Die HERE het vir my gesê: “Al sou Moses en Samuel voor My staan, sou Ek niks vir hierdie volk voel nie. Stuur hulle weg uit my teenwoordigheid; laat hulle gaan! En as hulle vir jou vra, ‘Waarheen moet ons gaan?’ moet jy vir hulle sê, ‘So sê die HERE:
“Wie vir die dood bestem is,
na die dood,
wie vir die swaard bestem is,
na die swaard,
wie vir hongersnood bestem is,
na die hongersnood,
en wie vir die ballingskap bestem is,
na die ballingskap!” ’
“Ek sal vier soorte vernietigers teen hulle opkommandeer,” is die uitspraak van die HERE, “die swaard om dood te maak, honde om weg te sleep, die voëls van die hemel en die diere van die aarde om te verslind en te verdelg. Ek sal van hulle 'n skrikwekkende voorbeeld maak vir al die koninkryke van die aarde vanweë Manasse, die seun van Hiskia, die koning van Juda – oor dit wat hy in Jerusalem gedoen het. ”
“ Ja, wie sal hom
oor jou ontferm, Jerusalem?
Wie sal met jou meegevoel hê?
Wie sal afdraai om te vra
hoe dit met jou gaan?
Jy is die een wat My versaak het,”
is die uitspraak van die HERE.
“Jy het My die rug toegekeer.
Toe het Ek my hand teen jou
uitgesteek en jou vernietig.
Ek was moeg daarvoor om jammer te kry.
Ek het hulle met 'n hooivurk uitgewan
in die poorte van die land.
Ek het my volk kinderloos gemaak,
hulle tot niet gemaak.
Maar van hulle paaie
draai hulle nie terug nie.
My volk se weduwees is meer
as die sand van die oseane.
Ek bring oor my volk,
oor die moeder van jong manne,
'n verwoester op die middaguur.
Ek laat ontsteltenis, 'n verskriklike
lot, haar onverwags oorval.
Sy wat sewe in die wêreld gebring het,
sal wegkwyn,
sy sal na haar asem snak.
Haar son sal ondergaan
terwyl dit nog dag is;
sy sal beskaamd staan, verleë wees.
Wat van hulle oorbly,
sal Ek aan die swaard oorgee
voor hulle vyande,”
is die uitspraak van die HERE.