doodgemaak word en honde sal hulle wegsleep. Dan sal die aasvoëls en die wilde diere dit wat van hulle oorgebly het, opvreet. Koning Manasse, die seun van Hiskia, koning van Juda, het dinge in Jerusalem gedoen waarvan Ek niks gehou het nie. Omdat hy hierdie dinge gedoen het, sal Juda ly. Ek sal van my volk ’n voorbeeld maak. Wat met hulle gebeur, sal al die volke op die aarde skok.” Die Here vra: “Wie sal julle jammer kry, inwoners van Jerusalem? Wie sal oor julle huil? Wie sal nog enigsins die moeite doen om te vra hoe dit met julle gaan? Julle het My in die steek gelaat. Julle steur julle al hoe minder aan My,” sê die Here. “Daarom sal Ek sorg dat daar niks van julle oorbly nie. Ek is moeg daarvan om julle altyd nog ’n kans te gee. Uit elke stad in die land sal Ek julle verstrooi soos ’n mens met kaf op die dorsvloer maak. Ek sal julle baie hartseer maak deur wat vir julle na aan julle hart lê, weg te vat. Ek sal my volk laat ondergaan omdat hulle botweg weier om op te hou met die verkeerde dinge wat hulle doen. Daar sal nou meer weduwees wees as wat daar sand by die see is. So teen die middag se kant sal ’n aanvaller kom en die ma’s van die jongmans oorval. Ek sal maak dat angs en vrees hulle skielik beetpak. ’n Ma wat sewe kinders gehad het, sal flou word en na haar asem snak as haar kinders sterf. Dit sal vir haar voel of die son helder oordag gesak het. Sy is nou sonder enige kinders en wat ’n vernedering is dit nie! Die mense wat so ver alles oorleef het, sal Ek in die hande van die vyand gee,” sê die Here.

JEREMIA 15:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het toe vir my gesê: “Selfs al sou Moses en Samuel voor My gestaan en vir hierdie mense gepleit het, sou Ek hulle nie jammer gekry het nie. Stuur hulle weg, Ek wil hulle nie sien nie! En as hulle vir jou vra: ‘Waarheen moet ons gaan?’ sê vir hulle die HERE sê: “‘Wie bestem is vir die dood, na die dood. Wie bestem is vir die oorlog, na die oorlog. Wie bestem is vir hongersnood, na die hongersnood. En wie bestem is vir gevangenskap, na die gevangenskap.’ “Ek sal vier soorte vernietigers teen hulle stuur,” sê die HERE: “Die swaard om dood te maak, honde om hulle weg te sleep en aasvoëls om op te vreet en wilde diere om te vernietig. “Ek sal van my volk ’n voorwerp van afsku maak vir al die koninkryke van die aarde. Ek doen dit oor wat koning Manasse, die seun van Hiskia, koning van Juda, in Jerusalem gedoen het. “Wie sal julle jammer kry, Jerusalem? Wie sal oor julle huil? Wie sal nog moeite doen om te vra hoe dit met julle gaan? Julle het My in die steek gelaat,” sê die HERE. “Julle steur julle nie aan My nie. Daarom sal Ek sorg dat daar niks van julle oorbly nie. Ek is moeg daarvan om julle altyd nog ’n kans te gee. Ek sal julle uitwan soos kaf by die dorsvloer. Ek sal alles wat julle na aan die hart lê, wegvat. Ek sal my volk vernietig omdat hulle weier om hulle van hulle bose lewe te bekeer. Daar sal meer weduwees wees as sand in die see. Laatmiddag bring Ek ’n vyand wat die ma’s van jong mans sal oorval. Ek sal angs en vrees skielik oor hulle laat toesak. ’n Ma van sewe kinders sal swak voel en na haar asem snak. Die son het vir haar gesak, al is dit nog dag. Sy is nou kinderloos – wat ’n vernedering is dit nie! Dié wat oorleef, sal Ek aan die vyand oorgee om hulle dood te maak,” sê die HERE.