RIGTERS 6:11-18

RIGTERS 6:11-18 Bybel vir almal (ABA)

Die Engel van die Here het gekom en het gaan sit onder die groot boom by die stad Ofra. Die plek het behoort aan Joas, 'n man uit die familie Abiëser. Joas se seun Gideon was besig om koring uit te slaan binne-in 'n parskuip. Hy het dit daar gedoen sodat die Midianiete dit nie kon sien nie. Die Engel van die Here het na hom toe gekom en vir hom gesê: “Jy is 'n man wat kan oorlog maak, en die Here is by jou.” Gideon het vir die Engel van die Here gesê: “Asseblief, Meneer, as die Here by ons is, sê vir my hoekom gebeur al hierdie dinge met ons? Waar is al sy wonderwerke? Ons voorvaders het ons daarvan vertel. Hulle het altyd gesê: ‘Die Here het ons uit Egipte gebring.’ Maar nou het die Here ons gelos. Hy het die Midianiete gestuur om ons te verdruk.” Die Here het na Gideon gekyk en vir hom gesê: “Jy is sterk. Jy moet die Israeliete gaan red van die Midianiete. Ek stuur jou om dit te doen.” Toe sê Gideon vir Hom: “Asseblief, Here, ek kan nie die Israeliete red nie. My familie is die kleinste familie in die Manasse-stam, en ek is die jongste seun in my pa se huisgesin.” Die Here het vir Gideon gesê: “Jy sal dit doen omdat Ek by jou sal wees. Jy sal die Midianiete oorwin. Dit sal so maklik wees soos wanneer jy teen een man veg.” Toe sê Gideon vir Hom: “As U goed wil wees vir my, doen dan vir my 'n wonderwerk wat wys dat U met my gepraat het. Asseblief, moenie hier weggaan nie, ek wil eers na U toe kom en my present bring en voor U neersit.” Die Here het gesê: “Ek sal wag totdat jy kom.”

RIGTERS 6:11-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daarna het die •Engel van die HERE gekom en gaan sit onder die terebintboom by Ofra, wat aan Joas van die familie van Abiëser behoort. Sy seun Gideon was juis besig om koring uit te slaan in die parskuip, om dit vinnig teen die Midianiete te beveilig. Die Engel van die HERE het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die HERE is met jou, dapper kryger!” Maar Gideon sê vir hom: “Asseblief, my Heer, as die HERE dan werklik met ons is, waarom tref al hierdie dinge ons? En waar is al sy wonderwerke waarvan ons voorouers ons vertel het toe hulle gesê het, ‘Het die HERE ons nie uit Egipte laat optrek nie?’ Maar nou het die HERE ons verstoot en ons oorgegee in die hand van die Midianiete.” Toe draai die HERE na hom en sê: “Gaan met die krag wat jy het, en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Het Ek jou nie gestuur nie?” Maar hy het Hom geantwoord: “Asseblief, my Heer! Hoe kan ek Israel verlos? Kyk, my familiegroep is die onbenulligste in Manasse, en ek is die jongste in my familie.” Die HERE sê toe vir hom: “Omdat Ek met jou sal wees, sal jy die Midianiete verslaan asof hulle net een man is.” Maar hy het vir die HERE gesê: “As ek dan guns gevind het in u oë, gee vir my 'n teken dat dit U is wat met my praat. Moet asseblief nie hiervandaan weggaan totdat ek by U terug is, my offer saamgebring en dit voor U neergesit het nie. ” Hy het geantwoord: “Goed, Ek sal bly totdat jy terugkom.”

RIGTERS 6:11-18 Die Boodskap (DB)

Daarna het die Engel van die Here onder die eikeboom in Ofra gaan sit wat aan Joas die Abiësriet behoort het. Sy seun Gideon was besig om koring in die parskuip uit te slaan waar die Midianiete hom nie kon sien nie. Die Engel van die Here het aan hom verskyn en vir hom gesê: “Die Here is by jou, dapper man!” Toe antwoord Gideon: “Verskoon my dat ek vra, Meneer, maar as die Here by ons is, waarom gebeur al hierdie slegte goed met ons? Wat het van al die wonderlike dinge geword waarvan ons voorvaders ons vertel het? Het hulle nie gesê: ‘Die Here het ons uit Egipte gered’ nie? Maar nou het die Here ons aan ons eie lot oorgelaat en ons in die Midianiete se mag oorgegee.” Toe draai die Here na Gideon toe en sê vir hom: “Jy het die krag. Gaan bevry die Israeliete uit die Midianiete se mag! Gaan nou, Ek stuur jou!” “Ekskuus, Meneer,” sê Gideon, “maar waarmee moet ek die Israeliete red? My familie is die armste in die stam van Manasse en in my eie gesin is ek nie juis belangrik nie.” Toe sê die Here: “Jy kan hulle red, want Ek gaan jou help. Jy sal die Midianiete so maklik verslaan asof dit net een mens is teen wie jy baklei.” Toe sê Gideon: “Mag ek U ’n guns vra: doen asseblief vir my ’n wonderwerk dat ek seker kan wees dat U wel die Here is wat nou met my praat. Moet asseblief nie van hier af weggaan voordat ek terug is en vir U ’n offer kon bring nie.” “Ek sal wag tot jy terugkom,” het die Here geantwoord.

RIGTERS 6:11-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Engel van die HERE het onder die eikeboom in Ofra kom sit. Dit het aan Joas van die Abiëserfamilie behoort. Sy seun Gideon was besig om onder op die vloer van ’n parskuip koring uit te slaan. Hy het daar vir die Midianiete weggekruip. Die Engel van die HERE het toe aan hom verskyn. Hy het vir hom gesê: “Die HERE is by jou, dapper man!” “Meneer,” het Gideon vir hom gesê, “as die HERE wel by ons is, waarom gebeur al hierdie dinge met ons? Waar is al die wonderlike dinge wat Hy gedoen het waarvan ons voorouers ons vertel het? Hulle het vertel: ‘Die HERE het ons uit Egipte bevry.’ Maar nou het die HERE sy rug op ons gedraai. Hy het ons uitgelewer aan die mag van die Midianiete.” Die HERE het toe na Gideon toe gedraai en vir hom gesê: “Gaan met hierdie krag wat jy het en gaan bevry die Israeliete uit die mag van die Midianiete! Ek stuur jou.” Maar Gideon sê vir Hom: “Verskoon my, Meneer, maar hoe kan ek Israel red? My familie is een van die swakstes in Manasse. Ek is die onbelangrikste lid in my pa se familie.” “Ek is dan saam met jou!” het die HERE vir hom gesê. “Jy sal al die Midianiete verslaan asof jy net teen een man veg.” Gideon het vir Hom gesê: “As ek U nog net een ding kan vra: Gee tog vir my ’n teken waardeur ek seker kan wees dat dit U is, HERE, wat met my praat! Moet asseblief nie van hier af weggaan voordat ek na U teruggekom het om my offer hier voor U te kom neersit nie.” Die HERE sê toe: “Ek sal hier vir jou wag tot jy terug is.”